Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

Laai Af

GENESIS – REEKS NO 35
Reis na Egipte – Genesis 36-37

Die eerste lesers wat Gen 36 gelees het, was die Israeliete wat deur die Jordaanrivier moes gaan om die Beloofde Land in te neem en die Kanaäniete te vernietig. Daar was egter mense wat NIE aangeval mog word nie – onder andere die Edomiete, wat die nageslag van Jakob se broer Esau was. Ons lees hiervan in Deut 2: 2-5 waar die Here hulle beveel om deur die Edomiete se gebied te gaan, maar hulle glad nie uitlok of van hulle grond vat nie.

Dit was dus vir die Israeliete belangrik om vooraf te weet wie/wat hierdie Edomiete was en ‘n gedokumenteerde rekord van Esau se geslagte te hê.

Streng gesproke het hoofstuk 36 dus min vir die kerk van vandag te sê. Behalwe dat dit minstens drie belangrike sake uitwys:
1 –> Esau was ‘n baie goedhartige en genadige man. Hy het byvoorbeeld afgesien daarvan om wraak op Jakob uit te oefen en later was hy die minste deur vir Jakob by die vrugbare grond te los en self ver weg te trek na die bergagtige Seir. Hy gun dus vir Jakob die beste en skep afstand tussen hulle sodat daar nie ‘n oor en weer bemoeienis met mekaar se sake sou wees nie.

Hierin sien ons ‘n skadubeeld van die Here Jesus nie waar nie? In Sy genadige goedheid teenoor mense wat eintlik verdien om met ewige strawwe gestraf te word.

2 –> Ons sien tweedens dat – wanneer dit by die uitverkiesing kom (waarvan Romeine 9 eeue later praat) – Esau eintlik die een moes wees wat deur God verkies moes word as die een deur wie die vervulling van die verbondsbeloftes moes loop. Want Esau was ‘n baie beter man as Jakob. Indien God se verkiesing dus gebaseer sou wees op kwaliteite en goeie werke, moes Esau gekies word.

En tog kies die Here vir Jakob. Om iets daarmee te illustreer, naamlik dat God se verkiesing glad nie op die MENS se hoedanighede gebaseer word nie, maar SLEGS op God se eie keuse en genade en barmhartigheid. Nie die mens se vrye wil nie, maar God se wil sê Rom 9:16 so duidelik. Die Here kies nie noodwendig mense wat “goed” is of wat meer “liefhêbaar” is nie. Sy ewige raad is gebaseer op NIKS in die mens nie en ALLES in Homself.

3 –> Hoewel God by Esau verbygegaan het in Sy ewige verkiesing (besondere genade), was Esau nog steeds die voorwerp van God se algemene genade! Die Here het hom besonderlik geseën op tydelike gebied. Hy was voorspoedig. Vandaar ook juis dat die volk Israel die Edomiete (Esau se nageslag) geen kwaad mag aandoen nie, geen grond vat nie, niemand leed aandoen nie ens. Ja, God se besondere liefde sluit slegs diegene in wat in Christus is, maar Sy algemene liefde sluit ook die verlore mensdom in in terme van tydelike seëninge.

En dan – vanaf hoofstuk 37, kom die fokus terug na Jakob toe. In hoofstuk 36 sien ons die geslagte van Esau. In hoofstuk 37 (en verder) sien ons hoe Jakob se nageslag ontplooi het. En daaraan word die meeste aandag gegee, want die Messias sou uiteindelik uit Jakob se nageslag gebore word en nie uit Esau nie.

‘n Mens is geneig om te wil dink dat hoofstuk 37 die begin is van JOSEF se verhaal, maar tegnies-gesproke is dit eintlik JAKOB se verhaal. Jakob verdwyn eers in hoofstuk 49 van die toneel af. Die doel van die laaste deel van Genesis is om vir ons wys hoe die Here God uit Jakob DIE nasie/kerk bou uit wie Jesus na die aarde sou kom. Die Here God is al die pad besig om ‘n nasie te vorm. Josef se gaan na Egipte en sy verhoging tot eerste minister, het dit moontlik gemaak dat Jakob en sy seuns behoue sou bly. Dit gaan dus nie eintlik oor Josef nie, maar oor Jakob. Josef is net daar sodat JAKOB belig kan word. Onthou die Messias sou nie uit Josef kom nie, maar uit Juda. Maar die Here gebruik vir Josef om vir Juda (en die res van die broers) behoue te laat bly met die oog op die toekoms wanneer die Christus gebore sou word.

