Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

KOLOSSENSE – REEKS NR 6: Die hartklop van ‘n Apostel
Kolos 2: 1-5
Daar was destyds inderdaad gemeentes wat nié deur die Apostel Paulus se persoonlike bediening tot stand gekom het nie, maar wel deur ander medewerkers (van die Apostels) se bediening. Hulle het natuurlik die Apostoliese Boodskap sekuur verkondig. Die gemeentes in Kolosse en Laodicea was twee sulkes.

Daardie gelowiges het dus vir Paulus nog nooit ontmoet nie. Maar hy was mede-verantwoordelik vir hulle, want die Here het hom apostel vir die nie-Joodse nasies gemaak. En die apostels het ‘n unieke gesag en verantwoordelikheid gehad om die FONDASIE vir die kerk te lê wat betref LEER (doktrine) en LEWE (voorbeeld van hoe ‘n volgeling van Christus leef en hoe ‘n gemeente van Christus moet funksioneer) (Efes 2:20).

Paulus skroom dus nie om vir hierdie gemeentes te skryf nie. Dit was dringend, want vals leraars het die gemeentes probeer ontwrig met ‘n skewe voorstelling van wie/wat Christus is. Paulus kon op geen ander manier met hulle kommunikeer nie. Hy moes hand op papier sit. Maar daarin sit weer ‘n stuk Goddelike voorsienigheid, want uiteindelik kon sy lering vir die kerk van alle eeue behoue bly – in ons geskrewe Nuwe Testament!

Binne-in die Apostel se hart het daar ‘n vuur gebrand. Dit was die inwonende Heilige Gees wat in hom gewerk het. Hy was so passievol en brandende vir hierdie gemeentes – wie hy glad nie geken het nie. Hy stort letterlik homself uit – in hulle belang.

‘n Mens sien daarin so duidelik die ware hartklop van die Here Jesus self – wat deur Paulus manifesteer. En ook deur ons manifesteer indien ons mense is wat met die Here ontmoet het, Hom aangeneem het as Verlosser en Geesvervuld leef. Ook in ons manifesteer die Here Sy eie hartklop en Sy besorgdheid oor ander – veral oor mede-gelowiges. Onthou net weer: Die Christelike lewe is ‘n bonatuurlike lewe!

Ek noem daarom vandag se boodskap: Die hartklop van ‘n Apostel. Maar eintlik moet dit wees: Die hartklop van die Here Jesus Christus.

Hoewel Paulus hierdie mense nog nooit ontmoet het nie en nie ken nie, beywer hy hom vir hulle – met groot krag. Letterlik staan daar in die Grieks dat Paulus sê: “Ek ondervind ‘n groot stryd vir julle”. Hy bedoel daarmee ‘n innerlike stryd wat prakties uitmond in ‘n gebedstryd. Hy is in ‘n gebedstryd gewikkel ter wille van hierdie mense se heil – dat hulle verlos sal word van die vals leraars se invloed en dat hulle die suiwer waarheid oor Christus sal liefhê en omhels en verkondig.

Waar kry ons nog in vandag se dae manne en vroue van God wat op hulle knieë sal wil worstel en stry ter wille van ander mense se heil? Wat ander se heil so ernstig op die hart dra? Dit is onteenseglik die lewende Christus in Paulus wat hom so aanvuur. Onteenseglik. En omdat die Here vandag nog in Sy kind woon en werk, kan enige ware Christen in 2019 ook iets ken en ondervind van gebedstryd ter wille van ander. Dis glad nie ‘n onmoontlike saak nie. Dit is heeltemal iets anders as om vir ‘n paar minute te bid en Bybel te lees. Dit is worstel en stry op jou knieë vir die welsyn van ander. Geen regdenkende mens sal so iets doen nie. Waar kom dit dus vandaan? Van die duiwel. Nooit. Van die wêreld? Beslis nie. Uit die menslike natuur? Onmoontlik. Waarvandaan dan? Al wat oorbly is: Van Bo!

Maar nog meer: Waar kry ons nog vandag Christene wat gebed AS STRYD ken!? Intersessie. Jesus het in Getsémane geworstel dat bloed by Sy liggaam se sweetgaatjies uitkom. Dis iets totaal anders as om net vir ‘n paar minute in die oggend en aand te bid. Die passie en belastheid word so groot, dat jy en ek in ‘n gebedstryd gaan.

Waar kry ons nog vandag sulke mense? Mense wat deur die Gees gedwonge voel om ‘n halfuur of uur of twee ure of drie ure in gebedsafsondering te gaan met die uitsluitlike doel om te bid – en spesifiek om in te tree vir ander?

Die Apostel Paulus was wel fisies geskei van die gemeente – hy was immers in Rome gevange gehou – maar in die “gees” was hy by die Kolossense teenwoordig in die sin van dat hy aan hulle gedink het, vir hulle in gebed gestry het en berigte van wat in die gemeente aangaan met belangstelling gevolg het. Hy was dus op hoogte van wat aangaan en hoe vals leraars die gelowiges se koppe deurmekaargekrap het. Dit was juis DIT wat hom tot ernstige gebed gedryf het. Want volgens die leer van die Apostels was die groot kenmerk van ‘n geestelik gesonde gemeente dat daar EENDRAG en eensgesindheid en standvastigheid en bestendigheid moet wees wat betref die inhoud van wat geglo en geleer word. En waar daar daarvan afgewyk word, moet daar dissipline toegepas word. Want dit is baie belangrik dat die suiwer waarheid geglo en geleer moet word. Veral die suiwer waarheid oor wie/wat die Here Jesus Christus is en doen.

