Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

Laai Af

GOEIE VRYDAG 2019
JÔM KIPPOER – LEVITIKUS 16

Skuldgevoel is ‘n universele probleem, omdat die mens in sy/haar gewete wéét dat hy/sy voor Gód verantwoordbaar is en nie eerstens teenoor hom/haarself of die landswette nie.

Ja, natuurlik probeer ons van ons skuld ontslae raak. Sommige mense probeer dit onderdruk en word stadig maar seker daardeur vergiftig. Ander probeer sonde wegredeneer en die Bybel te laat sê wat hulle graag wil hoor. Sonde is nie meer sonde nie sodat skuld nie meer skuld hoef te wees nie! Maar tóg verander die Here nie Sy Woord op óns bevel nie. En iewers vaagweg in ons agterkop, wéét ons dit. Daarom verdwyn die skuld & skuldgevoelens nooit werklik nie. En dit sal ook nie. Totdat ons die Bybelse oplossing ontdek. Die Bybel bied ‘n kragtige en finale oplossing vir die gevoel van skuld én vir die skuld sélf.

‘n Mens verstaan dit die beste wanneer jy ‘n prentjie daarvan kan sien. En dit is wat die OT so meesterlik doen. Met prentebeelde teken die OT vir ons die evangelieboodskap. Daarom behoort ons dikwels die OT te lees.

Levitikus 16 is ‘n voorbeeld van só ‘n prentjiesbeeld. Die hele Bybel staan in Levitikus 16.

Eintlik volg hfst 16 op hfst 10:1-3, waar beskryf word hoe Aäron se twee seuns deur die Here met die dood getref is omdat hulle sommer net – met wierrook – in Sy teenwoordigheid, agter die voorhangsel, ingegaan het.

Dink weer aan die tabernakel: Die vertrek genoem die “Allerheiligste” was van die res afgesper deur die dik, swaar gordyn: die voorhangsel. Dáár was God se teenwoordigheid, by die verbondsark. En bo-op die verbondsark was ‘n deksel genoem die versoendeksel. Op daardie deksel moes eers offerbloed gesprinkel word, anders kon geen mens in die allerheiligste kom en bly leef nie. Aäron se seuns het egter daar ingegaan sónder offerbloed – en plotseling gesterf.

Dit is nou – na aanleiding van daardie insident – wat die Here in Lev. 16 uitspel hóé die hoëpriester moet maak om wél in die allerheiligste in te gaan en te bly leef in God se direkte teenwoordigheid. Dit kon slegs op een manier gebeur. Dit mag net een maal per jaar gebeur en wel op die “Jôm Kippoer”, die “Groot Versoendag” (op die tiende dag van sewende maand van die Joodse kalender), wanneer AL die sondes/skuld/skuldgevoelens van die volk op een slag vernietig word en die volk met God versoen word.

Dit moes soos volg gebeur: Omdat Aäron sélf ‘n sondaar is, moes hy eers ‘n jong bul offer ter versoening van sy eie sondes. Dan moes hy versoening bewerk vir die volk/gemeente.

Hoe moes hy dit doen?

Hy moes twee manlike bokke neem. Let op: één offer, maar twéé bokke. Die een bok vir die Here. Die ander bok vir Asásel.

Die eerste bok moes sterf. Die tweede bok moes bly leef.

Dan moes Aäron die eerste bok slag op die altaar in die voorhof van die tabernakel. Daarna moes hy die bok se bloed na die allerheiligste neem, maar éérs wierrook van die wierrookaltaar neem en sy hand óm die voorhangsel steek sodat die hele allerheiligste gevul word met ‘n wolk wierrook. Die rook moes die versoendeksel toemaak. Dan moes Aäron die bok se bloed 7 maal op die versoendeksel sprinkel sodat die bloed tussen die Here en die verbondsark inkom.

En wat gebeur met Aäron? Hy bly leef, binne die lewende God se direkte teenwoordigheid!!

