Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

Laai Af

GENESIS-REEKS NO 33
Een stap vorentoe en drie stappe terug
Genesis 33-34

‘n Groot gevaar vir alle Christene is hoogmoed en selftevredenheid. Veral wanneer ‘n mens dink jy maak vordering in jou lewe met die Here en jy dan selftevrede word. Dit is vernietigend en die vyand geniet dit. Dis asof ‘n vals gevoel van sekuriteit en geborgenheid ‘n Christen onverskillig maak.

Kyk na Jakob. In Gen 33 is hy bang vir sy ontmoeting met Esau en vrees die ergste, maar sodra die gevaar verby is, is dit asof hy die Here se beloftes vergeet en homself in groot fisiese en geestelike gevaar bring. Ja, Jakob se hart was inderdaad aangeraak deur die Heilige Gees – dit is duidelik in Genesis 32. Maar die mens in wie se lewe die Gees iets kom doen het, is in ‘n Graad R fase en baie opleiding lê nog voor. Jakob was in ‘n groeiproses en het homself dikwels bloedneus geval.

Dis die gevaar vir Christus-gelowiges wat in die 21ste eeu in Suid-Afrika woon en ‘n lekker lewe geniet met baie sekuriteit. Solank ons kos en klere en huisvesting en inkomste en versekering en vervoer en ‘n mediese fonds het – waaroor sal ons verder bekommerd wees? Na die maan met die oproepe van die Skrif en die bereiking van verlore mense met die Evangelie (om ‘n voorbeeld te noem).

‘n Mens kan uit Jakob se lewe leer hoe om selftevredenheid en geestelike luiheid te oorkom en nie gevaar te loop om jou geestelik bloedneus te val nie.

1 EEN STAP VORENTOE (33:1-16)

Toe Jakob vir Esau en sy 400 man op die horison sien, verdeel hy sy vroue en kinders in groepe en hyself neem die voorpunt van die konfooi sodat – indien enigiets gebeur – hyself die spit afbyt. Dit was immers ‘n vete tussen die twee broers.

Toe Esau naby kom, buig Jakob herhaaldelik op die grond. Wat hom betref, is Esau kwaad en vyandig. Maar tot sy groot verligting sien hy Esau se trane, voel sy omhelsing en besef dat hy van ‘n verbitterde broer tot ‘n vergewensgesinde vriend verander is!

Esau wou niks weet van Jakob se groot geskenk van ‘n klomp vee aan hom nie. Maar Jakob sê: “Nee, as ek dan guns in jou oë het, ontvang asb die geskenk, want om jou aangesig te sien is soos om God se aangesig te sien – veral noudat jy my goedgesind is.” (v 10). Ja, hy sien in sy broer se vriendelike gesig, die Here se gesig. Want Esau se veranderde gesindheid is as gevolg van die Here se guns oor hom – dis seker! Die Here God self was Jakob se verhindering om die beloofde land te kon binnegaan. Nie Esau nie. Maar Jakob het met God volhard en aan Hom vasgekleef deur geloof en daarom was Esau nie langer ‘n vyand nie, maar ‘n vriend.

Esau is ‘n prentebeeld van vergifnis en genadigheid. Sy woorde toe hy vir Jakob groet klink byna soos die pa van die verlore seun in Lukas 15:20. Esau bied aan om saam met Jakob verder te trek. Probleem is net dat Jakob – as gevolg van sy groot gevolg – nie by Esau sou kon byhou wat spoed betref nie. Tog sal sommige van Esau se manskappe saam met Jakob beweeg. Maar Jakob begeer niks – slegs sy broer se guns. Dis al wat saakmaak.

Esau beweeg dus vooruit en neem aan dat hy binnekort weer vir Jakob sou sien. Maar ons weet egter dat dit nie gebeur het nie. Hulle sou mekaar jare later eers weer sien. Ja, Jakob verseker wel vir Esau dat hy hom by Seir sal ontmoet. Maar toe gaan hy na Sukkot en later na Sigem. Dis asof ‘n mens die indruk kry – sonder om dit hardop te sê – dat toe Jakob eers net die sekerheid het dat Esau nie meer vir hom kwaad is nie, hy weer sy ou nuk uithaal om sy eie pad te loop en mense te mislei.