Die geestelike beginsel wat in die Josefverhaal aan die werk is, is ook in Christus vervul. En die beginsel is die volgende: Dit wat lyk soos ‘n vloek, word ‘n seën. Jakob het gedink dis die einde toe hy hoor Josef is dood. Die daad wat sy broers gepleeg het was aaklige sonde. Maar die Here swaai die vloek om in ‘n seën toe Josef almal van hongersnood en gewisse dood red.

Net so gebruik God later die vloek van Jesus se kruisdood om ‘n ontelbare menigte uit alle nasies te red. Die mense doen ‘n verskriklike sonde deur vir Jesus dood te maak, maar God gebruik daardie einste sondedaad om redding te bewerkstellig. Dit is die beginsel wat deur die Josefverhaal loop.

Terug by hoofstuk 37: Waarom was sy broers so hatig teenoor Josef? Ja, hy was die jongste. En tog was hy reeds 17. In daardie tyd was talle dames op 17 reeds getroud. Daar was selfs konings wat jonger as 17 was.

Josef se broers het hom gehaat agv die geestelike gesag wat hy gehad het en oor hulle uitgeoefen het. Josef het die Here se outoriteit in sy lewe gehad. Vir hulle was dit ‘n bitter pil. Veral omdat hulle pa aan Josef die gesag gegee het en hy vir Josef voorgetrek het. Die spesiale kledingstuk wat hy vir Josef gegee het, was op ‘n manier die simbool van daardie gesag. Dit het hom laat uitstaan bo die ander. Sy broers het daardie jas/rok gehaat. En hulle het vir Josef gehaat.

Ons moet in gedagte hou dat Jakob Ruben (die oudste) se eersgeboortereg vir Josef sou gee as gevolg van die feit dat Ruben sy pa se byvrou onteer het (Gen 35:22). Dit staan in 1 Kron 5:1-2. Dis eers in Genesis 49 waar Jakob formeel die oordrag van eersgeboortereg van Ruben na Josef doen, maar dit was reeds al die pad in sy hart en gesindheid en houding en daarom het hy vir Josef voorrang gegee. Hy het Josef aangestel as ‘n soort supervisor oor sy ouer broers. Daarom was dit net logies dat Josef aan sy pa sou gaan rapporteer oor wat hy by sy broers waarneem in terme van hulle werkverrigting, betroubaarheid ens. Dit was nie so dat hy hulle afgeloer en dan by sy pa gaan klik het nie. Daarby was sy verantwoordelikhede gewigtig. Toe Jakob hom na Sigem stuur was dit ‘n goeie 60km reis en weer 80km na Dotan. En Sigem was ‘n gevaarlike plek, want dit is waar Josef se broers byna die hele dorp uitgewis het uit weerwraak op hulle suster Dina se verkragting.

Josef se twee drome het nie sake vergemaklik nie, maar dit eerder net vererger. Eintlik was dit die laaste strooi. Nou wou sy broers hom doodmaak. Want alles dui net daarop dat Josef wil en gaan koning word oor hulle. Hulle verwerp hom dus en veroordeel hom tot die dood, want al wat hulle sien wanneer hulle hom en sy spesiale rok sien is gesag, leierskap, vermoeëns, status, mag…

Die EINTLIKE rede waarom sy broers dus van Josef met alle mag en geweld wil ontslae raak, is hulle weiering om hulle te onderwerp aan die gesag wat hulle pa aan Josef gegee het, want hulle het daardeur bedreig gevoel. Hulle eie trots en mag en prestige was in gedrang. Dit wat Josef gehad het, het hulle gevoel kom eintlik vir HULLE toe!

Hierin wys die Heilige Gees vir ons hoe Josef ‘n profetiese voorafskaduïng van die Groter Josef, die Here Jesus Christus is. Want wat was die kernrede waarom die Joodse geestelike leiers vir Jesus verwerp het en ter dood veroordeel het? Dink aan Matteus 7:28 –> “Toe Jesus klaar gepraat het, was die massas verwonderd oor Sy leer, want Hy het gepraat soos een wat gesag het en nie soos hulle geestelike leiers nie”. Dink watter knou het die Skrifgeleerdes se trots gekry.

