Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

GENESIS-REEKS NO 45

Genesis 47 → Goddelike voorsienigheid & menslike vertroue

Het ons nie die afgelope paar weke ‘n wonderwerk van die Here God aanskou nie? Dit wat in die klompie hoofstukke van Genesis – wat ons die afgelope weke bestudeer het – beskryf word, is niks minder nie as verruklik.

Dit wys naamlik vir ons hoe die Here se voorsienigheid agter die skerms aan’t werk is en hoe Hy ‘n gesin – vir wie daar menslik gesproke geen hoop is nie – totaal versoen. ‘n Gesin wat absoluut deur sonde verskeur is en innerlik verwond is, word herstel en genees en verenig. Dis Jakob se gesin.

En die Here doen dit deur ‘n JOSEF wat Hy vooraf oprig as Sy gesalfde. En die doel met dit alles is dat Hy uit hiérdie familie ‘n nasie kon bou – ‘n volk wat eers in Egipte in isolasie sou wees sodat hulle kon leer wat dit beteken om afgesonder te wees vir die Here. En daarna na die beloofde land sou gaan – met die EEN groot toekomsfokus en dit is dat die Verlosser, die Messias, die Christus uiteindelik deur hulle aan die wêreld gegee sou word.

In hoofstuk 47 gaan vestig Jakob en sy seuns hulle dus in Egipte – in die Gosen streek.

Ek vestig graag u aandag op VYF prominente TONELE in hierdie hoofstuk. En u sal sien dat daar twee groot TEMAS is wat soos ‘n goue draad deur die vyf tonele verweef is.

Eerste tema: Die goedheid van God se voorsienigheid. Die wysheid, die goedheid, die doelwitte wat die Here aan Jakob se familie openbaar – hetsy deur die Farao of deur Josef of wat ookal. God se voorsienigheid is uit en uit aan die werk vir die beswil van Sy mense.

Tweede tema: Jakob se geloofsvertroue. Dis amper asof Jakob nou eers regtig die Here leer ken het. Ons sien iets pragtig by hom. Hy kon so maklik in groot tevredenheid gaan leef het met die guns van die Farao en die materiële oorvloed van Egipte waarmee hy oorlaai was. Wat ‘n lekkerte om dit alles te hê wanneer jy oor die 100 jaar oud is!

En tog sien ons die goddelike ontevredenheid van ware geloof in Jakob se hart. Hy is nie tevrede met die aardse middele en oorvloed nie – sy hart begeer dat God se beloftes aan Abraham vir hom en sy nageslag vervul moet word. Dis presies waaraan hy vir Josef herinner. Jakob se hart is ontevrede te midde van oorvloed. Sy hart verlang na die Evangelie – om dit so te stel.

Met hierdie twee temas in gedagte, kom ons kyk nou net kortliks na die vyf tonele:

TONEEL NR 1: DIE FARAO SE GOEIE GESINDHEID >> VERSE 1-6 >> Wanneer Jakob se seuns met die Farao in gesprek is, borrel die Farao se goedgesindheid en gasvryheid na vore. Iets wat ‘n mens glad nie sou verwag van ‘n Farao nie – veral nie teenoor buitelanders nie.

Wat ons egter moet raaksien, is dat IN die Farao se gesindheid van aanvaarding van Jakob se familie, die goedheid van die Here se voorsienigheid aan die werk is.

Josef het natuurlik vooraf die aanvoorwerk gedoen. Hy ken immers die Farao. Hy weet hoe die Egiptenare is. Hoe hulle kultuur is. Hy weet dat hulle nie van veeboere en herders hou nie. Hy rig dus sy broers vooraf af oor wat hulle moet sê en nie sê nie. En hy praat ook vooraf met die Farao en lig hom in oor watter beroep sy broers doen – dat hulle juis veeboere is ens. Wanneer die Farao dus aan die broers sou vra watter beroep hulle beoefen, moes hulle net reguit en eerlik antwoord.

En die Farao was toe baie beïndruk met hulle eerlikheid. In verse 5-6 verwelkom hy hulle en gee hulle die beste van sy land. Hulle kon selfs na sy eie vee omsien.

Dis duidelik dat die Here besig is om vir Jakob onmiddelike sigbare antwoorde te gee op grond van Jakob se daad van geloofsvertroue om as bejaarde man sy ankers te lig en die beloofde land te verlaat en na Egipte te gaan – wetende dat hy sy land nooit weer sou sien nie. Dit was in reaksie op die beloftes wat die Here aan hom gegee het in hoofstuk 46.

Dit was ‘n geloofs(vertrouens)reaksie. En die Here “beloon” dit as’t ware.

Menslik gesproke kon Jakob nie ‘n warm ontvangs in Egipte verwag nie. Maar dit is nie die MENS wat hier in beheer is nie. Dis die Here God.

En Hy wys vir Jakob dat Jakob die regte besluit geneem het om na Egipte te gaan – Hy wys dit vir Jakob deur vir hom op tydelike, aardse vlak, voorsiening te gee. En sodoende ondersteun die Here Jakob se vertroue. Jakob doen die regte ding – in lyn met God se wil – en dan val dinge in plek.