2 EEN STAP TERUGWAARTS (33:17)

Die gevolge van Jakob se afdraaipad na Sukkot was absoluut rampspoedig. Sukkot was ‘n terugwaartse stap vir Jakob. Nie net geografies nie, maar ook geestelik. Sukkot was in die teenoorgestelde rigting as Seir, waar Jakob vir Esau beloof het om hom te kry.

Waarom hy hierdie roete kies, sê die Skrif nie vir ons nie. Dalk was hy bang om sy pa – Isak vir wie hy so gruwelik bedrieg het – te sien. Dalk wou hy nie vir te lank te erg naby aan Esau beweeg nie. Verder het hy in 28:22 aan die Here beloof dat hy ‘n tiende aan die Here sou gee by Betel, maar nou was hy dalk nie oorywerig om dit te doen nie omdat hy baie besittings gehad het en die tiende hom sou ruk. Maar nog meer: Betel was in die ruwe berge en Sukkot was in die Jordaanvallei waar die weivelde vir sy vee baie meer gunstig was.

Dit lyk ook of Jakob baie lank in Sukkot gebly het. Hy het selfs ‘n huis daar gebou. Hy het hom daar gevestig en nie net in tente gewoon nie.

Hoe dit ookal sy, hier is ‘n duidelike terugwaartse stap in Jakob se lewe – wat veral sy relasie tot die lewende God sou raak.

3 ‘N TWEEDE STAP TERUGWAARTS (33:18-20)

Ons weet nie wat die beweegrede was waarom Jakob uiteindelik van Sukkot na Sigem gegaan het nie. Sigem was binne die land Kanaän. Weer eens lyk dit nie of Jakob enigsins haastig is nie. Hy koop ‘n stuk grond en slaan sy tent daar op. Hy bou ook ‘n altaar en noem dit: Die God van Israel is God. Anders as Isak en Abraham wat JAHWE – die God van die verbond – aangeroep het.

Jakob lyk dus op die oog af regtig soos ‘n diep geestelike man. ‘n Man wat met sy God wandel. Dit lyk of hy sy pa en oupa nadoen met die bou van ‘n altaar ens.

En tog is hy glad nie op die PLEK waar die Here hom wil hê nie. Hoe moet en kan ‘n gelowige opreg met die Here wandel wanneer jy glad nie DAAR is waar Hy jou wil hê nie? Dan word jou godsdienstige handel en wandel net uiterlike rituele. ‘n Leë dop.

4 ‘N DERDE STAP TERUGWAARTS (34:1-31)

Terwyl Jakob by Sigem woon, het sy dogter Dina by die “dogters van die land” (vers 1) gaan kuier. Dalk meer as een keer. Dis dalk waar Sigem haar die eerste keer gesien het. Sigem was Hamor se seun. Hamor was ‘n invloedryke man – die persoon by wie Jakob die grond gekoop het. Ons het dus die stad Sigem asook ‘n prominente man – Sigem. Dit is hierdie Sigem wat toe vir Dina verkrag en homself op haar afforseer. Dit was ‘n groot gruweldaad. Tog wou Sigem met Dina trou en hy vra dat sy pa die nodige reëlings tref – wat die bruidsprys ookal mag wees.

Dina se broers was egter onbeskryflik ontstoke oor Sigem se misdaad aan hulle suster. Hamor probeer hulle kalmeer deur te verduidelik hoe vreeslik lief Sigem vir Dina is. En buitendien – sê hy – sal so ‘n huwelik wonderlike voorregte inhou vir Jakob se mense asook die Kanaäniete. Hulle sou onderling kon trou en besigheid doen. Hamor was bereid om ‘n reuse groot bruidsprys te betaal – met die hoop dat Dina se broers sou afkoel.

