Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

Laai Af

GENESIS REEKS NO 42
GENESIS 44 >> Die finale toets
Die breekproses waardeur Josef besig is om sy broers by erkentlikheid & gebrokenheid te bring, is nog steeds aan die gang in hoofstuk 44. Eintlik bereik dit ‘n hoogtepunt in hierdie hoofstuk.

Josef stel sy broers nou voor ‘n finale toets. Onthou: hulle weet nie wie hy is nie. Vir hulle is hy net die eerste minister van Egipte. Voordat hy homself aan hulle bekendmaak as hulle broer Josef, kry hy hulle eers in hulle harte gereed vir die groot oomblik.

Want in die droom wat die Here hom gegee het toe hy nog ‘n jong seun was, sou sy broers en sy pa voor hom neerbuig. Daardie punt moes nog bereik word om die droom te vervul.

Hoewel die droom natuurlik eintlik die Groter Josef, die Here Jesus Christus in die oog gehad het – voor wie al Sy mense die knie sou buig. Dit word steeds in ons dag waar, waar baie mense daagliks aan die Here verbind word deur die Gees se kragtige werking en die knie voor Sy Heerskap buig.

Die proses waardeur Josef sy broers neem is dus ‘n profetiese prentjiesbeeld van hoe die Here – sedert die uitstorting van die Heilige Gees – oor 2000 jr besig is om al God die Vader se uitverkorenes vanuit alle nasies tot redding in Jesus te bring. Totdat elke knie gebuig het, soos die Skrif sê.

Dis waarom die behandeling wat Josef op sy broers toepas nie iets is wat bedoel is vir ons om na te boots binne ons familieverhoudings nie! Die Heilige Gees wil nie vir ons hiermee aanspoor om mense aan toetse te onderwerp of deur ‘n breekproses te sit nie. Hoegenaamd nie. Dis ‘n prentebeeld van hoe die Groter Josef met sy mense werk. Ons moet wel die beginsel wat hier geleer word, snap.

Verse 1-2 vertel van Josef se finale toets aan sy broers. ‘n Toets – nie ‘n versoeking nie. Want die Here versoek nie Sy mense nie, maar toets hulle wel. Soos Josef die innerlike harte van sy broers wou blootlê.

Die broers het – soos beloof – vir Benjamin saamgebring Egipte toe. Josef het mos vir Simeon daar gehou en hulle geld in hulle sakke teruggesit, maar hulle ook beskuldig dat hulle spioene is. Hy het vir Simeon teruggehou om te verseker dat hulle sou terugkom Egipte toe en moontlik hulle pa saambring. Hierdie hele proses het al in hoofstuk 42 begin. En in hoofstuk 44 voltooi Josef sy plan.

Een belangrike beginsel om raak te sien is dat daar nie versoening sonder bekering is nie. Dis waarom Josef se toets die broers se diepste hart moes openbaar. Is hulle nog soos hulle 20 jaar tevore was? Hoe dink hulle nou oor hulle pa. En oor hulle broer Benjamin? Sou hulle hom dieselfde behandel as wat hulle destyds vir Josef behandel het? Destyds het hulle nie omgegee nie. Josef se smekinge en uitroepe uit die put, het nie aan hulle ‘n vaalkol gemaak nie. Maar, is hulle nog dieselfde tipe mense? Die enigste manier hoe Josef kon uitvind, was om hulle onder ‘n tipe dwang te plaas.

Weer eens plaas Josef hulle geld terug in hulle sakke. Dit illustreer die groot Bybelse tema dat Gods gawes alleen uit genade ontvang kan word. Dit beteken: gratis en verniet op grond van Sy vrye guns alleen. Hierdie absolute onverdiende gawe van gratis koring moes natuurlik ook die broers innerlik breek. Dit was so bedoel. Want dis so totaal anders as wat húlle koppe gewerk het. Die Eerste Minister gee werklik vir hulle die koring en kos VERNIET! Dis deel van die breekproses!

