Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

Laai Af

GENESIS-REEKS NO 31
Genesis 31:17-55 > Legalisme en moraliteit

Wanneer is iets eties korrek om te doen of nie te doen nie? ‘n Mens kan seker redeneer dat – indien iets volgens wet toelaatbaar is, is dit eties toelaatbaar om dit te doen.

Byvoorbeeld: Indien die wet moord op ongebore babas toelaat – dan is dit in orde om ‘n aborsie te laat doen.

Maar ons almal weet tog ‘n mens se gewete voor God laat nie alles toe wat wetlik toelaatbaar is nie. Veral vir iemand in wie die Heilige Gees ‘n werk van genade gedoen het, is moraliteit iets wat wyer gaan as dit wat wetlik toelaatbaar is.

‘n Christenvrou sal diep innerlik weet dat – al laat die wet ‘n aborsie toe – dit nie mág nie.

Daar is ‘n verskil tussen moraliteit en dit wat wetlik is. Dis op daardie verskil (wat soms soos op die skerp kant van ‘n mes balanseer) wat ons dit kry wat ons ETIEK noem. Dit wat ETIES is, is dit wat die verskil tussen moraliteit en wetlike toelaatbaarheid is.

Maar vir Jakob was wetlikheid GELYK aan moraliteit. Enigiets wat nie in stryd is met die wet nie, was geen probleem vir sy gewete nie. Byvoorbeeld: Om Esau se eersgeboortereg by hom te koop vir ‘n bordjie sop was seker binne wetlike bepalings toelaatbaar. Maar dit was beslis nie ETIES korrek nie.

Dieselfde geld vir die manier hoe hy sy pa Isak bedrieg het. En hoe hy sy oom Laban se vee gemanipuleer het om meer bont bokke en skape te bekom. Dis nie onwettig nie, maar beslis ook nie eties reg nie. Veral gesien teen die lig van die Here God se nuwe lewe wat die Gees in Jakob geskep het.

Twyfelagtige etiese keuses en gedrag het altyd konsekwensies. Mens sien dit in Jakob se laaste ontmoeting met Laban, toe hulle paaie finaal skei en Jakob terugkeer na die land van die Here se belofte.

1 JAKOB VLUG (verse 17-21)

Ons weet hoedat omstandighede – deur die Here God se beskikking – vir Jakob gewys het dat dit tyd is om terug te keer na die land van belofte. Daarby het die Here ook ‘n hom ‘n direkte woord gegee, wat dit alles bevestig het.

Terwyl Laban druk besig was om skaap te skeer, besluit Jakob om net weg te raak. Sonder waarskuwing. Dan sou Laban se weerstand dalk die minste wees. Want onthou: Laban sou beslis wou verhoed dat sy dogters en vee van hom weggeneem word.

Maar Jakob het nie geweet dat Ragel – net voor hulle vertrek – haar pa se huisgode gesteel het nie. Sy doen dit waarskynlik om in die toekoms ‘n greep te kon kry op die familie se erfgoed.

Die huisgode was ‘n simboliese teken van ‘n wettige reg op die besittings van ‘n familie, maar ook van familiehoofskap en vrugbaarheid en beskerming. Ons weet dit uit die argeologiese opgrawings van die sogenaamde Nusi Tablette wat uit daardie antieke tyd dateer. Die Nusi Tablette wys hoe veral die oudste seun in besit van die huisgode (die Terafim) moes bly omdat hy sou erf.

Die huisgode was dus iets wat uit die heidense afgodiese kultuur van die antieke Ou Nabye Ooste dateer. Dit was beeldjies van gode – meesal vroulike gode wat naak of half-naak uitgebeeld is.

Dit was dus glad nie iets wat die Here ingestel of gewil het nie, maar Laban het dit oorgeneem uit die kultuur. Ons lees van die Terafim ook in 2 Konings 23 en Eseg 21. Dit was dus ‘n heidense gebruik wat die antieke verbondsvolk (of sommige van hulle) vermeng het met hulle diens aan die Here God. ‘n Tipe sinkretisme dus. Iets waarvoor die mens se hart baie vatbaar is. Om waarheid en leuen te vermeng. Vir eie voordeel natuurlik. Die gevalle menslike natuur is nie baie geneë om SLEGS die Waarheid van God se Woord te omhels nie. Dit verg ‘n diep werk van God se Gees om die mens lief te maak vir die Waarheid ALLEEN.

