Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

Laai Af

GENESIS-REEKS NO 36
Genesis 38: Die geraamte in Juda se kas

Genesis 38 lyk en voel of dit die vloei van die Josef-verhaal – wat by hfst 37 begin het – onnodiglik onderbreek.

Tog is dit nie ‘n onderbreking van die Josef-verhaal nie, want dit wys vir ons die skerp morele kontras tussen Josef en sy broers en wat die geestelike rede was waarom hulle uiteindelik in Egipte in plaas van die Beloofde Land beland het, naamlik hulle afvalligheid van die Here en Sy verbond.

Ballingskap & swaarkry in Egipte was God se manier van genadige loutering sodat die volk Israel aan hulle Goddelike roeping kon voldoen, naamlik om uiteindelik die Messias te baar. Maar Juda se optrede wys dat hulle nie hiervoor geestelik gereed was nie. Die wortels van die volk Israel was verrot. Daar was geraamtes in die kas. Alle seën en heil wat uit Israel voortgekom het, was te danke aan God se genade en Sy ewige besluit en niks waarop hulle hulle kon beroem nie. Daar was niks IN HULLE wat hulle liefhêbaar gemaak het nie. In Deut 7 sê die Here dat Hy nie hierdie volk liefgehad het op grond van iets aantreklik wat in hulle was nie, maar slegs op grond van Sy belofte wat Hy aan Abraham, Isak en Jakob gemaak het.

Dis waar dat Gen 38 dalk ‘n ouderdomsbeperking moes hê, maar tog – omdat die Heilige Gees die eintlike outeur is – is daar niks in hierdie beskrywing wat die mens sou uitlok om self hierdie sondes te gaan pleeg nie. Dis baie eerlik geskryf, maar ook baie sober en baie aktueel vir die tyd waarin ons vandag leef. Dieselfde magte en kragte wat in Juda se tyd aktief was, is vandag steeds aktief om die mens te vernietig en tot opstand teen die Here aan te spoor. Dieselfde God wat daardie tyd in Sy voorsienigheid die mense se sondes oorheers het sodat Sy planne vervul word, is vandag nog op die Troon!

VERSE 1-11 > JUDA SE FAMILIE

Die verlies van Josef was nog net maar die begin van Jakob se smarte. Skaars het Josef weggeraak of Juda besluit om groener weivelde te gaan soek – naamlik by die heidense Kanaäniete. Hy bevriend vir Gira/Hira, ‘n man wat ‘n slegte invloed op Juda gehad het. Waar ookal Hira se naam genoem word, is daar probleme vir Juda.

Dis juis terwyl Juda by Hira kuier, wat hy ‘n Kanaänitiese vrou sien. Net wat hy van haar sien, net haar uiterlike, motiveer hom om haar as vrou te wil neem. ‘n Bloot fisiese keuse dus – met absoluut geen geestelike beginsels ter sprake nie. Hy sien haar, neem haar en lê by haar. Uit die oorspronklike teks lyk dit nie of hy onmiddelik met haar met haar getrou het nie. Dit was eerder ‘n kwessie van ontug. In beginsel presies wat Sigem met hulle suster Dina in Genesis 34 gedoen het. Nou doen Juda dieselfde, terwyl hy een van die broers was wat so ontstoke was oor wat Sigem aan Dina gedoen het dat hy saam met hulle bereid was om die Sigemiete te gaan uitmoor.

Drie seuns is gebore uit Juda se vereniging met die Kanaänitiese vrou naamlik Er, Onan en Sela. Er het met Tamar getrou, maar Er was so goddeloos dat die Here hom doodgemaak het. ‘n Bewys – terloops – dat ‘n mens voortydig kán sterf! Er kon dalk lank geleef het, indien hy nie so goddeloos was nie. Toe maak God self hom dood. Want God is nie net liefde nie. Hy is ook heilig en regverdig. In Openb 2:23 waarsku die liefdevolle Jesus die gemeente in Thiatira dat Hy hulle kinders sal doodmaak omdat hulle ‘n vals leraar op hulle kansel verdra het.

