Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

Laai Af

KOLOSSENSE REEKS NO 17
KOLOSSENSE 4: 7-18 – Paulus en sy vriende

Dis so jammer dat ons dikwels ons vergaap aan die geweldige waarhede in die Kolossensebrief maar dan die laaste klompie verse oorslaan, want dit klink maar net soos groetwoorde.

Maar eintlik gee die laaste verse vleis en bloed aan die waarhede wat in die brief voorkom. Want dit sê vir ons dat daardie wonderlike waarhede regtig deur sekere spesifieke mense vertrou & geglo is en dat dit neergeskryf was vir sekere spesifieke mense. Daar was diegene wat die brief moes gaan aflewer, daar was sekeres wat dit sou ontvang en sekeres wat dit nog sou ontvang in die toekoms! Ja daar was regtige, ware Christene in daardie eerste jare. En ons kan vandag ‘n paar van hulle leer ken.

Die Apostel Paulus doen VIER dinge in hierdie verse: 1 > Hy stel ons bekend aan die twee boodskappers wat die brief in Kolosse sou gaan aflewer (in moderne Turkye) 2 > Dan stel hy ons bekend aan 6 van sy kollegas: Drie was Jode en drie was nie-Jode. Derdens praat hy oor sommige van sy ander vriende wat die brief sou ontvang en vierdens praat hy oor homself.

1 ONS ONTMOET PAULUS SE BOODSKAPDRAERS > Verse 7-9.

Tigikus > Hy word ook in Efesiërs genoem omdat hy ook húlle brief daar gaan aflewer het. Briewe en pos is deur boodskappers/bodes afgelewer. Maar kyk hoe word Tigikus beskryf. Hy is in die Here. Hy is ‘n geestelike broer vir almal.

Hierdie betroubare man was ‘n baie geliefde Christen. Waarom? Hy was ‘n getroue dienaar/dienskneg van die evangelie. Hy was geheg aan die waarheid en hy het die waarheid gedien/uitgeleef. En daarby was hy ‘n mede-slaaf (Grieks) in die Here Jesus. Hy het homself gesien as iemand vir wie die Here besit. Hy is die Here se besitting/eiendom – soos die slawe aan eienaars behoort het – gekoop met ‘n prys. Geen regte en wil van sy eie nie.

Dit is die man wat die brief gaan aflewer het. Waarom? Paulus sê: “Sodat julle kan weet hoe dit met my gaan.” Hy verlang na voorbidding van die mense, en daarom moet hulle inligting hê, want dis beter om vir mense inligting te gee as om net te sê: Bid vir my, bid vir my. Hy stuur nie net ‘n brief na die Kolossense nie, maar ‘n lewende posman wat vir hulle alles oor Paulus kan vertel en sodat hulle vir hom intelligent kan bid.

Informasie moet uitgeruil word. Kennis van mekaar is nodig vir voorbidding en gebed. Kyk watter woorde gebruik Paulus: “Sodat julle bemoedig kan word … julle kommer weggeneem kan word.”

Dit is die groot seën van die onderlinge “fellowship” van gelowiges. Want Christene het maar gedurige behoefte aan moedskep. Geen Christen kan as enkeling op ‘n eiland leef nie. Wat ‘n bemoediging om soms net ander se stories te hoor.

Maar daar is nog ‘n boodskapdraer/posbode: Onesimus!

In Paulus se brief aan Filémon leer ons baie van Onesimus.

Hy was van Kolosse afkomstig en was ‘n slaaf, maar het weggeloop van sy eienaar af. Hy was toe nog onbekeerd. Deur omstandighede het hy in Rome beland en deur die voorsienigheid van die Here met Paulus ontmoet. Deur sy kontak met Paulus het hy die Evangelieboodskap gehoor en tot bekering en geloof in Jesus gekom.

Nou stuur Paulus hom terug na Kolosse, saam met Tigikus. En die liefde van die Here het hulle harte aan mekaar vasgebind. Paulus was sy geestelike vader en Onesimus was sy geestelike kind.

Ja, die Here KAN ‘n mens se lewe verander, totaal verander.

Onesimus is uit Kolosse weg as ongeredde man, hy keer as ‘n mede-gelowige na die gemeente van Christus terug. Verlossing is nie teorie nie, dis realiteit! Die Evangelie WERK regtig in werklike mense wie se lewens konkreet verander is deur die krag van die Waarheid van die Woord! Hoewel van Onesimus nog nie gesê word dat hy ‘n slaaf en dienaar van Christus is – soos van Tigikus gesê word nie! Want hy is nog ‘n jong Christen en het nog nie die ervaring van die dienswerk vir die Here nie. Hy het nog nie homself bewys in diensbaarheid vir die Here nie.