In kort dus: Ragel steel haar pa se huisgode in ‘n poging om te verseker dat Jakob die wettige erfgenaam van haar pa se besittings sou wees en sodat hulle beskerming op hulle reis sou kon geniet. Uit verse 14-16 kan ons aflei dat Ragel gedink het dat dit beslis God se wil was dat Jakob Laban se rykdom moes kry – bedoelende die volle erfporsie nadat Laban dood is. Sy voel dus dat dit absoluut die regte ding is om die Terafim te steel. Hoewel sy nie vir Jakob daarvan sê nie!

Hier is Jakob dus besig om God se wil te doen deur na die land van belofte terug te keer. Maar hy doen dit nie VOLGENS God se wil nie! Hy verdamp net en Ragel steel die huisgode.

2 DIE AGTERVOLGING (Verse 22-35)

Eers teen die derde dag hoor Laban dat Jakob vort is. Hy agtervolg hom en haal hom in. Maar die Here gryp in en praat met Laban in ‘n droom. “Wees versigtig wat jy vir Jakob sê”, sê die Here vir hom.

Laban speel toe vreeslik toneel om treurig voor te kom oor sy dogters en kleinkinders wat hy verloor. Ons weet hy speel toneel, want in verse 14-16 het Ragel en Lea reeds vertel hoe min hulle pa eintlik omgee. Wat Laban EINTLIK oor besorgd is, is die huisgode! Hy wou dit terughê, want anders kon Jakob eendag terugkom en die eiendom opeis! Maar Jakob het glad nie geweet dat Ragel die huisgode gesteel het nie! Dit blyk dat hy stilletjies vir Laban verlaat het uit vrees dat Laban sy dogters sou terughou. Vrees laat ‘n mens snaakse goed doen. Hy het nie genoeg vertroue in die Here gehad dat God in staat was om hom van Laban te bevry nie. Die bron van vrees is ongeloof (gebrekkige vertroue). En ongeloof is te wyte aan die feit dat ons nie mooi verstaan WAT God regtig aan ons beloof het nie. Die Here het tog eksplisiet aan Jakob beloof dat Hy hom beslis na die beloofde land sou terugneem (Gen 28:15). Maar Jakob se sig hierop was vertroebel. En daarom neem vrees oor.

Hoe moet ‘n Christus-gelowige hom/haarself teen vrees pantser? Vul jouself met dit wat die Here God gesê en beloof het en fokus DAAROP. Dit sal vertroue in jou hart skep. En waar Goddelike beloftes en Heilige Gees-gewerkte vertroue posvat, kan vrees nie so maklik oorleef nie.

Laban is dus min bekommerd oor sy dogters wat weg is. Hy wil die huisgode hê. Jakob is absoluut seker dat nie hy of enigiemand anders dit gesteel het nie. Laban kan dus gerus alles deursoek. Ragel was glad nie ‘n verdagte in Laban se oë nie. Jakob was die vanselfsprekende skuldige. Maar hy was nie! Ragel was. Maar sy sit al die tyd op die saalsakke waarbinne die huisgode versteek was. En toe haar pa daar wil kyk, sê sy sy kan nie opstaan nie, want dit gaan met haar soos dit met alle vroue eenmaal per maand gaan en dit sou dalk ‘n storie wees indien sy sou moes opstaan. So verduidelik sy. En natuurlik verstaan haar pa dit.

Ragel se diefstal, word dus nooit ontdek nie. Laban weet nie wat van die huisgode geword het nie. Daarby het die Here hom gewaarsku om vir Jakob niks aan te doen nie. En nou is Jakob net katjie van die baan – hy is mos onskuldig aan diefstal en boonop mag Laban hom niks aandoen nie. Hy het dus duidelik die oorhand oor Laban. En hy stort sy verontwaardiging in ‘n woedebui uit. Laban het geen bewyse nie, dus beter hy stilbly. Hy het geen been om op te staan nie. Jakob vryf na hartelus sout in die wonde. Dis asof hy jare en jare se frustrasies met Laban van sy hart af wil kry. En nou is mos sy kans. Laban is weerloos.