Maar let op: Hierdie hele handeling moes Aäron doen waar geen mens naby is nie. Slegs hy en die Here. Vanaf die oomblik wat Aäron ingaan na die Allerheiligste, mag niemand naby die tabernakel kom nie.

Daarná moes Aäron buitentoe gaan en – voor die oë van die hele volk – die tweede bok neem en albei sy hande op die bok se kop plaas en AL die sondes van die Israeliete hardop bely. Op hierdie manier moes hy die sondes op die bok se kop oordra. En dan moes hy die bok die woestyn instuur om nooit weer terug te kom nie. Sodoende dra die bok AL die sondes/skuld/skuldgevoelens weg – die vergetelheid in.

Sien u die prentjiesbeeld van hoe die versoening prakties werk?

Ons Here Jesus het hierdie hele prentjiesbeeld in Homself vervul. Ná al die baie eeue wat die volk Israel die Jôm Kippoer gehad het, het Jesus gekom en alles in Homself vervul. Hy is self die Hoëpriester wat die versoeningshandeling uitvoer. Hy is self die geslagte bok. Hy bied Sy eie bloed aan die Vader. Hy is ook self die tweede bok wat léwe en wat die sondeskuld wegdra. U sien waarom daar TWEE bokke moes wees: Dit beeld die sterwe én opstanding van Jesus uit.

Bogenoemde is wat ‘n mens sien wanneer jy oorsigtelik na die prentjiesbeeld van die twee bokke kyk. Maar, wat sien jy wanneer jy van naderby daarna kyk en daarop inzoom? Dán sien jy DRIE baie belangrike dinge:

EERSTENS: Die bedoeling van die versoeningshandeling met die eerste bok (wat sterf en wie se bloed op die versoendeksel gesprinkel word) het ‘n effek op God self. Dit bevredig/stil God se regverdige wraak oor sonde.

Onthou: Geen mens mag naby die tabernakel kom tydens die versoeningshandeling nie EN die bloed word op die versoendeksel gesprinkel waar slegs God dit kon sien.

U sien, die bloed van die eerste bok het op ‘n simboliese manier iets aan God self gedoen. Wat gedoen? God se wraak gestil. Want die loon van ons sondes is die dood (Rom 6:23).

God kan nie sondaars vryspreek deur te maak of die sonde niks is nie. Hy kan nie vergewe deur die sonde onder die mat in te vee nie. Dan sou Sy geregtigheid/regverdigheid skipbreuk ly. Nee, die sonde MOET met die dood gestraf word: Óf die sondaar se dood. Óf ‘n plaasvervanger se dood. Dáárom die offerdier – as plaasvervangende dood. Sonder bloedvergieting is geen vergifnis moontlik nie (Hebr 9:22).

Dis aangrypend om te sien hoe die NT dít wat op Jom Kippoer gebeur het, direk deurtrek na Jesus se dood. Wanneer in die NT gepraat word van Jesus as versoeningsoffer deur Sy bloed, word presies dieselfde Griekse woord (hilasterion) in Rom 3:25 en 1 Joh 2:1 vir “versoening” gebruik as wat die Griekse vertaling van die Hebreeus in Levitikus 16 gebruik.

Ja, uiteindelik gaan dit nie oor ‘n bokkie nie, maar oor die Seun van God sélf wat Sy Vader se wraak oor sonde kom stil met Sy eie bloed.

Wat op die kruis gebeur het, het dus eerstens ‘n effek op God self. Sodat Hy nou Sy regverdige geregtigheid 100% kan handhaaf EN NOGTANS sondaars wat in Jesus se offerbloed glo, kan vryspreek.

Verstaan u dat – deur Jesus se versoeningsoffer – daar nou GEEN uitstaande skuld meer is nie en GEEN vonnis wat sondaars nog moet uitdien nie. Gods wraak is gestil. Nou spreek Hy diegene vry wat Jesus se versoeningswerk persoonlik vertrou.

TWEEDENS: Die versoeningshandeling met die tweede bok, verwyder ons skuld/skuldgevoel.

