Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

Laai Af

GENESIS-REEKS NO 39
Genesis 41: Van tronk tot paleis

Vir die gemiddelde mens gaan dit wat met hulle gebeur in die lewe maar min of meer oor toeval en noodlot en die sogenaamde “geluk”. Party mense wag tevergeefs vir die toekomstige “groot deurbraak” wat sogenaamd alles in hulle lewe sal verander. Die mens wat nie die lewende God persoonlik in Jesus Christus ken nie en wat nie gevul is met die inhoud van God se Woord nie, se lewe is eintlik maar net uitgelewer aan die sogenaamde toeval en noodlot.

My haarkapper glo die heelal besluit watter kant toe sy lewe loop.

Ander mense hardloop na die “sieners” toe – soos ene Gerald wat onlangs op KykNet te siene was en wat mense mislei met sy gebede en die aanroep van Jesus se naam terwyl hy in werklikheid ‘n medium is wat deur demone inligting kry. Mense wat na mediums gaan vir hulp het later meer probleme as ooit voorheen. Wat ‘n armsalige manier van leef. Is dit ‘n wonder dat baie mense van pille leef om net op ‘n manier asem te kry?

Mens kan dus Genesis 41 lees en dink wel, hier het Josef dit nou uiteindelik gelukkig getref! Hy was vir jare onskuldiglik in die tronk, maar toe kry die Farao toevallig ‘n vreemde droom en die skinker onthou per ongeluk weer van Josef en sodoende kon Josef die Farao se droom uitlê en siedaar – Josef word oornag eerste minister. Die een oomblik is hy nog in die tronksel en die volgende oomblik in die paleis. DIT is mos nou die tipe gelukskote waarop EK nog al die jare wag, sal sommige mense dink. Toevallige verloop van omstandighede!

Die Skrif praat egter ‘n ander taal.

Die soewereine God se Raadsplan was agter alles wat met Josef gebeur het – ook om hom tot ‘n posisie van mag en gesag te verhef. Josef se lewensverhaal was geen feëverhaal nie. Josef is verhef tot eerste minister van Egipte met ‘n baie spesifieke Goddelike doel.

1 Verse 1-13 -> Farao se droom

Die skinker het toe vergeet om vir Josef ‘n goeie woord by die Farao te doen en daarom het Josef ‘n verdere twee jaar in die gevangenis deurgebring. Hierdie man het dit nie maklik gehad nie.

Soms – in die OT-tyd – het die Here nie deur menslike middele gewerk nie. Daarom praat die Here met Farao deur twee dramatiese drome. Let op: Hy was ‘n heiden, nie ‘n geredde kind van God (in NT terme) nie. Dát daar dus bonatuurlike dinge met ‘n mens gebeur is nie noodwendig ‘n aanduiding dat jy ‘n verloste mens is nie! Daar is mense wat op sulke dinge hulle vertroue en sekerheid bou, maar dit kan fataal wees. Hierdie waarskuwing net tussen hakies.

Farao se drome was eg Egipties van aard, byvoorbeeld die prominensie van die Nylrivier en die gevreesde Ooswind wat droogte beteken.

Waarom Farao so ontsteld was, was dat die twee drome dieselfde saak op twee verskillende maniere beskryf – en die sewe maer koeie bly maer selfs nadat hulle die vet vee verorber het. Dieselfde van die koring. Dis nie eintlik heeltemal normaal dat koeie koeie eet nie. Ook nie dat koring koring eet nie. Maar sekerlik moes die maer koeie en koring tog gewig aansit deur dit wat hulle eet, nie waar nie. Iets is iewers bitterlik verkeerd.

Die Farao se gewone bron van inligting, die towenaars, kon glad nie help om die drome te verklaar nie. Tussen hakies: Ons moenie hierdie towenaars verwar met hedendaagse kulkunstenaars nie. Hulle het nie hase uit ‘n hoed getrek nie. Hulle was die bes opgevoede en slimste in die Egiptiese koninkryk – opgelei in die kuns van drome uitlê.

Maar hulle kon nie hierdie twee drome verklaar nie, want dit was ‘n openbaring van die Here God en volgens 1 Kor 2:10-16 kan die dinge van die Here slegs deur die Heilige Gees verstaan word.

