Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

Laai Af

GENESIS-REEKS NO 44
GENESIS 46 >> LEWE BEGIN OP 130!

Hoewel Jakob vir baie jare reeds ‘n ware gelowige was – iemand wat werklik sy vertroue begin bou het op die Here God se groot belofte aan Abraham, die belofte vd komende Messias – was dit asof hy eers op ouderdom 130 vir die eerste keer regtig gesnap het waaroor die essensies gaan van om aan die Here te mag behoort. Dis asof ware lewe eers op 130 vir hom begin het.

Josef leef! En daar is LEWE in Egipte, want daar is kos en oorvloed te midde van droogte en hongersnood in die res van die omliggende lande. En Jakob – met sy seuns – moet Egipte toe trek. Hy was toe 130 jaar oud (47:9). Kan ‘n mens jou voorstel hoe erg so ‘n verhuising vir hom moes wees? Ondenkbaar. Hy moes alle vorme van sekuriteit agterlaat. Ouer mense is geneig om vas te klou aan dinge juis omdat dit ‘n gevoel van sekuriteit gee. Maar Jakob moes op ouderdom 130 alles los en na Egipte verhuis – op Josef se versoek (45:9)

Toe hulle by Berseba kom, is dit asof Jakob skielik iets besef van die impak van waarmee hy besig is. Dit was natuurlik ‘n plek vol betekenis, want dit was hier waar Abraham die Here aangeroep het en waarheen hy gegaan het nadat hy vir Isak op Moria moes offer. Hier het die Here ook vir Isak ontmoet en die verbondsbeloftes herbevestig. Jakob was self daar nadat hy sy pa bedrieg het en moes vlug vir Esau.

Berseba was ook die suidelike grens van Kanaän. Verby hierdie punt sou Jakob die beloofte land verlaat. Sou die Here se seën dan nog met hom wees – kon hy al twyfelende wonder. Daarby wou beide Abraham en Isak by verskillende geleenthede in die verlede na Egipte gaan en nooit was dit die Here se wil nie. Sou Jakob dan enigsins reg doen om soontoe te gaan? Sou hy nie buite die Here se wil wees nie?

Jakob kom dus en bring by Berseba ‘n offerhande aan die Here. Dis duidelik dat hy ‘n diepe begeerte het aan die Here se leiding in sy lewe – veral ten opsigte van die pad vorentoe. Die Here se woorde aan hom in verse 3-4 bevestig dit. Die Here is die pratende, antwoordende God. Hy is die lewende Here. Jakob beleef dit hier. Soek die aangesig van die HERE en jy sal nie teleurgestel word nie.

Die Here praat met Jakob in ‘n visioen in die nag – waarskynlik dus terwyl hy slaap. Onthou Jakob het nie ‘n volledige geskrewe Bybel besit nie. Die Here het in die ou tyd op verskillende maniere met mense gepraat (Hebr 1:1-3). Maar in die Nuwe Verbond praat Hy deur die woord van Christus, sê dieselfde Hebr 1! Hy praat nie meer vandag deur drome en visioene en verskynings nie.

Wat die Here in hierdie visioen doen, is om vir Jakob moed en krag te gee deur hom a) te herinner aan God se getrouheid in die verlede, b) hom op te roep tot gehoorsaamheid in die hede, c) vir hom ‘n belofte vir die toekoms te gee, d) hom te verseker van Sy teenwoordigheid en laastens ‘n woord aangaande Josef.

In ‘n neutedop sê die Here God vir Jakob dat dit wel Sy wil is dat hy na Egipte sou gaan en dat Hy by hom sal wees en dat dit in Egipte – en nie in die beloofde land nie – sal wees waar daar ‘n groot nasie uit hom sou ontstaan. Maar dan sal die Here vir Jakob terugbring na die beloofde land – nie vir hom as persoon nie, maar sy nageslag. Want dit is DAAR – in die beloofde land – waar al God se beloftes vervul sou word.

En kyk ons vandag terug, sien ons hoe waar hierdie woorde was. Oor honderde jare het die Here woord gehou. Daar, in daardie land, sou die Here Jesus gebore word, sterf en opstaan. Daar sou die Heilige Gees uitgestort word en daar het die kerk – in die gestalte van die Nuwe Verbond – sy ontstaan gehad.

Die Here verseker ook vir Jakob dat hy getroos sal sterf. En Josef sal sy oë sluit. Ja, vir baie jare het hy gedink Josef is dood en dat Josef se dood sy (Jakob) vroeëre dood sou beteken. Maar waar die Here werksaam is, gebeur dinge dikwels anders. Jakob leef nog 17 jaar en Josef is by hom wanneer hy sterf. En Josef se daarwees, is God se vertroosting in sy laaste oomblikke op hierdie planeet.

