Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

HEBREËRS-REEKS NO 23

Tema: ‘n Geestelike godsdiens

Skrif: Hebreërs 13: 9-16; 18-25

Die Christelike Geloof is ‘n “geestelike” godsdiens!

Aan die einde van sy brief aan die Hebreërs, kom die apostel nou by ‘n klompie slotopmerkings. Dit is moeilik om dit saam te vat in een boodskap onder een tema, maar op ‘n manier wil dit iets beskryf van wat ons sou kon noem: Christendom = ‘n geestelike godsdiens!

‘n Mens moet ‘n bietjie van die agtergrond van die eerste lesers verstaan. Ons weet by hierdie tyd dat hulle wankelend was in hulle toewyding aan die Christelike Geloof. Dis moeilik om te sê waarom. Ons weet egter van allerlei tipes van dwaalleer wat destyds in omloop was en wat die waarheid van die evangelieboodskap verdraai het en die Christene negatief kon beïnvloed het.

Een so ‘n dwaalleer het verkondig dat ‘n mens nêrens in die Christelike lewe sal kom indien jy nie spesiale, heilige kos eet wat in godsdienstige offer-rituele gebruik is nie. Dit het sy wortels in Levitikus, waar die aanbidders sekere offers se vleis moes eet. Die dwaalleer was egter dat ‘n Nuwe Testamentiese Christen ook sulke kos moes eet ten einde geestelike groei te kan beleef. Eintlik het dit gesuggereer dat die OT offerstelsel steeds geldig is en Judaïsme reg is.

‘n Mens kan dink wat die Apostel se reaksie hierop sou wees. Wat jy eet of wat jy nie eet nie, sal nie jou geestelike groei bevorder nie. ‘n Christen het innerlike, geestelike versterking nodig – nie uiterlike praktyke nie. Die Christelike Geloof het nie te make met uiterlike ditte en datte nie. Enige idee dat die Here besonderlik beïndruk is met jou as jy sekere rituele, of dieëte beoefen, is totaal vreemd aan die NT. Dis die HART wat saakmaak. Nie dit wat ingaan nie, maar dit wat uitkom (Mat 15:11). Geloofsvertroue, liefde vir Christus, aptyt vir die Woord, standvastigheid in versoekings, heilige lewenswandel ens. Dit is dinge wat saakmaak!

Verse 10-14 > Nie al die voorgeskrewe OT offers het vereis dat die aanbidder die vleis moes eet nie. Soos bv die sonde-offer (Lev 4). Nie eens die priesters het van die vleis geëet nie. Die dier se vet en ingewande is op die altaar verbrand, maar die grootste gedeelte van die dier se massa is buite die kamp verbrand. En dit was alles ‘n vooruitwysing na die Here Jesus Christus.

Ons altaar is nie die OT tempel altare waar diere geoffer is nie. Ons altaar is Christus self. Mense wat nog kleef aan die Levitiese godsdiens van uiterlike altare – soos die Hebreërs weer wou gaan doen – verstaan nie die EINTLIKE altaar, Christus, nie. Iemand wat reg ontvang het om by HIERDIE altaar te aanbid, het geen ander uiterlike altaar nodig nie. Dis verkeerd en sondig om ander altare op te rig. Jesus het buite die ou stad Jerusalem gely. En sodoende het Hy al die Levitiese offers vervul. Verlossing is verkry sonder die hulp van enige offerdier of vleis wat buite die stad verbrand moes word.

Die implikasies hiervan vir NT gelowiges is tweeledig:

1 Ons verwerp Judaïsme of enige vorm van terugkeer na enige werke-godsdiens. Ons voeg ons by ons Verlosser wat buite die stad gely het. Dis vir ons genoeg.

2 Alle werke-godsdiens verwerp ons! Soos wat die Jode die karkasse van die offerdiere buite die kamp uitgewerp het, het hulle vir Jesus uitgewerp en verag. En so sal hulle ook met al Sy volgelinge doen. Christene moet bereid wees om gesmaad te word. En tog is hierdie smaad uithoudbaar, want hierdie lewe is gou verby (vers 14). Ons is nie vir ewig hier nie. Ons hoop is nie op ‘n aardse stad nie. 1 Kor 7:31. Ons hoop is op die Nuwe Jerusalem wat sigbaar gemaak sal word. Dis net ‘n kwessie van tyd. Terwyl alles sal vergaan, sal hiérdie stad bly.

Verse 15-16 > Die offers wat Christene bring is van ‘n totaal ander soort/orde as die offers van die OT Levitiese offersisteem. Die offers wat Christene bring, vind plaas deur die Middelaarskap van Jesus. En dit is nie bloed-offers nie. Dit is die onophoudelike offers van lof en dank wat uit ons harte kom en op ons lippe gehoor word. Die offers wat werklik God se hart behaag is die goed wat ons doen, dink, praat wat ‘n VRUG is van ons vertroue op ons redding op die kruis.

Wat ‘n belangrike paar verse is dit nie? Dit verduidelik wat die Christelike Geloof behels, naamlik dat dit nie oor uiterlike seremonies en rituele en ditte en datte gaan nie, maar oor die innerlike hart. En wat binne is, word buitentoe sigbaar.

Die Christelike Geloof besit GEEN altaar en GEEN offer en GEEN priesters nie. Die Christelike Geloof is nie ‘n godsdiens van vorm, seremonies en liturgieë en priesters en altare en kerse en gewade en wierrook en kruise en ikone en klokkies en offers nie! In die Christelike Geloof gaan dit slégs oor die Here Jesus Christus! Dit gaan oor ‘n lewende Iemand wat in Homself die priester, altaar en offer is. Dit gaan NET oor Hom. En Christene is mense wat hulleself openlik met Hom identifiseer, selfs al word hulle daarvoor gehoon en gesmaad.

