Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

Laai Af

GENESIS-REEKS NO 34
Die pad terug – Genesis 35

Daar kom tye in die lewens van die Here God se ware kinders – mense wat deur Jesus Christus se kruisbloed kinders van God geword het – wanneer dit voel of dinge buite beheer is en probleme toesak en dit noodsaaklik is om geestelike voorraadopname te maak en terug te gaan tot by die plek waar jou reis as volgeling van Christus begin het.

Jakob sien hoe buite beheer sy kinders is en hoe hulle dinge doen wat glad nie strook met ‘n wandel met die Here nie. Hy voel magteloos en onkundig oor wat hom te doen staan. En tog is die Here so barmhartig teenoor Jakob, dat Hy hom instruksies gee oor wat om te doen. Die Here sê vir Jakob om terug te gaan na die plek waar hy begin het en waar die Here die eerste keer aan hom verskyn het. En dat hy daar ‘n altaar moes gaan bou.

Dit was nou byna 30 jaar nadat Jakob beloof het om na Betel terug te keer en 10 jaar sedert hy van Laban af weg is op pad na die Beloofde Land. Sedertdien het hy versuim om by Esau by Seir te gaan aansluit en het hy by Sigem (in die teenoorgestelde rigting) vasgehaak en daar ‘n huis gebou en alliansies met die Kanaäniete gesluit. En dit terwyl Betel net 40km van Sigem af was. Mens kry die indruk dat Jakob meer besorg was oor welvaart en sekuriteit as oor heiligheid en ‘n wandel met God. Soos vele Christene vandag, het dit uiterlik gelyk of Jakob met God wandel, terwyl die teenoorgestelde waar was. Hy het steeds die uiterlike dinge gedoen, maar innerlik was sy hart ver van die Here af (Vgl 2 Tim 3:5; Openb 3:5; Openb 3: 15-17). VRAAG IS: IS DAAR ‘N PAD TERUG? Genesis 35 wys die pad terug! Goddank vir Genesis 35!

Jakob kon goed onthou van die tyd toe die Here aan hom by Betel verskyn het. En hoe bang hy was vir sy broer Esau wat hom wou doodmaak. Op pad terug na Betel kon hy onthou van die droom waar hy die leer gesien het wat tot in die hemel reik, met engele wat op die leer op en neer gaan. Hy kon die beloftes van die Here onthou. En hoe die Here dit waargemaak het.

Dit bemoedig ‘n Christengelowige wanneer hy/sy in tye van beproewing en probleme kan terugdink en tye van ontmoeting met die Here kan herroep. Tye in die verlede waar die Here bevryding gegee het en Sy beloftes so ‘n werklikheid was.

Maar waarom het die Here so lank gewag om vir Jakob die instruksie te gee om na Betel te gaan? Byna 10 jaar! Eenvoudige antwoord: Jakob het nie geluister nie. Hy was nie ontvanklik nie. Ondanks sy ontmoeting met die Engel vd Verbond in die Jabbok (Gen 32) het hy baie gou weer sy besef van dringendheid om te gehoorsaam verloor. Natuurlik was hy van plan om wel een of ander tyd na Betel te gaan, maar daar was geen haas nie. Die Here HET duidelik gepraat. Maar Jakob toon weinig begeerte om te gehoorsaam.

Die tragiese gebeure in Genesis 34 het Jakob begin wakkerskud. Sy dogter word deur ‘n Kanaaniet verkrag en sy seuns maak die mense van Sigem dood uit weerwraak. Skielik voel Jakob hoe gevaarlik Sigem is. En hy word meer ontvanklik vir die Here se Woord.

‘n Christengelowige KAN wel die Here se wil ongehoorsaam wees, maar KAN NOOIT God se doelwitte en bedoelings dwarsboom en fnuik nie! Ten spyte van ongehoorsaamheid, kom die Here een of ander tyd by Sy plan en doel uit. Die Here gee vir Jakob tou en laat hom toe om sy eie pad te loop en die gevolge van ongehoorsaamheid aan sy vel te voel. Maar in die laaste instansie, doen Jakob die Here se wil! En God se beloftes word vervul! Dit is hoe soewerein die Here heers. Hoewel Hy diep bedroef is oor Sy mense se droogmakery, gaan Hy nie te kere en blaas vuur en stoom nie. Hy laat die ongehoorsame sy gang gaan en sy kop stamp. Totdat Hy deur Sy Gees die omstandighede gebruik om gebrokenheid en ontvanklikheid te bewerk. DAN praat Hy weer.