Maar Jakob se troefkaart teen Laban is dit: Die HERE is aan SY (Jakob se) kant (vers 42). As dit nie was dat die HERE by hom was nie, sou Laban met lelike goed weggekom het en sou hy brandarm gewees het. Die rykdom wat hy verwerf het, is die Here se seën op sy arbeid.

Hier maak Jakob ‘n fout. Ja, die Here het sy swaarkry gesien. Maar nêrens het die Here ooit gesê dat Sy seën op Jakob se lewe die resultaat was van Jakob se arbeid nie. God se seën was nooit in korrelasie met Jakob se arbeid nie. Dit was tewens net mooi die teenoorgestelde (verse 10-13). God se seën het niks te doen gehad met Jakob se Godvrugtigheid en produktiewe vindingrykheid nie. God se seën is die vrug van Sy vrye onverdiende guns en nie menslike verdienste/arbeid nie. Dit is ‘n beginsel wat regdeur die Bybel loop. Maar Jakob dink die Here was aan sy kant omdat hy so geestelik is en so stewig is in sy verhouding tot God. En nou gebruik hy die feit van die Here se seën in sy lewe om homself mee te verdedig teenoor Laban. Hoe slu is die mens se hart nie.

3 DIE VREDESVERBOND (31: 43-55)

Laban kan nie Jakob se skuld bewys nie, maar in sy hart verdink hom egter wel.

Daarom inisieër Laban ‘n verbond met Jakob wat vir Jakob sou verhoed om die huisgode vir sy eie gewin teén Laban te gebruik. Laban kan dus nie die huisgode terugkry nie en hy kan niks teen Jakob bewys nie. Al wat oorbly is: Hy span Jakob se God TEEN Jakob in! Hy (let op: net hy alleen) ontwerp ‘n verbondsformule wat impliseer dat – indien Jakob in die toekoms dalk sou uitrafel, die HERE hom op sy plek sou hou. Laban kon niks verder doen om te verhoed dat Jakob later eiendom kom opeis nie. Dus moet die HERE maar oor hom ‘n ogie hou!

Dit is in kort waaroor die verbondsluiting gegaan het.

En ‘n verbond het altyd tekens: Die beloftes van die Nuwe Verbond word met water, brood en wyn verseël. Of liewer water en ‘n maaltyd. Hier is dit ‘n klipstapel en ‘n maaltyd. Hoe ookal: die betekenis is dieselfde en belangrik: Die uiterlike tekens bevestig en waarborg aan beide partye die waaragtigheid van elkeen se trou teenoor mekaar in die uitvoering van die verbondskontrak.

Met een groot verskil by God se verbond: Hy het geen nodigheid en behoefte aan enige teken van ONS waaragtigheid en trou nie, want ons het niks. Ons het behoefte aan tekens van SY waaragtigheid en trou. En dis presies wat die doop vir ons waarborg. En die maaltyd, die nagmaal. Daarom MOET ons by Nagmaalsdienste teenwoordig wees en meedoen. ‘n Nagmaalsdiens is nie die tyd vir ‘n afnaweek nie. Indien jy enigsins verstaan waaroor God se verbondstekens gaan, hou maar in die vervolg die gemeentekalender fyn dop! Die “Vrees van Isak” vereis dit van ons vir ons eie beswil!

Is dit nie ontsaglik pragtig hoe die lewende God hier genoem word nie? “Die Vrees van Isak”. Ontsagwekkende lewende Vader van ons Here Jesus Christus wat geVREES moet word in alle eerbied.”

4 DIE BOODSKAP VIR ONS

Oor die algemeen lyk dit of Jakob as die oorwinnaar van Laban af wegstap. Maar wás hy? Laban het aanhou dink dat Jakob nie 100% vertrou kon word nie. En so dink ons ook! Die Here het egter vir Laban gewaarsku en daarom kon hy min doen om vir Jakob te stop.