Onan moes toe met Tamar trou om ‘n nageslag vir oorlede Er op te bou, want Er was die eersgeborene. Ons lees later in Deut 25 hoe Moses hierdie tipe huwelike gereël het. Wanneer ‘n eersgebore man sterf, moes sy vrou met sy broer trou en nie met iemand van buite nie. Die eerste seun wat dan gebore word, moes die naam van die oorlede eersgeborene kry ensovoorts. Op hierdie manier sou die familienaam voortleef. Dit was ‘n algemene praktyk in die destydse Nabye Ooste en die Here het toegelaat dat Moses dit in die wet opneem.

Onan het egter geweet dat sy kinders by Tamar eintlik sy oorlede broer se naam sou laat voortleef en nie sy eie nie en daarom wou hy nie kinders by Tamar hê nie. Om dus te verhoed dat Tamar swanger word, het Onan sy saad op die grond gestort – soos vers 9 dit stel. Hierdie handeling was goddeloos in die Here se oë en daarom het die Here ook vir Onan laat sterf.

Dit is nie geboortebeperking as sulks wat verkeerd is in die Here se oë nie, maar Onan se ongehoorsaamheid terwyl sy pa hom in vers 8 beveel het om ‘n nageslag daar te stel. Onan sondig teen Tamar, teen sy pa, teen die Here se wil, maar ook teenoor sy oorlede broer. Sy eie persoonlike belange is eerste. Dis hierdie onbekeerlike selfsug wat veroorsaak het dat die Here hom getref het.

Ons kan dus nie hierdie insident gebruik as ‘n Skrifbewys dat geboortebeperking as sulks verkeerd is nie. Onan was in ‘n spesifieke omstandigheid en binne ‘n bepaalde kultuur en dit is dáárbinne wat hy oortree het as gevolg van sy selfsug en wantroue teenoor die Here.

Die vraag is dus nie of ons geboortebeperking toepas nie, maar wat die motief van ons hart is. Is dit selfsug? Wil ons nie kinders hê nie vanuit verkeerde beweegredes? Is dit wantroue teenoor die Here – wantrouigheid OF Hy in staat sal wees om te sorg? DIT is waar die sonde teenoor die Here somtyds lê en nie in geboortebeperking opsigself nie. Natuurlik moet ‘n mens jou kop gebruik en nie dom wees nie, maar die uiteindelike innerlike motief is die belangrikste voor God.

VERSE 12-19 > JUDA DIE ONTUGTIGE

Nadat Er en Onan dood is, was dit logies dat Sela met Tamar moes trou, maar Juda het hom nooit aan Tamar gegee nie. Blykbaar het hy gedink dit is Tamar wat nie kinders kán hê nie en daarom was dit sinloos dat Sela met haar trou.

Intussen is Juda se naamlose Kanaanitiese vrou oorlede en voeg daarby die feit dat die samelewing ingestel was op die sensuele en seksueel-permissief was, is Juda baie kwesbaar en dryf hy net verder en verder weg van die Here se verbond met sy vaders.

Aan die ander kant sit Tamar sonder kinders en ‘n nageslag en is daar nie ‘n manier hoe sy die naam van haar eerste man – Er – kon laat voortleef nie. Sy moet vinnig ‘n plan beraam.

Toe Juda en Hira na Timna gaan om skaap te skeer, kry Tamar ‘n mal idee. As sy dan nie vir Sela kan kry nie, sal sy swanger word by Juda self! Sy weet goed hoe dit by die jaarlikse skaapskeer gegaan het. Ná ‘n week se harde en uitputtende werk, was dit ‘n gefuif van ‘n ander wêreld en die drank het sterk gevloei. En sy ken haar skoonpa. Morele reinheid was nie juis een van sy sterk punte nie. Dis nogal duidelik in die verhaal dat Juda nie optree soos ‘n nuweling wanneer dit kom by prostitute nie. Hy weet hoe dit gereël moet word. Hy was heel bekend met hierdie soort van ding. Hy is ‘n man met ondervinding – dis duidelik.