Die tweede bok was die sondebok. Hy moes lewend bly. Dit wat met hom gebeur moes sigbaar wees vir almal. Op grond van die eerste bok se plaasvervangende dood, dra die tweede bok AL die sondes weg na die woestyn. Die Hoëpriester dra AL die sondes van die volk op die bok oor deur middel van ‘n simboliese handoplegging. En dan, voor almal se oë, loop die bok die woestyn in – met hulle sondes/skuld/skuldgevoelens. Hoe sou hulle ooit kon twyfel dat dit regtig WEG is?

Sien u hoe die tweede bok óók in Jesus vervul is?

In 2 Kor 5:21 verklaar die Apostel dat God vir Jesus sonde gemaak het. Hy het nie net op simboliese wyse sonde op Hom oorgedra nie, maar het Hom werklik tot sonde gemaak. Só intensief het Hy – as sondebok – die sonde weggedra.

Hoe dikwels sukkel gelowiges om by die punt te kom om te aanvaar dat hulle werklik 100% vergewe en vrygespreek is. Wie van ons ken nie die dowwe gevoel van: “Sê nou maar net ….” nie?? Laat ons maar goed kyk na Levitikus 16. Ons sondeskuld is vir altyd die woestyn ingedra en kan nie weer terugkom nie.

DERDENS: Die versoeningshandeling met die tweede bok, triomfeer oor satan. Díé bok is “vir Asásel” sê vers 8. Asásel is ‘n naam. Die bok moet die woestyn ingestuur word – vir Asásel. Wie op aarde is Asásel?

Ons weet uit buite-bybelse literatuur dat Asásel ‘n naam vir die duiwel en bose geeste was. Die Boek van Henog en Joodse Talmud sê dit. En daarby was die woestyn ‘n simbool van verlatenheid, chaos en dood. Die plek van Asásel.

Nou word die tweede bok na Asásel gestuur om dáár te gaan wys dat God die sondes van Sy volk vernietig het en dat die bose se beskuldigings tot niks kom nie. Die lewe triomfeer oor die dood. Pleks van dood, is hier lewe, want ‘n plaasvervanger dra die dood die woestyn in!

Wat kan Asásel dáárop sê? Asásel het mos gedurig probeer om rebellie en ongehoorsaamheid onder die Here se mense aan te blaas. Maar op die Groot Versoendag het God vir hom gewys dat sy planne op niks uitloop.

Pleks dat Israel sterf, dra die bok hulle dood die woestyn in – na Asásel toe om vir hom te wys dat hy verloor het. Ja, die duiwel is geantwoord – deur ons lewende Plaasvervanger wat sonde en dood oorwin het. Geen wonder dat 1 Petr 3:19 sê dat Jesus Sy oorwinning in die doderyk gaan proklameer het nie! En Hebr 2:14 verklaar dat Jesus se opstanding die duiwel vernietig het. Ook 1 Joh 3:8.

Wat is die implikasies van Levitikus 16 vir óns? In die verskillende rituele word die talle fassette van Jesus se versoeningswerk uitgebeeld in prentjiesvorm. Jesus is werklik genoegsaam. In Hom kom daar niks kort vir enige nood wat ons mag hê nie.

Is dit nie tyd dat ons ons mateloos moet verwonder oor hierdie algenoegsame Verlosser nie? Hy is só groot in Sy genoegsaamheid. Plaas jy jou volle vertroue op Hom, mag jy met sekerheid wéét dat: AL God se wraak oor jou sondes weg is, AL jou sondeskuld/skuldgevoelens weg is, AL satan se beskuldigings op die grond geval het. Moenie buite hierdie vertroue probeer leef nie, want dan het jy geen hoop/troos nie. Dan moet jy self vir jou sondes gaan betaal met die dood en jou gedaan dra aan skuld en Asásel ten prooi val. Buitekant die enigste offer van Christus Jesus, kan geen mens gered word nie.

Die prentjiesbeeld daarvan is reeds in die hart van OT geteken – in

Levitikus 16. Laat ons ons daarom van harte aan Hom toewy.

