Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

HEBREËRS-REEKS NO 20

Tema: Berg Sinai en Berg Sion

Skrif: Hebreërs 12: 14-29

Niemand weet waarom die eerste lesers aan wie die Hebreërbrief geskryf was, van die Christelike Geloof wou wegdraai na die Joodse Judaïstiese godsdiens nie. Maar ons kan tóg uit sekere goed wat die skrywer sê aflei dat die vervolging en swaarkry wat hulle as Christene deurgemaak het, ten minste één van die redes was.

In hoofstuk 11 het die apostel vir hulle verduidelik waarom daar sulke moeites en probleme en swaarkry in die Christen se lewe móét wees.

En nou in hoofstuk 12 kom hy in ‘n sekere sin by ‘n mate van ‘n klimaks in die brief.

In verse 18-24 verduidelik hy waarom dit beter is om ‘n Christen te wees as om ‘n Jood te wees. En in die baie belangrike verse 25-29 wys hy op die uiteinde van alles: die blywende en die verbygaande.

1 DIS BETER OM ‘N CHRISTEN TE WEES AS OM ‘N JOOD TE WEES (verse 18-24)

Kyk nou hoe vindingryk is die skrywer. Hy vergelyk twee berge met mekaar en wys dan hoe dit vir ons beter is om op die een berg te wees as om op die ander berg te wees.

Hoewel hy dit nie by name noem nie, is dit duidelik dat die eerste berg waarna hy verwys die berg Sinai is. Dis die berg waar die Here vir Moses die 10 Gebooie (Wet) gegee het en waar die volk gesidder en gebewe het toe dreunings en donderslae van die Here gekom het. Die apostel gebruik Berg Sinai as ‘n simbool van wat die Judaïstiese godsdiens (waarheen die Hebreërs wou teruggaan) wesenlik is.

Die tweede berg is Berg Sion in Jerusalem. Dit is nie eintlik ‘n regte bérg nie, maar die hoogtetjie waar die tempel gebou was. Om na Jerusalem (Sion) te gaan vir versoeningshandelings by die tempel en die feeste by te woon, was ‘n totaal ander ondervinding as wat die volk eeue tevore by Sinai beleef het. By Sion was dit so ‘n vreugde en blydskap en feestelikheid. Veral wanneer die pelgrims vir die jaarlikse feeste die stad binnekom. En tog was al daardie OT feeste en kultusvierings slegs prentebeelde en simbole van hemelse geestelike werklikhede. Dit was nie sélf die werklikheid nie.

Met ander woorde: Al was dit ‘n groot vreugde om na Sion te kom – in teenstelling met hoe skrikwekkend Sinai was – kom Christusgelowiges nié na ‘n aardse Sion se feestelikheid nie, maar in die geloof na die wáre Sion en hemelse Jerusalem! Dít is die seëninge van die evangelieboodskap TEENOOR dit wat die aardse Sinai en aardse Sion aan die Jode gebied het.

A > BERG SINAI (verse 18-21)

Berg Sinai was tasbaar. Die plek waar Moses die Wet ontvang het. Dit was ‘n plek van angswekkende belewenisse, wat met die liggaamlike sintuie ervaar kon word – vlammende vuur, sterk winde, duisternis, storms. Lees dit in Eksodus 24.

Baie tipies van die OT-dispensasie: Behalwe vir die geestelike werklikhede, het die materiële ‘n baie groot rol gespeel: dit wat ‘n mens kan sien, voel, hoor, ruik, proe, tas.

Terwyl die NT-dispensasie van die Evangelieboodskap byna 100% met geestelike werklikhede te make het. Wanneer ‘n mens byvoorbeeld in die Nuwe Verbond die wedergeboorte beleef en ‘n nuwe skepping word, beleef jy nie die soort tasbare manifestasies wat die volk Israel by Sinaiberg beleef het nie.

Berg Sinai het angs ingeboesem. God het hoorbaar gepraat. Die mense het gepleit dat Hy in die toekoms liewer met hulle deur ‘n middelaar moet praat. Selfs Moses het gesidder en gebewe.

Sinai was nie ‘n baie verwelkomende plek nie. Niemand kon direk in God se teenwoordigheid kom, behalwe Moses en Aaron nie. Selfs ‘n dier wat naby die berg gaan, moes doodgemaak word.

Die rede vir dit alles is dat Berg Sinai sinoniem was met die Wet. Die Wet is die spieël waarin die mens sy diepe sondigheid ontdek en besef hoe dringend hy ‘n Verlosser nodig het. Die Wet spel dood en straf vir alle oortreders. Nie omdat die Wet sleg is nie, maar omdat die mens innerlik korrup is. Elke mens.

Wanneer die mens se gevalle sondige natuur in aanraking met die Wet kom, wil die gevalle natuur net meer en meer oortree en dieper en dieper verval.

Byvoorbeeld: As die Wet tot mense se eie beswil sê: Moenie steel nie, want dit gaan jou lewe verwoes, dan WIL die mens se gevalle natuur ewe skielik steel.

Dit is waarom die mens nooit langs die pad van die Wet gered kan word nie. Die innerlike smet van die sondeval verhoed die mens om volgens die Wet te leef en lewe en geluk te beleef.

