Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

HEBREËRS-REEKS NO 19

Tema: Die verskil tussen straf en bestraffing

Skrif: Hebreërs 12: 5-13

Piet Pompies is ’n sondaar soos alle mense. Hy lewe soos hy wil en probeer hy om die Here in ‘n blik te druk – soos alle mense van nature doen. Want ál wat belangrik is, is hyself.

Soos wat alle mense van nature geneig is, pas Piet ’n strafstelsel op God toe. Dit klink só: “Here omdat U nie inpas by mý lewe soos ék dit wil hê nie en omdat U nie inskakel by mý programme nie, sluit ek U uit. Ek maak die pad vir U toe. Ek sal nie bid nie. Ek sal nie Bybel lees nie. Ek sal na die eredienste gaan wanneer ek lus is. Ek sal U nie die lof gee wat U toekom nie. U wil nie ingesluit wees by hoe ék wil lewe nie – dus sluit ek U uit. As U gebed wil hê, as U my wil hê, moet U inskakel by my lewe. U sal niks van my kry as U U nie gedra nie. As U nie inskiklik is nie en nie luister nie – kry U niks van my nie. Ek sal U só eensaam maak, dat U later MY punt SAL insien.

Sien u die strafstelsel wat Piet Pompies op God toepas?

En weet DIT: Die God op wie Piet die straf toepas, is die heilige ewige God van die hemele.

VRAAG: Watse soort straf sal by Piet se sonde pas? ‘n Bietjie siekte? ‘n Bietjie teenspoed? ‘n Bietjie finansiële moeite? Is dit gepaste straf? Nee. Die Here sê Piet verdien die ewige dood. Dit is al wat pas. Die dood. Niks minder nie.

Maar toe gebeur iets onbeskryflik. Díé God vir wie Piet aan sy strafstelsel probeer onderwerp het, besluit om vir Piet te red! Hy stuur Sy Seun as lewensredder. Die Seun klim af tot daar waar Piet homself gedaan geval het deur die sonde. Piet kan homself nie red nie.

Weet u wat doen die Seun toe? Hy maak vir Piet aan Homself vas en neem hom na veiligheid. Weet u hoe maak Hy vir Piet aan Homself vas en hoe neem Hy hom na veiligheid? In Piet se plek ervaar Hy die dood. Ja, met Sy veroordeling voor Pilatus en Sy lyding en sterwe en opstanding, maak Hy Piet aan Homself vas.

In in Piet se binneste werk die Gees die wil en vermoë sy arms om die lewensredder te slaan. Hy sien skielik watter afgryslike skande dit was dat hy ‘n strafstelsel op die lewende God wou toepas. Hy MOES uitgesluit gewees het van God. Nou omhels hy Jesus se bloed wat aan hom vrye toegang tot God se teenwoordigheid gegee het. Hy kan dit nooit weer verloor nie. Nooit weer nie. Want Jesus was uitgesluit – daarom is Piet ingesluit. En die Gees laat vir Piet wedergebore word sodat sy oë vir hierdie verlossing kan oopgaan en hy sy hoop op hierdie Verlosser begin bou.

Piet kan nooit weer uitgesluit wees van die barmhartigheid van God nie. Geen, geen, geen straf wat dood meebring, kan ooit weer oor Piet kom nie. Nooit weer nie, want Jesus het dit bewerkstellig en Piet het hom oorgegee aan hierdie Jesus.

Dit is wat ons voorverlede keer in Hebr 10:14 gelees het: Deur die EEN offer het Hy Sy kind vir altyd van sonde vrygemaak. Vers 17: Aan ál julle sonde en oortredings sal Ek nooit weer dink nie.

Dit is die posisie van elke Christus-gelowige. Op grond van Jesus se offer, sal God jou nooit weer straf nie. Die pad IS oopgesluit. Dit BLY só – vir ewig. Christus het nie halwe werk gedoen nie! Jy sal nie weer gestraf word vir die strafstelsel wat jy op God probeer toepas het nie.


Maar nou klink dit asof dieselfde Hebreërbriefskrywer homself weerspreek. Want in hfst 12:6 s
ê hy: “Hy straf elkeen wat Hy as kind aanneem.” Vers 10: “Hy tug ons tot ons beswil.”

Sien u: Aan die een kant: Die pad vir ’n gelowige is 100% oopgesluit en dit blý oopgesluit. Aan die ander kant: Die Here kom sluit die pad toe!

Die Hebreërbriefskrywer plaas 2 goed langs mekaar wat geheel en al teenstrydig klink: a) Op grond van Christus se offer en ons geloofsvertroue in daardie offer, sal God ons nooit weer straf nie. b) Hy bestraf ons.

Dit klink só: Die Here sal jou nooit weer straf nie, daarom straf Hy jou.