Daar is dus twee Christene uit die vroegste Christelike kerk: Tigikus en Onesimus – brandende met liefde vir die Here en Sy kosbare Waarheid! Twee regtige mense wat regtig geleef het. Soos ons regtige mense is wat regtig leef!

2 PAULUS SE KOLLEGAS (verse 10-14) > Ons lees hierdie verse en dit sê nie vir ons veel nie, maar ‘n heiden of Jood uit die eerste eeu wat dit sou lees, sou baie verbaas wees, want hier is drie Jode (vv 10-11) en drie nie-Jode (heidene) (vv 12-14) en hulle is die beste vriende! Hulle aanvaar mekaar as “broers” en mede-dienaars in die werk van die Evangelie.

Wat? So iets was ondenkbaar in daardie tye waar Jood en nie-Jood glad nie met mekaar gemeng het nie. Geweldige vooroordele en diskriminasie. Die Jode het na nie-Jode as “honde” verwys.

Ja, die wonderlike Boodskap van Jesus se kruisdood en opstanding vernietig nie net die skeidsmure tussen mense en God nie, dit vernietig ook die skeidsmure tussen mens en mens – die sosiale skeidsmure en vooroordele. Christus het dit gedoen. Nou het God net EEN mensheid – diegene wie IN Christus is. Kom ons ontmoet ‘n paar van hulle…

Daar is Aristargos (vers 10). “My mede-gevangene”. Ons sien hom ook in Handelinge 19 waar hy bereid was om deur die vyandige skare toegetakel te word sodat Paulus kon ontglip. Hy was in Rome Paulus se mede-gevangene in die sin dat hy vrywillig saam met Paulus in sy huisarres-situasie gaan woon het om vir Paulus ‘n versterking te wees. ‘n Wonderlike gees van broederskap in Christus. En opoffering. Dit het die destydse kerk deursuur. Bonatuurlik!

En dan was daar ook Markus (vers 10). Barnabas se neef. Ook genoem Johannes Markus.

Veertien jaar tevore was daar ‘n twis oor Markus tussen Paulus en Barnabas, want Paulus wou nie vir Markus op sy tweede sendingreis saamneem nie omdat hy hulle tydens die eerste reis in die steek gelaat het. Maar Barnabas wou vir Markus saamneem. Toe skei hulle weë. Maar nie ‘n verskeurdheid nie. Hier is Markus nou by Paulus in Rome. En Paulus hemel hom op. Die gemeente moet hom met ope arms as dienaar van die evangelie ontvang. Vroeër het hy probleme veroorsaak, maar nou was hy ‘n betroubare dienaar van Christus. Wat ‘n verandering bring die Here nie teweeg nie. Dieselfde Paulus wat met hom probleme gehad het, beveel hom nou aan! Want daar is iets soos die proses van heiligmaking en die Here wat met Sy kind ‘n pad loop – kom wat wil!

Nooit hoef ons moed op te gee nie. Iemand wat onder was kan môre bo wees. Want ons het met die lewende Here te doen en Hy verander lewens. Christene GROEI, dank die Here daarvoor. Hulle sienswyses kan verander, hulle optrede kan vernuwe word, hulle sondes kan oorwin word.

En dan is daar nog iemand: Nog ‘n Jood genaamd Jesus wat Justus genoem is. Jesus was destyds ‘n redelik algemene naam. Maar as jy in daardie tyd ‘n Jood was met die naam Jesus en jy sou tot bekering en geloof kom en ‘n Christen word, wat sou jy heel eerste doen? Jou naam laat verander natuurlik! Hier is Jesus wat vir Jesus as Here volg! Daarom het hierdie man vir homself ‘n ander naam aangeneem: Justus – ‘n nie-Joodse naam. En dit beteken: Die een wat reggestel/vrygespreek is.

“Hierdie drie manne” sê Paulus, “is my enigste drie mede-werkers (kollegas in die bediening) wat uit die Jodendom is.”

Ja, onder die onbekeerde Jode het Paulus baie swaar gekry. Maar hierdie drie is deur die Here gered en verander. Uitverkore en uitgesoekte gelowiges wat saam met die apostel werk sodat die Here se heerskappy in ander mense se lewens kan posvat. Dit was hulle lewenspassie.

