Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

HEBREËRS-REEKS NO 10

Tema: Die orde van Melgisedek

Skrif: Hebr 7:1-28

Hoofstuk 7 sluit aan by die einde van hoofstuk 4. Hoofstukke 5-6 was ‘n tussenwerpsel.

Laat ek verduidelik:

In hoofstuk 4 was die skrywer besig om te verduidelik dat – indien ons wil groei in die Christelike lewe – ons moet verstaan wat dit beteken dat die Here Jesus Christus ons hoëpriester is wat jammerhartig, getrou en toeganklik is.


En toe noem hy iets vreemd: dat Jesus ewiglik hoëpriester is volgens die “orde van Melgisedek”.


Maar in plaas daarvan om in hoofstuk 5 te verduidelik wat dit beteken dat Jesus hoëpriester is volgens die “orde van Melgisedek”, kap hy toe sy argument af deur te sê dat sy lesers nie geestelik in staat sou wees om te verstaan wat hy met “die orde van Melgisedek” bedoel nie. En vir die res van hoofstuk 5 asook hoofstuk 6 praat hy toe oor sy lesers wat soos babas net in staat is om melk te drink en nie vleis te eet nie.


Nou, in hoofstuk 7, kom hy terug by sy hoofargument wat hy aan die einde van hoofstuk 4 afgekap het: Wat dit beteken dat Jesus ewige Hoëpriester volgens die orde van Melgisedek is.


Eerstens moet ons verstaan waarom dit so belangrik is:


Die eerste lesers van hierdie brief was Jode. Wat Christene geword het – maar nou oorweeg het om weer na die kultus en rituele van die Judaïsme waarmee hulle grootgeword het, terug te gaan.


Vir 1500 jaar lank het hierdie Jode en hulle voorvaders die afstammelinge van Aäron gesien as Godaangestelde priesters wat vir hulle voor God moes verteenwoordig, offers bring ens. Priesters van die orde van Aäron. Aäron en Moses was afstammelinge uit die stam van Levi – wat die derde kind van Jakob en Lea was (Gen 29:34). Daarom word die Aäronitiese priesters ook “Levitiese priesters” genoem.


Toe die Jode aan wie die Hebreërbrief geskryf is, Christene geword het, is daar vir hulle gesê dat hulle hierdie Godaangestelde Aäronitiese-levitiese priesterdom moet los en vir Jesus aanvaar as hulle enigste Hoëpriester. Hulle moes dit doen, selfs al het Jesus nie afgestam van die priesterlike stam van Levi nie, maar van die koninklike stam van Juda (v 14).


Maar nou wil hierdie Joodse Christene teruggaan na die priesters van die Judaïsme toe. Want onthou, dit was die jaar 65nC. Die tempel was dus nog nie verwoes nie. Dit sou eers in 70nC gebeur. Die priesters was dus nog steeds bedrywig en die diere-offers was steeds gebring.


Die skrywer van die Hebreërbrief wil sy lesers verhinder om na die OT-priesterstelsel terug te gaan. Om dit reg te kry, sal hy hulle moet oortuig dat dié Een wat hy wil hê hulle as enigste Hoëpriester moet aanvaar – dit is Jesus – ‘n priesterskap besit wat hoër is as die Aäronitiese priesters se priesterskap.


Hy sal óók moet bewys dat Jesus deur God self aangewys is om die Aäronitiese priesters te vervang – terwyl Hy nie van Aäron afstam nie.


En dit doen die skrywer nou – in hoofstuk 7 – met die verrassende stelling dat Jesus hoëpriester van ‘n totaal ánder orde is – nie van Levi en Aäron nie, maar van dié van Melgisedek!


Ons moet die hele hoofstuk 7 in een studie hanteer omdat die hoofstuk ‘n eenheid is. Ons kan dit nie in meer as een boodskap hanteer nie. Ons sal dus nie op elke woord en frase kan fokus en in te veel detail vasval nie, maar dit is belangrik dat ons die hoofargument van die hoofstuk moet verstaan.