Die Farao se ervaring was soortgelyk aan die droom-ervaring van die skinker en daarom dat hy toe skielik weer aan Josef dink. En op hierdie manier word Josef vrygelaat en na die Farao gebring. Agter die skerms egter, is die Here in Sy voorsienigheid aan’t werk.

2 Verse 14-36 -> Farao se probleem en Josef se plan

Josef moes eers skeer voordat hy voor die Farao mog verskyn. Vir die Hebreërs was ‘n baard ‘n teken van waardigheid, maar in Egipte was dit ‘n aanstoot. Dit was belangrik dat Josef nie die Farao onnodiglik aanstoot gee nie.

Anders as wat sy pa – Jakob – sou gedoen het, buit Josef nie die geleentheid wat hy by die Farao het, uit nie. ‘n Mens kan net dink hoe Jakob die geleentheid sou gebruik om vir sy vrylating te pleit en om aan Farao te verduidelik dat hy eintlik onskuldiglik in die tronk is en hoe onregverdiglik hy behandel was.

Maar Josef praat nie eens met die Farao oor sy eie verknorsing nie. Hy soek die eer van God. Hy wil nie die eer ontvang vir die vermoë om drome uit te lê nie. Dit moet Farao weet. Dit kom van Bo. Dis net die Here alleen wat drome – wat Hyself gegee het – kan verklaar. Josef vergeet van homself en bedien aan Farao ‘n stuk hoop. Farao skep moed en vertel vir Josef wat hy gedroom het.

In kort kom die betekenis daarop neer dat die Here genade aan Egipte wil betoon deur hulle vooraf te waarsku oor wat in die toekoms op die land (en wêreld) wag sodat hulle betyds daarop kon voorberei.

Sewe jaar van oorvloed sou opgevolg word deur sewe jaar van droogte en hongersnood – so erg dat die maer jare die oorvloed van die eerste sewe jaar sou verswelg. Ons weet dat die Here daarmee ‘n plan gehad het om Sy volk uiteindelik in Egipte te kry. Dit was nie maar sommer net ‘n sinnelose toevallige sameloop van omstandighede nie. Alles het binne God se Raadsplan gepas.

Josef stop egter nie daar nie. Hy het ook van die Here die gawe ontvang om ‘n situasie te deurgrond en gebeurlikheidsplanne te bedink. Hy voorsien dus aan Farao ‘n aksieplan. Ook dit het van die Here se wysheid gekom.

Aksieplan: Eerstens moes ‘n leier aangestel word wat sou sorg dat – gedurende die 7 jaar van oorvloed – voedselvoorrade geberg word. Die surplusse moes dan sorgvuldig bestuur en versprei word. Sodoende sou die effek van die droogte en hongersnood versag word – ook vir ander dele van die wêreld. Egipte sou die enigste bron van voorsiening wees vir ‘n sterwende wêreld. En ons weet dat Josef self die man aan die stuur sou wees. Weer eens ‘n treffende profetiese heenwysing na die Here Jesus wat die enigste, unieke Lewegewer sou wees vir ‘n sondeverlore duistere wêreld. Wie nie by JOSEF kom koring haal nie, sou omkom. Wie nie by JESUS die Brood vd lewe vind nie, sal ‘n ewige dood sterf.

Punt is net: Toe Josef aan die Farao die aksieplan voorlê, het hy nie die gedagte gehad dat hyself die man sou wees wat alles sou bestuur nie. Hy sou tweede in rang naas die Farao self word. Maar sy nederige gees het verhinder dat hy aan so iets dink. Wie sou per slot van rekening ooit kon dink dat ‘n Hebreeuse slaaf die tweede hoogste rang in Egipte sou verkry?

3 Verse 37-45 -> Josef kry promosie

Farao was meer dankbaar oor Josef se aksieplan en sy bekwaamheid as oor die uitleg van die drome. Selfs die towenaars stem saam dat Josef die aangewese persoon is vir die groot taak om die aksieplan uit te voer.