Dit was vir Paulus so ‘n groot versterking en bemoediging om saam met ander Christene te wees. Dis so ‘n groot teken van ware weergeboorte: Die onontbeerlike begeerte na ander Christene en die fellowship van ander Christene. Een van DIE tekens dat iemand regtig uit die dood na die lewe oorgegaan het. Christene wat swaarkry en maklik val is gewoonlik diegene wat probeer alleen staan en wat die gemeenskap van gelowiges afskeep. Bly staande deur saam met ander te staan!

Dit is dan Paulus se kollegas uit die Jode. Maar wie was sy kollegas uit die nie-Jode? Laat ons hulle ‘n bietjie ontmoet.

Eerstens was daar Epafras – wat van Kolosse gekom het (vers 12). Dit was hy wat die gemeente in Kolosse geplant het. Paulus noem hom as ‘n man wat in diens van Christus Jesus staan. Wat ‘n opskrif om eendag op jou grafsteen te hê!

Verder was Epafras ‘n man wat ALTYDDEUR vir die gemeente in Kolosse ge-arbei het – terwyl hy in Rome sit! Hoe het hy dit reggekry? Dis baie kilometers van mekaar. Hy het in GEBED vir die Kolossense gestry! Afstand kan nie gebed verhinder nie! Gebed is werk! Dit is dikwels stryd. Intersessie tap ‘n mens. Maar Epafras het op sy knieë gestry vir die welstand van die Kolossense. Elke liewe dag! Ten spyte van honderde kilometer skeiding, het hy seën vir die Kolossense gebring. In gebed. Is dit nie wonderlik nie. Om te dink dat jy ‘n seën kan wees vir mense duisende kilometer van hier. Selfs mense wat jy nog nooit gesien of ontmoet het nie.

Epafras het gebid dat die Kolossense kompleet en perfek sal wees in die hele wil van God (Grieks). Dis soos ‘n kind wat sy ouers se wens ten volle gehoorsaam. Dis wat Epafras bid. Dat die Kolossense nie net al die groot waarhede van die Woord opslurp nie, maar ook ten volle aan die Here gehoorsaam sal wees soos goeie kinders doen. Om te strewe om nie net halfhartig gehoorsaam te wees nie, maar voluit.

Epafras het ‘n ywer vir die Kolossense gehad, sê Paulus in vers 13. Engels: zealous. Dit beteken om te borrel, maar ook om pyn te hê. Epafras het ‘n opborreling vir die Kolossense & die Laodisense en die gelowiges in Hiërapolis gehad, wat ook tegelyk pynlik was. Hy het geborrel in gebed en nogmaals gebed. Hoe dramaties verander die Here nie sondaarmense se diepste lewens nie!

Maar daar was ook Lukas! Die mediese dokter. Vir wie die apostel baie lief was. Die skrywer van Lukas Evangelie & Handelinge. Ja hy was ‘n medikus, maar ook ‘n wonderlike absoluut betroubare historikus. Lukas en Handelinge behels presiese detail beskrywings. Hy was prakties saam met Paulus-hulle op sommige van die sendingreise. Hoe dikwels in Handelinge praat hy nie van ONS nie. Hy was so aan die brand vir die Here. Besig met kerkplanting en sending en hier in Rome versorg hy sy geliefde apostel, Paulus.

En dan is daar nog Demas.

Kyk deur die verse en u sal sien dat die apostel oor al die persone iets positief te sê het, maar nie oor Demas nie. Hy noem net sy naam.

Vier jaar later sou Paulus vir Timoteus skryf: “Demas het my in die steek gelaat en die teenswoordige wêreld liefgekry.”

Daar moes iets in Demas gewees het, wat die Apostel al die tyd gehinder het. Dis asof Demas heeltyd gestut moes word deur iemand anders – waarskynlik Lukas. Maar neem die stut weg, dan verflou Demas se toewyding en die dinge van die wêreld lok hom weg. Tragies.

3 PAULUS SE ANDER VRIENDE WAT DIE BRIEF SOU LEES (verse 15-17) > Die mense wat aan die ontvangkant van die brief was. Dit is Nimfa en Argippus en die gemeente in Laodisea.

Laodisea was naby aan Kolosse, maar ‘n veel groter stad. Ons weet nie hoe baie Christene daar was nie en ons weet nie hoeveel gemeentes daar in Laodisea was nie, maar een van die gemeentes het in Nimfa se huis bymekaargekom.

