Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

Laai Af

GENESIS-REEKS NO 48
GENESIS 50 > DIE EINDE VAN ‘N ERA

Die verhaal van Josef is die verhaal van die hele Bybel. Dis die verhaal van heerlikheid deur lyding heen. Van verhoging deur vernedering. Van die kruis tot die kroon.

Dis die verhaal van die Here Jesus Christus – wat eers eeue der eeue later in Betlehem gebore sou word – wat die verhoging in heerlikheid van die Vader ontvang het op grond van Sy bittere lyding en kruisdood.

Die verhaal van Josef gaan nie net oor hoe God in Sy soewereiniteit en voorsienigheid alles bestuur nie. Dit gaan ook oor God se beloftes aan Abraham, Isak en Jakob wat gaandeweg tot vervulling kom omdat God absoluut getrou is. As dit van die Aartsvaders en hulle nageslag moes afhang, sou daar niks van die beloftes vervul word nie. Maar die Here God hou woord ten spyte van die hopelose mense.

Dit lyk kompleet asof die dood die sentrale tema van hoofstuk 50 is. Hier word immers die dood van twee persone in redelike detail beskryf – die van pa en seun: Jakob en Josef. Die einde van ‘n era.

Die dood van gelowiges is ‘n belangrike saak in die Skrif en so behoort dit ook vir ons te wees. Die houding van ‘n geredde mens teenoor die dood en sy/haar eie dood is baie belangrik vir iemand wat in Christus is. Dis belangrik dat ons ‘n siening van dood en sterwe moet hê wat deur die Skrif gevorm is – veral die dood en sterwe van iemand wat in Christus is!

Vroeër in sy lewe, het Jakob anders oor sy eie dood gedink as aan die einde van hoofstuk 49. Ná Ragel se dood en later weer na Josef se “dood” en ook weer nadat hy weer vir Josef gesien het, het Jakob gedink hy is gereed om te sterf. Maar dit was glad nie God se plan vir hom nie. Nadat hy met Josef herenig is, het hy nog 17 jaar geleef: jare van geestelike groei en ‘n stuk wandel met God. Ja, die gelowige moet sterf wanneer dit die Here se tyd is en nie wanneer die MENS dink dis tyd nie.

Ons is maar almal geneig om te dink dat die dood ‘n soort verlosser is. Veral wanneer ons baie swaarkry of die verdriet te groot voel of selfs wanneer ons – deur ons eie toedoen – in diepe sonde en duisternis vasgevang sit. Mense dink soms dat byvoorbeeld iets soos selfmoord ‘n uitkoms is, ‘n verlossing is.

Wat ons uit die oog verloor is dat – wat betref die mens wat buite Christus is – die dood hulle ellende verewig, nie beëindig nie. Die dood is nie ‘n bevryder nie. Dit verewig die smarte.

Maar ook wat betref die ware geredde mens in Christus, is dit belangrik om te sterf op die tyd wat die HERE bepaal en nooit die saak in eie hand te neem nie.

Hoewel niemand wat werklik in Christus is ooit vir ewig verlore sal gaan nie, maak 1 Kor 3 dit duidelik dat geredde mense hetsy loon sal ontvang of loon sal verbeur op die Dag van Christus.

Wat dit presies behels, weet ons nie, maar dit is duidelik dat dit nie te make het met hemel of hel toe gaan nie, maar met hetsy lof of vermaning uit die Here se mond.

Ook van weergebore mense is dit waar dat hulle op die Groot Dag rekenskap sal gee oor wat hulle – AS CHRISTENE – in die liggaam gedoen het – of dit goed was of sleg. Dit staan net so geskryf in 2 Kor 5:10.

In die geval van Christus-gelowiges is die Wittroonoordeel dus nie ‘n plek van veroordeling en verskrikking nie, maar van BEOORDELING byna soos ‘n prysuitdelingsgeleentheid. Almal ontvang lof, maar sommige boet ‘n stuk lof in – tot eie skande en verleentheid.

Dit is min of meer die posisie van Christus-gelowiges wat byvoorbeeld hulle eie dood op een of ander manier in eie hand geneem het en nie gesterf het volgens die Here se bepaalde wil en tyd nie.

Van Jakob en Josef was dit egter nie waar nie.