Jesus Christus: Ewige hoëpriester volgens die orde van Melgisedek.

Hier is die kernwaarhede wat ons daaroor moet weet:


1 Jesus se priesterskap is van ‘n hoër orde as die priesters wat van Levi en Aäron afstam (verse 1-10)

Die OT praat slegs van twee groot priesters: Melgisedek en Aäron. Van hierdie twee is Melgisedek die grootste.

Psalm 110 is dié groot Messiaanse Psalm. “Mesiaans” beteken dat Psalm 110 profeties vooruit die toekoms in gepraat het van die Here Jesus se koms. En in vers 4 sê Psalm 110 honderde jare vooruit: Die Messias sal ‘n priester wees NIE uit die orde van Levi (soos die Aäronitiese priesters was nie) maar uit die orde van Melgisedek.


Die plek in die OT waar ons van hierdie Melgisedek lees, is Genesis 14:18-24. Daar lees ons die volgende:


Abraham was op pad huis toe met die buit wat hy gemaak het ná ‘n veldslag. Skielik kom Melgisedek vir Abraham tegemoet. Melgisedek was beide ‘n koning en ‘n priester. Hy was koning van Salem (die latere Jerusalem) en hy was priester van God.


Melgisedek bring toe brood en wyn te voorskyn en bedien vir Abraham en sy troepe. Hy seën vir Abraham in die Here se Naam en vertel vir Abraham dat Abraham sy militêre oorwinning van die Here ontvang het. Uit reaksie hierop, gee Abraham vir Melgisedek ‘n tiende van alles wat hulle by hulle gehad het.


Tot sover Genesis 14.


Vraag: Wáár was LEVI toe dit alles gebeur het? Antwoord. Hy was lank nog nie gebore nie – want hy sou ‘n latere afstammeling van Abraham wees. Uit Abraham sou Isak gebore word. En uit Isak Jakob en Esau. En uit Jakob twaalf seuns wat die twaalf stamvaders van die twaalf stamme van Israel sou word. Levi was die derde seun van Jakob en Lea.


Met ander woorde: Toe Melgisedek vir Abraham ontmoet het, was Levi nog binne in Abraham se lendene, binne in sy bloed. En Aäron ook. Want Aäron was ‘n afstammeling van Levi.


Daarby is Melgisedek groter as Abraham, want hy seën vir Abraham en ontvang ‘n tiende van Abraham. As Melgisedek groter as Abraham is, is hy ook groter as Levi, wat binne-in Abraham is. Omdat Levi in Abraham se lendene was, gee LEVI dus ‘n tiende aan Melgisedek toe Abraham dit doen. Melgisedek staan dus bó Levi, Aäron en al die Levitiese priesters!


Jare later sê die Heilige Gees deur Psalm 110:4 > Jesus gaan vir ewig hoëpriester wees – volgens die orde van Melgisedek! Nie Levi nie.


Melgisedek – as persoon en as koning-priester – was eintlik ‘n prentjiesbeeld van Jesus. ‘n Profesie.


Byvoorbeeld: Hy was beide koning en priester – soos Jesus sou wees. Levi was dit nie.


Melgisedek was “koning van geregtigheid”. Dis wat sy naam beteken. Jesus is dié koning van geregtigheid. Hy IS ons geregtigheid (1 Kor 1:30). Levi was dit nie.


Melgisedek verskyn sommer net in die geskiedenis – hy duik net van iewers af op – oënskynlik sonder enige voorgeslag. Ten minste omdat niks daarvan opgeteken is nie. Daar is geen rekord van sy voorgeslag nie. Niemand weet vanwaar hy kom nie. Daar is ook geen rekord van sy dood nie. Daar is ook geen rekord dat hy sy priesterskap aan enigiemand te danke het nie. Ook nie dat hy dit aan enigiemand ná hom oorgedra het nie.


Net so was Jesus se priesterskap deur niemand op Hom oorgedra nie en dit is nie van Hom op iemand anders oorgedra nie. God het Hom aangestel. En Hy is priester vir ewig.