Die Christelike Kerk het vir die eerste byna 300 jaar aangegaan sonder enige kerkgebou. Die eerste kerkgebou was in 230 nC in Jordanië gebou. Maar vir minstens 2 eeue het die gemeentes van die Here in mense se huise vergader – sonder dat Sondag ‘n vakansiedag was. Sondag was in die Romeinse Ryk ‘n gewone werksdag totdat Keiser Konstantyn dit ‘n vakansiedag gemaak het.

Die Christene moes dus groot opofferinge maak om saam te vergader. Hulle moes na werk saamkom – Sondagmiddae of aande. Daarby was dit geen grap om jou huis week na week beskikbaar te stel vir eredienste nie. Maar Nimfa het kans gesien. Daardie Christene het regtig vir mekaar geleef.

Die instruksie van Paulus aan die Kolossense was dat hierdie einste brief wat hy vir hulle skryf ook in die gemeente van Laodisea gelees moes word. Dis waarom ook ons hierdie brief bestudeer het. Want ‘n brief wat van die Here af kom en deur sy apostel aan een gemeente gegee is, moet deur ander gelees word. Die Kolossense moes weer die brief lees wat van Laodisea af kom! Ja, Paulus het twee briewe gelyktydig geskryf en dieselfde posbodes het dit gaan aflewer. Een aan Kolosse en een aan die Efesiërs. En die brief aan die Efesiërs is gelees en het van plek tot plek gegaan en is oral gelees totdat dit in Laodisea gekom het. En nou moes die Kolossense daardie een ook lees.

Daardie ander brief is wat ons in ons NT het as die brief aan die Efesiërs. Dis waarom die Efesiërsbrief geen persoonlike groeteboodskappe aan die Efesiërs in besonder bevat nie. Dis waarom Paulus die Kolossense beveel om groete aan die Laodisense oor te dra – omtrent 20km van hulle af – want die Efesiërsbrief bevat nie groeteboodskappe nie. So gesaghebbend was (en is steeds) hierdie apostoliese briewe. Dit was – te same met die OT – God se Woord aan die gemeentes. En daarom ook aan ons! ‘n Brief van die Here aan een gemeente, is ‘n brief aan al die gemeentes – tot in die 21 ste eeu! Dink daaraan!

En dan is daar Argippus. Uit die brief aan Filémon weet ons dat Argippus Filémon se seun was. En hy was die lerende ouderling van die gemeente in Kolosse en waarskynlik ook in Laodisea.

En wat moet hierdie predikant weet en hoor? Die apostel sê: “Gee al jou aandag aan jou taak in diens van die Here sodat jy dit suksesvol kan voltooi, want jy het dit van Hom ontvang!” Dus: Moenie lui wees nie. En span jou hele lewe in om op hierdie taak te fokus. Moenie tevrede wees met iets minder as jou allerbeste nie. Paulus weet hoe maklik Woordbedienaars ontmoedig word en daarom spoor hy vir Argippus aan.

En noudat ons die Kolossensebrief toemaak, ontmoet ons laastens vir Paulus self.

4 DIE APOSTEL PAULUS SELF (vers 18) > Paulus het nie self die brief geskryf nie, maar dit gedikteer vir iemand anders wat die skryfwerk gedoen het. Dalk het hy op en af in die vertrek gestap en heeltyd gepraat.

Maar nou neem hy die pen uit die hand van die sekretaris en skryf self die laaste sinnetjie. Hy onderteken die brief met die woorde: Groete, Paulus.

Daar is die outentieke waarmerk wat bevestig dat die brief werklik van die apostel is. Dis nie ‘n vervalsing nie.

“Onthou asb my boeie” skryf Paulus. Dink aan my waar ek gevange sit. En die Here se genade sal by julle wees.

Is dit nie aangrypend nie? Die vrye kerk moet altyd dink aan die lydende kerk – die Christene wat swaarkry ter wille van hulle verbondenheid aan Christus. Alle Christene is nie vry nie. Talle is gevangenes – op die een of ander manier. ONTHOU hulle….

Maar of jy vry of lydend is as Christen – net een ding gee die deurslag in alles: God se vrye genade, Sy vrye onverdiende guns.

Jou Christenlewe het begin deur Sy vrye guns en jy groei deur Sy vrye guns en jy sal die ewige lewe ingaan deur Sy vrye guns. Alles gaan oor HOM en niks oor onsself nie!

Tafelberg Gemeente
Buitenkantstraat 39, Kaapstad
www.tafelbergkerk.co.za
Dr Chris Saayman

Category Kolossense Reeks

© 2018 Designed with ❤ by Web Crew