Jakob moes teruggaan na die plek waar hy begin het – en daar bly! Jakob het geweet dat die plek waarheen hy moes terugkeer – Betel (wat “huis van God” beteken) – ‘n plek was wat aan die Here geheilig was. Nou het hy skielik weer ‘n besef van God se standaard vir heiligheid en reinheid. By Betel was geen ruimte vir sonde en verkeerdhede en vreemde gode nie. Hy beveel dus sy familie om skoon klere aan te trek en alle afgode weg te gooi. Hulle het van die Kanaaniete se afgode in hulle besit gehad. Sigem se vroue en kinders was mos by Jakob opgeneem nadat sy seuns die mans van Sigem doodgemaak het. En daardie vroue het ongetwyfeld hulle gode saamgebring. En dit was maar reg so. Jakob sê nie boe of ba nie. So geestelik verlep was hy. Maar nou kom daar ‘n nuwe vlam in sy siel. Hy besef en weet God is heilig en wie in Sy teenwoordigheid leef, kan nie hand-om-die-blaas met sonde loop nie. Jakob beveel dus: Alle afgode moet begrawe word. En trek skoon klere aan.

Toe gebeur daar ‘n wonderwerk. Daar is geen weerstand van die Kanaaniete se kant nie! Geen weerwraak oor wat Jakob se seuns aan die manne van Sigem gedoen het nie. Geen protes van die vroue van Sigem wat in hulle midde was nie. Waarom nie? Want die Here het ‘n tasbare bewussyn van Sy teenwoordigheid en vrees op hulle laat val. Hulle was dus ontwapen. Die Here lig net Sy pinkie en die magtigste man word soos ‘n muggie. Want ons vind ware lewe en sekuriteit slegs in die vrees van die Here en nie in ons eie vermoë of vriendskap met die wêreld nie.

Vers 9 is opvallend. Wanneer Jakob in Betel aankom, verskyn die Here WEER aan hom, staan daar. So asof Hy net kort tevore ook aan Jakob verskyn het. Maar ons weet daar was ‘n gaping van baie jare tussen HIERDIE verskyning en die vorige keer toe die Here aan hom verskyn het. Dit was die jare van Jakob se afdwaling. Maar vers 9 vee eenvoudig daardie jare uit asof dit nooit gebeur het nie. Want dit was – uit God se oogpunt – verlore jare van geen geestelike waarde. Tye wanneer die Here se ware kind in ongehoorsaamheid en onafhanklikheid leef, is vermorste tyd. En kom so ‘n persoon terug na die Here, is dit noodsaaklik om terug te keer na die geestelike plek waar hy/sy die wil van die Here verlaat het. Jakob kon slegs ‘n paar dae van Paddan-Aram na Betel gereis het. Maar nou kom hy TIEN JAAR later daar aan. Uit hemelse oogpunt was dit verlore jare. En so bitter onnodig. Met soveel onnodige skade gedoen.

In Betel, herhaal die Here Sy belofte en seën wat Hy 30 jaar tevore reeds aan Jakob toegesê het. Dit is niks anders as die belofte van die Abrahamverbond nie. Ten diepste is die fokus- en kulminasiepunt daarvan: Die geboorte en lyding en sterwe en opstanding van die Here Jesus. Asook die uitstorting van die Heilige Gees, die prediking van die Apostels en die begin van die kerk van Christus en die insameling van alle uitverkorenes tot redding en saligheid – wat vandag nog voortduur. DIT is die EINTLIKE inhoud van God se belofte aan Abraham, Isak en Jakob.

Nou verander die Here Jakob se naam na Israel. Dit het reeds in die Jabbok gebeur – soos Gen 32 dit beskryf. Maar nou herhaal die Here die naamsverandering sodat Jakob kon weet dat die Here wat hom HIER ontmoet dieselfde God is met wie hy in die Jabbok geworstel het. Jakob mag dalk die Here se spoor byster geraak het, maar die Here het hom nie gelos nie! Die Here het met Jakob volhard. Daarom het Jakob weer die spoor gevind!

Verse 16-29 berig van die groot hartseer in Jakob se familie nadat hulle by Betel gekom het en weer op pad was weg daarvandaan.

