Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

Laai Af

GENESIS – REEKS NO 41
Die goedheid van God (Genesis 43)
Verlede keer het ons gesien hoe Josef sy broers deur ‘n lang breekproses neem om hulle op die punt te kry waar hulle staak om hulleself te regverdig, hulle sondes te erken en te buig. Josef kon nie homself aan hulle openbaar alvorens hulle nie op daardie punt kom nie. Hy kon nie die oorvloed van kos en voorsiening aan hulle skenk alvorens hulle nie in gebrokenheid die knie voor hom buig nie. Daarin herken ons die breekproses waardeur die Here ‘n sondaarmens neem totdat die knie finaal voor Christus (die Groter Josef) buig.

Hierdie breekproses word nie net in hoofstuk 42 beskryf nie, maar dit loop oor ‘n hele paar hoofstukke. Dit sluit hoofstuk 43 in! Ons het dus verlede keer ‘n soort oorsig oor ‘n hele klompie hoofstukke geneem en dit alles vorm steeds die agtergrond van vandag se studie oor hoofstuk 43. Tog wil ons vandag die fokus ‘n bietjie verskuif en spesifiek sien hoe die goedheid van God hier na vore kom en wat dit vir ons beteken. Ons weet uit Romeine 2:4 dat dit juis die GOEDHEID van God is wat ons tot inkeer en bekering bring. Maar hoe speel dit uit in Gen 43 van die Josefverhaal? In verse 1-14 sien ons ‘n prentjiesbeeld van oorgawe aan die Here en in verse 15-34 ‘n prentjiesbeeld van hoe belangrik die vrede & barmhartigheid van God is.

OORGAWE AAN DIE HERE (verse 1-14)
Juda is die eerste in die gesin om tekens te toon van self-opoffering. Die kos is op en die broers moet weer eens na Egipte gaan om nuwe voorraad te gaan haal, maar Josef (wie hulle nie herken het nie) het hulle dood voor die oë gesweer dat hulle vir Benjamin moes saambring. Anders….

Nou kom Juda na vore en lê byna ‘n eed af dat hyself sal instaan vir Benjamin se veiligheid. Die Here is ongetwyfeld besig om in Juda se lewe te werk. Ons weet mos hoe selfgesentreerd en verhard in sonde hy altyd was. Nou skielik begin hy om ander eerste te plaas. In verdere hoofstukke sal ons sien hoe Juda se leierskap en opofferende gesindheid verder toeneem en ontwikkel. Dit is wat die Heilige Gees in ‘n mens se lewe kan doen. Niks is vir God onmoontlik nie. Daar is hoop vir jou en my! By die lewende God is die enigste hoop vir ons.

Juda se praat met sy pa Jakob, laat vir Jakob toegee om vir Benjamin saam te stuur Egipte toe. Juda is immers bereid om homsélf op die spel te plaas. Dis hewig!

Maar Juda se ommekeer is sonder twyfel ‘n voorbeeld – waarvan daar baie in die Bybel is – van die uiterste krag van die transformerende krag waarmee die Heilige Gees werk. Die verharde Juda se hart word versag sodat hy oortuig kon word van sy sonde en verkeerdheid. Sy gedagtes word verlig in die kennis van God en sodoende word sy wil verander om te begin wil soos God wil dat hy moet wil. Op hierdie manier word Juda ‘n leier onder die broers.

Maar kyk ons na Jakob self, sien ons ‘n man wie se naam wel verander het na Israel – wat ‘n aanduiding was dat daar ‘n groot ommekeer in sy lewe gekom het. En dát daar ‘n ommekeer was, kan ons nie ontken nie. Maar tog is daar nog trekke van die ou Jakob in sy optrede sigbaar. Dalk is dit waarom hy deurgaans nog steeds “Jakob” genoem word en net af en toe “Israel”.

Byvoorbeeld: Jakob se een swakplek was mos altyd dat hy ander wou sagmaak en omkoop met geskenke. Wel, hier stuur hy weer ‘n geskenk vir Josef. En die geld waarmee hulle vir die koring betaal het en wat Josef in hulle sakke teruggesit het, moet verdubbel word en vir Josef geneem word. Want, dalk was dit net ‘n vergissing dat hulle die koring as ‘n gratis geskenk ontvang het (vers 12).

