Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

Laai Af

GENESIS-REEKS NO 46
Genesis 48 → Geestelike hoogtepunt

Dis opvallend dat die skrywer van die Hebreërbrief in hoofstuk 11:21 vanuit ál die ondervindings wat Jakob gehad het, spesifiek HIERDIE as groot voorbeeld van Jakob se geloofsvertroue uithaal: “Deur die geloof het Jakob, toe hy sterwend was, die seuns van Josef geseën terwyl hy aanbid het op die knop van sy staf.”

Daar was sekerlik tog baie meer opwindende momente uit Jakob se lewe wat in Hebreërs 11 aangehaal kon word. Wat van byvoorbeeld toe hy die droom gehad het van die leer wat tot in die hemel gaan en engele wat op en neer gaan. Of toe hy in die Jabbok met die Engel vd Here geworstel het en dié sy heup mank geslaan het.

Wát is dan nou juis so spesiaal aan Jakob se sterwensoomblikke en die seën wat hy aan Josef se seuns toegesê het, wat sy geloofsvertroue die heel beste uitbeeld? Hebreërs 11 gaan by al die ander groot momente verby en staan stil by Genesis 48: ‘n Man wat goed sterf. Terwyl sy lewe nie altyd in ooreenstemming met sy geloofsbelydenis was nie, was sy laaste dae ‘n uitdrukking van vas-geanker wees aan God se beloftewoord. In sy laaste dae was Jakob se geloofsvertroue nie bevlek met selfbejammering en vertwyfeling nie. Hy is robuust in sy hoop op God se trou en dat die Here sal waarmaak wat Hy beloof het. Hier is Jakob op sy beste. Sy geloofsvertroue het nie saam met hom gesterf nie, maar hy het dit aangegee aan ander sodat – nadat hy gesterf het – dit steeds kon voortleef in die bedding van God se verbond met sy nageslag. ‘n Nageslag uit wie die Messias sou voortkom.

Bekyk ‘n mens hierdie hoofstuk van naderby, sien jy hoedat daar ‘n beweging is van verlede na die hede na die toekoms. Die seën wat Jakob ontvang het en wat hy gegee het, was antwoorde op die aanroeping van die Here se Naam. VERSE 1-12 > Beloftes in die verlede. VERSE 13-20 > Seën in die hede. VERSE 21-22 > Seën vir die toekoms.

VERSE 1-12 > BELOFTES IN DIE VERLEDE > Wanneer Josef en sy twee seuns – Efraim en Manasse – vir Jakob op sy siekbed besoek, dink Jakob terug aan die verlede en watter beloftes hy by Bet-El van die Here ontvang het. Jakob is hier besig om Josef se seuns as sy eie aan te neem. Dis iets wat in die Antieke Nabye Ooste gedoen kon word. Jakob neem sy kleinseuns aan en stel hulle op gelyke vlak met sy eie seuns – as erfgename – sodat hy hulle kon seën te same met sy ander seuns. En terwyl hy dit doen, dink hy terug aan die glorieryke beloftes wat die Here vir hom by Bet-El gegee het.

Dit is duidelik wáármee sy gedagtes gevul is terwyl hy op hierdie siekbed lê: Sy gedagtes is vol van die lewende God en Sy verbondsbeloftes en hoe getrou die Here was en is. Daar is ‘n toekoms vorentoe! Hy het net een passie en dit is om die Here se seën aan sy seuns toe te sê. In hoofstuk 49 doen hy dit. Maar vooraf neem hy eers vir Efraim en Manasse aan en sê seën aan hulle toe. Want hy is die verbondshoof en uit sy nageslag sal die Messias gebore word. Nou sou Ragel se twee seuns – Josef en Benjamin – DRIE stamgebiede in die beloofde land bekom! Want Manasse en Efraim vervang vir Josef!

Om die volle impak te voel van wat hier gebeur, moet ons onthou dat ons hier vir Jakob op sy stérfbed sien. In ‘n mens se laaste oomblikke praat jy oor die kernsake waaromheen jou lewe draai. Dis so aangrypend om te sien wat die kern van Jakob se lewe was.

Ek lees van ‘n verpleegster wat vertel by hoeveel sterfbeddens sy al gestaan het en wat sy daar gehoor het – sterwendes se laaste woorde. Sy noem dinge soos: “Ek wens ek het die moed gehad om myself te kon wees en nie wat ander wou hê dat ek moes wees nie.” En: “Ek wens ek het nie so hard gewerk nie.” En: “Ek wens ek het met my vriende kontak gehou.” Asook: “Ek wens ek kon meer gelukkig wees.”