Farao erken dat dit een of ander gees van die een of ander god moet wees wat in Josef is en wat hom die insigte gegee het. En daar verhoog hy sowaar vir Josef tot tweede in rang in die koninkryk. Vaarwel aan die tronklewe! Josef verkry meteens mag en gesag en prestige. En allerhande tekens van sy nuwe posisie soos ringe en klere en ‘n goue halsnoer. Daarby ontvang hy ‘n koninklike ryding. Hy ontvang ook ‘n Egiptiese naam. In die Farao se hart was Josef nie meer ‘n Hebreër nie, maar ‘n volbloed Egiptenaar. Daarom kry hy ook ‘n Egiptiese vrou.

Mag iemand wat deel was van die Here se verbondsvolk dan met ‘n vrou uit die heidendom trou? Het Josef nie hier oortree nie? Ons weet hoe belangrik dit vir die Here God is dat sy mense nie mag trou met ongelowiges nie.

Josef het seker nie veel van ‘n keuse gehad om hierdie dame as vrou te neem nie. Dit was immers Farao se opdrag. Ons moet dit dus sien as deel van die Here se Raadsplan met Josef. Dis iets wat aan hom gedoen is waaroor hy nie beheer gehad het nie. Maar hy kon rus vind daarin dat die Here soewerein heers – ook oor dinge wat logies onverstaanbaar is.

4 Verse 46-57 -> Josef se program word geïmplimenteer

In die jare wat Josef eerste minister van Egipte was, sien ons hoe absoluut akkuraat die uitleg van die Farao se drome was. En ook met hoeveel wysheid en vaardigheid hy sy opdrag uitgevoer het. Daarby was hy nougeset om die Here God te dien en lief te hê. Hy het nie verslap in sy toewyding nie. In al hierdie dinge sien ons wat die NT noem: die vrug van die Heilige Gees. Dis nie dat Josef so ‘n goeie mens was nie. Of dat hy beter as ander mense was nie. Dit is die vrug wat die Gees in sy lewe geproduseer het. Soos die wingerdstok sy lewensap deur die loot stoot en druiwetrosse na vore kom – om die beeld te gebruik wat Jesus in Joh 15 noem.

Josef was geseën met twee seuns genaamd Efraïm en Manasse. Die betekenis van hulle name verklap iets van die kwaliteit van Josef se verhouding met God tydens sy tyd in die Farao se paleis.

Manasse beteken: maak om te vergeet. Dit sê iets van Josef se dankbaarheid teenoor die Here wat hom gehelp het om die swaar van sy verlede te verwerk en te vergeet (v 51). Dit beteken nie dat hy sy pa en broers vergeet het in die negatiewe sin van die woord nie. Maar hy kon wel die bitterheid en wraaksug en seer van verwerping en onvergewensgesindheid wat hulle hom aangedoen het, uit sy sisteem kry. Tog wou hy nie teen wil en dank huistoe gaan nie, maar hy was gewillig om te bly waar die Here hom wou hê en solank die Here hom daar wou hê. Bevry van seer en bitterheid en onvergewensgesindheid, kon hy nou die Here dien.

Efraïm beteken vrugbaarheid en was uitdrukking van Josef se sekerheid dat dit nie hyself of sy omstandighede of enigiets/enigiemand was wat hom IN sy swaarkry en aanvegtinge tot oorvloed en seën gelei het nie, maar die Here. Swaarkry en seën was nie vir hom teenoorgesteldes nie, want die Here gee beide en die Here kan hartseer in blydskap verander.

Boodskap

1 Wanneer Rom 8:28 die versekering gee dat – in die geval van God se uitverkore kinders – alles ten goede meewerk, dan is dit duidelik dat hy van ‘n klomp dinge wat saamwerk praat – ten goede saamwerk.

Dit word in Josef se lewe geïllustreer. Sy verhoging tot eerste minister is nie die gevolg van een gelukskoot nie, nee dit was die gevolg van ‘n hele reeks Goddelik-gegewe pynvolle gebeurtenisse wat saamgewerk het. Het Josef nie Potifar se vrou se verleiding geweier nie en onregverdiglik saam met Farao se skinker in die tronk beland nie, sou hy nooit by Farao aanbeveel word nie. En was Josef nie skandaliglik deur sy broers behandel en as slaaf verkoop nie, sou hy nie in Potifar se huis beland het nie.