Christus se priesterskap is van ‘n hoër orde as die Levitiese priesters – na wie die Hebreërs wou terugkeer!

2 Jesus se priesterskap is meer effektief as die priesters wat van Aäron afstam (verse 11-19)

Die Levitiese priesters en hulle offers kon niemand ooit tot perfeksie, ware totale vergifnis en aanvaarding by God, bring nie. (Die Griekse woord teleioosis beteken “om jou doel te bereik” dit is blaamlose vryspraak en vergifnis). Maar Jesus wel! Net die blote feit dat Jesus tot ‘n ander orde van priesterskap behoort, is genoeg bewys dat die Levitiese priesterorde (met hulle diere-offers) nooit die sondaar se ware nood effektief kon aanspreek nie – anders sou ‘n priester uit die orde van Melgisedek mos nooit nodig gewees het nie. Dan sou Jesus ook maar net ‘n priester uit Levi en Aäron se linie gewees het.


Dit is die argument in verse 11-19.


Die levitiese priesterorde moet dus een of ander tyd tot niet gaan en uitgeskuif word. Dit moes tot ‘n einde kom, want dit kon nooit werklik reiniging van sondes bewerk nie. Dit was ‘n tydelike sisteem/administrasie.


Maar, indien die priesters se werk tot ‘n einde moes kom, moes ál die rituele, rites, seremonies, offers, kleredragte, reëls wat die Levitiese priesters se bediening vergesel het, óók afgeskaf word. Dit beteken die Ou Verbond is verby.


Die Ou Verbond was nie sinoniem met die Ou Testament nie. Die OV was net ‘n tydelike administrasie BINNE IN die geheel van God se handelinge met Sy OT-volk. Die OV het bestaan uit die 100de wette van Moses, die besnydenis, die Joodse feeste, die priesters, die offers, rituele, voorskrifte, tempel, kleredragte. In kort: die hele kultus.


As die priesters se bediening verby is, dan is die héle Levitiese kultus verby. Die hele Ou Verbond is verby! Want dit was ‘n tydelike en onvolmaakte administrasie. Die waarhede wat in die Ou Verbond soos in prentjiesbeelde uitgebeeld is, bly ewiglik geldig en waar ja, maar dit is alles in Christus vervul en daarom kan die prentjiesbeelde afgeskaf word. Die REALITEIT is nou daar, die SKADU’S kan afgeskaf word. Wie wil met ‘n skadubeeld van ‘n Ferrari sit as jy die regte Ferrari kan ry?

Konklusie: Jesus se priesterskap is meer effektief as die priesters wat van Aäron afstam!


3 Jesus se priesterskap is stewiger gevestig as die priesters wat van Aäron afstam (verse 20-22)

Hoe het ‘n OT priester in sy amp gekom? Hy moes gebore word in die stam van Levi en uit die geslag van Aäron. Wanneer hy ‘n sekere ouderdom bereik het, het hy priester geword. Geen verdere vereistes nie, nie eens ‘n eedswering nie. Dit was so maklik soos dit.


Hoe het Jesus die amp van hoëpriester betree? Deur eedswering. Nie ‘n eed wat Hý moes aflê nie, maar wat God die Vader afgelê het. En hierdie eed was onomkeerbaar. Soos die Vader vir die Seun gesê het: “Jy is priester, vir ewig, volgens die orde van Melgisedek”.


En sodoende het Jesus die waarborg van ‘n beter verbond geword.


Dit is so helder soos daglig dat Jesus se priesterskap stewiger gevestig is as die priesters van die Judaïsme.


4 Jesus se priesterskap is van langer duurte as die priesters wat van Aäron afstam (verse 23-25)

Geen OT priester het vir altyd geleef nie. Die een geslag van priesters is deur ‘n volgende vervang. Daar was aanhoudende en konstante verandering. Daar was nooit ‘n spesifieke priester op wie jy vir altyd kon vertrou nie.


