Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

HEBREËRS-REEKS NO 1
Tema: God het gepraat!
Skrif: Hebr 1:1-4

Dis omtrent die jaar 65nC. ‘n Skrale 35 jaar tevore is die Here Jesus gekruisig en is die Heilige Gees uitgestort. In die jaar 65 was daar nog heelwat gelowiges wat dit alles kon onthou. Hulle kon die merkwaardige gebeurtenis van Pinkster so goed onthou. Daar was ook nog enkele apostels wat geleef het – soos Paulus en Johannes. Die tempel het ook nog in Jerusalem gestaan. Weliswaar was die tempel se dae getel – in 70nC sou dit met die grond gelyk gemaak word – soos dit ook in die Hebreërbrief voorsien word.

Die oorgrote meerderheid gelowiges in 65nC was egter tweedegeslag gelowiges. Hulle het tot geloof gekom op grond van die getuienis en prediking van die eerstegeslag gelowiges en die apostels – wat eerstehandse ooggetuies was van Jesus se opstanding en die koms van die Heilige Gees.

Iewers in die Meditereense wêreld van destyds, was daar egter ‘n spesifieke gemeente van Christus. Ons weet nie presies waar hierdie gemeente was nie. Moontlik in Rome of iewers in Italië. ‘n Mens kan dit aflei uit die laaste hoofstuk van die Hebreërbrief, waar medegelowiges van Italië vir hulle groete stuur.

Dis egter belangrik om te weet dat hulle Jode was – wat hul ras betref. Hulle was oorspronklik aanhangers van die Judaïsme – die Joodse godsdiens wat op die OT gebaseer was. Maar nou was hulle Christene. Hulle was Jode wat tot geloof in Jesus as hul Messias gekom het. En daarmee saam het hulle uiteraard die Judaïsme – waarmee hulle grootgeword het – prysgegee. In kort: Hulle het van ‘n wettisistiese godsdiens bekeer tot die vrye genade van die evangelie van Jesus Christus!

U sien dus die prentjie: Iewers in Italië, in die jaar 65nC, is daar ‘n gemeente van Joodse Christene. Tweedegeslag gelowiges wat gebreek het met Judaïsme en op Jesus se verlossingswerk begin vertrou het o.g.v die eerstegeslag gelowiges se prediking.

Maar, dit gaan nie goed met hierdie gemeente nie. Hulle het hulle visie verloor. Dit was of hulle hulle begrip en verstaan van God se vrye genade in Christus verloor het en dit oorweeg het om dalk terug te keer na wettiese Judaïsme. Om die een of ander rede het hulle moedeloos begin raak. Dit was heel waarskynlik die gevolg van aanhoudende vervolging omdat die Christelike Geloof in die Romeinse Ryk as ‘n tipe misdaad beskou is. Dit sou soveel meer gerieflik wees om terug te keer na die OT-godsdiens, want Judaïsme was op daardie stadium steeds ‘n wettige godsdiens in die Romeinse Ryk. Dit sou veel makliker wees om terug te keer na ‘n godsdiens wat wettig is. Dink net: geen vervolging meer nie!! En ‘n lekker godsdiens waar jy binne die veiligheid van reëls en selfdoen leef!

Aanvanklik het hulle geleef uit die geloof in die sukses wat die kruisdood van Jesus in hul lewens behaal het – omdat God so sê en klaar.

Maar algaande het hulle begin uitsak en teruggekeer na ‘n pad van selfdoen om ‘n staanplek by God te verkry en te behou. Dis die tipiese pad van wettisisme. En die Judaïsme lyk weer al hoe meer aanloklik. Moes hulle nie dalk terugkeer na die OT en weer die tempel in Jerusalem gaan besoek en diere-offers bring nie – het hulle begin wonder?
En só het hierdie Joodse Christene geestelik begin uitsak. En begin wegdryf van die ware genade van God.
Maar toe – op ‘n dag – ontvang hulle ‘n indringende brief.
Ons weet nie van wie die brief gekom het nie. Die brief het nooit die naam van die skrywer bygehad nie. Deur die eeue het die kerk meesal aanvaar dat dit Paulus was, maar ons sal dit nooit met sekerheid weet nie.