Jakob se laaste woorde was nie die seënuitsprake oor sy seuns nie, maar sy sorgvuldige instruksies oor sy eie begrafnis aan die einde van hoofstuk 49. Hy moes begrawe word by Abraham en Isak. Nie sentiment nie, maar geloof in die God van Abraham en Isak motiveer Jakob se opdrag.

En dan, eers wanneer hy sy taak voltooi het en gesê het wat hy moet, trek hy sy bene op, blaas sy asem uit en word onmiddelik by sy vaders versamel in heerlikheid. Niks van ‘n sieleslaap of reïnkarnasie of ‘n vagevuur nie. Onmiddelik word hy by sy vaders versamel. Jakob sterf salig. Dit beteken: In die Here.

Josef was dalk die naaste aan sy pa van al die broers. Hy het sy afsterwe bitterlik beween. Nie soos een wat geen hoop het nie (1 Thes 4) maar as gevolg van die gevoel van verlies.

Die Egiptenare het ook getreur, uit respek vir Josef wat die Eerste Minister was. Die proses van balseming van Jakob se liggaam was ‘n standaard prosedure vir Egiptiese hooggeplaastes en hulle familie. Veral vir die reis na Kanaän, moes die liggaam beslis gebalsem word.

Josef moes natuurlik Farao se toestemming kry om die land te verlaat vir die begrafnis van sy pa en Josef praat met die Farao deur middel van ander amptenare. Hy praat nie direk met die Farao nie. Dalk omdat hy onwetende een of ander defek aan sy voorkoms kon hê wat die Farao aanstoot kon gee – soos byvoorbeeld die lengte van sy hare of dat sy stemtoon dalk te hoog of te laag sou wees of hy dalk te veel emosies toon. Ons weet nie, want die Bybel sê dit nie.

Die begrafnisstoet op weg na Kanaän was enorm groot. Uit die beskrywing in die teks klink dit byna of helfte van Egipte saamgegaan het – in elk geval byna die hele land Gosen! Dalk so ‘n tikkie onuitgesproke Goddelike humor wat daaragter skuil. Dat die heidene soveel eerbied betoon aan God se man – die man uit wie die Messias gebore sou word.

Om die een of ander rede het die prosessie langs ‘n vreemde roete gereis om by Kanaän uit te kom. In stede van noord te gaan en Kanaän van die weste binne te gaan, gaan hulle noord-oos en gaan die land van die ooste binne – vanaf die oorkant van die Jordaanrivier.

Dit kon nie toeval wees nie, want baie jare later sou die Israeliete ook die land vanaf die oorkant van die Jordaan binnekom – regoor Jerigo. Hier het ons dus met ‘n profetiese vooruitwysing te make – deur die Here se hand so bepaal, sonder enige menslike insig of inset.

Oos van die Jordaanrivier, het die stoet 7 dae lank by die dorsvloer van Atad gehalt en weer eens die dood van Jakob bekla. Dit het baie aandag van die land se inwoners getrek. Waarskynlik was die bedoeling om vir die Egiptenare geleentheid te gee vir ‘n laaste roubeklag alvorens hulle agterbly en die familie verder gaan tot by die Grot van Magpela om daar ‘n privaatseremonie te hou.

Alles is afgehandel presies soos Jakob voor sy dood beveel het.

Tot by vers 14 word daar nie ‘n dooie woord gesê oor Josef se broers nie. Jakob is oorlede, Josef treur, Egiptenaars rou, maar wat van die broers?

Verse 15-21 gee ‘n aanduiding van waarom daar van Josef en die broers apart gepraat word. By hulle was daar vanselfsprekend ook rou en droefheid, maar daar was nog iets by: skuldgevoelens.

Vers 15 > Na Jakob se dood sê die broers: “Sal Josef nie dalk nou sy kans waarneem en wraak op ons neem vir alles wat ons hom aangedoen het nie”?

Na alles wat so pragtig oor ‘n tydperk van 17 jaar gebeur het – hoe Josef hulle vergewe en ontvang het en soos konings behandel het, is hulle nog nie bevry van skuldgevoelens nie. Steeds is hulle in kettings en boeie. Vir 17 jaar het hulle niks anders as aanvaarding en genade van Josef se kant af beleef nie. En tog sê hulle: “Gaan Josef nie dalk nou in wraak op ons afkom nie”? Hierdie gedagte het aan hulle gevreet en hulle met vrees vervul en het hulle rousmart oor hulle pa se dood, oorheers.