En dan – in verse 8-27 – volg ‘n uitgebreide geslagsregister van Jakob. Waarom juis op hierdie spesifieke plek in Genesis? Wel, juis om aan te dui hoe getrou die God van die Verbond in werklik was/is. Die nageslagte van die gelowiges is immers die infrastruktuur waardeur die Here werk en die basiese manier hoe Hy Sy kerk versamel. Nee, nie almal in die geslagte word werklike geredde mense nie, maar die uitverkorenes wel. Die Apostel Paulus spel hierdie waarheid in Romeine 9 uit.

U sal opmerk dat vroue nie in hierdie geslagsregister genoem word nie. Dis omdat die lys ‘n sekere doel dien soos ons nou net sal sien.

Die begrip “seuns van Israel” sluit ook baie meer in as slegs Jakob se individuele seuns. Dis ‘n baie breë begrip wat dui op Jakob se afstamming in wye skopus gesien.

Dis duidelik dat die bedoeling van die geslagsregister nie is om met presiesheid op individue te fokus nie, maar om te wys watter leiers, families en klans uiteindelik prominente leierskap sou neem. Wie sou familie- en stamhoofde wees – DIT is wat die geslagsregister wil aantoon. En interessant genoeg: As jy na Numeri 26 gaan kyk, sal jy sien dat AL die stam- en familiehoofde wat daar genoem word, in Genesis 46 se lys vervat is. Dit wys dus hoe betroubaar hierdie beskrywings is. Dis immers God se Woord. En onthou wat hierdie geslagsregister teologies wil aantoon: Dit wil sê: “Kyk net hoe getrou die Here is – binne die kontoere van Sy verbond.”

En dan kom die groot moment waar Jakob in Egipte – in die land Gosen – aankom en Josef hom kom ontmoet – ná 22 jaar van geskei wees. Iets geweldig. Woorde kan dit kwalik ondervang. Juda moes vooruit ry om vir Jakob die pad te wys. Josef het spesiaal met sy koninklike perdewa uitgery om sy pa te gaan ontmoet. Jakob sê toe: “Nou kan ek maar sterf, want ek het jou gesig gesien en nou weet ek dat jy leef.” Min wetende dat hy nog 17 jaar van seëninge sou beleef.

Farao het mos beloof dat hy oorvloed op Josef se pa en broers sou uitstort. Josef is dus noulettend om toe te sien dat dit gebeur. Hy gee instruksies en sy broers volg dit stiptelik. Die land Gosen sou hulle blyplek word. Heelwat ruimte word veral in hoofstuk 47 aan die vestiging in Gosen spandeer. Waarom dit so is sal ons volgende keer sien.

Die vraag is egter: Wat is die boodskap van Genesis 46 vir ons vandag. Anders gestel: Die Heilige Gees is die primêre outeur van hierdie hoofstuk. Maar wat wil HY vir ons vandag in 2019 hierdeur kom sê en wys en openbaar? Dis die groot vraag. Wat op God se hart is. Dit is wat ons moet probeer raakhoor.

Jakob is uit en uit ‘n prentjiesbeeld van die lewenstryd wat alle mense wat waarlik uit God gebore is, beleef en ervaar. Jakob is daarom so ‘n belangrike figuur. Genesis dek omtrent ‘n 1000 jaar heilsgeskiedenis, en byna helfte van Genesis word aan Jakob se lewe gewy.

Sy lewenstryd was die wipplankstryd van om deur die digte waas van die sondegebrokenheid van die menslike natuur tot die verstaan & begrip te kom van wie die ware God werklik is en wat dit regtig beteken om Sy kind te wees. Dis ‘n wipplankstryd, want soms is dit asof die begrip helder deurbreek en dan verdwyn dit weer in die miswolk en skadu’s waarmee ons gebrokenheid ons innerlike mens versluier sodat ons geestelike sig totaal beperk word.

Jakob se hele lewe met die Here was só ‘n tipe van wipplankstryd, met hier en daar ‘n hoogtepunt van klaarheid, van heldere sig op wie die Here werklik is. Juis daarom is Jakob vir alle ware gelowiges deur die eeue so ‘n aanmoediging & bemoediging, maar ook ‘n waarskuwing en vermaning.

Jakob se lewenslange stryd was om GENADE te probeer verstaan en af te sien van sy eie meriete/geregtigheid/dade/verdienste/regleefpogings om daardeur in God se guns te bly. Wanneer die Here vir hom sê: Ek SAL dit en dat doen (vaste toesegging), was Jakob geneig om daarvan ‘n VOORWAARDE te maak: “O goed U sal dit en dat doen mits ék so en so maak.” Dink aan Genesis 28. Hy het gedink toewyding en gehoorsaamheid was voorwaardes vir God se seën. Hy sou die Here dien INDIEN die Here hom bewaar, voorspoedig maak en veilig in die Beloofde land bring.