Sjoe, dit klink darem lekker deurmekaar! Dit voel of alles in jou kop blaas wanneer jy hierdie 2 goed langs mekaar sit.

Want, hoe op aarde kan dit só werk? Weerspreek die Bybel nie homself nie? Hoe moet ’n mens dit verstaan? Gee die Here met die een hand en met die ander hand neem Hy weer terug wat Hy gegee het?

Beteken dit dat ’n mens nooit regtig SEKER kan wees dat jy nooit tot in ewigheid gestraf sal word nie? Moet ’n gelowige nie EINTLIK tóg nog ‘n bietjie die eindoordeel vrees nie? Want wat van al die sonde wat ek as kind vd Here steeds doen – al IS ek vrygemaak van die straf op sonde?


Hier kom ons nou by die kern van die saak.

n Kind v God is ’n rare wese. Eintlik ‘n tweeslagtige wese.

Aan die een kant: Geheel en al vrygespreek. Geheel en al heilig en onskuldig voor God op grond van Jesus se offer.

Aan die ander kant: Sondig steeds.

En dit is wat baie mense deurmekaar maak. Hoe kan ek radikaal en totaal VRYGESPREEK wees en hoe kan dit wees dat God my nooit weer sal straf nie EN tóg sondig ek nog steeds?

Dit voel vir my asof die sondes wat ek doen my weer van voor af diskwalifiseer. Die sondes wat ek doen maak dat ek weer van voor af straf vrees. Want ek trek omtrent elke dag ’n streep deur my kind-van-God-wees. En wanneer dinge skeef loop, mik-mik ek om weer van voor af ‘n strafstelsel op Hom te wil toepas.

Moet ek nou maar net aanhou glo dat ek vrygespreek is en dat my daaglikse sondes glad nie meer so ernstig is nie?? Ek kan maar sondig, want ek IS mos nou vrygespreek deur Jesus se offer? Die Here is gemaklik met my sondes? Dis nie meer so ‘n “big deal” nie. Is dit dalk die oplossing?

Nee, dit is nie die oplossing nie.

Die oplossing is om mooi raak te sien wat Hebr 12 sê.

Die Here het ’n metode ontwerp waarmee Hy sorg dat die gelowige-wat-sondig in Sy genade BLY. En die metode is: Hy bestraf die sondes van Sy kinders. Maar dit is nie straf op sonde nie!

Die bestraffing en die straf is nie dieselfde ding nie.

Die ewige straf (wat ons toekom) het op Christus geval toe Hy onskuldig deur Pilatus veroordeel is EN toe Hy uitroep “My God, My God waarom het U my verlaat?”.

En deur te bekeer en HIEROP te vertrou is die gelowige toegelaat in Sy teenwoordigheid – vir ewig en altyd. Só is die straf vir ewig weg. Só is die gelowige vrygespreek. Só is die pad OOPgesluit.

Maar nou: Juis ómdat jy nooit weer gestraf sal word nie, BESTRAF die Here jou. Tugtig Hy jou. Waarom? Omdat jy steeds sondig en Hy nie sal toelaat dat jy ’n streep trek deur jou nuwe status nie. Hy doen dit omdat jy werklik Sy kind is. Egte kinders word inderdaad getug. Nie omdat hulle verwerp is nie, maar juis omdat hulle aanvaar is!

BESTRAF beteken Hy STOP die kwaad waarmee ons besig is. Hy laat nie toe dat ons eie willetjie seëvier nie. Hy laat die kwaad misluk. Hy neem weg wat ons op verkeerde maniere/motiewe verkry het. Hy laat ons nie ons sin kry nie. Hy verbreek die strafstelsel wat óns op Hóm toepas. Hy laat ons nie toe om Hom in ’n posisie te plaas onder ons strafstelsel nie.

Onthou u hoe Piet vir God gestraf het omdat Hy nie dinge laat uitwerk soos die grote Piet dit wou hê nie?

Wel, die Here laat dit nie toe nie. Hy verbreek dit. Hy sal nie toelaat dat ’n gelowige hom/haarself seermaak en die pad vir hom/haarself toemaak nie. Hy hou die pad tussen Hom en jou en my OOP d.m.v. tugtiging. Hy sorg dat jy inpas by Sý wil en nie Hý by jóú wil nie.

Daarom bestraf Hy Sy kind se losbandigheid, gierigheid, eiesinnigheid. Want Hy hou jou binne Sy genade. Hy wil hê jy moet besef dat Hy jou ingesluit het by Homself, daarom hoef jy nie weg te beur nie. Daarom STOP Hy die kwaad.

Indien ‘n Christenboer byvoorbeeld sy landbougrond oorbenut – sodat dit soos ’n woestyn lyk – en die motief was gierigheid – kan dit gebeur dat die Here die grond wegneem.