Die mens se gevalle natuur en hart is altyd geneig om te dink dat God se genade in Christus ‘n vergissing is. Dit moet ‘n vergissing wees dat die ewige lewe ‘n geskenk, ‘n gawe van God is. Hoe kan dit gratis en verniet wees? Hoe kan God my geld teruggee? Bedoelende: Hoe kan Hy my goedbedoelde probeerslae en goeie werke vir my teruggee en dan die verlossing (die koring) sonder betaling vir my skenk? Dit kan mos nie! Alles wat verniet is is mos nikswerd. Dis hoe dit in die wêreld werk. En tog, Jakob en sy seuns moes bereid wees om die koring gratis te ontvang, anders sou hulle sterf van die honger. Gratis het nie beteken goedkoop nie. Want onthou: Josef het self ‘n baie duur prys betaal om die kos vir hulle as geskenk te kon gee. Die prys wat hy betaal het, was lyding en verwerping vir baie jare lank.

Die Here Jesus is die Groter Josef. En ons weet dat God se vergifnis en verlossing en bevryding ‘n geskenk is omdat Jesus dit teen ‘n baie duur prys betaal het. Die prys van Golgota. Juis omdat ons nie daarvoor enigsins kán vergoed nie! Danksy Golgota, moet ons dus ook bereid wees om uit genade te leef. Dit beteken om die koring verniet te ontvang.

In Jakob se voortslepende swakhede en sy onvermoë om genade te verstaan, herken ons weer eens onsself, nie waar nie? Dis presies hoe die weergebore mens in wie die Heilige Gees kom woon het, in die praktyk is. Die groeiproses hou nooit op nie. En die Here volhard met Sy kind. God het met Jakob volhard – sonder twyfel.

Die gebed wat Jakob in vers 14 bid, staan in die middel van die hoofstuk. Dis sentraal. Dis van sentrale belang. Dit sê weer iets van Jakob wat Israel is – die nuwe mens in die Here. Dit sê ook iets van hoe klein Jakob (en ons) dikwels bid, sonder om te besef hoe groot ons uiteindelik sal ontvang.

Jakob roep vir God aan as El Shaddai – die Naam waarmee die Here God homself aan Abraham bekendgemaak het toe Hy hom die verbondsbeloftes gegee het (Gen 17:1). Dit beteken letterlik: God die Almagtige. Eintlik is die betekenis daarvan dat God GENOEG is. Meer as Hy het niemand nodig nie.

Jakob bid ook dat “die man” in Egipte barmhartig teenoor hulle sal wees en dat Benjamin en Simeon veilig saam met die ander broers mag terugkeer huistoe.

Maar die Here se antwoord en seën op Jakob se gebed sou ver meer en groter wees as enigiets waarvan hy kon dink of bid. Ja, Benjamin en Simeon sou behoue bly, maar Jakob sou nooit kon droom dat Josef steeds leef, dat hy Eerste Minister van Egipte is en dat hy met sy seun Josef verenig sou word nie – 22 jaar nadat sy broers hom as slaaf verkoop het.

Ons sien dus in hierdie 14 verse ‘n prentebeeld van presies hoe die Here vandag steeds in Sy mense se lewens werk. Terwyl die nuwe lewe reeds teenwoordig is, sterf die ou lewe al spartelende. Die oorgawe aan die Here is nie iets wat eenmalig plaasvind nie, dit is ‘n lewenslange bekering. Calvyn het gesê die Christelike lewe IS ‘n lewe van bekering.

Die Heilige Gees werk vernuwend in Jakob se lewe. Hy klou aan sy kinders byna meer as wat hy aan El Shaddai moes klou. Mens kan dit verstaan: Hy het Josef verloor. Om Benjamin en Simeon te verloor – daarvoor sien hy nie kans nie. En tog kry ons die indruk dat sou Benjamin wegval, Jakob se lewensfondament vernietig sou wees. As Benjamin weg is, wat bly oor?

Hierin sien ons wat die Here besig is om te doen. Die Here het vir Jakob in die gimnasium waar hy leer wat naakte geloofsvertroue is. Om sy hand oop te maak en Benjamin te laat gaan! Om te sien soos Een wat die Onsigbare sien – soos Hebreërs 11 dit stel. Dit is die kern van Jakob se oorgawe. Sy hand gaan oop en hy laat los dit waaraan hy vasklou en hy vertrou die Here met geloof wat die onsigbare sien.

En wat was die gevolg hiervan…..?

DIE VREDE EN BARMHARTIGHEID VAN GOD (verse 15-34)
Hierdie paragraaf word oorskadu deur Josef se barmhartigheid. Die broers ontvang wat hulle nooit kon verwag nie. En wat hulle glad nie verdien nie.

Die woord “barmhartigheid” kom twee maal in die gedeelte voor. Dis die Hebreeuse woord “ragamim”. Die woord kom 39 keer in die OT voor en die meeste van die tyd verwys dit na die barmhartigheid van God self.

Die ander woord “sjalom” kom drie keer in die paragraaf voor en beteken “vrede” of “voorspoed”. Soos ons sal sê “goedgaan”.