En tog wys die hele Genesis vir ons dat die Here se seën elke keer was TEN SPYTE VAN Jakob se doen en late en nie as ‘n beloning vir sy doen en late nie! Die Here se genade (vrye guns) het nie Jakob se getrouheid as voorwaarde gehad nie, maar was gewaarborg deur God se eie getrouheid.

Soms het Jakob se geestelike oë skerper en helderder gesien as ander kere. Soms was sy visie wasig.

Voortdurend was Jakob geneig om te wil vashou aan aardse sekuriteite. Wat mense insluit. Maar alles waaraan hy vasgeklou het en wat hy probeer beskerm het, was hom ontneem. Dink aan Ragel, Josef, Benjamin. Maar toe hy gewillig was om vir Benjamin prys te gee, het hy hom teruggekry. Deur vir Benjamin te laat gaan, het hy nie net Benjamin se eie lewe bewaar nie, maar die lewe van ‘n hele nasie.

Toe Jakob egter voor Farao staan, was dit asof sy oë uiteindelik wyd oopgaan. Hy besef dat sy eie probeerslae deur die dekades eintlik vir die voëls was. Die eersgeboortereg wat hy destyds van sy broer Esau afgerokkel het – WAT het dit hom nou eintlik gebaat? Nou was hy oud en was hy midde in droogte en hongersnood. Hier in Egipte, was daar niks waarop hy hom kon beroep nie. Hy MOES nou in die Here ALLEEN sy ware lewe vind. Hy kom tot rus. Die rus van die geloof wat rus in God se beloftes en afsien van eie pogings om God se guns te behou. En hierdie besef, die ingaan in hierdie rus, was die begin van ‘n nuwe lewe vir hom. Vir ‘n verdere 17 jaar sou hy dit kon smaak.

Dalk is jou en my lewe met die Here al die jare ook maar ‘n wipplankstryd – dan bo en dan onder. Wel, dis nog nie te laat nie. Jakob het LEWE gevind op 130! Die grootheid van God se genade was soos ‘n sambreel waaronder hy geleef het. Dalk is dit selfs die belangrikste aspek wat ons uit Jakob se lewe kan leer: Om die grootheid van die genade van God raak te sien – veral teen die agtergrond van Jakob se jarelange gespartel. Eintlik – gemeet teen wat Jakob inherent verdien het – moes God hom vernietig het. Maar die wonderlike teendeel is waar.

Ons weet vandag dat Genesis 46 ten diepste net in die Here Jesus Christus vervul is en net deur verbondheid met die Here Jesus in ons – wat in 2019 leef – prakties waar word.

Kyk net weer na die 5 beloftes wat die Here vir Jakob in die visioen gewys het. En laat dan die lig van die NT daarop val. Wat sien ons dan? Let nou op:

Die Here wys vir Jakob:

1 GOD SE GETROUHEID IN DIE VERLEDE: Wanneer die NT se lig hierop val, wat hoor ons? 2 Tim 2:11-13 > Wanneer ons ontrou is, Hy bly getrou, Hy kan nie homself verloën nie.

2 JAKOB SE GEHOORSAAMHEID IN DIE HEDE: Wanneer die NT se lig hierop val, wat hoor ons? > 2 Tim 1:7 > God het ons nie ‘n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag, liefde en selfbeheersing.

3 GOD SE BELOFTE VAN TOEKOMSTIGE SEËN: Wanneer die NT se lig hierop val, wat hoor ons? > Openb 7:9-10 > Johannes sien ‘n groot menigte wat niemand kan tel nie, van elke nasie en stamme en volke en tale – almal staan voor die troon en voor die Lam – geklee in wit klere en palmtakke in die hand en hulle roep met ‘n groot stem: “Verlossing behoort aan ons God wat op die troon sit en aan die Lam.”

4 GOD SE VERBINTENIS OM BY JAKOB TE WEES: Wanneer die NT se lig hierop val, wat hoor ons? Matteus 28:20 > Kyk, Ek is met julle al die dae, tot by die voleinding van die wêreld

5 GOD SE TROU WANNEER JAKOB SOU STERF: Wanneer die NT se lig hierop val, wat hoor ons? 1 Korint 15:54-55 > Dit wat verganklik is sal met onverganklikheid beklee word en dit wat sterflik is met onsterflikheid. Dan sal vervul wees wat geskryf is: “Die dood is verteer in die oorwinning. Dood, waar is jou oorwinning. Dood, waar is jou angel?”

Tafelberg Gemeente (Dolerend)
Buitenkantstraat 39, Kaapstad
www.tafelbergkerk.co.za
Dr Chris Saayman

Category Genesis Reeks

© 2018 Designed with ❤ by Web Crew