Tafelberg Gemeente
Buitenkantstraat 39, Kaapstad
www.tafelbergkerk.co.za
Dr Chris Saayman

GOEIE VRYDAG 2019
DIE SONDEBOK – LEVITIKUS 16

In 2 Kor 5:21 verklaar die Apostel dat God vir Jesus sonde gemaak het. Hy het nie net op simboliese wyse sonde op Hom oorgedra nie, maar het Hom werklik tot sonde gemaak. Hom as sondaar behandel, sou mens kon sê. Só intensief het Hy – as sondebok – die sonde weggedra.

Hoe dikwels sukkel gelowiges om by die punt te kom om te aanvaar dat hulle werklik 100% vergewe en vrygespreek is. Wie van ons ken nie die dowwe gevoel van: “Sê nou maar net ….” nie?? Laat ons maar goed kyk na Levitikus 16. Ons sondeskuld is vir altyd die woestyn ingedra en kan nie weer terugkom nie.

DERDENS: Die versoeningshandeling met die tweede bok, triomfeer oor satan. Díé bok is “vir Asásel” sê vers 8. Asásel is ‘n naam. Die bok moet die woestyn ingestuur word – vir Asásel. Wie op aarde is Asásel?

Ons weet uit buite-bybelse literatuur dat Asásel ‘n naam vir die duiwel en bose geeste was. Die Boek van Henog en Joodse Talmud sê dit. En daarby was die woestyn ‘n simbool van verlatenheid, chaos en dood. Die plek van Asásel.

Nou word die tweede bok na Asásel gestuur om dáár te gaan wys dat God die sondes van Sy volk vernietig het en dat die bose se beskuldigings tot niks kom nie. Die lewe triomfeer oor die dood. Pleks van dood, is hier lewe, want ‘n plaasvervanger dra die dood die woestyn in!

Wat kan Asásel dáárop sê? Asásel het mos gedurig probeer om rebellie en ongehoorsaamheid onder die Here se mense aan te blaas. Maar op die Groot Versoendag het God vir hom gewys dat sy planne op niks uitloop.

Pleks dat Israel sterf, dra die bok hulle dood die woestyn in – na Asásel toe om vir hom te wys dat hy verloor het. Ja, die duiwel is geantwoord – deur ons lewende Plaasvervanger wat sonde en dood oorwin het. Geen wonder dat 1 Petr 3:19 sê dat Jesus Sy oorwinning in die doderyk gaan proklameer het nie! En Hebr 2:14 verklaar dat Jesus se opstanding die duiwel vernietig het. Ook 1 Joh 3:8.

Wat is die implikasies van Levitikus 16 vir óns? In die verskillende rituele word die talle fassette van Jesus se versoeningswerk uitgebeeld in prentjiesvorm. Jesus is werklik genoegsaam. In Hom kom daar niks kort vir enige nood wat ons mag hê nie.

Is dit nie tyd dat ons ons mateloos moet verwonder oor hierdie algenoegsame Verlosser nie? Hy is só groot in Sy genoegsaamheid. Plaas jy jou volle vertroue op Hom, mag jy met sekerheid wéét dat: AL God se wraak oor jou sondes weg is, AL jou sondeskuld/skuldgevoelens weg is, AL satan se beskuldigings op die grond geval het. Moenie buite hierdie vertroue probeer leef nie, want dan het jy geen hoop/troos nie. Dan moet jy self vir jou sondes gaan betaal met die dood en jou gedaan dra aan skuld en Asásel ten prooi val. Buitekant die enigste offer van Christus Jesus, kan geen mens gered word nie.

Die prentjiesbeeld daarvan is reeds in die hart van OT geteken – in

Levitikus 16. Laat ons ons daarom van harte aan Hom toewy.

Tafelberg Gemeente
Buitenkantstraat 39, Kaapstad
www.tafelbergkerk.co.za
Dr Chris Saayman

Category Goeie Vrydag 2019

© 2018 Designed with ❤ by Web Crew