Met Jesus verander die prentjie geheel en al. Hy het nie Sy priesterskap geërf nie. Dit is persoonlik aan Hom gegee deur Sy Vader. Dit kan ook nie oorgedra word op iemand anders nie en dit hoef ook nie, want Hy lewe vir altyd. Dit is terloops waarom daar nie meer vandag iets soos priesters in kerke kan/mag wees nie.


Ons Here Jesus leef vir altyd as priester. Dit beteken dat, Hy ALTYD daar is. ALTYD beskikbaar is. NOOIT afwesig is nie. NIEMAND vir wie Hy nie sal help nie. Hy sal ons nie in die steek laat nie. Sy teenwoordigheid by die Vader as sondaars se verteenwoordiger, waarborg dat niemand weggewys sal word nie. Sy intree (intersessie) vir die swakkes en feilbares is altyd suksesvol.


Vers 25 is sonder twyfel een van die wonderlikste beloftes in die Bybel! “Daarom kan Jesus ook diegene wat deur Hom na God gaan, eens en vir altyd verlos. Hy lewe vir altyd om vir hulle by God in te tree.”


5 Jesus se priesterskap pas perfek by sondaars se behoefte (verse 26-28)

As ‘n sondaar, het ek ‘n hoëpriester nodig wat self sonder sonde is. Luister baie mooi: ‘n Hoëpriester wat offers moet bring vir sy eie sondes, is nie vir my van nut nie. ‘n Hoëpriester wat offers moet bring vir sy eie sondes kan dalk ‘n tydelike prentjie wees van ‘n béter een wat kom, maar hyself kan my nie help nie. Ek het ‘n hoëpriester nodig wat die volste reg het om in God se direkte teenwoordigheid in te gaan en my daar te verteenwoordig. ‘n Hoëpriester wat net in ‘n prentjiesvoorstelling van die teenwoordigheid van God (soos in die allerheiligste van die tempel) ingaan, is nie regtig die tipe hoëpriester wat ek nodig het nie.


Slegs ‘n hoëpriester wat sondeloos is en wat die reg het om in God se teenwoordigheid te gaan en my daar te verteenwoordig, wat self ‘n mens is soos wat ek is en wat vir my kan praat sonder dat hy eers vir homself hoef te praat, sal vir my werk. So ‘n tipe hoëpriester sal suksesvol wees.


Jesus is so ‘n hoëpriester. Hy is presies wat ek nodig het.


Jesus is nie ‘n Levitiese priester wat met sy eie sondes sukkel, wat daagliks vir homself moet offers bring, wat vergifnis nodig het en wat met swakhede worstel nie.


Jesus het nie met Sy eie sonde nie, maar met mý sonde deurslaggewend gehandel, eens en vir altyd, toe Hy homself geoffer het as ‘n perfekte offer, ten volle deur God aanvaar.


Wat ‘n wonderlike hoofstuk is Hebreërs 7 nie?!


God is sondeloos, maar ek is ‘n sondaar. Is daar enigiemand wat tot Hom kan nader ter wille van my? Iemand wat vlekkeloos is, wat verhewe is tot die hoogste hemele, wat deur God aangestel is in ‘n ewige, onveranderlike priesterskap?


Hebreërs 7 sê daar ís inderdaad so iemand.

Met Jesus Christus as my hoëpriester, sal daar nooit ‘n oomblik kom wat ek tot Vader nader, maar weggewys word nie. Daar sal nooit ‘n breukdeel van ‘n sekonde wees wat ek veroordeel sal word om buite Vader se teenwoordigheid te leef nie. Ek kan te alle tye met vrymoedigheid na Hom toe kom. Want Hy beklee ‘n priesterskap wat in alle opsigte die priesterdom van die OT oortref. As dit nie so was nie, sou ek sonder enige hoop geleef en gesterf het. Maar dit is waar. Waarom sal enigiemand dan teenoor Hom koud wil staan? Terugval of verval is dwaasheid. Dis pure malligheid!

Category Hebreers Reeks

© 2020 Tafelberg Gemeente (Dolerend)