Die vreemde is dat Jakob sélf oortuig is van sy eie integriteit. Hy is seker dat die Here aan sy kant is omdat hy so opreg is.

Hoe is dit moontlik dat Jakob so verkeerd kon oordeel?

Die antwoord is dat Jakob ten diepste ‘n legalis was. Hy het daarop geroem dat hy ‘n man was wat die Here se Wet tot op die letter gehoorsaam het. Ja, hy het wel hier en daar die grense bietjie verskuif, maar sover hy kon sien, was hy basies altyd getrou en gehoorsaam. En omdat hy die wet probeer nakom het, was hy moreel rein en skoon. Want vir hom was moraliteit gelyk aan wetsgehoorsaamheid. Alles wat wettig is, is ook moreel reg – sover dit hom aangaan. Solank hy net nie die Here se wet breek nie, voel hy skoon en is hy dit absoluut werd dat die Here van hom hou en hom seën.

Dalk wil u sê: “Maar dis dan presies hoe EK ook redeneer en voel!”

Presies so! Jakob weerspieël DIE MENS se hart. Alle mense redeneer van nature so, want alle mense is in hulle gevalle menslike natuur legalisties/wettisisties en verstaan nie God se genade en hoe genade werk nie. Ons almal dink in ons diepste hart dat as daar wette (standaarde) gestel is en ons hou ons daarby, dit van ons mense van geregtigheid maak en dat ons dus by God aanvaarbaar moet wees.

En tog weet die mense wat saam met ons leef en werk, wie en wat ons regtig is. Hoe ons manipuleer en ondermyn en bedrieg en sukses soek ten koste van ander. U sien, ‘n mens kan wetties REG leef en tog totaal verkeerd leef. Jy kan wettiglik reg leef deur nie egbreuk te pleeg nie, omdat die Wet sê jy mag nie egbreuk pleeg nie en tog kan jy steeds ‘n egbreker wees in jou gedagtes en begeertes en die goed waarna jy in die geheim kyk en dus eties verkeerd wees. Laban het geweet dat Jakob dalk uiterlik reg optree, maar dat hy ten diepste tog verkeerd was.

U sien God se wet was nooit deur Hom gegee en bedoel om die mens te laat reg leef en eiegeregtig te laat voel nie. Die Wet was nooit bedoel om vir die mens te sê: “Probeer hierdie standaarde nastreef, dan sal God moontlik van jou hou en jou moontlik hemel toe laat gaan” nie.

Die Wet is gegee om vir ons te wys hoe diep ons sonde versteek is en hoe goddeloos ons is en hoe nodig ons ‘n Verlosser het. Die Wet wys vir ons dat ons ons toevlug tot die Here Jesus moet neem en dat ons met SY perfekte reg-wees beklee moet word. Dan kom die Heilige Gees in ons lewe in en Hy verander ons van bo tot onder en LIEFDE neem besit van ons harte en ons begin in ‘n lewende relasie tot Hom leef. Hierdie vrye genade keer alles in ons lewe onderstebo. Dankbaarheid en verwondering neem oor. Jou geregtigheid voor die heilige God is ewe skielik ‘n miljoen keer MEER as wat jy ooit deur wetsonderhouding kon hê. Want jy is nou met JESUS se geregtigheid beklee. En Syne is volmaak. Jy besef dus dat jy voor God aanvaarbaar is – NIE omdat jy die wet onderhou nie – maar omdat JESUS se kleed van geregtigheid waarmee jy nou beklee is jou voor God aanvaarbaar maak. En die liefde wat hieruit in jou lewe opborrel WIL sommer net gehoorsaam wees aan God se wil. Vrywilliglik – uit verwondering vir so ‘n groot liefde.

Tafelberg Gemeente
Buitenkantstraat 39, Kaapstad
www.tafelbergkerk.co.za
Dr Chris Saayman
Hoofbron: Bob Deffinbaugh

Category Genesis Reeks

© 2018 Designed with ❤ by Web Crew