Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

Laai Af

HEIDELBERGSE KATEGISMUS – SONDAG 17

Lees: 1 Kor 15: 1-23, 42-58 . Daar is altyd 2 versoekings wat vermy moet word: 1) Dat net histories teruggedink word aan Jesus se opstanding uit die dood 2000jr gelede. Hoe waaragtig wáár dit ookal is. 2) Dat net vooruit gedink word aan alle gelowiges se eie opstanding in die toekoms. Wat vergeet ons so maklik? Dat Jesus se opstanding VANDAG aan ons lewens iets doen. Dit is juis die groot rede waarom Paulus aan die gelowiges in Korinthe so breedvoerig oor die opstanding geskryf het. Hy wou hê hulle moes snap dat Jesus se opstanding so ‘n ryke betekenis vir hulle daaglikse lewe het. Waarom Want, die gelowiges in Korinthe het geestelik begin uitsak. Hulle het begin voel: “Ai, ons gewone daaglikse lewe is darem so vaal en broos. Is dit wat ons in die Naam vd Here doen ooit van enige betekenis en waarde? Alles is so verganklik”. Dit is die rede waarom Paulus in die heel laaste sinnetjie van 1 Kor 15 (nadat hy vir 57 verse oor die opstanding geskryf het) alles opsom en sê: “ DAAROM broers, WEET dat julle inspanning in diens vd Here nie tevergeefs is nie.” M.a.w. AS julle glo in die opstanding van Jesus, dan kan julle moed skep vir julle lewe van vandag: hier en nou! Óns verganklikheid word deur opstandingskrag verteer. Het jy ook al soms gewonder: “Waarvoor lewe ek nou regtig?” My lewe is vasgevang in ‘n sleurgang. Soms voel dit asof niks sin en betekenis het nie. Elke dag: staan op, hou stiltetyd, eet ontbyt, begin met dagtaak, middagete, gaan voort met dagtaak, aandete, slaap, staan op…. As gelowige probeer ek van nut wees in die Here se koninkryk. Probeer getuig, probeer tot diens wees, probeer die Skrif aan ander duidelik maak. Aktief in gemeente. Intussen vlieg die tyd verby, die weke en maande. Wanneer ek terugkyk, voel dit asof daar so min wesenlik gebeur het. Intussen raak ek pynlik bewus van die feit dat ek al ouer word. Dat my lewensjare verbyvlieg. Daarby herinner allerlei liggaamlike skete my aan die feit dat ek ‘n verganklike mens is. Jy as huisvrou: “Waarom moet ek weer vir die miljoenste keer skottelgoed opwas of die wasmasjien laai met wasgoed of weer dink wat om te maak om te eet?” Jy as Sondagskoolkategeet: “Beteken my klasse werklik iets vir die kinders?” Of dalk sukkel jy al vir jare met ‘n persoonlike worstelstryd waaroor u al duisendkeer gebid het, maar oënskynlik hoor die Here nie. Niks gebeur nie. Dalk het jy al gevoel: “Ag, wat help gebed? Wat help dit tog om die Woord te lees?” “Word ek nie dalk mislei deur alles wat ek in die kerk hoor nie?” “Is dit nie wolhaarstories nie?” Dit alles spreek boekdele van die verganklikheid van ons lewens. Ja, ons Here Jesus het opgestaan uit die dood. Die dood het oor Hom geen mag meer nie. Hy leef nou in ‘n wêreld waar die dood eenvoudig geen seggenskap oor Hom het nie. Hy is onverganklik. Dit glo ons onvoorwaardelik. MAAR, WAT VAN ONS? Met ons is dit so anders. Ons leef soos mense wat daagliks met die dood te doen het. Ons is verganklik. Geen wonder dat Paulus van homself sê (vers 31): “Ek sterf dag vir dag” In vers 42 sê hy sy lewe van elke dag is soos om te saai in verganklikheid. Ons saai elke dag in swakheid. Swakheid kleef alles wat ons doen aan. Hierdie ervaring het die gelowiges in Korinthe se lewens regstreeks beïnvloed. Hulle het ‘n lewenshouding begin aankweek van : “Laat ons eet en drink, want more sterf ons.” (vers 32). Dit is binne hierdie situasie wat Paulus 1 Kor 15 laat weerklink!! Die magtige boodskap is dat die opstanding van Christus hierdie gevoel van nutteloosheid/verganklikheid verteer het!! Die opstanding van Jesus Christus omtower die gewone lewe van elke dag tot nuttigheid! Hoe baie keer dink ons dat Christus se opstanding slegs ons eie opstanding uit die dood eendag by die wederkoms verseker. Die feit dat ek die ewige lewe deur Sy opstanding verkry het, veroorsaak dat my lewe nou en hier sin en betekenis verkry. Omdat ek die sekerheid besit dat ek die ewige lewe het, dat ek liggaamlik sal opstaan op die laaste dag, kry my lewe hier en nou ewigheidswaarde. Christus se opstanding het letterlik alle verganklikheid wat aan my vaskleef opgeëet. Nie net my fisiese verganklikheid/ my liggaamlike sterwe/dood nie, maar alle verganklikheid. Ook die verganklikheid wat elke dag aan my doen en late vaskleef. Dit is die magtige boodskap van 1 Korint. 15. Die angel vd dood is uitgetrek, daarom ervaar ek dit nou reeds. Omdat ek eendag liggaamlik deur Christus lewend gemaak sal word, het ek nou reeds die nuwe lewe. Daarom is niks in ‘n ware gelowige se lewe nutteloos nie. Alles wat ons doen deur die geloof in Hom wat opgestaan het, het waarde. ‘n Bejaarde gelowige, wat bedlêend is, wat byna nie meer ‘n erediens kan bywoon nie, se lewe, se gebede, se telefoonoproepe, verkry ewigheidswaarde deur Christus se opstanding! Die gelowige wie se lewe uit ‘n sielsdodende roetine bestaan OF ‘n gelowige wat voel dat hy deur niemand raakgesien word nie OF ‘n kind vd Here wat liggaamlik swak voel, se lewe het ewigheidswaarde omdat Christus se opstanding daardie verganklikheid totaal verteer het! Dit is die lewende hoop wat ons mag hê. Indien ons dit nie gehad het nie, sou ons die ellendigste van alle mense gewees het. Christus se opstanding verander ons tot mense wat ‘n lewende hoop het.

HEIDELBERGSE KATEGISMUS SONDAG 17

45 Vraag: Watter nut het die opstanding van Christus vir ons? Antwoord: Ten eerste het Hy deur sy opstanding die dood oorwin sodat Hy ons die geregtigheid wat Hy deur sy dood verwerf het, deelagtig kon maak (a). Ten tweede word ons nou ook deur sy krag tot ‘n nuwe lewe opgewek (b). Ten derde is die opstanding van Christus vir ons n betroubare waarborg van ons salige opstanding (c) >>>>> (a) Rom 4:25; 1 Pet 1:3; 1 Kor 15:16. (b) Rom 6:4; Kol 3:1, 5; Ef2:5, 6. (c) 1 Kor 15:20, 21.

© 2018 Designed with ❤ by Web Crew