Omdat Tamar vir Juda ken, besluit sy om haar soos ‘n prostituut te vermom. Sy is oortuig dat – as sy net soos ‘n prostituut kan lyk en op Juda se pad kom – Juda self die saak van daar af sal neem. En sy was heeltemal korrek in haar oordeel.

Toe Juda die “prostituut” sien was hy dadelik gereed om te onderhandel. Dit was algemene praktyk om van die kliënt ‘n soort waarborg van betaling te kry. Nie dat Tamar in enige vergoeding belanggestel het nie. Sy wou net by Juda swanger word en klaar. Maar die waarborg was belangrik sodat sy later ‘n geldige bewys kon hê dat Juda die pa is.

Juda oorhandig dus sy seëlring en sy staf – wat destyds gebruik is as ‘n soort handtekening of waarmerk. Amper soos ‘n hedendaagse pinkode. Elke persoon het ‘n unieke seëlring gehad wat soos ‘n stempel op warm was op dokumente gedruk kon word om transaksies te beklink. Niemand se seëlringe het dieselfde gelyk nie.

Gewoonlik was hierdie tipe ontmoetings met prostitute sommer gou oor en vergete. Juda het nie veel erg aan wie of wat die prostituut is nie. Sy is net ‘n gebruiksartikel. Tamar het ook dadelik teruggegaan na haar pa se huis en as weduwee voortgeleef – haar normale gang gegaan. Sekere dinge sou egter gebeur wat hierdie vinnige impulsiewe daad van onsedelike goddelose immoraliteit in ‘n nagmerrie sou laat ontaard – iets wat Juda nooit weer uit sy gedagtes sou kon kry nie.

VERSE 20-26 > JUDA SE DWAASHEID

Toe Juda die prostituut se vergoeding na haar toe stuur om sy seëlring en staf terug te kry, was sy skoonveld. Wat hy gedink het ‘n prostituut is, het spoorloos verdwyn. En so ook sy seëlring en staf.

Toe Hiram navraag doen, voeg hy ‘n woord by wat Juda nie gesê het nie. Hy vra vir die mense waar die TEMPELprostituut is. U sien, die godsdiens van die Kanaaniete was so pervers en korrup dat prostitusie deel was van hulle aanbidding van die vrugbaarheidsgode. En Juda was so ver verwyderd van die ware godsdiens waarin hy grootgemaak is, hy was geestelik so verblind, dat hy nie eens bewus was van waarmee sy vriende die Kanaaniete besig was nie. Vir hom was sy kuier by die prostituut net ‘n vinnige plesiertjie. Vir die Kanaaniete was dit aanbidding … van afgode. Immoraliteit lei byna altyd tot afgodery. Maar Juda is totaal onkundig oor hierdie gevaarlike dinge.

Juda was so magteloos en verleë en vir die gek gehou toe hy hoor dat die prostituut nooit bestaan het nie. Iemand het hom vir die gek gehou en hy kon nie waag om die diefstal van sy seëlring aan te meld nie! Hoe meer hy hierdie vrou sou soek, hoe vinniger sou sy dwaasheid publieke kennis word.

Juda besluit dus om die saak net te los. En drie maande later begin hy ‘n bietjie makliker asemhaal. Dit lyk of alles oorgewaai het. Sjoe, hy het lig daarvan afgekom. Dankie tog!

Een dag hoor Juda egter dat Tamar swanger is. Dit was ernstig, want Tamar was steeds daaraan verbind om met Sela te trou. Dus het sy owerspel gepleeg. Dis doodsake! Juda se verontwaardiging en woede ken geen perke nie. Tamar moet sterf! Verbrand word of gestenig word. Dit klink of Juda sy eie skuldige gewete wil toesmeer deur iemand anders te straf.

Aan die ander kant sou dit goed wees as Tamar kon sterf, want dan hoef hy nooit vir Sela aan haar as vrou te gee nie en sou hy verdere verleentheid gespaar word indien sy ook aan hóm geen nageslag gee nie!