Want onthou: Die KERN van die Evangelieboodskap is JESUS! Hý is die “geheimenis” wat die OT-tyd nie so duidelik verstaan is nie, maar wat absoluut helder en duidelik in die NT-tyd deur die Apostels verkondig is. Nou is dit ‘n OOP geheim! Almal kan Jesus ken en die Waarheid ken en omhels. Die WARE kennis en insig kom nie van wat die vals leraars hulle geleer het nie. Die WARE kennis en insig is in die Here Jesus self te vinde! Dis ‘n daaglikse wandel en leef met HOM en ‘n verdieping in Sy Woord en gebed wat ‘n mens meer en meer die diepte van die rykdomme in Jesus laat ken en verstaan! Niks anders nie. Niks minder nie. Niks meer nie!

Paulus se gebedstryd vir die Kolossense was dus dat HIERDIE groot waarheid vir hulle sou oopgaan – deur God se genade.

Sy stryd was vir DRIE DINGE:

1 Dat hulle BEMOEDIG sal word. En nie moedeloos en teneergedruk moet wees nie. Hulle moet MOED SKEP en Boontoe kyk en hulle verlustig in die Waarheid wat die Apostels hulle geleer het. Vals leer maak mens altyd teneergedruk. Maar waarheid tel jou op! Dis vandag nog so!

2 Dat daar onderlinge verbondenheid in liefde tussen hulle sal wees. Want dis juis daardie EENHEID wat bevorderlik is vir die gemeenskaplike insig in die waarheid. Hoe meer verdeeld gelowiges/gemeente is, hoe makliker kom vals leer in. Hoe hegter die eenheid, hoe moeiliker kom vals leer in. Satan wil altyd verdeeldheid saai. Nou weet ons waarom!

U sien ware Bybelse liefde loop altyd hand aan hand met die Waarheid. Die Skrif skei nooit die twee nie.

‘n Baie goeie voorbeeld het ons onlangs gesien waar daar in sommige kerklike kringe gesê is dat die aanhangers van ‘n bepaalde nie-Christelike godsdiens ook kinders van God is en Christene se broers en susters is. Wat ‘n verloëning van die Waarheid is en ‘n verloëning van die Waarheid dat slegs Jesus alleen die weg, waarheid en lewe is (Joh 14:6) en slegs diegene wat op HOM hoop, kinders van God is (Joh 1:12)! En omdat die waarheid dus verloën word, is die liefdesgebaar van om met hierdie mense te simpatiseer en saam te span ook oneg! Omdat die waarheid ontken word, kan die liefdesgebaar nie eg wees nie. Want ware liefde is slegs moontlik IN DIE WAARHEID! Soos die Apostel Johannes in sy tweede brief (vers 1) sê: “Ek het jou in die waarheid lief”.

Dieselfde geld vir mense wat sê: “Dit is uit LIEFDE vir homoseksuele mense wat ons hulle verhoudings en praktyke en huwelike moet goedkeur en aanvaar en wie dit nie goedkeur en aanvaar nie, het nie lief nie, maar is gevoellose monsters.”

Terwyl 1 Kor 13:6 uitdruklik sê dat die liefde nie bly is oor dit wat verkeerd is nie. En die Skrif is eksplisiet duidelik daaroor dat homoseksuele praktyke verkeerd is. Indien my liefde dus daaroor juig, is dit ‘n valse liefde. Ware liefde sal eerder die mense wat verkeerd doen wil waarsku oor die dodelike gevaar waarin hulle verkeer.

3 Dat hulle tot die besef sal kom dat AL die skatte van insig en waarheid en wysheid IN CHRISTUS SELF ALLEEN te vinde is en dat daar BUITE Hom regtig geen wysheid is nie. Net menslike wysheid. En wie wil dit tog nou hê?! Maar hoe meer ons besef dat alles IN die lewende Here is, hoe meer sal ons erns maak met Bybelstudie, gebed, fellowship > Met Hom wandel elke oomblik van die dag.

Kan ek aan myself en aan u ‘n dringende vraag vra:

1 Is ons doodseker dat ons die Here Jesus waarlik deur geloofsvertroue aangeneem het en dat ons in ‘n lewende verhouding met Hom leef? Ons mag nie hieroor enige krieseltjie twyfel hê nie

2 Is ons seker dat dit elke dag ons werklike passie is om met die Here te leef? Of is dit net woorde of dalk ‘n begeerte en wens? As dit net woorde is, sal dit nie in die praktyk wys nie. Waar dit eg is, sal dit oorspoel in praktiese keuses, optrede ens.

3 Is daar enigiets wat veroorsaak dat daar verdeelheid tussen ons en ander ware Christene wat die Waarheid liefhet, is? Iets wat gedoen of gesê is? Dalk ‘n gesindheid?

Tafelberg Gemeente
Buitenkantstraat 39, Kaapstad
www.tafelbergkerk.co.za
Dr Chris Saayman

Category Kolossense Reeks

© 2020 Tafelberg Gemeente (Dolerend)