En dan word Josef se beker weer in Benjamin se sak versteek. Om hom later te kon beskuldig dat hy dit gesteel het. Om ‘n leier se beker te steel, was ‘n baie groot misdaad in die destydse wêreld.

Beslis sou die broers onraad vermoed het en gewonder het of iemand uit die Egiptiese regering besig is om hulle te vervolg? Wie sou tog so dwaas wees om die Eerste Minister se beker te steel? Beslis nie Benjamin nie! Hulle moes lont geruik het.

Hoe ookal: die vraag is: Hoe sou hierdie broers daarop reageer om onregverdiglik beskuldig te word? Wat sit in hulle harte? Want om aan Benjamin te vat, was soos ‘n dolksteek deur hulle harte. Sommer baie binnekort, sou hulle harte breek en hulle ontbloot staan vir wie hulle eintlik regtig is: sondaars, oortreders, wetteloses.

U sien versoeking het die vermoë om die Christenmens te vernietig of baie seer te maak, maar TOETSING is vir ons beswil. God versoek nie, maar hy toets. En dit is Sý toetsing wat hier deur Josef se handelinge met die broers plaasvind en uitspeel. Die Here weet hoe om Sy vinger op ons mees kwesbare plekke te plaas. Maar dis altyd tot ons beswil – indien ons Sy kind is.

‘n Mens sien dit in verse 3-17. Kyk na die dialoog tussen die broers en Josef se dienskneg en dan weer tussen die broers en Josef self.

Die gesteelde beker kom na vore en Benjamin word gearresteer en die broers aanvaar skuld daarvoor. Sien hoe weet die Here om Sy vinger op die mees kwesbare plekke te plaas? Hy doen dit hier met die broers. Josef se dienskneg haal hulle in en beskuldig hulle van diefstal. Hulle ontken eers skuld. Soos die mens is – selfregverdiging & eiegeregtigheid is altyd ons eerste reaksie. In hulle eie oë is hulle betroubare manne (vers 8). Hulle is eerbaar, want hulle het tog die geld – wat in hulle sakke was – in alle eerlikheid teruggebring. Hulle is so seker van hulle saak dat hulle dink dat die persoon wat die beker gesteel het, die swaarste straf moet kry – selfs doodstraf – en hulle is bereid om slawe te word. So seker is hulle van hulle onskuld.

Maar die dienskneg stel ‘n strik om hulle harte te toets. Hy sê: O nee, net die persoon by wie die beker gevind word, moet ‘n slaaf word. Die res kan huistoe gaan. Nou hoe nou? Hoe voel hulle regtig oor hulle broer? En oor hulle pa? Sal hulle aan Benjamin getrou bly of veg vir hulle eie behoud? Of sal hulle Benjamin vir die wolwe gooi en vir hulle pa een of ander storie gaan vertel?

Mens kan jou die spanning voorstel toe sak na sak deurgesoek word. Benjamin s’n was laaste. Van oud na jonk. Die volgorde waarin hulle aan tafel gesit het. En daar word die beker toe in Benjamin se sak gevind!

Onmiddelik gebeur die wonderwerk. Skielik is alle eiegeregtigheid weg en die broers herken meteens die Here se hand in dit alles. Hulle besef dit is die Here wat Sy vinger op hulle lê. Hulle skeur hulle klere as teken van berou en gebrokenheid. Hulle gaan terug na Josef toe en Juda is die woordvoerder. In vers 14 werp hulle hulle voor Josef neer. ‘n Presiese vervulling van die droom wat die Here vir Josef as jongman gegee het (in Gen 37).

Josef begin met ondervraging. ‘n Mens wonder waarom hy sê dat hy die beker vir waarsêery gebruik. Dis tog iets wat hy juis NIE gedoen het nie. Vroeër het hy duidelik teenoor die Farao getuig dat die Here hom lei en dat hy nie ‘n waarsêer is nie. Maar deel van sy lis teenoor sy broers was om sy ware identiteit vir hulle weg te steek. Die broers moes besef dat Benjamin nie sommer net ‘n drinkbekertjie gesteel het nie, maar ‘n instrument wat Josef in sy baie belangrike posisie gebruik om verhewe kennis te bekom. Hy wil dus hê dat die broers se skuldlas nog swaarder weeg.

