Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

Laai Af

GENESIS-REEKS NO 43
Genesis 45
Die groot hervereniging

Om maar net weer te herhaal wat reeds gesê is: Die Josef-verhaal gaan nie regtig oor Josef nie, maar oor die lewende God. Dis HY wat die aktiewe Persoon is – agter die skerms – in Josef se lewe. Dit gaan uit en uit oor God se voorsienigheid – vele maniere – maar veral die manier hoe die Here gebeure plooi sodat Josef uiteindelik Eerste Minister word en koring & kos aan die wêreld kon voorsien sodat sy eie broers uiteindelik voor hom buig. God se eintlike doelwit was om Israel uit te bou tot ‘n groot nasie uit wie die Messias uiteindelik gebore sou word.

‘n Mens lees die Josef-verhaal en wil dan opspring en roep: “Hoe wonderlik: Die onweerswolke is soms so swart, maar die lig van God se voorsienigheid breek altyd weer deur!” Dis gewoon nie waar dat sake soos God se voorsienigheid iets is wat gelowiges nooit sal verstaan nie en wat slegs op die terrein van die teoloë hoort nie. Nee! Wanneer ‘n kind van God in moeilike tye verkeer, is dit juis die waarheid van die Here se voorsienigheid wat jou help om een voet voor die ander te plaas! Die Here se voorsienigheid en menigvuldige wysheid is iets wat bruikbaar is in die daaglikse lewe. Hoofstuk 45 wys dit vir ons.

In verse 1-15 sien ons hoe Josef sy ware identiteit aan sy broers bekendmaak en hoe daar versoening tussen hulle plaasvind. En in verse 16-24 sien ons die Farao se verbasende vrygewigheid teenoor Josef se familie. Laastens in verse 25 tot aan die einde van die hoofstuk hoor ons hoe Josef se broers gaan terugrapport gee aan hulle pa Jakob.

1 – VERSE 1-15 > In die diepe berou wat Juda uitspreek en die sagte verwelkomende toegeneëntheid by Josef, sien ons iets van wat gebeur wanneer ‘n verlore mens met sy/haar verlorenheidsbesef aan Jesus se voete val. En die vergifnis en versoening wat plaasvind. In Josef se hartklop voel ‘n mens iets aan van wat in die hart van die Here Jesus leef. Niemand wat hierdie paragraaf lees kan en mag ooit twyfel oor God se deernis teenoor iemand wat tot bekering kom nie. Die parallel met Lukas 15 – die pa van die huistoekomende verlore seun, is ooglopend. Die verandering by Josef se broers is verstommend. En sy reaksie ook. Veral as ons dink hoe erg hy deur hulle verwerp was. Tog sien Josef watter hartsverandering God’s genade in hulle lewens verrig het. Juda se pleidooi het ‘n groot emosionele impak op Josef gemaak. EK IS JOSEF roep hy tot hulle skrikbevange verbystering uit. LEEF PA NOG? Bedoelende: Gaan dit goed met hom? Sal hy in staat wees om Egipte toe te reis? Is hy seniel? Sal hy my nog herken?

Die broers kon Josef glad nie antwoord nie. Hulle was verbysterd. Uitgeboul. Totaal plat op die grond.

Daarom sê Josef: “Kom nader na my toe”. En hy het op hulle skouers gehuil. Benjamin eerste. ‘n Aandoenlike versoening.

En dan sê Josef iets belangrik. En hierin sien ons dat die eintlike ding wat Josef geïmpakteer het, nie Juda se pleidooi was nie, maar Josef se besef van hoe God se voorsienigheid alles agter die skerms bewerk het. Alles werk ten goede mee vir dié wat deur die Here geroep is (Rom 8:27). Dit is waarom hy nie vol bitterheid en wraakgevoelens teenoor sy broers was nie. Hy het ‘n oog gehad op wat die Here besig was om te doen. Sy hart het gerus op die doktrine van die soewereine voorsienigheid van God. Drie maal na mekaar verklaar hy dit. Hy is so oortuig dat alles wat gebeur het – ook die broers se gruwelike gedrag van destyds – God se werk was en is. Hy verwys nie eens na die broers se misdrywe nie. Hulle was in elk geval al reeds op ‘n plek van berou en bekering en inkeer. Hy het nie nodig om die duimskroewe op hulle vaster te draai nie. Wat hy wel sê is dat die voorsienigheid & wysheid van God sy broers se misdrywe 100% te bowe gegaan het. En God se Raadsplan word met wysheid beplan en uitgevoer. Alles wat gebeur het, was daarop afgestem om die heerlikheid van die Here God te dien. God se doelwit met alles wat met Josef gebeur het, was om Sy eie heerlikheid te openbaar: aan die Egiptenare, in Josef se lewe, aan sy broers, aan Jakob, aan Sy volk-in-wording. Josef se oortuiging is so absoluut God-gesentreerd, God-gefokus en vertrouend op Hom. En dit veroorsaak die diepe versoening met sy broers.

