Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

HEBREËRS-REEKS NO 17

Tema: Onvernietigbare geloof

Skrif: Hebreërs 11: 17-40

Die skrywer van die Hebreërbrief fokus in hoofstuk 11 op die kwessie van geloof. In die eerste 16 verse het hy verduidelik wat geloof is en hoe geloof in die praktyk maak en doen.

In verse 17-40 praat hy oor die feit dat geloof nooit vernietig kan word nie. Dit gaan nie dood nie.

Wetenskaplikes het jare gelede koring in een van die Egiptiese Farao’s se graf gekry. En toe hulle dit gaan plant, ontkiem dit en groei en produseer ‘n vrug! Die atmosfeer van dood binne in daardie graf kon nie die léwe wat binne in die koringkorrels was, doodkry nie. Al het daardie dood die saad vir duisende jare omring! Die lewe was steeds daar! Toe dit geplant word, ontkiem dit!

Hou in gedagte dat die eerste lesers van Hebreërsbrief Joodse Christene was, wat dit oorweeg het om die Christelike Geloof prys te gee. Vir húlle sê die skrywer: Aikôna, dis nie moontlik om ware geloof in Christus prys te gee nie. Dis onvernietigbaar. En laat ek dit vir julle bewys uit julle eie Joodse geskiedenis!

1 GELOOF KYK VOORUIT TERWYL DAAR NIKS IS OM TE SIEN NIE (verse 17-28)

Neem Abraham as voorbeeld (verse 17-19) : Abraham het geweet dat sy seun Isak SLEGS deur die vervulling van ‘n Goddelike belofte gebore is! Beide hy en Sara was hoogs bejaard en liggaamlik verstorwe en kon op geen manier ‘n kind in die wêreld bring nie. Maar, God het beloof. En so is Isak deur ‘n wonder van Bo verwek.


Maar, wat moes Abraham dink toe die Here hom jare later beveel om vir Isak te gaan offer? Dit moes ‘n ondenkbare stryd in sy binneste ontketen het. Hoe kan die Here die kind van die belofte weer neem? Hoe sal die nageslag-so-talryk-soos-die-sterre-in-hemel dan ooit kon realiseer?


Abraham het egter tot die volgende konklusie gekom: God kan nie Sy eie Woord breek nie. God het belowe dat Abraham ‘n nageslag sal h
ê – deur hierdie seun wie hy nou moes gaan offer. Dit beteken dat God vir Isak uit die dood sal opwek! Dit is Abraham se vaste oortuiging. Daarom gaan hy voort om vir Isak te offer. Net voordat hy vir Isak doodmaak, tree die Here tussenbeide. En Isak lewe! Dit was egter net so goed asof hy uit die dood opgestaan het.


Punt is net: Toe daar NIKS was om te sien nie, het Abraham Isak se opstanding uit die dood gesien! Die geloof in sy hart kon nie uitgewis word nie. Onbeweeglik was Abraham se oortuiging dat God se Woord betroubaar is.


Neem Isak as ‘n tweede voorbeeld (vers 20)
: Mense wat aan die einde van hul aardse lewe kom, is geneig om terug te kyk omdat daar niks is om na vorentoe te kyk nie. Maar nie Isak nie. Aan die einde van sy lewenspad kyk hy vorentoe! Sy gedagte was gefokus op die dinge wat KOM! Hy volstaan met dit wat die Here vir hom beloof het oor Jakob en Esau se toekoms. God se beloftes sou deur Jakob vervul word. Die Messias sou deur Jakob gebore word. Dit moes eintlik Esau wees, want hy was die oudste. Maar die Here het dit omgekeer. God se verbondsbeloftes aan Abraham sou deur Jakob se linie vervul word en nie Esau nie. Isak is doodseker hiervan. Terwyl daar niks is om in die toekoms te sien nie, sien Isak God se toekoms!


Neem Jakob as derde voorbeeld (vers 21)
: Toe Jakob aan die einde van sy lewensreis kom, seën hy sy twee kleinseuns – Josef se seuns. Toe hy hulle seën, het Jakob ‘n bewuswording van die teenwoordigheid van die onsigbare God en voorsê hy hulle toekomshoop en hoe die Here se plan deur hulle sou ontwikkel. Jakob het slegs ‘n paar minute op aarde oor, maar hy fokus op die Here se toekoms. Want sien, die Here was vir hom ‘n werklikheid en Sy Woord ‘n sekerheid!