Dis iets wat egter nie altyd so gebeur nie. Dit gebeur selde dat die Here Sy kinders onmiddelik wys dat hulle reg gekies het deur in Sy voorsienigheid uitkomste – veral op tydelike gebied – te gee.

Soms werk dit net mooi andersom.

Wanneer ‘n gelowige binne die Here se wil beweeg, ontlok dit dikwels die aggressie van satan, van ongereddes, van die wêreld. Of dit gaan net al slegter.

Dink aan die volk se klaaglied in Jeremia 44:17-18: “Toe ons die afgode gedien en aan die hemelkoningin offers gebring het, het dit met ons goed gegaan en het ons oorvloed gehad. Maar toe ons bekeer en ophou om aan die godin te offer, het ons gebrek gely en het die swaard ons verteer.”

En tog – somtyds – beloon die Here wél ons geloofsvertroue wat op die Skrif geskoei is, met onmiddelike sigbare uitkomste. Maar, ons kan nooit daarop aanspraak maak nie.

Dit is ‘n les wat ons uit hierdie eerste toneel kan leer.

TONEEL NR 2: JAKOB DIE VERBONDSHOOF >> VERSE 7-10 >> Nou praat Jakob self met die Farao. En hoe anders is Jakob nie nou nie! Dis nie meer die Jakob van vroeër nie. Hier sien ons nou ‘n man wat optree soos die verbondshoof van God se mense. Hy seën die Farao.

Farao is die groot heerser, maar eintlik is hy kleiner as Jakob, want dis altyd die kleinere wat deur die grotere geseën word sê Hebr 11:7.

Die Here se hand is op Jakob. Volgens die MENS en volgens die mens se waarneming is Farao bó Jakob. Maar uit God’s perspektief gesien is Jakob bó Farao.

Dis waarom die Here se kind nie wêreldse mense hoef te vrees nie – al het hulle hoeveel posisie en aansien en status en al is die gelowige hoe vaal en eenvoudig.

Ons moenie dink dat Jakob wat vir Farao seën maar net ‘n hoflikheidsgebaar was as teken van dankbaarheid teenoor Farao se goeie gesindheid nie. O nee! Die Here het in Gen 12 al vir Abraham beloof dat hy tot ‘n seën vir die nasies sal wees. Jakob tree hier op as God se verbondshoof. En die nasies is aan die voete van die Here se verbondsvolk.

Jakob is ‘n veeboer. Maar wat hy uit die HERE se perspektief is, DIT is wat saakmaak! En die trou van die Here aan die belofte wat Hy aan Abraham gegee het – DIT is wat uitgevoer sal word. Maak nie saak wat die wêreld doen of sê nie.

Die Vader sal uiteindelik alle uitverkorenes uit alle nasies aan die voete van die Messias hê. ‘n Klein prentjie daarvan sien ons hier in die grote heidense Farao (simboliseer die nasies) aan die onbelangrike onaansienlike Jakob (simboliseer die verbondsvolk en Messias) se voete.

TONEEL NR 3: DIE GOEDHEID VAN GOD SE VOORSIENIGHEID SOOS WEERKAATS IN DIE GUNS VAN JOSEF >> VERSE 11-12 >> Josef voorsien nou in sy familie se behoeftes – in korrelasie met die Farao se gawes. Farao besluit om die land Gosen aan Jakob-hulle te gee en Josef voer dit uit. Daar is geen aanduiding dat Josef se goedheid teenoor sy broers nie absoluut eg en opreg bedoeld is nie. Hy hou eenvoudig daarmee aan, want dis eg, dis deurleef. En agter die skerms sit die Here se hartklop. Dis God se voorsienigheid wat deur Josef manifesteer. En hou in gedagte: Die Here is vandag nog presies dieselfde.

TONEEL NR 4: DIE BEWARING VAN JAKOB SE FAMILIE TYDENS HONGERSNOOD >> VERSE 13-26 >> In hierdie paragraaf sit Josef sy hongersnoodsverligtingbeleid – sy ekonomiese beleid – uiteen.

Dit is natuurlik die Farao se mag en oorvloed en rykdom en heerskappy wat deur Josef se beleid na vore kom. Net soos dit God die Vader se mag en oorvloed en rykdom en heerskappy is wat deur die Here Jesus se verlossingswerk na vore kom en sigbaar word.

Daar is egter iets om raak te sien:

Ja, vers 12 sê dat Josef aan sy familie in oorvloed voorsien het. Maar net die volgende vers sê dat daar in die res van die land Egipte nie kos was nie. Sien die kontras?

Dis om aan te toon HOE genadig die Here teenoor Jakob was. Dis om te wys HOE kritiek-ernstig en gevaarlik die situasie was. Die res van Egipte word deur die hongersnood verkneg, maar Jakob se familie is vry en versorg. Die Farao het al die Egiptenare se grond opgekoop. Hulle het dus hulle grondbesit verloor (vers 20). Hulle het slawe van die Farao geword. Daarenteen kon Jakob se familie grond KOOP en welvarend word.

