Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

HEBREËRS-REEKS NO 6

Tema: Ons Hoëpriester

Skrif: Hebreërs 5: 1-10

Waarom aanhou om ‘n Christus-gelowige te wees? ‘n Mens is meestal uit. Meestal in die minderheid. Soms selfs teenstand. Sou dit nie beter en veel makliker wees om net alles te los nie?”

Dalk het jy al so gevoel.

Miskien is jy op skool of iewers in ‘n werksituasie en het al gewonder: “Kan dit wees dat, van al hierdie mense rondom my, ek die enigste een is wat vir Jesus liefhet? Dis so eensaam. Niemand verstaan hoe my kop werk nie. Is dit regtig die moeite werd om altyd anders te wees? Dalk moet ek teruggaan waar ek voorheen was.”

Wel, dan is Hebreërs beslis vir jou bedoel.

Die eerste lesers was ‘n gemeentetjie iewers in Italië wat wou teruggaan na die godsdiens van die Judaïsme. Hulle wou Christus verruil vir die wettiese sisteem van die Judaïsme waarmee hulle grootgeword het.

Aan die einde van hfst 4 het die Hebreërbriefskrywer aangetoon hoe sy lesers kon verhoed dat hulle afkoel wat betref die Blye Boodskap van God se genade in Christus. 1. Voortdurende blootstelling aan die Woord en 2. Konstante en aanhoudende kóm na die Here Jesus, wat so ‘n simpatieke, gevoelvolle, liefdevolle Hoëpriester is.

Dis amper soos fietsry. As jy ophou trap, val jy om. ‘n Mens bly regop deur die Woord en die aanhoudende KOM na Jesus as Hoëpriester.

Drie maal het die skrywer reeds na Jesus as “hoëpriester” verwys (2:17; 3:1; 4:15).

Om van Jésus as “hoëpriester” te praat, sou sekerlik die eerste lesers se oë laat rek het. Onthou: Hulle was Christene wat JODE van nasionaliteit was. Hulle sou seer sekerlik vra: “Hoe kan jy na hierdie man, Jésus, verwys as ‘n hoëpriester? In watter opsig is Hy dit en hoe is Hy enigsins gekwalifiseer om dit te kan wees?”

Omdat die skrywer hierdie tipe vrae van sy lesers se kant antisipeer, beantwoord hy dit in hoofstuk 5. En daarmee kom hy by die eintlike hartklop van sy brief. Die “hoëpriesterlike bediening van Jesus Christus” is die groot tema van die brief. Dis iets wat nie in enige van Paulus se briewe genoem word nie. En basies nêrens in die NT nie. Hebreërs is uniek wat betref.

En dit moes ‘n diep impak op die eerste lesers gemaak het. Want in Judaïsme was die amp van hoëpriester die hoogste amp denkbaar. Jode het altyd met die grootste ontsag gepraat van veral die eerste hoëpriester, Aäron. Dit was juis een van die redes waarom hulle oorweeg het om na die Judaïsme terug te keer, want die priesterlike bediening was op daardie stadium – 65nC – nog steeds in die tempel in Jerusalem aan die gang. Onthou die tempel is eers 5 jaar later in 70nC verwoes. Maar nou was priesters nog bedrywig.

Wat die skrywer nou doen is om te wys dat die Here Jesus Christus inderdaad ‘n hoëpriester is en dat daar om daardie rede vir sy lesers geen rede is om na die Judaïsme terug te gaan nie. Om die waarheid te sê: Jesus is ‘n groter hoëpriester as wat daar ooit was! Aäron ingesluit. Om van Jesus weg te draai na ‘n Joodse hoëpriester is om van die meerdere na die mindere te draai! Van die son na die skadu!

In essensie is daar nie veel verskil tussen ‘n gewone priester en ‘n hoëpriester nie. Die hoëpriester is net ‘n meer verhewe tipe priester met unieke take. Daarom begin die skrywer deur te wys op die kwalifikasies waaraan ‘n man moes voldoen om ‘n priester te wees (verse 1-4) asook hoe die Here Jesus Christus aan al daardie kwalifikasies voldoen (verse 5-10).

VEREISTES OM ‘N PRIESTER TE WEES (verse 1-4)

Daar is twee noodsaaklike vereistes:

Hy moes ‘n méns wees en hy moes deur God self aangestel word.

Terwyl dit die profete se taak was om God by die mense te verteenwoordig, was dit die priesters se taak om die mens by God te verteenwoordig. Ons mag nooit priesters en profete met mekaar verwar nie! ‘n Profeet praat namens God met die mense. Die beweging is van Bo na onder. ‘n Priester praat namens die mense met God! Die beweging is van onder na Bo.

