Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

HEIDELBERGSE KATEGISMUS – SONDAG 27
Alle doopbeskouings is gebaseer op afleidings wat gemaak word o.g.v. Bybelse gegewens. Die Bybel sê byvoorbeeld glad nie wíé gedoop moet word binne ‘n gevestigde gemeente nie. Die doopvoorbeelde in Handelinge vind plaas in ‘n kerkplantingsituasie. Om dáárdie voorbeelde te neem as praktiese model vir ‘n kerk wat reeds geslagte lank bestaan, is ‘n afleiding. Nêrens word daar pertinent gesê wat met gelowiges se kindertjies moet gebeur nie – die posisie van kinders binne die gemeente – wat is hulle en waar pas hulle in? Die doop is teken van inlywing in Christus se kerk. Die vraag is of die kerk uit individuele gelowiges bestaan of uit gelowiges en hulle kinders? Is die kinders van gelowiges deel van die gemeente (soos in die OT tyd) of moet hulle as heidene/buitestaanders gesien word? Moet hulle gedoop word of moet daar net vir hulle gebid word (inseën). Waar in die Bybel vind ons die opdrag of voorbeeld van inseëning? Daar is nie so iets nie. Die rede waarom ons glo dat die kindertjies van gelowiges wel gedoop moet word is die volgende: In die Ou Testament het God ‘n belofte aan gelowiges en hulle kinders toegesê en ‘n teken (besnydenis) van daardie belofte moes aan gelowiges en hulle kinders gegee word. In die Nuwe Testament het God dieselfde belofte aan gelowiges en hulle kinders herhaal en daarom moet die teken (doop) van die belofte aan gelowiges en hulle kinders gegee word. Ná Pinkster is die besnydenis nie meer nodig nie, want wie gedoop is, besit reeds die inhoud van wat die besnydenis beteken het (Kolos 2:11-12). In Hand 2 – waar die NT-kerk sy begin het – en die eerste bekerings plaasvind – beveel die Apostel Petrus die mense om gedoop te word en as basis hiervoor sê hy: “Want die belofte van die Gees is vir julle en vir julle kinders en vir almal wat nog daar ver is en wie die Here na Hom toe sal roep..” Die doop moet ontvang word OMDAT die Vader se belofte vir hulle en hulle kinders is. Dis ‘n spieëlbeeld van wat in Genesis 12 & 17 gebeur waar die Abrahamverbond begin en God Sy belofte aan Abraham en sy nageslag gee met die opdrag dat hulle besny moet word. Die interessante is egter dat die belofte van die Heilige Gees – wat volgens Petrus aan die Nuwe Verbond gelowiges en hulle kinders toekom – presies dieselfde belofte is as wat God aan Abraham gegee het. Aan die einde van Lukas en begin van Handelinge (wat eintlik een geskrif is) word van die sogenaamde “belofte van die Vader” gepraat. Sien Luk 24:49 en Hand 1:4. En weer 2:39. Vraag is: WAAR het die Vader die belofte van die Heilige Gees gegee? Antwoord: In Genesis 12 en 17 toe Hy Sy belofte aan Abraham en sy nageslag gegee het! En dit staan in Galasiërs 3:14 > “In Christus kom die seën van Abraham na die nie-Jode sodat ons die beloofde Gees deur die geloof mag ontvang.” Die beloofde Gees is die seën wat aan Abraham beloof is. Deur die Vader. En presies daardie belofte kom in die Nuwe Verbond aan gelowiges en hulle kinders toe. Die Nuwe Verbond is dus die Abrahamverbond in sy vervulde gestalte. Dit vorm ‘n naatlose eenheid dwarsdeur die heilsgeskiedenis en kinders van gelowiges is al die pad ingesluit. Gelowiges en hulle kinders is steeds deel van die verbondsfamilie van God. Kinders van gelowiges word dus nie as heidene of buitestanders hanteer nie, maar as verbondskinders. Hulle is ingelyf by die gemeente. Die doop is teken van opname in die publieke lewe van die gemeente. Die doop is ook die teken en versekering van die reggestel-wees-met-God-in-Christus-se-bloed wat slegs deur die geloof verkry word (nes die besnydenis was Rom 4:11). Dis NIE die teken van gelóóf nie, maar van die INHOUD wat deur geloof ontvang word!! Die doop opsigself red nie. Dit vertel van (wys heen na) die kruisredding. Die doop was nie sonde af nie. Dit wys heen na die bloed van Christus wat reinig. Die gedoopte moet dus begelei word tot persoonlike bekering en vertroue op Christus vir saligheid.

HEIDELBERGSE KATEGISMUS – SONDAG 27
72 Vraag: Is die uitwendige, waterbad self dan die afwassing van die sonde? Antwoord: Nee (a), want alleen die bloed van Jesus Christus en die Heilige Gees reinig ons van alle sondes (b) >>> (a) Matt 3:11; 1 Pet 3:21; Ef 5:26. (b) 1 Joh 1:7; 1 Kor 6:11.

73 Vraag: Waarom noem die Heilige Gees die doop dan die bad van die wedergeboorte en die afwassing van die sondes?
Antwoord: God sê dit nie sonder gewigtige rede nie. Hy wil ons naamlik daarmee leer dat die bloed en Gees van Christus ons sondes so wegneem soos die water die vuilheid van die liggaam wegneem. Verder wil Hy ons veral deur hierdie Goddelike waarborg en teken verseker dat ons net so werklik geestelik van ons sondes gewas is as wat ons liggaam uitwendig met water gewas word.

74 Vraag: Moet die jong kinders ook gedoop word? Antwoord: Ja, aangesien hulle net soos die volwassenes in die verbond van God en sy gemeente ingesluit is (a). Ook aan hulle word nie minder as aan die volwassenes deur die bloed van Christus die verlossing van die sondes (b) en die Heilige Gees wat die geloof werk (c), beloof nie. Daarom moet hulle ook deur die doop as teken van die verbond in die Christelike kerk ingelyf en van die kinders van die ongelowiges onderskei word (d). So is dit in die Ou Verbond deur die besnydenis gedoen (e) in die plek waarvan die nuwe Verbond die doop ingestel is (f) >>> (a) Gen 17:7. (b) Matt 19:14. (c) Luk 1:15; Ps 22:11; Jes 44:1-3; Hand 2:39. (d) Hand 10:.47. (e) Gen 17:14. (f) Kol 2:11-I3.

© 2020 Tafelberg Gemeente (Dolerend)