Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

Laai Af

Kleinprofete Reeks: Die boodskap van Jona

Skriflesing: Jona 1-4

Vanoggend fokus ons op die kernboodskap van Jona, alhoewel daar ook in die boek ‘n hele paar wonderlike sekondêre temas voorkom waaraan ons – a.g.v ‘n gebrek aan tyd – nie nou aandag kan gee nie.

‘n Mens dink bv aan sake soos: 1) Die kernbelang van prediking. Die manier waardeur die Here Ninevé gered het was/moes wees deur prediking (sien 1 Kor 1:21) 2) Die Here se hartklop van genade. Wanneer Hy sien hoe sleg mense is, wil Hy red. Sy passie vir ‘n stad vol verloregaande mense 3) Ons sien wat by die heidense matrose gebeur, hoe hulle ewe skielik self tot die Here bid en Hom erken as die enigste Here wat soewerein doen wat Hy wil – wat ‘n ommekeer o.g.v. Jona se eenvoudige getuienis!! Die Here verander mense met die roer van Sy pinkie 4) Ons sien hoe Jona deur die vis uitgespoeg word die oomblik toe Jona God se vrye genade erken & bely: “Verlossing kom nét van die Here af” 5) Ons sien hoe magtig die Here in Ninevé werk o.g.v. net een sinnetjie wat Jona preek. Dit is nie die kwaliteit van wat/hoe ons praat wat mense tot geloof bring nie. Dit is die magtige werking van die Gees wat mense tot op daardie punt bring – én – Hy doen dit deur by mense ‘n besef te skep van verlorenheid & sonde en daarmee saam berou en ‘n begeerte om weg te draai van sonde en om te draai na God. Dit was ‘n veel groter wonderwerk as wat Jona-in-die-maag-van-‘n-vis ‘n wonderwerk was! 6) Die verandering/transformasie begin by die ménse en werk deur na die owerheid en nie andersom nie (vv 5-6). Die koning respondeer op wat reeds by die ménse gebeur het. En so kan ‘n mens aangaan.

Verder vir interessantheid: Die stad Ninevé was onlangs weer in die nuus met die groot getalle Christene wat onlangs daar vervolg & vermoor is deur Moslem-ekstremiste soos ISIS. Die stad Mosoel in die noorde van Irak is die moderne Ninevé, geleë op die westelike oewer van die Tigris rivier. Die ou Ninevé was net aan die anderkant van die rivier geleë. Opvallend dus die geestelike nood wat tans weer in Ninevé heers.

Verder net ‘n terloopse opmerking oor die vis wat vir Jona ingesluk het. Ons weet dat sommige teoloë & leraars vermoed (en dit openlik verkondig) dat dit nie werklik só kon gebeur het nie en dat Jona se geskrif net ‘n soort gedig/poësie is wat dus simboliese taal gebruik.

Mense sukkel dus om te glo dat die Here in staat is om só ‘n vis in Sy diens te gebruik. Ons antwoord op hierdie ongeloof is doodgewoon dat die Here Jesus Christus self geglo het dat dít wat in Jona staan, ‘n historiese weergawe is van wat werklik gebeur het. Omdat ons nie beter weet as Hy nie, aanvaar ons ook die boek Jona soos hy homself aan ons aanbied (Matteus 12:40).

Dit alles ter inleiding. Ons fokuspunt nou: die kernboodskap van Jona.

Kyk, die ding wat ‘n mens die meeste opval wanneer jy Jona lees, is die profeet se wild-vreemde optrede, nie waar nie? Hoe op aarde kan dit wees dat hy nie die geestelike verlossing van die Nineviete begeer nie? En dat hy kwaad is wanneer daar ‘n geestelike herlewing in Ninevé kom? Kwaad – oor mense wat tot saligheid kom?

Natuurlik moet ‘n mens verstaan dat hy gewoon bang was om na Ninevé te gaan. Onthou die Nineviete & Assiriese koninkryk was brutaal wreedaardig. Die Assiriërs (moderne Irak) het destyds baie vrees ingeboesem. Die opdrag aan Jona om in Ninevé die Here se Woord te gaan preek, was net so goed om vandag ‘n sendeling na die Midde-Ooste te stuur om ISIS se geledere binne te dring met die Evangelie. Gewoon lewensgevaarlik.

Tog gee Jona sélf die werklike rede vir sy vreemde optrede. Ons hoef nie te spekuleer nie, Jona sê dit self. Nadat hy die tweede keer na Ninevé gestuur is en hy daar gaan preek het en die herlewing daar uitgebreek het, sit Jona eenkant – kwaad & ontevrede. Toe sê hy vir die Here: “Here, dis presies waarom ek na Tarsus gevlug het. Dis waarom ek nie in Ninevé wou gaan preek nie. Ek het geweet U gaan vir daardie heidene begenadig en aan hulle geloof skenk. Ek ken U. Ek weet U is ‘n genadige en barmhartige God, lankmoedig en vol liefde. Ek weet hoe maklik U afsien van straf. Ek het geweet U sal geestelike omkeer onder hulle werk. En ek wil nie hê hulle moet deel van U gemeente word nie. Hulle is heidene. Hulle verdien om hel toe te gaan. Nee wat, dis vir my beter om liewer te sterf as om hierdie besigheid te aanskou.”

Daar het ons dit! Jona het die Here se hartklop so goed geken. Hy het geweet hoe God is. Hy het God se vrye genade geken. Sy sagte hart. Sy passie om sondaars te verlos. En hy het geweet dit gaan tot die heidense Nineviete se redding lei. En hy wou nie hê hulle moes deel word van die Here se familie nie, want daardie familie was gereserveer vir sý eie mense: die Israeliete. Nie vir volksvreemdes nie! Die gemeente was vir Jona soos ‘n “holy huddle” – ‘n afgebakende eksklusiewe groepie van eiesoortige mense. Vir Jona was dit soos die dood om aan mense búíte die grense van Israel die evangelie te bring.