Terloops, dit is waarom iets soos “priesterlike vryspraak” verkeerd is. Daar is kerke wat vandag nog “priesters” het wat mense vergewe, wat absolusie aan mense verkondig. Hierdie “priesters” staan in die Here se Naam en kondig aan dat mense vergewe is. Hulle verkondig aan mense iets wat God sou sê. Maar dit is presies NIE wat ‘n priester gedoen het nie! Dit was die profete se taak om God se woorde te sê. Priesters het mense by God verteenwoordig.

In die Nuwe Verbond het beide die profetiese en priesterlike ampte op Christus oorgegaan en daarom het ons nie meer vandag in die kerke sulke ampte nie.

Dit net tussen hakies.


Die OT Levitiese priester moes dus ter wille van die mense voor God bedien. Daarom moes die priester self ‘n MENS wees. Hy moes van die mense kom, apartgesit wees van die mense en namens hulle optree. Wanneer hy byvoorbeeld diere-offers bring, was dit namens die mense.

Omdat die priester self ‘n mens is en self swak is, verstaan hy die mense se swakhede en probleme so goed. Daarom kon hy met simpatie en begrip en teerhartigheid die mense bystaan. Hy het dus ook as ‘n soort pastor opgetree.

En tog moes die priester ook offers vir homself bring, omdat hy self ‘n sondaar is. Hy moes as’t ware eers namens homself offer en daarna namens die mense.

Die eerste vereiste vir priester-wees is dus duidelik: Hy moes werklik MENS wees.

Die tweede vereiste: Niemand kon self besluit om priester te word nie. Omdat hy die mens by God verteenwoordig, moes hy vir God aanneemlik wees en daarom deur God aangestel word.

Dit is hoe Aäron ‘n priester geword het. Hy was dit nie werd nie en het dit ook nie gesoek nie. Maar die Here het hom geroep. Ander mense wat sélf die priesteramp wou opneem – soos die seuns van Korag (Num 16:1-40) en ook koning Saul – het met die Here se smeulende gloeiende emosies te doen gekry.

Dit is dus die twee vereistes vir ‘n priester: Hy moes geneem word vanuit die mense én hy moes deur God gekies word.

Die vraag is of Jesus werklik aan hierdie 2 vereistes voldoen het? Doen die Hebreërskrywer reg deur vir Jesus “hoëpriester” te noem?

In verse 5-10 sal hy nou aantoon op watter manier die Here Jesus Christus aan beide vereistes voldoen.

Interessant genoeg begin hy by die tweede vereiste (verse 5-6) voordat hy die eerste vereiste beklemtoon (verse 7-8). Hy draai die volgorde om. Waarom so? Dit is omdat Jesus deur God die Vader aangestel was VOORDAT Hy mens geword het! Iets wat beslis nie waar was van die Levitiese priesters in die Aäronitiese orde nie! In die Levitiese orde was jy EERS ‘n mens is daarna deur God geroep. Maar Jesus was eers deur God aangestel en DAARNA mens geword!

JESUS VOLDOEN AAN DIE VEREISTES OM HOËPRIESTER TE WEES (verse 5-10)

Eerste: Jesus het nie die priesteramp self gekies nie. Die Vader het Hom aangestel. Die Heilige Gees het dit self verklaar in Psalm 2:7 (Jy is My Seun: Vandag het Ek jou Vader geword) en Psalm 110:4 (Jy is priester vir ewig volgens die priesterorde van Melgisedek). Dit is die woorde wat Christus van alle ewigheid af van Sy Vader gehoor het. Hy is van ewigheid af die Seun. En alhoewel Hy gelyk is met die Vader, het Hy alles wat Hy is aan die Vader te danke. Dis ‘n misterie, ons kan dit nie verklaar nie! Ons kan dit slegs stél.

Maar luister nou baie mooi:

Jesus was nié as priester aangestel binne die gewone Levitiese priesterorde soos al die Israelitiese priesters nie! Dit kon nie wees nie, want Hy was van ewigheid reeds aangestel as priester, nog lank voordat daar Levitiese priesters was! Hy was gekies voor die grondlegging van die wêreld (1 Pet 1:20). Hy was as offerlam geslag voor die skepping reeds (Open 13:8). Daarom was Hy aangestel binne die orde van Melgisedek! ‘n Priester van ewigheid af! ‘n Totaal ander orde as die Levitiese priesterorde!

Dalk voel jy om te sê: “Wel, ek het nie die vaagste benul wat “priesterorde van Melgisedek” beteken nie.”