Die Joodse geestelike leiers wou hulle eie posisie beskerm en dus met Jesus wegdoen, want Sy gesag en grootsheid was vir hulle ‘n bedreiging. En God die Vader wat hulle as hulle God bely het, het vir Jesus daardie posisie gegee! Presies so met Josef se broers.

Ons sien dus vir Josef in sy verwerping deur sy broers as ‘n profetiese vooruitwysing na die Here Jesus.

Die vyandigheid in hierdie manne se binneste het opgebou tot op breekpunt. Nou wag hulle net vir die regte geleentheid om hom dood te maak. En onthou: hierdie mense was gemeen en wreed. Hulle het allermins soos besnede verbondsmense gelyk. Dink maar hoe het hulle die mans van Sigem geslag sonder om twee keer te dink.

Toe hulle in Dotan was en Josef – in opdrag van Jakob – hulle moes besoek, het hulle hulle kans gekry. Hoewel Ruben pleit dat hulle hom moes vermoor sonder bloedvergieting. Liewer in ‘n put gooi en dat hy daar verdrink en die lyk sommer daar bly. Hulle kan dan vir hulle pa gaan vertel ‘n wilde dier het vir Josef opgevreet. Hulle sal sommer sy simpel rok-ding vol dierebloed maak en dit vir hulle pa gaan wys. Mens kan kwalik glo hoe hard en wreed hulle was. Nadat hulle vir Josef in die put gegooi het, gaan hulle rustig sit en eet. Geen skuldgevoel, geen berou, geen jammerte. Net honger! Terwyl Josef uit die put skree, geniet hulle hulle maaltyd.

Identies met hoe die Joodse leiers teenoor die Here Jesus sou optree.

Maar moenie dink die Here God slaap nie. God is soewerein en SY plan sal uiteindelik slaag en nie die mens s’n nie. Die Here gebruik hierdie broers se boosheid om Sy eie doelwitte te bereik. Kyk hoe werk God se voorsienigheid in aksie:

1 Die Here sorg dat die put leeg is. Josef verdrink dus nie. 2 Op daardie oomblik kom daar ‘n klomp handelaars verby op pad na Egipte. 3 Die Here werk in Juda se hart ‘n mate van besorgdheid. Hy stel voor dat hulle vir Josef uit die put haal en aan die handelaars verkoop. Dan maak hulle sommer ‘n ekstra paar rand. Twintig sikkels silwer – die prys vir ‘n slaaf, sou Moses later bepaal volgens Lev 27:5. Vir Juda gaan dit oor die geld, maar die Here werk daardeur ‘n meesterplan om vir Josef in Egipte te kry. Want sy twee drome moet vervul word. Hy moet Eerste Minister word en sy familie voor hom buig vir kos. Soos Christus verhoog moes word ná Sy lyding en dood.

Op Ruben se aanbeveling, besmeer hulle dus Josef se kleed met bloed en gaan wys dit vir hulle pa. En uiteraard glo Jakob dit. Sy totale wêreld stort in duie. Nou kan hy net sowel maar sterf. So voel hy. Hy is gebreek. Hy is ontroosbaar.

Mens kan nie help om raak te sien hoe Jakob se seuns hom mislei op dieselfde manier waarop hy sý pa – Isak – mislei het nie! Hulle slag ‘n bok en kom belieg vir Jakob. Net soos Jakob met ‘n slagding na Isak gegaan het om hom te mislei. En daardie leuen het vir hom en sy pa geestelik gebind. Net soos die leuen oor Josef sy broers en sy pa vir baie jare lank geestelik vasgebind het. ‘n Leuen vorm ‘n geestelike binding en gee vashouplek aan satan. ‘n Mens moet vinnig daarmee handel, anders kan en sal jy nooit as ‘n bevryde, gelukkige, vredevolle mens kan leef nie.

Maar terwyl Jakob kerm “weë my”, is die Here besig om agter die skerms alle dinge ten goede te laat meewerk – vir hulle almal. Want in Egipte word Josef deur die handelaars aan Potifar verkoop. En hy was die Farao se persoonlike offisier. En dit was nie per ongeluk nie. Dit was volgens God se voorsienigheid. Toe Josef daar in die vreemde sit en in benouende omstandighede, was hy steeds in die Here se sorg. Maar dit sou nog jare neem voordat die eintlike doelwit van die Here bekend sou word.

