Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

Laai Af

KOLOSSENSE-REEKS NO 12

Kolos 3: 1-4: Die geheim van ‘n oorwinningslewe

Voorwaar van die mees wonderbaarlike waarhede in die hele Bybel!!

Hou in gedagte dat in die oorspronklike manuskrip daar nie hoofstuk- en versindelings was nie. Alles was aaneen geskryf. Dit was die latere Bybelvertalers wat die indelings gemaak het.

Dit beteken dat Kolossense 3 se eerste verse aaneengeskryf was met hoofstuk 2 se laaste verse!

Lees ons dit só, sien ons dadelik ‘n verbindingskakel:

Aan die einde van hoofstuk 2 het die apostel die volgende gesê: “Jy sal en kan NOOIT oorwinning oor sonde in jou lewe kry solank jy oorwinning probeer soek in sekere mensgemaakte reëls wat jy probeer nakom om in God se goeie boekies te bly nie.”

Nou in hoofstuk 3 sê hy waardeur die kind van God dan WEL oorwinning kry. Waardeur groei ‘n kind van God in heiligmaking? En oorwinning? En deurbrake? Wat moet jy en ek doen?

Daar is slegs een ding wat werk.

Die antwoord is: Jou oë moet oopgaan vir iets baie spesifiek wat alreeds met jou persoonlik gebeur het (nie iets wat nog MOET gebeur nie). En as jou oë daarvoor oopgegaan het, moet jy daaruit begin put – soos myners wat die goud wat alreeds onder die grond is, moet ontgin en na vore bring.

Luister nou baie goed:

Daar is VYF dinge van die Here Jesus Christus waar:

1 Hy het gesterf

2 Hy is uit die dood opgewek

3 Hy sit aan die Regterhand van God die Vader

4 Sy lewe is ingesluit by Sy Vader

5 Hy gaan in heerlikheid verskyn by Sy wederkoms

Die ware kind vd Here is by al vyf daardie aspekte tegelyk (op een slag) ingesluit!

Die Christus-gelowige is deur die VADER se almag en keuse ingesluit by Christus se dood, opstanding, hemelvaart, wederkoms – ja selfs by die lewe wat die Here Jesus elke oomblik voor Sy Vader leef!

Let op die woorde wat die Apostel gebruik: SAAM MET. Dit beteken INGESLUIT BY…. VERENIG MET.

Hierdie het absoluut niks te make met gevoel en emosie nie. Die vraag is nie of en wanneer ons VOEL of BELEEF dat ons ingesluit is nie. Onafhanklik van wat ons ervaring vir ons vertel, IS ons ingesluit Dit is ‘n werklikheid wat ons moet GLO slegs omdat die Here God dit swart op wit in die Bybel vir ons sê! En die oomblik wanneer ons dit doen – Hom blindelings begin vertrou – begin ons om te LEEF uit die waarheid rakende onsself. Die LEUEN rakende onsself is dan ontbloot vir wat dit is – ‘n leuen. En die waarheid begin ons meer en meer vrymaak.

Die weergebore mens IS en HET dus:

1 Saam met Jesus gesterf

2 Saam met Jesus uit die dood lewendgeword

3 Sit saam met Jesus aan die Regterhand van God

4 Is ingesluit by die lewe wat Jesus by Sy Vader leef – Jou lewe is in Christus WEGGESTEEK in God die Vader. Jou lewe is in Christus VERBORGE in God.

5 Ingesluit by Jesus se wederkoms in heerlikheid en glorie. Dit het nog nie gebeur nie, maar jou lewe is alreeds daarby ingesluit! Dis so ‘n groot sekerheid dat die Apostel sê: Wanneer Jesus in glorie verskyn, SAL julle saam met Hom verskyn. Te wonderbaarlik vir woorde!

Sien jy die VYFVOUDIGE INSLUITING?!

Die vraag is nou: Wat beteken hierdie realiteit vir die kind van die Here se elkedagse lewe?

Daar is VIER praktiese dinge wat die Apostel noem. Vier dinge wat ons nou elke dag moet gaan DOEN op grond van dit wat ons alreeds besit.

Dis byna soos ‘n ma wat vir haar kind sê: “Ek het R3000 in jou bankrekening inbetaal. Gaan koop nou vir jou skoene”.

Met ander woorde: Op grond van die geld wat reeds inbetaal is, DOEN NOU IETS daarmee! Gaan gebruik dit!

Dit wat reeds inbetaal is, is die genoemde vyfvoudige insluiting.

Nou sê die Apostel: DOEN nou (op grond van die vyfvoudige insluiting) VIER goed:

1 Maak elke dag die keuse om die Here se hemelse dinge die strewe van jou lewe te maak > Want: Jy leef alreeds in die hemel, want jy is ingesluit by Sy lewe! Gaan dan doelbewus en maak die hemelse dinge die fokus van jou lewe.

2 Kyk baie mooi na dit wat in jou gedagtes aangaan.

3 Dink doelbewus daaraan dat jou lewe weggesteek is in God self!

4 Weet dat jy ‘n blink toekoms het. Want by die wederkoms, SAL jy saam met Jesus verskyn en in Sy heerlikheid deel!

DIE HELE DING GAAN OOR DIE CHRISTEN SE GEDAGTES! WAT DUISENDE KERE PER DAG EN NAG DEUR JOU GEDAGTES MAAL, BEPAAL JOU HELE LEWE. DIT BEPAAL OF JY IN OORWINNING OOR SONDES LEWE OF NIE! Dis so eenvoudig soos dit!

Die Heilige Gees sê: Die oorwinnende Christelike lewe beteken om 100 X per dag met jou wil ‘n vaste KEUSE uit te oefen: EK SAL my gedagtes vul met dit wat die waarheid oor myself is en ek sal dit wat ‘n leuen oor my is, verwerp. Ek sal strewe na die Here se dinge. Ek sal daarop fokus dat my lewe weggesteek is in My Vader. En dat ek ‘n blink toekoms het. En dat my ou sondige mens-wees saam met Jesus in die graf ingegaan het en dood is – dat ek nuut en vry kan en mag leef! Hierdie dinge is nie positive thinking nie. Dis nie ‘n sielkundige truuk nie. Dis die kernwaarhede van die Evangelie!

VERPLAAS doelbewus die goed in jou gedagtewêreld wat jou negatief en neerslagtig maak, wat leuens is en bots met die vyfvoudige realiteit. BEDINK doelbewus jou ware identiteit in Jesus Christus. VERPLAAS die leuen en VUL jouself met die Waarheid.

Weer eens wil ek sê – soos by ‘n vorige boodskap in hierdie reeks – hierdie waarhede is diepsinnig en ‘n mens kan nie vir 25 minute daarna luister en dan “het” jy dit nie! Daarom: Gaan gerus na ons webblad en gaan trek die skriftelike preek af en lees en herlees en bestudeer dit en maak dit op so ‘n manier jou eie. Dit moet verteer word voordat dit in ‘n mens se sisteem opgeneem kan word.

Tafelberg Gemeente
Buitenkantstraat 39, Kaapstad
www.tafelbergkerk.co.za
Dr Chris Saayman

Category Kolossense Reeks

© 2018 Designed with ❤ by Web Crew