Een ding is seker: die vroegste Christelike kerk sou nooit hierdie brief as gesaghebbende kanonieke geskrif erken het, as hulle nie geweet het wie die skrywer was nie en as dit nie ‘n apostel was of iemand wat onder die direkte supervisie van ‘n apostel geskryf het nie.
Hoe dit ookal sy, die DOEL van die skrywer is baie duidelik: Hy wil ‘n vuur wat dreig om dood te gaan, weer aanblaas. Hierdie gemeente van Joodse Christene se vlammetjie wou uitgaan en die skrywer van die Hebreërbrief wil dit aanblaas.
En hy doen dit op twee maniere: A – Hy gee onderrig, lering (hoofstukke 1-10:18) B – Hy vermaan en spoor aan (hoofstuk 10:19 tot aan die einde).

In hoofstukke 1-10:18 beantwoord hy die vrae: “Waarom mag ons nie die Christelike Geloof prysgee nie?” “Waarom nie teruggaan na Judaïsme nie?” “Wat besit ons nou as Christene wat ons nie voorheen gehad het toe ons Jode was nie?”

In 1-10:18 vertel die skrywer vir hulle wat hulle as Christene het wat hulle nie voorheen gehad het nie. En dan, vanaf 10:19, vermaan hy hulle en spoor hy hulle aan OP GROND VAN dit wat hy in 1-10:18 gesê het.

Soos wat ons die volgende aantal weke hierdie brief bestudeer, wees asseblief op die uitkyk vir sekere sleutelwoorde wat oor en oor voorkom. Kyk vir die woord BETER. Jesus is BETER AS die engele, die profete, Moses, Josua, Aaron, wet, tempel, die offers. Daar is ‘n BETER verbond met ‘n BETER offer. En BETER beloftes en BETER vooruitsigte!
Elke keer wanneer ons die woord BETER gaan lees, laat daar ‘n klokkie in u gedagte lui!
Ander sleutelbegrippe is byvoorbeeld: perfek, ewige, deelhê, hemelse, bloed, geloof, offer, verbond, hoëpriester. En ‘n baie belangrik een: SEUN.
Daar is ook sekere sleutel TEMA’s: Persoon van Jesus, Sy werk, verhouding OT en NT, wat ongehoorsaamheid is, waarom God gelowiges toets, kenmerke van ‘n Christen.

Sleutel KONTRASTE: Wat is die verskil tussen die Seun van God en ‘n engel van God? Wat is die verskil tussen die Seun van God en Moses? Wat is die verskil tussen Jesus as hoëpriester en Aäron die hoëpriester? Wat is die verskil tussen geestelike onvolwassenheid en geestelike volwassenheid? Wat is die verskil tussen afvalligheid en volharding? Hoe verskil die offers van die OT van Christus se offer? Wat is die verskil tussen geloof en SIEN? Wat is die verskil tussen berg Sinai en berg Sion?

Ons gaan oor die volgende aantal weke ons kennis oor al hierdie dinge – en vele meer – verbreed.

Genoeg om te sê: die belangrikheid van Hebreërs vir 21ste eeuse Christene, kan nie genoeg beklemtoon word nie!

Byvoorbeeld: Daar is geen ander manier om die OT te verstaan, anders as deur die bril van Hebreërs nie. Om te verstaan hoe die OT en NT met mekaar verband hou, lees asb Hebreërs! Om te verstaan hoe vervulde profesie werk, lees asb Hebreërs!
As jy wil weet wat die Here Jesus Christus TANS besig is om te doen (nie wat Hy gedoen HET nie) en hoe kernbelangrik dit vir ons is, lees Hebreërs!
As jy wil weet waarom jy so moeg is vir die Christelike lewe en hoe jy weer kan vlamvat, lees Hebreërs!
As jy wil weet WAT dit is wat in Jesus Christus is, wat nêrens anders gevind kan word nie en wat jou siel vervul soos niks anders jou siel kan vervul nie, lees dan Hebreërs.
Die groot tema van die brief is: KYK NA HÓM! Die een, enigste teengif teen alle geestelike siekte, is ‘n beter sig op Christus Jesus. Dit genees ALLE geestelike moeites. Wie Hebreërs bestudeer, sal ongetwyfeld die Here Jesus beter ken as voor die tyd.