Die skrywer spel ongelukkig nie onmiddelik uit wat hy daarmee bedoel nie. Hy sal dit in hoofstuk 7 doen – en ons sal dit dán bestudeer. Wat die skrywer op hierdie punt wil duidelik maak, is dat die sogenaamde “die orde van Melgisedek” ‘n ewige priesterorde is en dat Jesus dus deur God self as priester aangestel is solank as wat hy reeds die Seun van God is – en dit is van alle ewigheid af!

Jesus voldoen dus baie duidelik aan die tweede vereiste vir priester-wees: Hy is deur God self aangestel. Geen twyfel hoegenaamd!

Maar wat van die eerste vereiste – dat Hy vanuit die mensdom moes kom? Dat Hy ‘n MENS-MENS moes wees.

Wel, Hy het ook daaraan voldoen.

Vers 7 > “in die dae van Sy vlees”. Die ewige Seun van God het “dae van vlees” geken! Die ewige Seun van God het vlees geword, regte mens geword, ONS menswees plaasvervangend (in ons plek) geword.

Hy het – in ons menswees – die menslike ervarings gehad van dinge te leer, beperkings en inperkings te beleef. Hy het deur die vreeslike Getsémane-ervaring gegaan en bloed gesweet (Luk 22:44). Daar het Hy gebid dat Hy “vanuit die dood” (Grieks) gered mog word. En Sy gebed is verhoor. Hy is vanuit die dood gered. God het Hom uit die dood in die krag van oneindige lewe opgewek.

Ja, die ewige Seun van God het deur al daardie ervarings gegaan as ‘n regte mens van vlees en bloed. Hy het deur beproewings gegaan waardeur Hy nooit sou kon gaan indien Hy nie vlees geword het nie. Hy het letterlik geleer wat gehoorsaamheid is, soos wat Hy dit nooit andersins sou kon doen nie. Anders as ons het Hy nie óngehoorsaamheid gehad om af te leer nie! Maar Hy het binne-in ons vlees geleer wat gehoorsaamheid regtig beteken. Die aakligheid van Golgota het Sy gehoorsaamheid tot die uiterste getoets. En Hy het geslaag. Sy gehoorsaamheid was onbevlek. Al het dit al die slegte lyding beteken – erger as wat die heelal nog ooit gesien het.

Jesus was (en is steeds) egte, ware mens. Maar Hy is die perfekte mens – soos die mens oorspronklik geskape was om te wees. Hoewel Sy gehoorsaamheid op elke punt getoets is, het Hy Sy perfektheid sigbare tasbare vleeslike gestalte gegee. As die ewige Seun van God het Hy net voortgegaan om te wees wat Hy nog altyd was. Maar Hy het geword wat Hy nie voorheen was nie – MENS! En tog was Hy nooit iets minder as volkome mens nie!

Nee wat, Jesus voldoen beslis aan die eerste vereiste vir priester-wees: Hy is volwaardig MENS.

Maar, wat beteken vers 9 – dat Jesus volmaaktheid bereik het? Klink of Hy dit eers nie was nie, maar toe geword het!

Wel, dit verwys nie na morele perfeksie nie. Dit het Hy altyd gehad. Dit beteken eerder dat Hy – as ware mens – ryp geword het, uitgeknip vir Sy taak as priester. Daarom is Hy die bron/outeur van ewige verlossing.

Dink net daaraan: Die ewige Seun van God het mens geword en is nog steeds ‘n mens. Daar is ‘n MENS wat ‘n ewige hoëpriester is! Alle ander Levitiese priesters was sondaars en het gesterf. Maar hier is Iemand wat mens GEWORD het, mens IS en PERFEKTE mens is, en wat voor die skepping reeds in ‘n ewige priesterskap aangestel is. Dit is absoluut uniek. Slegs Jesus is dit.

Waarom sou enigiemand van HOM af wegdraai na die veel mindere priesters van Judaïsme? Kan enigiets dommer wees? Ons Here Jesus is wonderlik groot in Wie Hy is en wat Hy doen. Alles aangaande Hom is so oneindig heerlik. Waarom dan die sonlig vir die donker skadu’s verruil?

Dink net vir ‘n oomblik: Nie ‘n mens-vreemde hemelwese nie, maar Iemand wat werklik méns is met jou en my menswees en wat ons deur en deur verstaan EN TOG ook God is en 100% in staat is om te help – SO ‘n PERSOON is die tipe Persoon wat ons benodig wanneer ons die broosheid van ons lewens ontdek, is dit nie? Slegs so ‘n Persoon. Niks of niemand anders sal vir ons werk nie!

En dit is Jesus Christus! Ons Hoëpriester!

Category Hebreers Reeks

© 2020 Tafelberg Gemeente (Dolerend)