Daarom stuur hulle ‘n spesifieke boodskap na Josef toe. Waarskynlik was Benjamin die boodskapdraer. En boodskap was die volgende: “Ons vader Jakob het voor sy dood ‘n spesifieke opdrag gegee en gesê dat Josef sy broers moet vergewe vir hulle wandade.”

Nadat die boodskap by Josef uitgekom het, kom die broers voor Josef en val voor hom neer. Weer eens ‘n vervulling van die droom wat die Here hom gegee het toe hy ‘n jongman was (Genesis 37). Die broers doen presies wat voorsê was, maar wat hulle ten alle koste nie wou doen nie. Maar omdat dit die HERE was wat dit voorsê sou dit gebeur – kos wat dit wil!

Josef se reaksie is wonderlik. Dis die voorbeeld van hoe alle Christene veronderstel is om op ‘n Godvrugtige manier te reageer.

Hoor hoe praat Josef: “Julle moet nie bang wees nie. Ek sal vir julle sorg. Wraak kom my nie toe nie. Besef julle nie dat die HERE al die tyd besig was om deur dit wat julle gedoen het te werk nie? JULLE bedoeling was om aan my kwaad doen, maar die HERE se bedoeling was om deur julle verkeerde bedoelings GOED te doen en sorg te dra dat daar vandag baie mense in die lewe gehou word te midde van hierdie droogte.”

Deur God se voorsienigheid is die sonde van Josef se broers omgebuig tot ‘n stuk redding vir baie mense. Soos wat God die mense wat vir Jesus laat doodmaak het, se sonde omgebuig het tot redding van alle uitverkorenes.

Terwyl Josef DIT besef, hoe kon hy dan kwaad wees of bitterheid koester? O nee, die vergifnis wat Josef aan sy broers gegee het terwyl hulle pa nog geleef het, sal voortduur vir altyd, dis seker!

Wat egter vir my ‘n skok was by die lees van hierdie gedeelte is om te sien wat die Heilige Gees hier tussen die lyne laat skryf het, naamlik hoe hardnekkig iets soos skuldgevoelens in gelowiges se binneste kan vaskleef.

Luister mooi: Toe Josef 17 jaar tevore homself aan sy broers bekendgemaak het, het hulle regtig met mekaar versoen en hy het hulle vrygespreek van wat hulle aan hom gedoen het. Daar was ‘n feesmaal. Toe het hulle hulle pa Jakob gaan haal en hy het ook in Egipte kom bly. Daarna het Jakob nog 17 jaar geleef. En toe, ná sy sterwe en ná al daardie jare, wát sit nog steeds in die broers se binneste? Skuldgevoelens! Dit klink onmoontlik, maar dis waar. En dit is hoe ons almal is. Hoewel dit nie die Here se wil vir ons is nie.

Die Here se wil vir Sy kind is die volgende: Dat ons moet VERTROU op die krag van Jesus se bloed wat reinig van ALLE sonde (1 Joh 1:9). En vertroue is sekerheid (Hebr 11:1). Ja, ons moet ook regmaak met ander mense teenoor wie ons gesondig het. Dit is restitusie. Maar dan moet ons dit agter ons sit. Selfs al is die ander party dalk nie gewillig om ons te vergewe nie.

Genesis 50 wys dus vir ons hoe maklik en hoe erg skuldgevoelens kan bly kleef. Hoe ons soms dit vertroetel omdat ons heimlik dink dat dit ons beter maak voor God indien ons nog so ‘n paar maande lank kan aanhou sleg voel of dalk met ‘n sooibrandgesig rondloop. Nee, dít is ongeloof. Dis ‘n mosie van wantroue in God se beloftes. Ons moet bely en laat staan. Dis die Here se pad.

En dan sterf Josef ook. Tussen vers 21 en vers 22 verloop meer as 50 jaar. Want die Heilige Gees wou hê dat Jakob se dood en Josef se dood langs mekaar moes staan omdat dit ‘n boodskap aan die volk moes oordra. Beide Jakob & Josef het vooraf bevele gegee oor wat met hulle liggame moes gebeur. Maar daar was verskille:

JAKOB: Sy liggaam moes gebalsem word vir die ver reis na Kanaän om daar begrawe te word. Dit was om die volk te herinner dat hulle slegs bywoners in Egipte is, maar dat God beloof het om hulle na die land Kanaän te neem – die land waar die Messias gebore sou word.