In die inleidende eerste 4 verse sien ons 4 dinge wat eintlik – in kiemvorm – die hele brief opsom:
1 Die FEIT dat God gepraat het (verse 1-2). Daar is ‘n God. Die brief begin met Hom. Geen bewyse nodig nie. Hy IS – punt! En Hy praat! Die mens het Hom nie ontdek of ontmoet nie. Hy het gekies om homself bekend te maak. Daarom het niemand nodig om te wonder of te raai of te filosofeer nie. Die mens moet net sy ore oopmaak. Dis al. Want God het gepraat! Die mens hoef niks te vra nie. Die mens moet net luister: WAT het God gesê?
2 Die realiteit van die OU TESTAMENT as God se praat (v 1). Die OT is werklik ‘n Goddelike openbaring. God het in die verlede gepraat. Maar Hy het nie op een slag alles gepraat nie. Hy het nie eensklaps alles bekendgemaak nie. Hy het progressief, stelselmatiglik, ontvouend gepraat. Hy het gepraat en stilgebly. En weer gepraat en stilgebly. En weer gepraat en stilgebly. Gradueel het Hy meer en meer bekendgemaak. En Hy het nie altyd op dieselfde manier gepraat nie. Soms direk en hoorbaar. Soms deur visioene. Soms deur mense se gedagtes. Maar dit was ‘n onvoltooide openbaring. Die OT bevat nie alles wat die Here God te sê gehad het nie. Dis so belangrik. Want onthou: die lesers van die brief wou teruggaan na Judaïsme, na ‘n OT-godsdiens. Maar nou sê die skrywer sommer reg aan die begin: “As julle na ‘n OT-godsdiens wil teruggaan, gaan julle terug na ‘n onvoltooide, ongenoegsame godsdiens. Die OT is slegs ‘n gedeelte van die hele prentjie!
Moet dus nie die OT onderwaardeer nie. Dit is werklik die Here se openbaring/ Sy praat.
Aan die ander kant: Moenie die OT oorwaardeer nie. Dis net ‘n gedeelte van die prentjie.
3 Die voorrang/superioriteit van Jesus Christus as DIE goddelike bekendmaking (vers 2a): Waar daar staan: “maar nou, in hierdie laaste dae” staan daar eintlik in die Grieks: “Aan die einde van hierdie dae”. Met ander woorde: Ten slotte. Sy finale Woord. Nadat Hy hierdie woord gespreek het, het Hy klaar gepraat. Dis alles wat Hy wil sê.
Nou is die openbaring/bekendmaking voltooi. Dit wat onvoltooid was in die OT, is nou perfek voltooi! Dit wat tydelik was, is nou permanent. Dit wat voorbereidend was, is nou finaal. Sy Woord kom nou nie meer na ons deur middel van ondergeskiktes nie. Sy Woord is nou beliggaam in vlees en bloed in die Een wat superieur is! Jesus is superieur bo alles en almal en Hy is God se finale woord aan die mensdom. Dis voltooi. Geen verdere openbaring is nodig nie. Dit kom nie deur profete nie, maar deur die Seun! En die Seun is God self, nie net ‘n instrument wat God gebruik het nie.
‘n Mens sal nou verwag dat die skrywer op hierdie punt vir ons sal sê wat God deur die Seun gesê het. As God finaal deur die Seun gepraat het – wel, WAT het Hy gesê?!