Die Here is besig om vrede/sjalom te bring in ‘n huis wat uitmekaar geskeur was deur korrupsie en verdeeldheid.

Die broers se gewete is egter nog gewond deur sonde en skuldgevoelens en spoke en leuens uit die verlede. So ‘n slegte gewete interpreteer alles verkeerd. ‘n Slegte gewete kyk na die goedheid van die Here en lees daarin slegs net veroordeling en straf. Kyk na hierdie broers. Al wat hulle kan aflei van wat aan’t gebeur is is dat die Here hulle nou straf oor wat hulle 22jr gelede aan Josef en hulle pa gedoen het. Agter alles sien hulle net God se oordeel oor hulle. Terwyl die Here besig was om hulle gereed te kry om barmhartigheid en vrede te smaak! Is die lewende God nie wonderbaar nie?!

Van almal is dit Josef se dienskneg wat iets verstaan van God as die God van die verbond. Kyk wat sê hy in vers 23: “Julle God, die God van julle vader” (dis Jakob!). Iets van Josef se volhardende geloofsvertroue moes op hierdie dienskneg ‘n indruk gemaak het. Josef was standvastig by die Here deur al sy suksesse en ontberings. Nou verstaan sy dienskneg iets van wie die Here God is. ‘n Kind van God beïnvloed altyd mense rondom hom/haar wat die Evangelieboodskap betref. En so ontdek ander ook die Waarheid. Hierdie dienskneg was tog van huis uit ‘n afgodsdienaar. Hy was ‘n gebore Egiptenaar. ‘n Heiden. Totdat Josef oor sy pad gekom het. ‘n Man wat in die verbond van sy God geleef het. En die ware godsdiens lewend gehou het binne die sirkel van sy huishouding.

‘n Mens sien in Josef se genadige houding teenoor sy broers iets van die Groter Josef, Jesus Christus. Die trane wanneer Sy vyande – deurtrapte sondaars – inbreek en buig. Gereeld moet Josef homself verskoon en in ‘n aparte kamer gaan huil. Na 22 jaar word die droom wat hy as jong man gehad het letterlik vervul – al elf sy broers buig voor hom. Maar hy het nie ‘n harde rigoristiese hart teenoor hulle nie. Hy huil. Hy is barmhartig. En vol medelye. Hy seën hulle. Hy seën Benjamin in besonder. Hy gee vir hulle ‘n feesmaal. Soos die pa van die verlore seun in die gelykenis (Luk 15). En daar by Josef se tafel, ervaar die elf broers gesamentlike vrede (sjalom) – dalk vir die eerste keer ooit.

Josef se broers ontvang die voordele van sy barmhartigheid terwyl hulle nie eens weet wie hy regtig is nie. Soos wat die verlore mensdom tallose seëninge van die Here ontvang sonder dat hulle Hom ken. Hulle ontvang en ontvang, maar is onkundig oor die Bron. Dis suiwere GENADE wanneer die Here ‘n sondaar se oë open om te sien dat al die goedheid van die HERE kom en dat Hy juis d.m.v Sy goedheid jou tot bekering wil lei (Rom 2). Die vyand vertel vir mense: “Die Here is so goed vir jou omdat jy mos gered is”. Maar die Skrif leer dat die Here so goed is vir mense sodat hulle tot bekering moet kom! ‘n Reuse verskil – wat weer eens vir ons wys hoe belangrik dit is dat ons vanuit die SKRIF moet dink en nie vanuit ons eie menslike wysheid nie.

Wat ons moet raaksien is twee waarhede:

1 Josef se broers het op geen manier sy goedheid teenoor hulle verdien nie. Hulle was dit nie waardig nie. Hulle het verdien om van honger te sterf. Maar in stede daarvan ontvang hulle kosvoorrade uit Josef se voorraadkamers. Hulle sit aan by ‘n feesmaal. Dit is net ‘n klinkklare prentjie van God se hartklop jeens Sy vyande, sondaars, wat geen genade verdien nie. GENADE gee die deurslag in alles.

2 Josef se trane oor sy broers vloei direk oor in die Nuwe Testament wanneer ons vir Jesus sien ween oor Jerusalem (Luk 19) oor die kinders van Israel wat nie belangstel in die barmhartigheid en shalom van die God van Abraham, Isak en Jakob wat vlees en bloed onder hulle neuse kom word het in die gestalte van die Seun van God wat tussen hulle rondbeweeg het nie.

Het JY al iets van God se barmhartigheid en vrede begin beleef?

Tafelberg Gemeente
Buitenkantstraat 39, Kaapstad
www.tafelbergkerk.co.za
Dr Chris Saayman

Category Genesis Reeks

© 2018 Designed with ❤ by Web Crew