Indien ‘n Christus-gelowige vanuit ’n stuk wellus en losbandigheid optree, kan dit gebeur dat die Here sy huwelik en gesin wegneem. Die Here gryp in. Hy bestraf/stop die kwaad. Hy laat jou nie toe om te besluit of Hý by jóú ingesluit of uitgesluit is nie en of Hý toegang het of nie toegang het nie!


Maar wat maak ons? Wanneer die Here met Sy TUG in ons lewens inkom, dan sê ons (net soos die eerste lesers aan wie die Hebre
ërbrief geskryf was): “Nou word ek sekerlik vir my sondes gestraf. Christus se offer skiet nou te kort. Nou ervaar ek die Here is my vyand. Nou is ek uitgesluit. Nou is die pad na die Here toe. God het my verlaat. Nou is alles tot niet.”

Want u sien: Dit voel so.

Intussen is die Here maar net besig om my BY HOM TE HOU. Hy wil hê ek moet besef dat Hy die pad vir my óópgemaak het deur Jesus se reddingswerk en dat ek nie ’n strafstelsel op Hom hoef toe te pas nie. Ek beseer net myself. Ek probeer om myself los te wikkel van Hom af – EN – Hy sal dit nooit toelaat nie.

Die Here sal nooit toelaat dat ek my loswikkel van Hom nie. Daarom stop Hy die kwaad waarmee ek besig is.

Dit is wat TUGTIGING is. En dit is tot ons beswil. Want Hy hou juis die pad tussen ons en Hom oop deur bestraffing. En dit is iets goeds. Dit veroorsaak dat ons prakties meer heilig leef.

Ons is reeds in beginsel heilig, maar nie noodwendig in die praktyk nie. Die Here se tugtiging veroorsaak ‘n praktiese heilige lewenswandel. Dit veroorsaak dat ons Hom beter en beter kan “sien”. Dat ons Hom beter ken. ‘n Lewe van heiligheid en gehoorsaamheid en oorwinning oor sonde het die wonderlike uitwerking dat ‘n mens die Here “sien”. Nie met jou fisiese oë nie, maar met die hart. Sonder heiligheid, kan ‘n mens Hom nie sien nie.

As jy ‘n Christus-gelowige is wat slordig lewe, wat boesemsondes vertroetel, wat ongehoorsaam is, wat biddeloos is, wat die Woord afskeep, wat swak verhoudings het – sal jy nie die Here “sien” nie.

Dit verwys nie na die lewe ná die dood nie – dit verwys na hier en nou, die alledaagse lewe. Daarom gebruik Hy tugtiging om ons lewens te heilig juis sodat ons Hom kan sien. En vir die wedergebore hart, wat geestelik lewend is en waar die Heilige Gees inwoon, is dit die grootste vreugde denkbaar: Om Hom te kan sien en ken.


Gemeente – deur bekering en geloofsvertroue op Jesus se reddingswerk sal die gelowige nooit weer gestraf word nie. Deur Jesus se reddingswerk IS die gelowige
heilig, onskuldig, vrygespreek, sonder skuld, ingesluit, begenadig. Die pad na God is onherroeplik oop. Die toegang tot die Vader is ’n vrye toegang.

Juis daarom laat Hy Sy kind nie sy/haar eie gang gaan nie. Stop Hy die kwaad. Verbreek Hy die straf wat die gelowige op Hom wil toepas.

Die heel belangrikste manier waarop Hy ons tug is deur Sy Woord. Dit staan eksplisiet in Johannes 15:3 – waar dit juis gaan oor die snoei van die wingerdlote – waar Jesus sê: “Julle is skoon, deur die Woord wat ek met julle gepraat het.”

Sy primêre metode van bestraffing is Sy woorde. En soos wat die Heilige Gees daardie woorde vergesel, het dit ‘n geweldige kragtige uitwerking op ‘n mens se lewe. Dit dring deur tot die skeiding van gees en siel, sê Hebr 4:12. Dis soos ‘n tweesnydende swaard. Dit beoordeel die gedagtes en gesindhede van die hart.

En in die lig van hierdie woord, moet ons ons omstandighede beoordeel en sien of dit ook tugtiging van die Here is om ons lewens lieflik te heilig. ‘n Mens bekyk altyd jou omstandighede in die lig van jou verhouding met Sy Woord. Nie alle omstandighede is tugtiging van die Here nie. Moeites en probleme kom oor alle mense se lewenspad. Dis deel van die gebrokenheid van die lewe. Maar in die lewe van die Christus-gelowige is toeval en noodlot nie in beheer nie, maar die lewende God en Sy Woord. Daarom kyk ons na ons lewensomstandighede deur die bril van die Woord van God.


Laat ons die Here bid dat Hy ons sal help om Sy tugtiging in ons lewens met ’n positiewe hart te ontvang.

Category Hebreers Reeks

© 2020 Tafelberg Gemeente (Dolerend)