Dis onmoontlik om jou met Jesus Christus te identifiseer en nie offers van lof, dank, aanbidding en ‘n opofferende lewenstyl wat deur die inwonende Heilige Gees geproduseer word, voort te bring nie! Die Christen-gelowige is iemand wat volkome vertroue geplaas het in Christus se klaargemaakte kruisverlossing, wat openlik met Hom identifiseer, wat die smaad en hoon van die ongelowige wêreld dra, wie se oë op die hemelse stad is, wat in kommunikasie met die Vader bly, wat aanhoudend na Hom toe kom deur Christus, wat offers van lof en dank bring en wat lewe vir wat ander mense kan baat.

U sien dus dat die Christelike Geloof ten diepste ‘n geestelike godsdiens is – meer as wat dit sentreer in uiterlike vorm.

En so kom die Hebreërbrief tot ‘n einde. Die laaste klompie verse bestaan uit aansporings, groetewoorde en seënbede.

‘n Mens sou kon vra of daar ‘n boodskap in hierdie slotwoorde is. En ek dink daar is! Kom ons kyk wat ons daaruit kan leer.

‘n Mens leer beslis iets van die skrywer! Waaruit ons ook kan sien op watter manier die Heilige Gees in die Christen-gelowige ‘n innerlike verandering skep. Alhoewel hy oor sulke gewigtige, diepsinnige tema’s geskryf het en hy baie reguit gepraat het en sy lesers selfs skerp aangespreek het, is hy tog baie nederig en in sy eie oë nie iemand van groot belang nie. Hy is tewens sensitief oor hoe sy lesers sy brief sou ontvang. En hy is ‘n gebedsmens. Hy versoek sy lesers om vir hom te bid en spesifiek dat hy weer met hulle verenig sal word. Wat die omstandighede was, weet ons nie. Dalk bedoel hy dit geestelik – dat hulle weer verenig mag word in die een ware geloof in Christus – aangesien hulle dit oorweeg het om die Christelike Geloof te verlaat en dit ‘n geestelike skeiding tussen hulle tot gevolg gehad het.

Punt is: Gebed was vir hom belangrik en hy was nederig en sensitief vir ander mense. Dit is die onomstootlike vrug van die Heilige Gees. Dis nie iets wat ‘n mens in jou eie lewe kan laat gebeur nie. Dit is Gees-vrug wanneer ‘n mens deur die Gees wedergebore is deur geloof in die evangelieboodskap.

Laastens die seënbede in verse 20-21, 25. Sonder twyfel een van die wonderlikste seënbedes wat in die NT opgeteken is. Dis duidelik die apostel se passie dat al sy lesers (ons ook!) die onverdiende, innerlike, geestelik-transformerende, kragtige werk van God sal beleef. In die NT word dit GENADE genoem.

Kom ons fokus, ter afsluiting, vir ‘n kort oomblik op hierdie aangrypende seënbede:

Lees dit weer: “God wat vrede gee, het ons Here Jesus – wat deur die bloed van die ewige verbond die groot Herder van Sy kudde is – uit die dood teruggebring. Mag dié God julle toerus met alles wat goed is, sodat julle Sy wil kan doen. Mag Hy deur Jesus Christus in ons tot stand bring wat vir Hom aanneemlik is. Aan Hom behoort die heerlikheid tot in alle ewigheid. Die genade van God sal by julle almal wees. Amen”.

Ons weet dat die Hebreërs bekeerde Jode was wat kwaai vervolging van die owerheid moes verduur omdat hulle Christene was. Dit was dalk een van die redes waarom hulle die Christelike Geloof wou verlaat.

Teen hierdie agtergrond is die seënbede baie veelseggend:

Die apostel sê vir hulle: Die God aan wie julle behoort – en ter wille van Wie julle vervolg word – is die God van VREDE. Sy vrede in julle binneste TERWYL julle vervolg word en swaar kry, is van veel meer waarde as wat julle weer Judaïste word en sonder Sy vrede moet klaarkom!

Meer nog: Julle is Sy skape. Dit beteken dat julle ‘n Herder het. God het vir Jesus uit die dood laat opstaan – nie maar net as ‘n individuele mens nie – maar om skape te kan lei.

Voor die skepping reeds is daar binne-in die Drie-Eenheid ‘n verbond tussen Vader, Seun en Gees gesluit. Daar is besluit dat die Vader aan die Seun ‘n kudde sal gee wat Hy op die aarde met Sy bloed moes loskoop. Die bloed sou die kudde se ewige heil verseker.

Voor die skepping reeds het die Vader aan die Seun ‘n bruid gegee, ‘n kudde skape gegee – vir wie Hy sou sterf, vir wie Hy moes opstaan en vir wie Hy moes kom sorg en lei – Sy kudde. Dis waarom ‘n Christen bo-oor die dood kan kyk en die opstanding en die Lewe kan sien!

Dis op grond van hierdie sekerheid, wat die apostel vir sy mense bid dat hulle geestelik vordering sal maak. En ewige eer aan die Here Jesus Christus sal gee.

Die teruggevalle Christen groei nie geestelik nie en maak weinig vordering en is traag om aan die Here Jesus alle eer te gee. Hy weet hy is veronderstel om dit te doen, maar kom nie daarby uit nie. Louwarm. Nie koud nie, nie warm nie.

Maar die mens wie se innerlike mens aan die brand gesteek is deur die vuur van die Heilige Gees, soek maniere om te groei en is nie skaam om die Here Jesus bo alles te eer nie.

Dis die twee tipes Christene wat daar is: Absoluut aan die brand of verflou en teruggevalle.

Waar staan jy?

Category Hebreers Reeks

© 2020 Tafelberg Gemeente (Dolerend)