JOSEF: Sy liggaam moes gebalsem word om vir ‘n baie, baie lang tyd in Egipte te bly. Eers wanneer die volk (olv Moses) na Kanaän sou trek, moes Josef se beendere saamgeneem word. Sy liggaam was dus vir bitter baie jare by die volk in Egipte – deur hulle swaarkry heen – om hulle te herinner aan God se belofte dat Hy hulle sou bevry uit Egipte en na Kanaän sou neem.

Beide Jakob en Josef se opdragte aangaande wat met hulle oorskot moes gebeur, was dus bedoel om die Here se volk se geloofsoog te fokus op God se belofte aan Abraham, Isak en Jakob – die belofte van die land en komende Messias. JAKOB se begrafnis in Kanaän > DIT is waar julle ware tuiste is. JOSEF se oorskot wat in Egipte bly en eers later na Kanaän geneem word > Moenie moed verloor nie, die Here SAL julle uit Egipte red en na Kanaän neem.

En so kom ons aan die einde van ‘n era en die einde van ‘n wonderlike boek: Genesis. Dit eindig met twee doodskiste: Die een in Kanaän en die ander in Egipte. Terwyl dit begin het by die skoonheid en volmaaktheid van die paradys. Maar nou lyk dit of die dood die einde is.

Maar NEE! Genesis is nie die héle Godsopenbaring nie. Openbaring 21-22 is die slot. En dit eindig by die herstelde paradys, die Nuwe Jerusalem, die nuwe aarde. Die slot van Genesis is net ‘n uitroep na verlossing. ‘n Uitroep dat God sal doen wat Hy beloof het, naamlik om ‘n herstel te bewerk. En tussen Genesis se slot en Openbaring se slot, staan die kruis van Christus. Terwyl Genesis self reeds op soveel plekke van die komende kruis getuig en praat. Maar dit is die kruis en opstanding van Christus wat waarborg dat Openbáring nie ook met doodskiste eindig nie.

Hoe ‘n mens die dood sien, maak ‘n reuse verskil.

Sien jy dit as die einde van alles, is daar geen sin in om te verlang na die Nuwe Aarde van Openb 21 of om seker te maak dat jy nie in die hel van Openb 20 eindig nie. Dan kan jy eet, drink en in sonde leef sonder skuldgevoel. Want môre eindig alles. Die aardse lewe was maar net ‘n toevallige sameloop van omstandighede. Jou lewe is maar net ‘n kort opvoerinkie tussen sperm en wurm.

Maar wanneer jy besef dat die dood ‘n BEGIN is en nie ‘n einde nie, verander jou perspektiewe. En dis presies wat die Bybel leer – dat die dood ‘n begin is en nie ‘n einde nie – en dis waarom Genesis se slot en twee doodskiste so ‘n belangrike boodskap dra.

Die oomblik wanneer jy ontdek dat die dood (JOU dood) ‘n BEGIN is, besef jy dat jy die éwigheid ingaan en dat hemel en hel skielik van absolute belang is.

Maar hoe sal jy ooit sekerheid kan kry dat jy nie vanaf die sekonde van jou dood in die hel sal wees sonder enige hoop om ooit weer daar uit te kom nie?

Dink aan die man in die verderf van wie Jesus in Lukas 16:26 praat!

Begin jy na hierdie sekerheid vra en jy besef dat jy met jou sondelas en skuld nêrens heen kan gaan nie, eers DAN verstaan jy waarom die kruis van Golgota lewensgroot in die middel van die Bybel staan en die kruis Genesis se slot en Openbaring se slot aanmekaar koppel en dat daardie kruis ook jou enigste hoop is vir die lewe na die dood.

Iemand wat oor die kruis heen gestap het van Genesis se doodskiste af tot by Openbaring se Nuwe Aarde, is iemand wat die Apostel Paulus napraat waar hy in Filip 1 roep: “Ek het ‘n verlange om heen te gaan en by Christus te wees, want dit is verreweg die beste”.

Tafelberg Gemeente (Dolerend)
Buitenkantstraat 39, Kaapstad
www.tafelbergkerk.co.za
Dr Chris Saayman

Category Genesis Reeks

© 2018 Designed with ❤ by Web Crew