Juda is gebroke. Vergelyk nou hierdie Juda met die Juda wat ons in vorige hoofstukke leer ken het. Dis twee verskillende mense. Kan ‘n mens jousélf so verander en vernuwe? Die antwoord is vanselfsprekend onomwonde NEE!

Hoor hoe pleit Juda (namens die ander). “Wat kan ons my heer antwoord en waarmee kan ons onsself regverdig? God het ons kwaad en sonde uitgevind. Ons sal u slawe wees – ons almal.”

Dis duidelik dat die groot leuen waarmee hulle soveel jare saamgeleef het – nou na die oppervlakte kom. En dis die Here wat dit doen. Hulle erken dit. Hulle skuld aan Josef se bloed – dis waarvoor hulle nou boet. Nie die sogenaamde steel van die beker nie – want hulle weet hulle het dit nie gesteel nie. Maar, die sonde teenoor Josef – DIT is wat nou oopgemaak word. Die groot leuen tussen hulle en hulle pa Jakob. Dit was hulle kwesbaarste plek. En presies daar kom sit die Here Sy vinger neer. Is dit nie wonderbaarlik dat Juda meteens tot die besef kom dat dit die HERE SELF is wat hier aan die werk is en wat hulle voor hulle sonde van die verlede te staan bring nie.

Josef gaan egter verder deur hulle nog meer aan toetsing te onderwerp. Hy sê: “Goed julle kan huistoe gaan, maar Benjamin bly hier”.
Kyk, as Josef kon geweet het hoe om sielsdeursoekend met sy broers om te gaan, hoeveel te meer weet die Here nie om sielsdeursoekend met ons te werk nie? Jy kan altyd seker wees dat Hy Sy vinger op jou mees kwesbaarste en weerlose plekke sal lê. Met die doel om te verhinder dat ons vernietig word, maar dat ons herstel en genees mag word en mag omdraai en omhels te word in sy genade. Dis presies wat Josef se mikpunt met sy broers was.

Kyk hierna: Vroeër jare het hulle hulle broer Josef vir 20 stukke silwer verkoop. Josef was verwyder en hulle was vry. So het hulle gedink. Nou kon hulle weer vry uitgaan, maar dit sou hulle hulle broer Benjamin kos. En wat sou hulle vir hulle pa gaan vertel? Sou hulle vir Benjamin verraai? Nee, die Here het vir hulle iets in hulle lewens kom doen. Eenpariglik besluit hulle NEE! Eerder slawe in Egipte wees as om vir Benjamin te verraai.

Mens kan nie dink hoe emosioneel Josef moes wees om dit alles aan te hoor nie. Hulle weet dit nie, maar hy verstaan elke woord wat hulle sê. Toe Josef gade slaan hoe sy broers innerlik verander het, hoe die Here hulle getransformeer het, hoe diep hulle besef is dat hulle genade glad nie verdien nie … dit het Josef se emosies laat hoog loop.

Die verlore mens dink dat hy op ‘n manier genade verdien. Maar nie iemand wat deur die Here getransformeer is nie. Kyk na verse 18-34. Luister na Juda se aandoenlike pleidooi. Dan sien jy wat die lewende God in ‘n mens se lewe kan vermag.

Juda verklaar pleitend dat hy bereid is om self te ly in die plek van sy broer Benjamin. Luister hierna: Juda sê dat hy nie eens gaan probeer om by Josef om genade te smeek nie, want hy verdien absoluut niks daarvan nie. Daarom vra hy nie eens vir genade nie. Dit opsigself wys so duidelik dat die Here se genade alreeds vir hom iets in sy hart gedoen het.