So absoluut selfgesentreerd en neerdrukkend, nie waar nie.

Jakob se sterfbedgetuienis begin en eindig met die lewende God! Hy rol nie rond in die modder van die sondes van die verlede nie. Hy het nie nodig om vrede te maak met enige van sy seuns nie. O nee: Hy is ‘n man wat UITDEEL! Hy deel die Here se toesegginge uit. Hy deel die Here se seën uit. Hy is besig met die een enkele saak wat regtig saakmaak!

Die mens in wie die Heilige Gees NIE woon nie, is selfgefokus – tot op die laaste oomblik. Die post-moderne verlore mens vra nie dinge soos: “Het jy ‘n getuienis van verlossing” nie! “Waarin is jou hoop?” Of: “Wat is jou blydskap en troos?” Glad nie sulke tipe vraagstelling nie. Nee, dit is nie waarin die verlore mens belangstel nie.

In stede daarvan om die Here te verheerlik in sy dood, vra die verlore mens: “Wat is die geheim van selfbevrediging?” Wanneer die verlore mens die dood en die ewigheid in die oë kyk, is al wat saakmaak DIE MENS en tydelike dinge.

Maar, die oomblik wanneer jou siel en liggaam geskei word, is AL wat moes saakgemaak het – die eer van die lewende God. Maar jy het die doel dan totaal gemis. Tragies, nie waar nie. Wel, Jakob wys vir ons die pad van die Heilige Gees.

Die belangrikste ding wat ek en jy ons kinders kan nalaat is ‘n ware kennis van die Here Jesus Christus. Sukses in besigheid en ‘n gesonde leefstyl en goeie opvoeding is sekondêr van aard.

Jakob is dus feitlik blind – hy wil vir Efraim en Manasse seën, maar kan nie sien wie is wie nie. Eers moet hulle geïdentifiseer word. Hy moes onwillekeuriglik gedink het aan hoe sy eie blinde pa, Isak, vir hom en Esau geseën het en hy sy pa bedrieg het sodat hy – as die jongste – die seën van Esau (die oudste) ontvang het.

Wat nou moes gebeur is dat Jakob se regterhand op Manasse se kop moes rus en sy linkerhand op Efraim se kop. Want Manasse was die oudste.

VERSE 13-20 > SEËN IN DIE HEDE > Jakob kruis egter sy hande en plaas sy regterhand op Efraim se kop. Josef sien dit en wil sy pa korrigeer, maar nee, Jakob weet presies wat hy doen. Die Heilige Gees LAAT hom dit so doen, want hierdie seën is bedoel om ‘n profetiese woord te wees.

Wat in die toekoms sou gebeur is dat Efraim inderdaad die mees prominente en dominante stam sou word. Die latere 10 noordelike stamme van Israel sou selfs gesamentlik die naam “Efraim” dra.

Die pragtige van hierdie seën is dat Jakob oorloop van wie/wat die HERE is en hy letterlik sy eie hoop in die Here aan hierdie seuns oordra. Hy gee die aflosstokkie aan. Die stokkie van: “HY moet meer word en ek/jy minder”. Jakob is dus eintlik besig met ‘n belydenis van geloofsvertroue in die Here. DIT is die kern van wat hy aangee na die volgende geslag. Geen wonder dus dat Hebreërs 11 verklaar dat HIERDIE moment in Jakob se lewe die hoogtepunt van sy geestelike lewe was nie!

In sy laaste oomblikke is Jakob dus vry van selfgesentreerdheid – hy is vol van wie/wat die Here is en – soos dit in God se verbond hoort – gee hy die geloofsvertroue aan na sy kinders. Hy laat hulle met die Here se seën – wat eintlik ‘n stuk profetiese woord bevat het.

Nie net gaan dit profeties oor Efraim se uiteindelike statuur nie, maar ook oor die belangrike saak op God se hart naamlik dat die Here se volk nie moet nesskop in Egipte nie, nie moet vermeng met Egipte nie, maar heilig wees – dit beteken om afgesonder te wees vir die Here en hulleself as individue te skaar by God se volk – al moes dit verguising of armoede kos.

Regdeur die Skrif word hierdie aspek beklemtoon. Ons weet dus dat dit swaar op die Here se hart rus. Die feit dat kinders van God nie van die wêreld moet wees nie. Heiligheid en ‘n heilige lewenswandel is baie kosbaar voor God. Bedoelende: opsygesit te wees vir die Here, vir Sy Naam, vir Sy kerk, vir Sy koninkryk, vir Sy saak, vir Sy werk. Selfs al kos dit verguising en vervolging en trane. Laat ons dit omhels – van harte en ernstig!