Josef sê: “Dit was God wat my voor julle uit gestuur het. Moenie julleself verwyt dat julle my verkoop het nie. Die Here het daardeur gewerk om vandag lewens te bewaar. Dis Hy wat my in hierdie posisie gebring het om redder te wees om vir julle ‘n oorblyfsel te bewaar, baie wat oorleef. Dit was nie julle nie, dit was God.”

Ons moet die groter Josef – Jesus Christus – hierin sien. Die misdade wat die Jode teen Hom gepleeg het, is te bowe gegaan deur God die Vader se ewige Raadsplan. Hulle het Hom uitverkoop en laat kruisig, maar dit was volgens die soewereine bestiering van God die Vader. Sodat Jesus ‘n oorblyfsel vanuit die mensdom kon red en bewaar en preserveer. Nie alle mense nie, maar ‘n oorblyfsel – die bruid van Christus. Die uitverkore volk van God. Presies wat Josef ook vir sy broers gesê het waartoe God hom bestem het – om ‘n oorblyfsel onder hulle te bewaar en te red van hongersnood.

Wat die Heilige Gees wil hê ons moet raaksien in hierdie paragraaf is waarskynlik dat dit Josef se geloofsig op die manier waarop die Here agter die skerms alles beskik en bestuur het was wat hom daarvan bewaar het dat sy lewe nie geëindig het in een groot bol bitterheid nie. In goeie en slegte tye laat die Here ‘n klomp dinge vir Sy uitverkorenes ten goede saamwerk. Josef het daaraan vasgehou. En die resultaat was hierdie ongelooflike versoening tussen hom en sy broers en sy broers onderling.

2 – Verse 16-24 > Toe die verlore seun terugkeer huistoe, het die Pa vir hom ‘n feesmaal voorgesit en ‘n ring aan die vinger (Lukas 15). Want hy was dood en lewe weer!

Dis moeilik om nie die parallel te sien tussen die versoening wat in Genesis 45 plaas vind en die gelykenis in Lukas 15 nie.

Toe Josef se broers inbreek, word hulle met oorvloed oorlaai. Onthou daar het nog 4-5 jaar droogte voorgelê. Ook die Farao is oorweldigend in sy gasvryheid. Wat ‘n vreemde optrede vir ‘n Farao was. Dit wys egter hoe “een” hy en Josef was.

‘n Mens sien terloops hier hoe eg en betroubaar en waar Genesis is. Egipte was Israel se vyande. Om nou in Genesis iets positief oor ‘n Egiptiese Farao te skryf, was nie eintlik goeie taktiek van die skrywer – wat volgens Genesis Moses was – nie. Negatiewe propaganda sou beter werk. Dit sou beter wees om Egipte so negatief moontlik te skilder. Maar Moses skryf die WAARHEID – dit wat regtig gebeur het. Want die Heilige Gees lei hom in sy skryfwerk (2 Petr 1). Om die Farao as so geweldig gasvry en welwillend te beskryf, was dus teen die gryn van die mens gedoen, maar juis onder leiding van die Gees.

Ons weet egter dat die Farao hier ‘n versinnebeelding is van God die Vader se goedheid en guns in die lewe van die berouvolle bekerende sondaarmens.

Ons weet ook dat hierdie gasvryheid van die Farao – wat eintlik die vrug is van die Here se voorsienigheid en plan en beskikking – uiteindelik tot VERDERE voorsienigheid van God sou lei, naamlik dat die volk Israel in Egipte sou beland wanneer Jakob soontoe kom. En dat 400 jaar van hardepad vir hulle sou voorlê. Hulle sou later in ballingskap in Egipte sit. Maar ook dit sou onder God se voorsienigheid gebeur want sodoende sou hulle afgesonder en geheilig word om ‘n Godsvolk te word wat gereinig is van die bose invloed van die Kanaäniete. Die Here hou dus deurgaans die stuurwiel vas.