Juda smeek Josef om geduldig met hom te wees. Dan vertel hy vir Josef die storie van hulle familie en gesin in verse 19-34. Josef se hart moes inmekaarkrimp by die aanhoor hiervan. Soos die Here Jesus ook ween en huil wanneer ek – patetiese sondaar – vir Hom van al my dinge kom vertel. Wat Hy in elk geval alles weet. Josef het alles geweet wat Juda vir hom vertel.

Is dit nie wonderlik om in Josef se gemoedsaandoening ook die Here Jesus se hartklop te sien nie? Hoe HY voel wanneer ‘n sondaar aan Sy voete val. WEG is al die bravade en selfregverdiging en eiegeregtigheid wat so kenmerkend van die onverloste mens is.

Juda voer hoofsaaklik twee sake aan:

1 Hy maak dit duidelik dat hy alles in sy vermoë sal doen om te verhoed dat sy pa weer seerkry. Hy is gereed om hemel en aarde te versit om net te verhoed dat sy pa se hart nog ‘n keer gebreek word.
2 Hy maak dit duidelik dat hy ‘n verbond met sy pa gesluit het. Hy het sy woord gegee en homself vervloek indien hy nie vir Benjamin veilig by die huis sou kry nie.

Op grond van hierdie twee sake pleit hy by die Egiptiese Eerste Minister – sonder om te weet dat dit in werklikheid Josef is.

In Juda se pleidooi is daar byna ‘n stuk of tien dinge wat Josef se hart middeldeur kon breek. Maar veral in verse 20 en 28.

Hoe byvoorbeeld sou Josef reageer om die volgende uit Juda se mond te moes hoor:
“Ons vader is al baie oud en ons een broer is dood en net die jongste is nog by pa. U dienskneg, my vader, het vir my gesê dat hy sal sterf as Benjamin nie behoue terugkom nie.”

Dis opvallend dat Juda nie voluit skuldbelydenis doen nie. Dit kom eers later nadat Josef homself aan sy broers bekendgemaak het. Dis asof skuldbelydenis soos die afskil van ‘n ui werk. Wanneer die Here God begin om Sy hand op ‘n mens te lê, kom daar soms ‘n proses aan die gang. Bekering vind nie altyd eensklaps volledig plaas nie. Calvyn het gesê die Christelike lewe as sulks is een stuk bekering. Dis asof die Here – deur Josef – hierdie manne agtervolg totdat hulle uiteindelik hulle strafbaarheid volledig erken en bely.

Maar dát die Here in Genesis 44 reeds baie sterk met Josef se broers besig is, is duidelik. Sjoe, hoor net vir Juda. Hy smeek nie vir Josef om vergifnis nie. Maar hy is gereed om self te ly en Josef se slaaf te wees – solank Benjamin net behoue kan bly. Hy is bereid om te ly in Benjamin se plek. Dis baie duidelik ‘n hartsverandering wat hier plaasgevind het. Vroeër jare was hy verhard teenoor sy broer Josef en sy pa. Hart soos ‘n klip. Nou beskou hy dit as ‘n voorreg om ‘n slaaf te word in sy broer Benjamin se plek. Die skuldige offer homself as plaasvervanger vir die onskuldige.

Maar baie jare later sou daar – uit die nageslag van hierdie einste Juda – ‘n Man kom wat onskuldig was, maar Homself as plaasvervanger vir die skuldiges offer. En daardie plaasvervanger sou deur die Vader aanvaar word en Hy sou in hulle plek leef en sterf sodat hulle Sy heerlikheid mag ervaar.

Dis net HIERDIE plaasvervanger wat jou lewe permanent kan verander en transformeer. Dan verander jou siening van God en jou siening van jou medemens drasties.

Nou was die tafel gedek vir die groot oomblik wanneer Josef sy ware identiteit aan sy broers sou bekendmaak.

Maar daaroor meer by ons volgende boodskap!

Tafelberg Gemeente (Dolerend)
www.tafelbergkerk.co.za
Buitenkantstraat 39 Kaapstad
Dr Chris Saayman

Category Genesis Reeks

© 2018 Designed with ❤ by Web Crew