Jakob se seuns was nie tevrede met Hamor se aanbod nie, maar hulle sien dit as ‘n geleentheid om wraak te kan neem. Vir hulle was dit vreeslik om te dink hulle suster moet aan onbesnede heidene gegee word dmv ‘n huwelik. Wat ‘n skande op God se volk! Hulle slu voorstel aan Hamor is dus: “Word julle eers soos ons en laat alle mans besny word. Dan kan julle met ons dogters trou en andersom.”

Opvallend dat die teks pertinent sê dat hierdie voorstel van “Jakob se seuns” kom en nie “Dina se broers” nie. Dis ook húlle wat op Hamor se voorstel reageer en nie Jakob self nie. Hulle mislei dus ander nes hulle pa gedoen het. En hulle maak van die besnydenis ‘n voorwaarde vir eenheid tussen God se verbondsmense en die heidense Kanaäniete! Ja, die besnydenis was inderdaad ‘n belangrike sakramentele teken van God se verbond. Maar Jakob se seuns dink dis iets wat outomaties werk: Sou die heidene ook besny wees, dan is daar eenheid tussen hulle. Dit is ‘n totale misopvatting van wat die Here se intensie met die besnydenis was. Vir die Here gaan dit oor die HART wat besny moet word. Nie ‘n uiterlike teken wat mense verenig nie.

Die grootste fout wat Jakob se seuns egter maak, is dat hulle die besnydenis wou inspan om wraak te neem. Wanneer Sigem se manne besny is en in pyn verkeer en liggaamlik verswak is (veral op die derde dag), dán wou hulle op hulle toeslaan en hulle doodmaak – oor wat Sigem aan Dina gedoen het.

Voeg daarby nog Jakob se stilswye. Passief aanvaar hy maar sy seuns se plan en die ooreenkoms met die mense van Sigem! Ja, hy was bereid om die Here se verbondsmense te laat meng en ondertrou met die heidene! Sonder probleme. Jakob was nie bewus van sy seuns se plan om die mense van Sigem dood te maak nie. Hy het nie geweet van hulle wraaksugtigheid nie. Uit sy oogpunt wou hulle net ondertrou en ‘n lekker eenheid tussen gelowiges en heidene skep. En dis maar reg so! Hoewel dit totaal in stryd was met die Here God se wil, Sy bedoeling, Sy beloftes in die verbond met Abraham. Jakob was veronderstel om saam met Esau na hulle pa Isak te gaan! Maar hy is totaal buite die Here se reisplan.

Intussen gaan Hamor en Sigem terug na die mense van Sigem om Jakob se seuns se voorstel aan hulle voor te lê en hulle stem in! Dink net die finansiële voordele! Lekker! Om besny te word is ‘n geringe ou prysie om te betaal vir so ‘n langtermyn wins!

So besluit, so gedaan. Al die mans word besny. Die derde dag kom Simeon en Levi toe met hulle swaarde en maak al die mans in Sigem dood. Voor die voet. Almal. En ook vir Hamor en Sigem. En hulle verwyder vir Dina uit dorp. Jakob se seuns kom toe en plunder die dorp en vat al die vee en alle diere en vrouens en kinders.

Jakob se stilswye loop uit op ‘n bloedbad en ‘n totale verbreking van die Here se verbond met Sy mense. En hou in gedagte: Hierdie seuns van Jakob was die stamvaders van die Here se volk Israel – die OT kerk. Hulle was die mense uit wie die Messias gebore sou word. Levi – die man met die swaard – was die vader van die OT-priesteramp!

Maar wat was Jakob se reaksie teenoor sy seuns: “Julle het nou moeilikheid oor my gebring en my naam krater gemaak in die oë van die mense van hierdie land. Hulle sal nou in oormag kom en ons vernietig.” Geen berisping, niks. Net selfgesentreerdheid. Geen berou voor die Here en ‘n besef dat die HERE se eer vertrap is nie. Niks. Net hyself, dis al waaroor dit gaan. Eie voortbestaan. SY naam is nou deur die modder gesleep.

Maar sy seuns antwoord vir Jakob: “Waarom het hulle dan ons suster soos ‘n hoer behandel?”