Berg Sinai is die simbool hiervan.

B > BERG SION (verse 22-24)

Jerusalem, die tempel en die jaarlikse feeste was ‘n simbool van die verlossende Evangelieboodskap wat later – met Jesus se koms – volle gestalte sou kry.

Sinai was egter uitsluitend en nie-verwelkomend. Toegang Verbode!

Sion is warm, verwelkomend en toegang is oop.

Dus: Wanneer ‘n mens in geloofsvertroue by die Here Jesus Christus kom, beleef jy nie die vrees van Sinai (wet) nie. Om by Jesus te kom beteken NIE om by Sinai te kom nie, maar by Sion. Jy word verwelkom. Daar is warmte en liefde en aanvaarding en vergifnis.

Dit is egter soveel groter en beter as die Ou Testamentiese aardse Jerusalem/Sion! Die aardse Sion het maar net die EINTLIKE hemelse Sion versimboliseer! Die aardse Jerusalem het geen werklike belangrikheid gehad nie, behalwe dat dit ‘n simbool was van hemelse geestelike Christus-werklikhede. Die aardse stad Jerusalem het eintlik na Jesus gewys. Die Jode het gedink Jerusalem/Sion is alles. En dat dit oor hulle as Jode gaan. Intussen gaan dit oor Jesus en al die nasies van die wêreld in wie se lewens God deur Sy Gees woon.

Die massas Jode wat in reuse prosessies met vreugde en blydskap tydens die jaarlikse feeste na Jerusalem opgeruk het, was inderdaad wonderlik en indrukwekkend.

Maar, die prosessie van miljoene mense van alle nasies – in wie die Heilige Gees woon – wat oor die aardbol heen elke dag in geestelike prosessie is, is baie beter! Hulle word vergesel en omring deur ontelbare engele! Dis ‘n reuse groot familie van mense wie se name in die hemel opgeteken is en wat Jesus as hulle familiehoof en broer het! Die voorste punt van hierdie reuse prosessie is alreeds in die hemelse Jerusalem en die res sal weldra volg en ingaan. Die Christus-gelowiges wat nog agter in die prosessie loop en wat nog met hulle voete op aarde is, is egter alreeds verbind aan die geeste van die voorstes wat alreeds in die hemelse stad ingegaan het en wat reeds in perfeksie leef, want dit is EEN prosessie.

Ja, God moet gevrees word, gerespekteer word, soos Sinai vir ons wys. Hy is immers die regter van almal. Maar die voorreg wat die NT gelowiges het, is om nie van Hom terug te deins en weg te vlug nie, maar om JUIS ná Hom te mag kom as gevolg van die Here Jesus Christus se lewensbloed.

Jesus is immers die MIDDELAAR van die Nuwe Verbond. Deur Hom kon ons binnegaan in dit wat ons andersins nooit sou kon binnegaan nie. As jy op Berg Sinai sou staatmaak, sal jy NOOIT tot God kon nader nie. Dan sou jy die Wet perfek moes onderhou. Maar omdat jy op die bloed van Jesus vertrou, het jy vrye volmaakte en perfekte toegang. Dit is wat SION versimboliseer het.

Die kosbare bloed van die Lam, roep nie vir wraak en straf op ons sondes nie! Soos Abel se bloed geroep het nie. Toe Kain vir Abel vermoor het, het Abel se bloed vir straf geroep. Nee, Jesus se bloed het die straf op Homself geneem en praat nou van aanvaarding en vryspraak en vrede met God. In kort: verwelkomend.

Wat ‘n gees van vreugde en triomf is nie in hierdie paragraaf nie? Dis die klimaks van die Hebreërbrief.

As jy na Judaisme wil teruggaan, is jy eintlik daar waar die Israeliete by berg Sinai gestaan en bewe het.

As jy ‘n Christus-gelowige is, is jy by die warmte en aanvaarding wat die Jode in Jerusalem beleef het by die tempel en tydens hulle feeste.

Dis sonder twyfel beter om ‘n Christen te wees as ‘n Jood!

2 DIE BLYWENDE TEENOOR DIE VERBYGAANDE (verse 25-29)

Ná dit wat pas gesê is, kan ‘n mens net dink wat die skrywer vir sy lesers sal toeroep! Onthou hierdie mense oorweeg om van Sion weg te draai en terug te gaan Sinai toe! Wat sal hy hulle nou toeroep??

Hy roep: “Liewe Christene, die God wat vir julle in so ‘n wonderlike plek gebring het, práát met julle! Moenie julle ore toemaak vir Hom nie! Toe Hy destyds by Sinai vanaf die berg met die mense gepraat het, het diegene wat hulle ore vir Hom toegedruk het, nie daarmee weggekom nie. Hoeveel te meer noudat Hy van die hemel af praat! Hy praat nie meer op die aardse manier waarop Hy destyds by Sinai gepraat het nie. Hy praat nou vanwaar Sy Seun aan Sy regterhand sit! Hy praat deur Sy Gees en Woord. Hy praat waar Sy diensknegte Sy Woord bedien en die Heilige Gees daardie Woord op mense se gedagtes en gewete druk en dit in hulle binneste lewendmaak. Daarom is dit ‘n ernstige saak om jou ore toe te druk. As ore-toedruk in die Ou Verbond ‘n ernstige saak was, is dit soveel ernstiger in die Nuwe Verbond omdat die NV soveel beter en heerliker is as die OV. Daarom moet ons des te meer ag slaan op die Woord wat ons hoor”.