Neem Josef as vierde voorbeeld (vers 22)
: Aan die einde van sy lewenspad, kyk ook Josef die toekoms in. Hoe maklik kon hy nie agtertoe gekyk het nie. Hy het soveel ondervindings gehad waarna hy kon terugkyk. Maar hy kyk vorentoe na DIT wat nie gesien kan word nie. Hy sien hoe die volk Israel uit Egipte sal trek na die beloofde Land. Die Here het belowe dat die volk uiteindelik Egipte sou verlaat. Josef het nie bly leef om dit te kon sien nie, maar hy was seker dat dit sou gebeur. Daarom het hy bevele gegee oor waar sy liggaam begrawe moes word. Dit moes nie in Egipte bly nie, maar saamgaan na die beloofde land en daar finaal begrawe word.

Soos die ander het Josef geleef en gesterf sonder om alles te sien wat belowe was, maar dit het hom nie laat weifel nie. Hy het net een oortuiging gehad: Wat God belowe het, SAL gebeur. AL sy gedagtes oor die toekoms was beheers deur dit wat God gesê het!


Neem Moses as vyfde voorbeeld (vers 23-28)
: Toe daar geen toekoms vir Israelitiese seuntjies was nie – omdat Farao almal laat doodmaak het – het Moses se ouers vorentoe gekyk en hom vir 3 maande lank weggesteek.

En later – toe daar buite die Egiptiese koningshuis geen toekoms was nie, het Moses vorentoe gekyk en die Here se toekoms vir Sy volk gesien. Hy het geweet dat die toekoms by die Here se mense is en nie by Egipte se prag en praal nie. Hy het geweet daar is geen belofte in die sondige wêreld rondom hom nie, maar slegs by God se mense – al was hulle hoe verag en uitgestoot.

Moses kon sien wat die fisiese oog nie kon sien nie. Hy het dus gekies om hom by die Here se mense te skaar en nie by die koning se paleis nie. Hy het die tydelike genot van sonde prysgegee ten einde ewige beloning te geniet. Die onsienlike God was vir Moses ‘n groter realiteit as die magtige Farao. Daarom was hy vreesloos. Die werklikheid van wie God is en die waaragtigheid van Sy beloftes het Moses se hart oorwin. Daarom het hy geen mens gevrees nie. Hy het nie rondom hom gekyk na sigbare tydelike kortstondighede nie, maar die onsienlike toekoms ingekyk – God se toekoms.

U sien, al hierdie mense het vorentoe gekyk terwyl daar niks was om te sien nie. Hoe ánders is manne en vroue van geloof as ander mense!

Ander mense bou hulle gedagtes oor die toekoms op wat hulle kan sien, wat hulle kan uitredeneer, wat hulle hoop, wat hulle beplan, wat hulle dink haalbaar sal wees.

Gelowiges is glad nie so nie. Al hulle gedagtes oor die toekoms word deur die lewende God gereguleer. Hulle kyk na alles deur die bril van wat die Woord leer. En hulle ken die Woord. Hulle het die Woord lief en lees en bestudeer dit.

Daarom: Wanneer die wêreld niks het om na vorentoe te kyk nie, het die Christen alles om na vorentoe te kyk! Hierdie ewige optimisme is nie gebaseer op enigiets sigbaar nie. Dit kan nie “bewys” word nie. Die Christen is net seker van God – dis al! Daarom gee hy nie in vir pessimisme en wanhoop nie. Die toekoms is so blink as wat God se beloftes blink is! Wanneer die ongelowiges se wêreld in duie stort, het die gelowiges s’n nog nie eens begin nie!

2 GELOOF HOU AAN TERWYL ALLES OPHOU (verse 29-40)


Kyk wat het by die Rooi See gebeur (vers 29)
: Toe Moses en die Israeliete by die Rooi See gestaan het, het hulle geweet die Here sal hulle veilig deur die see neem. Al het dit hoe onmoontlik gelyk!

Die realiteit was dat die Egiptiese weermag van agter gekom het en die see voor hulle was! Hulle was vasgevang en die dood was hulle voorland. Alles is verby! Dis die einde!

Nee, nie vir geloof nie. Moses het die Here geglo. En die volgende dag was almal veilig aan die ander kant en die Egiptenare se lyke op die seebodem! Geloof hou aan, al het alles opgehou!


Kyk wat het by Jerigo gebeur (vers 30-31)
: Toe die Here se volk by Jerigo kom, gereed om die beloofde land te beset, kon hulle nie die stad binneval nie, want daar was ‘n reuse muur rondom die stad.

Toe marsjeer hulle vir 6 dae om die stad. Niks gebeur nie. So waarom sou hulle aanhou? Dis tog sinneloos. Maar hulle het die Here se bevel gehad en het dit gehoorsaam.