DIE BOODSKAP VIR ONS VANDAG

1.Geestelike gesproke is ‘n mens nooit méér veilig as wanneer jy in gevaar is nie en jy is nooit in meer gevaar as wanneer jy die veiligste voel nie.

‘n Mens sien hierdie beginsel by Jakob, nie waar nie. Toe hy vir Esau gevlug het, ontmoet hy die Here by Betel. Toe hy vir Laban vlug, praat die Here direk met Laban en red vir Jakob. Toe hy vreesbevange was vir die ontmoeting met Esau, ontmoet die Here hom in Jabbok.

Maar toe hy eers seker is van Esau se goedgesindheid en seker is dat Esau voortgaan en buite sig is en sy vee lekker kon wy op die groen velde van Sukkot, voel hy so lekker. Hy voel sommer so veilig. Veral so lekker naby die Kanaäniete. Maar dis net daar waar sake lelik skeef loop.

Die rede is voor die hand liggend: Ons is meer geneig om die Here se aangesig te soek en Hom te vertrou en te gehoorsaam wanneer ons in gevaar of onveiligheid is. Wanneer dinge glad loop, verslap ons in ons toewyding en dink ons ons is self heel oulik genoeg om self reg te kom.

Jakob het gedink Esau is sy grootste hindernis. Maar toe hy vry is van Esau, dink hy hy kan dinge self hanteer. Hy soek sekuriteit in vrywees van Esau en groen gras vir sy vee en die nabyheid van die Kanaäniete. Skielik gaan alles weer net oor die eie self.

Die beginsels vir ons vandag is dus die volgende:
1 Geen mens is ooit werklik sekuur en veilig los van die Here nie. Dis nie iets wat mensgemaak is nie. Hieroor moet almal gewaarsku word. Ook ongeredde mense.

2 Veiligheid en sekuriteit kom slegs van die Here.

3 Die Christus-gelowige is op sy veiligste wanneer hy die Here se Woord liefhet en indrink en navolg.

4 Veiligheid en sekuriteit is nie die afwesigheid van gevaar en onsekuriteit nie. Dit is om met die Here te leef TE MIDDE VAN die onveiligheid. Dink aan Daniël se vriende in die brandende oond.

5 Vir ‘n Christengelowige is gevaar op sy grootste wanneer daar selfgerustheid is. Die werklike gevare is nie sigbaar vir die fisiese oog nie, want dis geestelik van aard. Die gevare van ongeloof, apatie, vleeslikheid, kompromie en die aanslae van die bose.

Laastens sien ons egter ook hoe wonderbaarlik die Here God in Sy soewereine almag die mens se sonde oorheers en uiteindelik Sy eie doelwitte laat slaag ten spyte van sy mense se ontrouheid.

Dit was naamlik noodsaaklik dat die Kanaäniete uitgewis word, want indien nie, sou hulle beslis met die Here se volk ondertrou (Jakob het mos toegestem) en dit sou ‘n totale verwoesting van die verbondslewe van die Here en Sy mense lei. Die heidene sou die Here se mense verlei tot afgodery ensovoorts. Hierdie Kanaäniete was deurdrenk met okkultisme en hulle godsdiens was demonies van aard. Uiteindelik sou die Messias nie deur hierdie volk gebore kon word indien hulle met hierdie nasies ondertrou nie en God se beloftes sou nie vervul kon word nie.

Ons moet dus raaksien watter TRIOMF daar tussen die lyne in hierdie treurige verhaal teenwoordig is. Die Here God kan en sal SY Raadsplan uitvoer ten spyte van Sy OT-volk se ontrou. DIT is die enigste rede waarom die Here Jesus uiteindelik in Betlehem gebore is. Dis omdat daar ‘n God op Sy troon sit wat Hom nie laat koudsit deur mense se doen en late nie. Wat ‘n triomf!

Tafelberg Gemeente
Buitenkantstraat 39, Kaapstad
www.tafelbergkerk.co.za
Dr Chris Saayman
Hoofbron: Bob Deffinbaugh

Category Genesis Reeks

© 2018 Designed with ❤ by Web Crew