DIE BOODSKAP VIR ONS

Die vernaamste boodskap is dat ons die wese, karakter en werksmetode van die lewende God beter leer ken: Sy soewereiniteit, Sy uitverkiesende genade, Sy trou, Sy alvermoë, Sy voorsienigheid. Ons sien ook die verbysterende manier waarop die Here Jesus – wat eers eeue der eeue der eeue later gebore sou word – reeds op die agtergrond beweeg en hoe Sy onskuldige verwerping, lyding in Josef uitgebeeld word. Die wonder dus van die perfeksie van die Bybel en die inspirasie van die Gees in elke Bybelboek. Ja, die Goddelike bestuur van die geskiedenis. Dit is werklik niks minder as verbysterend nie. Dit gee ‘n mens se vertroue en verankerdheid in die Skrif ‘n reuse hupstoot!

Dis wonderlik om te sien hoe die Here God alles in Sy soewereiniteit volgens Sy ewige Raadsplan bestuur. Dit wat hier – in die Josefverhaal ontvou – vervul dit wat die Here baie jare tevore reeds aan Abraham beloof het in Genesis 15:14. Vir Abraham het God gesê: “Weet verseker dat jou nageslag vreemdelinge sal wees in ‘n vreemde land waar hulle slawe sal wees en verdruk word vir 400 jaar. Eers dan sal hulle daar wegkom met baie besittings..”

In God se ewige Raadsplan was dit dus vooruit gedokumenteer dat Sy volk vir 400 jaar in verdrukking in Egipte sou wees. En dat die uittog o.l.v Moses sou plaasvind, die woestynomswerwing en later die intog in die beloofde land onder Josua.

Josef se broers wat hom aan Egipte verkoop, was dus die begin van die vervulling van God se woord aan Abraham, want Josef se verblyf in Egipte sou tot gevolg hê dat die volk Israel in Egipte beland.

Josef se broers het geen idee gehad van wat hulle EINTLIK besig was om te doen nie. Hulle wou beslis nie God se bedoeling verwesenlik nie. Dit was die laaste ding in hulle gedagte. Hulle wou net van Josef ontslae raak. Hulle doen gruwelike sonde en was skuldig aan sonde en sou ‘n prys daarvoor betaal, maar steeds regeer die Here daaroor en daardeur! Hy praat nie hulle sonde goed omdat hulle eintlik Sy plan uitvoer nie! Nee, hulle bly skuldig en verantwoordbaar, maar nogtans triomfeer die Here se ewige Raadsplan ten spyte van die sonde. Die Here het belowe en besluit om Sy verbondsbeloftes aan Abraham en Isak en Jakob te vervul deur SPESIFIEK HIERDIE seuns van Jakob, gebore uit 4 vroue! En niemand of niks kon verhoed dat die Here se beloftes vervul word nie. Nie Jakob OF Josef OF Ruben OF Juda OF enige ander seun van Jakob OF Farao OF Potifar OF sewe jaar droogte kon dit verhoed of vertraag nie! Efesiërs 1:11 sê die Here werk alles volgens Sy bedoeling en ewige Raadsplan.

God se uitverkiesing is dus ook nie gegrond op enigiets wat in enige mens teenwoordig is nie. Om te dink dat hierdie manne – hierdie seuns van Jakob – was die wortelstelsel van die Israelitiese volk en OT-Kerk asook die NT-kerk! Mense wat bereid was om hulle eie vlees en bloed te haat en weg te doen en vir jare lank met bedrog en leuens te leef. Die heidene in Kanaän het beslis meer liefde en lojaliteit gehad.

Dit is soos Romeine 9 sê dat die Here se verkiesing gegrond is op Sy eie besluit en genade en NIKS in die mens nie. En natuurlik: Wie Hy eenmaal Syne gemaak het, sal nie dieselfde bly nie. Dit sien ons verder in die Josefverhaal – hoe hierdie broers ingebreek word en innerlik getransformeer word en nuwe mense word.

Die beginsel is dus: Die Here roep nie diegene wat goed is in Sy oë nie. Maar diegene wie Hy roep, MAAK Hy goed in Sy oë.

Tafelberg Gemeente
Buitenkantstraat 39, Kaapstad
www.tafelbergkerk.co.za
Dr Chris Saayman

Category Genesis Reeks

© 2018 Designed with ❤ by Web Crew