Toe hulle die 7de dag om die mure stap, gee hulle die oorwinningskreet en blaas die ramshorings. En toe gebeur dit: die mure val vanself om!

Maar Ragab het bo-op daardie mure gewoon. Haar huisie was daar. En tog het die Here God die mure laat inval. En tog skree Ragab nie van angs en benoudheid nie. Waarom nie? Omdat die Here vir haar by monde van die twee Israelitiese verkenners die belofte gegee het dat sy behoue sal bly. Sy het dit geglo. Sy het geweet die Here sal woord hou.


Kyk ook na die hele geskiedenis van Israel in ‘n neutedop (verse 32-38)
: Daar is eenvoudig nie die tyd om na alle voorbeelde te kyk nie. Die punt is net: AL die geloofsgetuies van Israel het aangehou terwyl alles opgehou het. Daarom kon hulle doen wat hulle gedoen het. En wat het hulle gedoen? Hulle het dade van groot moed, braafheid en deursettingsvermoë verrig. In vervolging het hulle pyn en marteling deurstaan. Hulle het geweet wat persoonlike opoffering was.

Die hele OT is opgesom in verse 33-38 > Hulle het koninkryke verower, die reg van God gehandhaaf, verkry wat God beloof het, leeus se bekke toegestop, gloeiende vuur geblus, aan die swaard ontkom, krag in swakheid ontvang, was sterk in die oorlog, vroue het hul dooies teruggekry, ander is doodgemartel en het die opstanding tot ‘n beter lewe deelagtig geword, ander het bespotting en lyfstraf verduur, is met klippe doodgegooi, is in stukke gesaag en met die swaard vermoor, hulle het rondgeswerf in bokvelle, het gebrek gely, is verdruk en mishandel, hulle het rondgeswerf in woestyne en op berge en in grotte en in gate in die grond geleef.

In kort: Toe alles téén hulle was, was hierdie gelowige manne en vroue getrou aan die Here.

En hulle geheim?

Hulle was vol geloofsvertroue – onfeilbaar gewerk deur die Heilige Gees. Die Here was vir hulle ‘n werklikheid. En hulle was seker dat Sy Woord waar is. En dat Sy beloftes SAL waar word. Hulle was méér seker hiérvan as van hulle omstandighede.


Kyk weer na al daardie OT gelowiges (verse 39-30)
: Hoe het hierdie OT geloofsgetuies gesterf? Hulle het nooit die werklike vervulling van God se beloftes gesien nie! En dit was: Jesus se koms. En veral die uiteindelike finale hemelse glorie – die hemelse Stad, die nuwe Jerusalem. Want onthou: Jesus se koms en die Nuwe Jerusalem was die eintlike vervulling van al God se beloftes in die OT.

Maar die OT geloofsgetuies het dit nooit gesien nie. Hulle oë het nooit DIT gesien waarop hulle hulle harte gesit het nie! Want hulle moes vir ONS wag!

Dit was nooit God se bedoeling dat die OT gelowiges in die voluit moes ingaan en ons, NT gelowiges, as ‘n soort nagedagte agterna moes drentel nie. Nie OT gelowiges óf NT gelowiges het al die Nuwe Stad gesien nie. Ja, NT gelowiges het Jesus se koms en Sy kruis en opstanding gesien. Sommige het dit met hulle eie oë gesien en ander deur die bril van die getuienis van die NT geskrifte. Maar, NT gelowiges het nog net so min die Nuwe Stad gesien as wat die OT gelowiges dit gesien het. God se bedoeling is dat almal saam, hand aan hand, die stad moet tegemoetgaan!

Die finale en enigste bewys dat my geloofsvertroue op Christus eg is, is dat ek dit op my sterfbed steeds sal hê. In my sterwensoomblikke sal ek steeds vorentoe kyk. Na ‘n onsienlike toekoms. Wanneer alles my verlaat het, sal geloof bly staan.

Dit is die ENIGSTE bewys dat ‘n mens waarlik wedergebore is, dat die nuwe lewe in jou ingekom het, dat jy in geloof gekoppel het aan die evangelieboodskap: Dat jy aanhou en aanhou en aanhou en aanhou en aanhou tot die einde van jou lewe – ten spyte van teenspoed, val-en-opstaan, aanvalle van satan, versoekings en misleiding, sonde en beproewing.

Die saad van God wat in jou is (1 Joh 3:9), vergaan immers nooit.

Category Hebreers Reeks

© 2020 Tafelberg Gemeente (Dolerend)