VERSE 21-22 > SEËN VIR DIE TOEKOMS > Jakob herinner vir Josef daaraan dat daar toekomshoop is. Al sit hulle nog in Egipte. Die lewende God sal beskerm, lei en voorsien. Belangrikste egter: Die Here se TEENWOORDIGHEID sal hulle erfdeel wees. En boonop gee Jakob aan Josef ‘n stuk land wat hy destyds met geweld by die Amoriete afgevat het – die land is Sigem.

Dis baie belangrik dat – ná Jakob se heengaan – die verbondsvolk nie moet nesskop in Egipte en vir ewig daar sou wil bly nie, maar dat hulle die duidelike besef moes behou van God se belofte en DAARAAN vaskleef en weet dat Hy vir hulle ‘n land beloof het. Hulle geloofsverwagting moes lewend bly en hoog vlam. En die diepste rede daaragter was die feit dat die Here Jesus Christus – die beloofde Messias – uiteindelik in daardie land gebore moes word en op daardie plek – nie in Egipte nie – op die kruis moes sterf. Alles in die hele OT wys daarheen en bou op na daardie cresendo. En die feit dat Jakob die land Sigem aan Josef beloof, dui op sy Heilige Gees-gewerkte sekerheid DAT God uiteindelik daardie land aan Sy volk sal gee.

Dis byna onmoontlik om na Jakob te kyk – waar hy in die doodsnikke van sy aardse lewe is – en nie te sien watter goeie verbondspa hy is en nie te verstaan HOE belangrik dit ook vir verbondsouers in 2019 is om erns te maak met die aangee van die aflosstokkie aan kinders en kleinkinders nie!

Dis onomwonde waar dat die Here se verbond die gesinstruktuur as infrastruktuur gebruik. Dit was in die OT so, dit is ook so in die Nuwe Verbond. In Handelinge 2:38-39 sê die Here letterlik die belofte van die Heilige Gees aan die kindertjies van gelowiges toe. En uit Galas 3:14 weet ons dat die belofte van die Gees niks minder is nie as die volle seën wat God reeds aan Abraham beloof en toegesê en beloof het.

Dis te wonderlik vir woorde om dit raak te sien:

In Genesis 48 gee Jakob die seëninge van God se beloftes aan Abraham en Isak en Jakob oor aan Josef se seuns – nadat hy hulle eers as sy eie seuns aangeneem het.

Galas 3:14 sê dat daardie seën ten diepste op die gawe van die Heilige Gees gedui het. En Hand 2:38 sê dat presies DIT ook aan die kinders van gelowiges in die Nuwe Verbond toekom.

Wat ons dus moet raaksien, is hoe belangrik dit op die Here se hart is dat Christenouers erns sal maak met verbondsopvoeding – om nie net persoonlik in ‘n lewende relasie met die Here te leef nie, maar om dit ook te kommunikeer met kinders en kleinkinders. Om die aflosstokkie aan te gee. Die Bybel moet in die huis gelees word, daar moet oor gepraat word, daar moet gebid word ens. Veral ook daaglikse voorbidding vir jou kinders en kleinkinders. Of Christene nou die doop van die kindertjies van gelowiges aanvaar of nie – wat waar is, is dat ALLE ware Christene hulle kinders outomaties/instinktief as verbondskinders opvoed en grootmaak. En in die Here se oë is dit van fundamentele belang.

Net ‘n laaste waarheid uit Jakob se laaste woorde aan Josef: “Ek gaan sterf, maar die Here sal by jou/julle wees en julle na die land bring.”

Hierdie woorde is ‘n groot troos vir mense wat werklik die Here leer ken het en met die Here leef – veral wanneer dit kom by die dood en afsterwe van geliefdes of vriende wat ook die Here ken en liefhet en opsigtelik dien en volg.

En die troosryke belofte is dit: Al sterf hulle, SAL die Here ons – wat agterbly – na die land van ons vaders, dit is die hemelse Kanaän (dit is die finale beloofde Land) bring. Sommige gaan vooruit, ja, maar die Here se belofte is: die ander sal weldra volg. En tot dan, SAL die Here TEENWOORDIG wees by diegene wat agterbly.

Kyk mooi wat doen Jakob:

Hy gee twee beloftes: 1 > Die Here sal TEENWOORDIG wees by julle nadat ek weg is en 2 > Die Here SAL julle weldra na die land neem. Julle tuiste is nie hier in Egipte nie.

Tafelberg Gemeente (Dolerend)
Buitenkantstraat 39, Kaapstad
www.tafelbergkerk.co.za
Dr Chris Saayman

Category Genesis Reeks

© 2018 Designed with ❤ by Web Crew