Die kern van hierdie boek slaan baie dieper as ‘n Jona-in-die-vis-verhaal. Dit openbaar ‘n profeet van die Here wat diep in sy hart gediskrimineer het teen mense wat nie van sy eie groep was nie. In Jona se oë was die Here hopeloos te sag met mense wat liefs verlore moes gebly het. Daarom sit hy nukkerig dikmond in selfbejammering terwyl die evangeliefees in Ninevé aan die gang is en mense jubel omdat hulle sondes vergewe is.

Presies soos die oudste broer in die gelykenis van die Verlore Seuns in Lukas 15. Wat doen die oudste broer terwyl daar feesgevier word oor sy jonger broer wat teruggekom het huis toe? Hy is gewoon smoorkwaad vir sy pa wat so genadig is teenoor hierdie klein vuilgoed wat sy hele lewe opgemors het. En nou word daar vir hóm feesgevier! Hy, wat oudste broer is, het nog altyd goed probeer leef en het nooit weggeloop van sy pa af nie, maar vir hóm was daar nog nooit feesgevier nie. Hy verstaan nie sy pa se hart nie. Hy verstaan nie genade nie! Tewens, hy hou nie van genade nie, omdat hy dit self nie ken nie.

Daarenteen het Jona die Here se hartklop baie goed geken en verstaan, maar sy hart het gediskrimineer teen mense wat nie Israeliete is nie. Hy wou nie met hulle die één brood van die nagmaal deel en saam met hulle uit die één beker drink en saam met hulle deel wees van die één familie van die Here nie.

‘n Mens sou dink: nóú is dit sekerlik klaarpraat met Jona. Nou is die Here se geduld met hom seer sekerlik op. Daarom val ‘n mens se oë byna uit jou kop as jy lees hoe die Here soos ‘n geduldige onderwyser voortgaan om Jona te onderrig om hom tot insig te bring.

Net soos Hy ‘n vis beskik het om Sy profeet van die dood te red, so beskik Hy nou ‘n wonderplant om vir Jona beskutting te gee teen die son. En toe weer ‘n wurm om die plant en sy skaduwee te vernietig. En toe ‘n gloeiende wind om Jona mismoedig te maak. Onnodig om te voorspel wat Jona se reaksie sou wees. Ja, kwaad omdat die skadu weg is en besorgd oor die plant wat dood is.

En nou het die Here vir Jona net waar Hy hom wil hê. “Is jy besorg oor die plant wat dood is, Jona? Terwyl jy sy skadu as ‘n geskenk ontvang het. Jy het nie gewerk om die plant te laat opkom nie. Jy het dit nie versorg nie. Tog is jy daaroor besorg. Hoeveel te meer moet Ek & jy nie besorg wees oor die 120000 mense van Ninevé nie? En selfs oor hulle vee. Want hulle diere ly ook onder hulle goddeloosheid. Jy is diep besorg oor ‘n plant en bietjie skaduwee. Maar wat van duisende mense wat in geestelike duisternis lewe en op pad is na ‘n verlore ewigheid? Nee Jona. Wees passievol genadig soos jou Vader wat in die hemel is passievol genadig is teenoor jou.”

U sien, die boek Jona se boodskap handel ten diepste oor God self. Sý hartklop vir mense. Hy wat aan onverdiende mense gee wat hulle juis níé verdien nie: ewige heil. En Hy het in Sy hart geen voorkeur vir ‘n bepaalde groep nie. Die Nineviete was deurtrapte heidene en 1000e myle verwyderd van die Here se gemeente Israel. Maar u sien, die mens wat persoonlik hierdie God begin glo het, begin al hoe meer Sý hartklop ontwikkel. Die ingebore sondige diskriminasie teen ander, word vernietig deur net na die Here se hartklop te kyk!!

Kom ons praat nou reguit en wees baie eerlik: Van nature is dit by ons almal só dat ons eerste kerklike sentiment altyd by ons eie soort/groep lê. In ‘n sekere sin is dit ook nie noodwendig sondig/verkeerd om aan jou eie groep eerste te dink nie – mits jy nie daaraan dink as ‘n geslote groep of ‘n groep wat beter as ander is nie.

Maar, wanneer word/is dit sondig? Wanneer ons nie omgee vir ander groepe nie – so asof ons van meer belang vir die Here se koninkryk is. Een voorbeeld: Wanneer ons nie eintlik regtig omgee wat van die Moslems hier langs ons in Zonnebloem en in die Bo-Kaap of Woodstock geestelik word nie. Hulle is vir ons soos Nineviete. Hulle is ver van ons verwyderd. Hulle kultuur is anders. Hulle is mos die soort mense wat in staat is om vliegtuie te kaap en in toringgeboue vas te vlieg. Ons voel half bang vir hulle. Nee wat, hou hulle liefs op ‘n afstand. Hulle lyk ook anders as ons. Hulle is baie beslis nie so belangrik in die koninkryk soos óns nie!

Die wonder van die Here se reddende genade in ons eie lewens, is egter dat ons ‘n verlange ontwikkel dat mense van alle soorte & groepe saam met ons by hierdie nagmaalstafel kan aansit. Ons moet ‘n verlange hê dat Moslems van die Bo-Kaap, van Zonnebloem en Woodstock tot bekering kom en saam met ons uit die een beker kom drink en van die een brood eet. Al verdien hulle dit (in ons oë) nie. Tog het ons Here Jesus ook vir die uitverkorenes onder húlle gesterf.

Category Klein Profete Reeks

© 2018 Designed with ❤ by Web Crew