Maar nee, in plaas van om te sê wat God deur die Seun gesê het, bars die skrywer uit in ‘n beskrywing van die heerlikhede van die Seun. Om te beklemtoon dat dit wat God deur hierdie Seun bekendgemaak het, werklik superieur is! Dis absoluut alles wat ons ooit nodig sal hê. Die Seun is totaal anders as alles en almal deur wie God ooit tevore gepraat het! Die Seun is geheel en al perfek. Daarom noem hy 7 heerlikhede van die Seun. Want 7 is die getal van perfeksie. En dwarsdeur die brief gaan hy die perfeksie van Christus beklemtoon.
4 Die sewe heerlikhede van die Seun wat Sy absolute voorrang/superioriteit bewys (verse 2-4).
1 Christus is die erfgenaam van alles (vers 2). ALLES wat aan God behoort, behoort aan Jesus! Hy is die klimaks en kroon van die geskiedenis. Die hele toekoms behoort aan Hom. En daar sal ‘n dag kom wanneer elke tong Hom sal aanbid.
2 Christus is die begin van alles. Die mede-Skepper (vers 2). Hy is die Een DEUR WIE die Vader alles gemaak het. Hy is self die einde omdat Hy die begin is! En Hy is die begin omdat Hy die einde is! Nie net is die einde in Sy hande nie, maar ook die begin en dus ook alles tussen-in. DIS DIE EEN deur die Vader finaal gepraat het!
3 Christus was reeds daar voordat daar enigiets anders was en in Homself is Hy die presiese beeld van God en die weerkaatsing van God se heerlikheid (vers 3). Hy verteenwoordig God se wese met presiesheid. Ja, dis onmoontlik om vir God te sien. Maar tog sien ons Hom in vlees en bloed deur na die heerlike Man, Jesus, te kyk.
4 Christus is die onderhouer van alles (vers 3). Hy staan in ‘n verhouding tot die heelal. Hy is die een wat maak dat die geskape heelal nie disintegreer nie. Die krag wat triljoene atome en molekules bymekaarhou – oomblik na oomblik, jaar na jaar – is die Seun self. Die Een wat dit alles tot stand gebring het, onderhou dit ook! In Hom bestaan alles (Kol 1:17).
5 Christus die Verlosser (vers 3). Hy het die reiniging van die sondes van die mensdom bewerkstellig. Hy het dit gemaak, gevestig, geproduseer. In die Grieks word die Aoristus verledetydvorm gebruik: afgehandelde aksie in die verlede. Die reiniging is absoluut afgehandel. En op grond daarvan, het Hy op die troon gaan sit! Die troon van God is gebou op die afgehandelde reiniging! Anders gestel: Indien die reiniging nie bewerkstellig was nie, het God se troon in duie gestort! Anders gestel: Indien JOU sondes nie gereinig is nie, kan God se troon nie bestaan nie! Die reiniging is EERS suksesvol bewerkstellig en TOE het Hy aan Gods regterhand gaan sit! Sien u hoe vas en seker is die reiniging?!
6 Christus is die heerser (vers 3). Mens kan met reg vra: Maar waar is Jesus NOU? Antwoord is: As God-Mens sit Hy in die posisie van heerlikheid waar Hy van alle ewigheid was! Aan die Regterhand (simbolies van magsposisie) van die hoë Majesteit. Hy SIT want Hy het Sy werk voltooi. Jou verlossing is van A-Z klaargemaak. Geen OT priester – wat in die tempel offers gebring het – kon ooit sit nie. Want hulle werk was nooit afgehandel nie. Maar Jesus se eens-en-vir-altyd-nooit-te-herhaal-nie offer is klaargemaak. Daarom sit Hy.
7 Christus is die Een wat BO alles en almal is. Hy is die eerste, hoogste en grootste (vers 4). Geen engel of cherub, sal dit ooit waag om in God se teenwoordigheid te sit nie, wat nog te sê aan Sy regterhand! Maar Jesus is hoër as die hoogste engel. Hy is nie ‘n dienaar nie. Hy is die ewige Seun. Hy het die reg om die posisie te beklee wat Hy beklee, want Hy is die erfgenaam.
As jou hart dreig om koud te word teenoor Jesus, dan is DIT die Jesus teenoor wie jy wil koud raak! As jy oorweeg om van Jesus af weg te breek, dan is DIT die Jesus van wie jy wil wegbreek.
Om weg te draai van Christus beteken altyd om weg te draai van die heel grootste na iets wat minder is. Baie, baie minder. Dit is om van die heerlikheid weg te draai na die minderwaardige. Dit is om jou rug op die uitstraling van God se heerlikheid te draai en in die donkerte te verdwaal.
Dit is wat daardie destydse Joods-christelike gemeente in Rome oorweeg het om te doen. Nou kan ‘n mens verstaan waarom hierdie brief so dringend noodsaaklik aan hulle gestuur was.
En ook aan ons.

Category Hebreers Reeks

© 2020 Tafelberg Gemeente (Dolerend)