Iewers tussen Betel en Betlehem het Ragel in kraam gegaan. Dit was nog ‘n seun. Josef was haar eerste. Josef beteken “voeg nog by my” omdat Ragel graag nog ‘n seun wou hê. En nou was dit so. Benoni word gebore, maar Ragel sterf met sy geboorte. Benoni beteken “seun van my smarte”. Jakob wou egter nie hê dit moes die seun se naam wees nie en hy verander dit onmiddelik na Benjamin wat beteken “seun van my regterhand”. Dit was dus die twee seuns wat Ragel aan Jakob gegee het: Josef en Benjamin. Ragel word op pad na Betlehem begrawe en ‘n gedenkpilaar opgerig. ‘n Pilaar wat bly staan het sodat die Israeliete wat jare later die Beloofde Land binnegegaan het, dit kon kry en bemoedig kon word deur ‘n visuele, tasbare gedenkteken van hoe die Here in die verlede gewerk het en dit weer sal doen!

Ragel se dood was waarskynlik ‘n vervulling van Jakob se woorde aan Laban baie jare tevore toe hy van Laban gevlug het en Ragel die huisgode gesteel het en daarop gaan sit het sodat haar pa dit nie kon kry nie. Maar wat het Jakob toe vir Laban gesê? “Die een by wie u die gode vind, sal sterf..” (Gen 31:32). Hy het nie geweet dat Ragel die huisgode gesteel het nie.

Maar toe gebeur daar nog iets erger:

Ruben – Jakob se oudste – pleeg owerspel met Bilha, wat eers Ragel se diensmeisie was en later Jakob se byvrou. Blykbaar was dit nie ‘n langdurige verhouding nie, maar ‘n eenmalige daad. Dis waarom Jakob niks doen toe hy daarvan te hore kom nie. Later sou Jakob egter Ruben stroop van sy eersgeboortereg as gevolg van hierdie sonde.

Die vraag is waarom Ruben uiteindelik so ‘n swaar straf van Jakob ontvang. Goed, ons weet dat sonde van seksuele aard altyd ernstig is en ook vanaf die vroegste tye het die Here se volk dit so beskou. En die NT herbevestig dit.

Tog blyk dit dat daar iets meer agter Ruben se daad skuil. Dit het nie gegaan oor wellus of dat Ruben sy oog gehad het op Bilha as jong meisie nie. Alle aanduidings is dat Bilha op daardie stadium reeds redelik bejaard was.

Ruben wou eintlik op sy pa se hoofskap beslag lê. Deur op die hoof se harem beslag te lê, het iemand op die hoof se heerskappy beslag gelê. So het dit in daardie tyd gewerk. En dit is HIERDIE sonde wat Jakob straf wanneer hy Ruben se eersgeboortereg wegneem.

In 1 Konings 2 kry ons ‘n soortgelyke situasie. Nadat Salomo koning geword het, kom Adonia na Batseba (Salomo se ma) toe en versoek haar om vir die koning te vra of hy nie vir Abisag as vrou kon kry nie. En toe Salomo dit hoor, wat doen hy? Hy laat vir Adonia daar en dan doodmaak!

Dalk het u dit al voorheen gelees en gewonder waarom op aarde Salomo die arme man doodmaak terwyl hy eintlik iets onskuldig gevra het. Antwoord: Adonia wou op Salomo se harem beslag lê en daardeur op sy koningskap!

Ruben vergryp hom dus aan sy pa se byvrou om daardeur uiteindelik sy pa te onttroon en self die hoof van die familie te word. Hy IS immers tog die eersgeborene! Waarom kan hy nie sommer dadelik oorneem nie?

Maar op die ou end betaal hy ‘n duur prys. U sien, God is liefde, maar God is ook heilig en regverdig en Hy laat Hom nie bespot nie. ‘n Groot waarheid ook vir ons dag en tyd waar mense geneig is om baie oppervlakkig te dink oor wie/wat God is – hulle dink Hy is een of ander goedige oupatjie iewers tussen die sterre wat maar te graag vergewe en vergeet. Niks is verder van die waarheid nie. Hy is heilig en regverdig.

En dan arriveer Jakob uiteindelik saam met sy broer Esau by sy pa, Isak. Tipies van hoe die Heilige Gees die Skrif uitgeadem het en die skrywer gelei het, word geen breedvoerige ophef hiervan gemaak nie. Net ‘n paar sobere sinnetjies. Indien die MENS die primêre outeur van Genesis sou wees, sou hierdie ontmoeting tussen Jakob en sy pa behoorlik opgeblaas wees. Dink net daaraan: Jakob het dekades tevore sy pa so liederlik bedrieg. Hoe sou die herontmoeting nie plaasvind nie? Dis tog iets om op You Tube te pos.