Dis asof die Farao van sy eie mense slawe maak, hulle letterlik beroof – maar aan Jakob se familie vryheid gee en oorvloed gee. En daarin is dit natuurlik die Here wat Sy hand oor Sy mense hou. Daar is ‘n spesiale sorgsaamheid wat die Here openbaar teenoor diegene wat Syne is. Die Egiptenare kry nie dieselfde behandeling as die Here se mense nie. Hoewel in Egipte almal natuurlik voordeel getrek het uit Josef se voorsiening. Almal sou sterf van honger, maar tog bly almal lewe. Maar Jakob se familie is die voorwerpe van God se besondere liefde. God het nie alle mense op dieselfde manier lief nie. In ‘n algemene sin het Hy almal lief ja – Hy voorsien en sorg. Maar Sy besondere liefde is toegespits slegs op Christus en DIE mense wat in Christus is!

TONEEL NR 5: IN DIE AANGESIG VAN DIE DOOD >> VERSE 27- >> Wat ‘n mooi beskrywing van Jakob en Josef se onderlinge ooreenkoms. Maar veral: Jakob se vertroue op God se beloftes – tot die einde toe.

In die aangesig van die dood, was Jakob verkleef aan God se verbondsbeloftes.

Dis wat die Bybel “geloof” noem.

Geloof is nie die een of ander magiese vermoë of innerlike krag wat ‘n mens moet opwerk om dit “sterker” te kry sodat dit iets van God kan kry nie. Nee, eintlik kan geloof glad nie bestaan indien daar nie iemand is wat iets beloof het nie. Want, geloof beteken om iemand anders (se woord) te vertrou. Wat sterk is, is nie geloof nie, maar die beloftes van God waaraan geloof vasklem. Dis presies die geval by Jakob.

Jakob plaas sy hand onder sy dy – onder sy bobeen. Dis die tweede keer wat dit in Genesis gebeur. Die eerste was in Genesis 24 waar Abraham sy dienskneg uitstuur om vir Isak ‘n vrou te gaan soek.

Die hand onder die dy plaas, was ‘n manier om ‘n ander persoon te herinner aan hoe vas en waar God se verbondsbeloftes is.

Jakob sê dus vir Josef: “Moet my nie hier in Egipte begrawe nie. Want die Here het aan ons nageslag die beloofde land gegee. Hy het beloof om ons daar voorspoedig te maak en van ons ‘n groot nasie te maak. My oorskot hoort nie hier nie. Want God het belowe..”

Dis nie dat Jakob bang is dat – indien hy in Egipte begrawe word – hy nie by die Here sal wees nie. Of soos hy dit stel: Hy weet dat hy nadat hy gesterf het – of hy nou in Egipte begrawe word of nie – by sy vaders sal wees. Hy is daarvan seker.

Waarom hy in die beloofde land begrawe wil word, is ter wille van die nageslag – om vir hulle sekerheid te gee dat hulle sal weet dat hulle hoop nie in Egipte of waar ookal is nie. Hulle moes geanker wees aan God se belofte dat hulle hoop in die land is wat God aan hulle skenk.

Jakob is nie oor homself bekommerd of oor sy eie dood besorg nie. Hy is oor die verbondsvolk besorg. Sy nageslag. Uit wie die Messias gebore moet word. Hy wou hê hulle oë moes gevestig bly op God se belofte aan Abraham. En dus eintlik die belofte van die komende Messias. En dus eintlik Christus self.

In hierdie gedeelte vind ons ‘n groot aansporing vir onsself hier in die doodsnikke van 2019.

Ons taak is om ons hoop te plaas op God se belofte van SY toekoms vir Sy mense. Die groot & sekere toekoms van God wanneer die Here Jesus terugkeer en alles nuut sal maak. Ons oog moet wees op die stad wat fondamente het (Hebr 11). Dit is wanneer AL God se beloftes finaal vervul sal wees. Ons hoop moet DAAR wees en nie HIER nie.

Menslik is dit onmoontlik om so ‘n verskuiwing te doen, maar dis nie onmoontlik vir die Heilige Gees wat in elke ware Christen woon en leef nie. En verskuif ons hoop deur die werking en bediening van die Gees.

Wanneer ‘n mens hierdie perspektief begin ontwikkel, sien jy meteens hoe klein die dinge van die hier en die nou is – die dinge wat ons soms slapelose nagte besorg of handevol pille laat drink of ons oud maak van bekommernis.

‘n Mens wat nie ‘n ware toekomshoop het nie, se doppie het geklap. En daardie hoop is gefundeer in God se rotsvaste beloftes. Hy het 90% daarvan alreeds haarfyn vervul in Jesus se eerste koms. Waarom sal Hy nie die res vervul in Jesus se tweede koms nie?

Tafelberg Gemeente (Dolerend)
Buitenkantstraat 39, Kaapstad
www.tafelbergkerk.co.za
Dr Chris Saayman

Category Genesis Reeks

© 2020 Tafelberg Gemeente (Dolerend)