2 Josef se verhoging tot eerste minister het eintlik glad nie oor sy eie gerief en voorspoed gegaan nie. Daar was ‘n Goddelike doel daarmee naamlik dat hy uiteindelik oorvloed en voorsiening vir sy broers en pa moes gee. Ja, daardie einste wrede broers wat hom as slaaf verkoop het – HULLE was die voorwerpe van die oorvloed wat Josef moes voorsien. Is dit nie skryend nie? Soos die Here Jesus verhoog is tot die Vader se regterhand – nie vir Sy eie eer nie – maar om die ewige lewe en reddende geluk te skenk juis aan Sy vyande – sondaars! (Rom 5:10). So het Josef die redder geword van diegene wat hom verwerp en verag het.

3 Die manier hoe die Here in Josef se lewe gewerk het, is nie ‘n bloudruk van presies hoe Hy in alle ware gelowiges se lewens sal werk nie. Bedoelende dat swaarkry en lyding altyd tot uitkoms en glorie sal lei nie. Dis nie waar dat lyding in alle gevalle ‘n gelowige voorberei vir ‘n goeie uitkoms nie. Vir sommige breek die uitkoms nooit op aarde aan nie. Ja DAT Christengelowiges in hierdie lewe nie pyn en lyding vryspring nie, staan vas. En DAT hulle in die volgende bedeling heerlikheid sal beleef, staan net so vas. Maar, in hierdie aardse bedeling word lyding nie noodwendig opgevolg deur uitkoms en glorie nie.

Ons sien dit deur byvoorbeeld vir Josef met Moses te vergelyk. Met Moses werk die Here net mooi in die teenoorgestelde rigting. Josef begin in Kanaan en eindig in Egipte met die Here se mense onder sy sorg. Moses begin in Egipte en eindig in Kanaan met die Here se mense onder sy sorg. Josef begin sy lewe as ‘n skaapwagter in sy pa se diens en word later verhoog tot die Farao se paleis. Moses word as baba na die Farao se paleis geneem, maar word later die wagter van sy skoonpa se kudde. Die Here verhoog vir Josef van die veekudde tot die paleis ten einde God se mense van hongersnood te red. Maar Moses moes die paleis verlaat ten einde die Here se volk uit slawerny te verlos.

4 Josef was God se boodskap van uitkoms, hoop en redding in die aangesig van ‘n nasionale (en eintlik internasionale) ramp.

Kyk mooi: Ja, Josef het bitter slegte nuus aangekondig: Daar kom sewe jaar van hongersnood. Min sal dit oorleef. Dit sal ook ander lande raak.

Maar, Josef was nie ‘n doemprofeet nie. Hy was self die uitkoms, die hoop. Want deur hom sou daar kosvoorrade opgebou word en sou daar uitredding en voorsiening wees.

Die Evangelieboodskap kondig die slegste nuus denkbaar aan: Die hele mensdom stuur af op ‘n ramp. Die sondeverlore mensdom kan homself nie uit sy verknorsing red nie en is op pad na die gewisse oordeel van God.

Maar dieselfde Evangelieboodskap kondig ook die beste nuus denkbaar aan: Die groter Josef – Jesus Christus – het gewisse verlossing, redding en saligheid bewerk. Wie Hom daarvoor vertrou, ontvang dit, want Hy het die prys met Sy eie lewe betaal.

Wanneer ons dus die Evangelie aan mense verkondig, moet ons beide die slegte en goeie nuus meedeel en nie net een van die twee nie. Ons verkondig nie net sonde en oordeel nie. Ons verkondig ook nie net die verlossing in Christus nie. Ons verkondig te alle tye die volledige boodskap – met die appèl tot geloof en bekering.

Tafelberg Gemeente
Buitenkantstraat 39, Kaapstad
www.tafelbergkerk.co.za
Dr Chris Saayman
Hoofbron: Bob Deffinbaugh

Category Genesis Reeks

© 2018 Designed with ❤ by Web Crew