Onthou nou net een ding: Aan die einde van die dag sal SLEGS die geestelike realiteite (wat nou reeds in die Nuwe Verbond aan die werk is) oorbly. Want ALLES van die fisiese heelal, soos ons dit tans ken, sal verdwyn. Alles wat weggeskud kan word, sal op die ou end weggeskud word en slegs dit wat onwankelbaar is, sal bly staan. Hemel en aarde sal verbygaan, maar die koninkryk van Jesus Christus sal bly staan. God sal bly, die engele sal bly, mans en vroue sal bly, die nuwe aarde sal bly. Dit is die onverbiddelik-duidelike Woord van God.

Dit gebeur nou al reeds op mikro-skaal in ons persoonlike lewens. Wanneer ons geskud en gestamp word, moet ons nie so gou wees om die Here te verdink van slegte bedoelings nie. Al wat Hy doen is om DIT weg te skud, wat weggeskud behoort te word sodat DIT wat saakmaak kan BLY! Die goed waarop ons ons harte vasmaak, skud Hy weg en die goed waarop ons veronderstel is om ons harte op vas te maak, bly! Die doel van baie van die goed wat oor ons lewenspad kom, is om alles wat wankelbaar is weg te skud sodat ons op dit wat vas en ewig en onwankelbaar is kan bou.

Die Judaïstiese godsdiens-sisteem was so erg gebou op die AARDSE. Wat hulle nie besef het nie, is dat dit alles sal verdwyn. Die Judaïste was vasgevang in diere-offers, rituele, kleredragte, seremonies en talle uiterlike dinge terwyl hulle die ewige geestelike werklikhede nie kon raaksien nie. En om te dink dat alles waarvoor hulle gelewe het, weggeskud sal word en sal verdwyn.

Die eerste lesers van die brief wou dus teruggaan na iets wat nie blywend is nie. Dit maak die apostel wat vir hulle skryf, rasend om daaraan te dink.

Kyk na vers 28 (in my eie woorde):

As jy nie deel is van die Here se geestelike koninkryk nie, waar is jy dan? Dan het jy niks en is jy niks.

Maar, dank die Here dat Hy van ons lede van Sy geestelike koninkryk gemaak het. Ons is nou mense wat deur Hom aanvaar is, oor wie Hy heers. Omdat Sy koninkryk geestelik van aard is, sal dit nie wankel wanneer alles anders geskud word nie. Wanneer alles weg is, sal ons veilig wees. Daarom moet ons dankbaar wees. Ons moet dank bewys. Dit is al hoe ons kan reageer op Sy genade. Dit is die manier hoe ons Hom dien, met ontsag en Godsvrees.”

Eintlik is dit ‘n baie belangrike paragraaf. Want die apostel herinner ons wat die werklike waarheid is aangaande die heelal waarin ons woon. ALLES wat ons ken, sal verbygaan.

Omdat dit só is, moet ons dit ons belangrikste besigheid maak om ons lewens aan die Here op te hang. Indien ons lewens rus op dít wat verbygaan, sal ons daarmee saam val! Ons lewens moet sentreer rondom dit wat blywende is. Terwyl ons die Here dank vir Sy onverdiende guns en Hom dien en Hom eerbiedig en vrees.

Die alternatief hierop is te vreeslik om te noem (vers 29).

Watter alternatief is daar? Leef en sterf op ‘n manier wat buite die Here Jesus is en daarom nie die Vader behaag nie. Dis die enigste alternatief. Soos wat hemel en aarde tot niet gaan, gaan alles waarop jy gehoop het ook tot niet. Dan het jy nêrens om te skuil nie. Jy is onbeskut by ‘n verterende vuur. Die vuur kom van God self in Sy heiligheid! Maar dit is slegs IN CHRISTUS wat jy in die vuur van die heiligheid van God kan staan en dit as hemel kan beleef en lewe en oorvloed vind. BUITE CHRISTUS is dit ‘n vuur van pure hel en oordeel! Buite Christus moet jy met JOU eie meriete die vuur trotseer. Binne Christus staan jy in SY meriete! Wat ‘n reuse verskil! Dit is twee radikaal verskillende maniere om die ewigheid in te gaan! Hemel en hel!

Omdat hierdie dinge só is, hoe kan enigiemand dit oorweeg om Christus die rug toe te keer en te leef vir dit wat jy kan sien, hoor, ruik, tas, voel…en daarmee saam onder te gaan wanneer alles wat jy kan sien, hoor, ruik, tas, voel ondergaan?

Hoe kan ‘n mens enigiets anders oorweeg as om net met die Here te leef?

Category Hebreers Reeks

© 2020 Tafelberg Gemeente (Dolerend)