Die ander ding wat uit Josef en Farao se gasvryheid en voorsiening sou voortkom was dat die broers in dieper bekering moes ingaan. Want nou moes hulle vir hulle pa gaan vertel dat Josef nog leef. En daarmee saam moet hulle vir Jakob vertel wat hulle destyds met Josef aangevang het en onder watter leuen hulle geleef het. Die proses van bekering was dus nog nie afgehandel nie. Hierdie is wat genoem word RESTITUSIE > Om reg te maak wat jy verbrou het.

Vroeër jare het sy broers Josef se pragtige kleed van hom afgevat, hom beroof daarvan. Nou gee hy juis vir hulle stelle klere as geskenke saam. Klere wat beslis uit die koninklike huis kom. Sekerlik sodat Jakob oortuig kon word van die feit dat Josef leef. Sien hy die klere en geskenke uit die Farao se paleis, moes hy oortuig word. En Benjamin kry meer as die ander plus nog 300 stukke silwer. Want Benjamin was Josef se enigste volbloed broer en Josef wou sekerlik kompenseer omdat hy vir Benjamin as ‘n dief beskuldig het en hom sleg behandel het as deel van sy plan om sy broers in te breek.

O, hoe wonderlik is die Here wat aan mense wat Hom van Sy kleed beroof het toe Hy nakend aan die kruis gehang het, die kleed van geregtigheid skenk. WIE het Hom van Sy kleed beroof? Ek en jy! Nie die Jode van destyds nie. Dit was ons sonde wat Hom van Sy kleed beroof het. Maar die mens wat in berou aan Sy voete val, word geklee met die kleed van geregtigheid. Dis die kleed waarin die sondaar geregverdig voor God staan, vrygespreek en reggestel met God. En Jesus is SELF die kleed (1 Kor 1:30; 2 Kor 5:21)

3 – Verse 25-28 > Jakob se reaksie op sy seuns se mededeling dat Josef leef. ‘n Mens kan jou nie indink wat daar gebeur het nie. Die Heilige Gees het dit goedgedink om vir Moses te weerhou om ‘n beskrywing te gee van hoe die seuns vir Jakob moes vertel wat hulle in werklikheid destyds met Josef gedoen het. Net om die geweldige leuen te deurbreek, moes ontsaglik gewees het. Maar die Here het besluit dat ons nie daarin insae hoef te hê nie.

Wat ons wel sien, is hoedat Jakob getoets word om ‘n geloofsvertrouenstap te neem. Hy het absoluut GEEN bewys gehad dat Josef leef nie. Vir dekades lank was hy oortuig dat Josef dood is en sy seuns se storie die waarheid is. Nou moes hy sy denke verander en die berig uit die mond van dieselfde seuns glo. Hy moes die openbaring van God se goedheid, Sy voorsienigheid, Sy werking – in vertroue omhels. Naakte geloofsvertroue. Hy het net sy seuns se woord en hy sien die geskenke wat hulle saamgebring het. Die geskenke bekragtig die beriggewing: Josef leef en hy is die regeerder in Egipte en die voorsiener van voedsel en lewe aan die wêreld in hongersnood.

Kan ons ‘n idee vorm wat ‘n kragtige werk van die Here in Jakob se hart moes plaasvind om hom by vertroue te kry?

Dis presies dieselfde kragtige wonderwerk wat die Gees verrig in elke mens wat op die Evangelieberiggewing begin vertrou.

Ons kan absoluut niks daarvan sien nie en ons besit geen bewyse nie. Die beriggewing sê net: “JESUS leef en Hy regeer aan die Vader se Regterhand en Hy is die voorsiener van lewe vir ‘n wêreld wat in sy sondes sterf.”

Dit hoor ons met ons ore.

En voor ons oë het ons slegs water, brood en wyn. Soos Jakob die geskenke kon sien. Wat sy seuns se beriggewing moes bekragtig. En wat hom moes help om die berriggewing te glo.

Dis presies wat die sakramente doen. Doop en nagmaal.

Dis Godgegewe sigbare hulpmiddels wat die beriggewing bekragtig.

En die Heilige Gees se wonderwerkende magtige krag vergesel dit.

En so ontstaan die vertroue in ons hart. Om soos Jakob te sê: “Josef leef! Ek wil hom gaan sien voordat ek sterf. Dis al wat ek begeer.”

U sien – die mens se binneste wat die beriggewing hoor, die sakramente se bekragtiging van die beriggewing ernstig neem en in wie die Gees die wonderwerk verrig – so ‘n mens kry net vir Jesus voor oë. Dis al.

Tafelberg Gemeente (Dolerend)
Buitenkantstraat 39, Kaapstad
www.tafelbergkerk.co.za
Dr Chris Saayman

Category Genesis Reeks

© 2018 Designed with ❤ by Web Crew