Mens sou dink dat Tamar van die huise se dakke af sou gaan uitbasuin dat Juda haar ongeborene se pa is en dat sy hom wou terugkry vir al die jare wat hy Sela van haar weerhou het. Maar haar optrede is baie beleefd en onderdanig. Ongesiens stuur sy die bewyse – die seëlring en staf – vir Juda en versoek hom om tog net bietjie daarna te kyk en sien aan wie dit behoort. Geen veroordelende beskuldigings nie, niks.

‘n Mens kan jou nie voorstel hoe groot die skok moes wees nie. Die doodsvonnis wat hy so pas oor Tamar uitgespreek het, kom homself toe! Juda – die een uit wie die Messias gebore sou word en die kind van Abraham – moet van Tamar sê: “Sy is meer regverdig as ek” (v 26). Klaarblyklik het hierdie gebeure ‘n kentering by Juda gebring, want hy het nooit weer aan Tamar geraak nie en wanneer ons weer van hom lees, is hy terug by sy pa en broers.

VERSE 27-30 > JESUS SE FAMILIE

Tamar het geboorte gegee aan tweelingseuns: Peres en Sera. En weet u wat? Die Here Jesus sou uiteindelik uit die Peres-lyn gebore word. Volgens Rut 4:12 en Mat 1:3 was Boas uit die geslag van Peres en Obed was Boas se seun by Rut en Obed was die oupa van Dawid en die Here Jesus is uit die geslag van Dawid gebore.

Is die weë van die Here nie verstommend nie?

Wie sou ooit kon dink – met die lees van Genesis 38 – dat daar enige kans kon wees dat die belofte-lyn van waaruit die Christus gebore sou word OOIT deur Juda sou kon loop? En nie uit wátter seun van hom nie! Uit ‘n seun uit prostitusie gebore!

Hier is hierdie man – so ver van God af, trou met ‘n heidense vrou uit Kanaan, in onvermoë om sy belofte aan sy skoondogter na te kom, vervalle in ontug met ‘n prostituut … hy kon net sowel deelwees van ‘n heidense okkultistiese kultus.

En dan word vir hom ‘n seun uit ontug gebore – Peres – die voorsaat van Dawid en uiteindelik van Jesus Christus!

WIE buiten die lewende God alleen sou so iets tot uitvoering kon bring? Maar Hy werk deur soewereine voorsienigheid om Sy ewige Raadsplan tot vervulling te bring. Sy volk sondig teen Sy verbond, maar Hy bly getrou daaraan! Dis asof Hy net nie ingeperk of gekortwiek word deur die mense se sonde en boosheid nie. Wat Hy gesê het, doen Hy – sonder dat hy afhanklik is van die mens se samewerking.

Hierdie groot waarheid van hoe God soewerein in voorsienigheid werk, hou vir ons ‘n troos asook ‘n gevaar in.

DIE GEVAAR is dat ons selftevrede & traak-my-nie-agtig kan raak en dink dat sonde en geestelike louheid nie saakmaak nie, want die Here kom mos in elk geval by Sy wil en doel uit. Dit is natuurlik ‘n wanindruk. Die broers se verkoop van Josef en Juda se sondes het baie saakgemaak! Die Here is nie verheerlik nie en hulle het skuldig gestaan en is deur middel van die Egiptiese ballingskap deur God getugtig.

DIE TROOS is dat ons in rowwe tye rustig kan wees in geloofsvertroue dat die Here weet wat Hy doen en dat Sy troon regeer. Solank as wat ons op hierdie planeet is, sal tragedie en teenspoed en hoofpyne en verhoudingsbreuke en aanvegtings en die slaankrag van sonde altyd binne ons ervaringswêreld wees. Dis dan wat ons kan rus in die Here se soewereine almagtige voorsienigheid. Hoewel dit nie sigbaar is vir die blote oog nie. Ons moet dit sien deur middel van geloofsvertroue wat op die Skrif gebou is.

Tafelberg Gemeente
Buitenkantstraat 39, Kaapstad
www.tafelbergkerk.co.za
Dr Chris Saayman
Hoofbron: Bob Deffinbaugh

Category Genesis Reeks

© 2018 Designed with ❤ by Web Crew