Maar die Heilige Gees stel nie in menslike sentimente belang nie. Jakob het skaars daar aangekom, toe sterf Isak. Hy was op sy uiterste laaste. En wat gebeur het, weet ons nie. Wat egter beslis gebeur het, was dat Isak en Jakob op die nippertjie vrede gemaak het. Soos die Here altyd werk: Hy is altyd betyds. En Hy weet wat Hy doen. Jakob was versoen met God en daarom wou hy en moes hy en het hy met sy pa versoen. Dis ‘n Bybelse beginsel – versoening met God en versoening met mense loop hand aan hand. Die een kan nie sonder die ander nie. Dis onmoontlik om versoen te wees met God en in vrede te lewe met bitterheid en onvergewensgesindheid en wanverhoudings met ander.

DIE BOODSKAP VIR ONS

1 Ons leer in Genesis 35 hoe geestelike vernuwing werk. Menslike logika werk soos volg: Om geestelike vernuwing te ervaar, moet ons altyd nuwe ondervindings en nuwe kennis najaag en soek. Wat is nuut? Wat is opwindend?

In die Skrif vind ons weinig hiervan. Toe Jakob terugkeer na Betel, het hy absoluut niks gedoen of ontdek of beleef nie. En wat die Here daar vir hom gesê het, was net ‘n herhaling van wat Hy tevore vir Abraham en Isak beloof het EN wat Hy tevore vir Jakob beloof het.

Dit moet vir ons iets sê.

Wat vir Jakob belangrik was, was dat hy ‘n dieper en dieper begrip moes ontwikkel van wat die Here alreeds beloof het. Hy moes ‘n dieper waardering kry van wat alreeds gebeur het, maar wat hy nie ten volle verstaan het nie. Hy het niks nuuts nodig gehad nie, maar groter insig in die bestaande. Dis waarom die gemeente in Efese moes hoor dat hulle na hulle EERSTE liefde moes terugkeer (Open 2:4). Dis ook waarom die Nagmaal oor en oor en oor herhaal moet word en die tekens van brood en wyn nooit verander nie en die inhoud dieselfde bly. Dis ook waarom die boodskap van die kruis dieselfde bly en altyd relevant is.

Die Bybelse patroon is dus dat ‘n mens vir die eerste keer by Betel moet uitkom en daarna weer oor en oor na dieselfde Betel terugkeer, waar die Godswoord dieselfde gebly het. Aanvanklik verstaan ‘n mens nie so baie nie en jou insig en begrip is vlak, maar groei dáárin bring groei in ‘n gelowige se verhouding met God.

Hoe kom ‘n mens vir die eerste keer by Betel uit? Moenie probeer terugkeer na Betel as jy nog nie die eerste keer daar was nie! Hoe werk dit dan? 1) Besef en erken die gevaar waarin jou siel verkeer. Die gevaar om met sonde en skuld voor God te staan en die ewige straf te ontvang. Besef en erken dit 2) Ontdek dat dieselfde Regter wat jou moet straf, die uitkoms bewerk het deur ‘n Plaasvervanger in jou plek te straf met die straf wat jou toekom. Dis Jesus op die kruis. Jou ENIGSTE hoop op redding. 3) Plaas jou vertroue oor op Jesus Christus se kruisoffer as jou ENIGSTE redding en vryspraak. JESUS is die leer wat Jakob die eerste keer gesien het wat die aarde en hemel verbind en op wie die engele van God op en neer klim.

2 Die geestelike vernuwing wat Jakob by sy terugkeer na Betel beleef het, het tot sekere praktiese veranderinge gelei: Hy het opgehou met sy eiesinnige sondige pad. Hy het ook in gehoorsaamheid begin leef. En hy het hom afgeskei van die verkeerde goed wat hy voorheen getollereer het. Hy het hom ook gaan versoen met sy vervreemde pa. Verhoudings is herstel.

3 Geestelike vernuwing beteken nie ‘n gemaklike lekker pad van maanskyn en rose nie. Die moeites & aanvegtinge van die lewe is steeds daar. Tog is dit juis hierdie dinge wat die gelowige sterker aan die Here bind. Indien die voorval met Dina nie plaasgevind het nie, sou Jakob nooit wakkergeskrik het en besef het hy moet padgee van Sigem af nie. Hy sou dalk daar gebly het.

4 Die mens wat werklik uit God gebore is en in wie die Gees regtig woon, SAL by God se doelwitte en plan uitkom en sal nie op die lang duur in staat wees om God se Raadsplan te dwarsboom nie. Die HERE sal seëvier. Jakob MOES weer by Betel uitkom en hy HET. As dit van hom moes afhang, sou hy nie. Maar omdat die HERE met hom op pad was, HET hy! Die goeie werk wat die Here begin het, SAL Hy klaarmaak (Filip 1:6).

Category Genesis Reeks

© 2018 Designed with ❤ by Web Crew