Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

Laai Af

GENESIS-REEKS NO 30
Genesis 30:25 – 31:16 > Bedrieër versus bedrieër

Hier is nou twee bedrieërs wat mekaar probeer bedrieg. Jakob en sy ma se broer, Laban. Deur die voorsienigheid van die Here is dit Jakob wat as wenner uit die stryd tree – omdat die Here van ewigheid af bepaal het dat die vervulling van die belofte aan Abraham deur HOM (Jakob) vervul sou word. En die vervulling is natuurlik die uiteindelike koms van Christus na die wêreld en aanbreek van die Nuwe hemel en Nuwe aarde (soos Openbaring eindig). Die Here God kondoneer nie Jakob se skelmstreke nie. Die Here het Sy groot en finale verlossingsplan in die oog. En dit is bepaal dat Jakob ‘n skakel in hierdie program sou wees. En daarom sou hy dit wees.

Jakob het natuurlik nie al hierdie toekomstige feite in die oog nie. Hy veg net vir homself en vir eie oorlewing ‘n pad oop. Dit gaan vir hom hoofsaaklik oor die hier en die nou. En die Here kry natuurlik uit sy mond die lof en dank vir die voorspoed wat hy uit sy skelmstreke kry. Soos dit dikwels vandag steeds werk. Wen ons byvoorbeeld geld uit die Lotto, kry die Here die lof. Terwyl die Here se Woord vertroue op die geluksgodin afkeur.

Op die ou end was dit nie Jakob se geestelikheid of sy skranderheid wat hom as ‘n ryk man laat wegstap het nie. Dit was die Here se ewige verbondsbeloftes!

1 LABAN SE KONTRAK (30:25-36)
Toe Benjamin gebore is, het Ragel gesterf. En dit het Jakob aangespoor om terug te keer na sy eie land. Die Here het immers in 28:10-22 beloof dat dit sou gebeur. Jakob eis dus van Laban dat hy hom toelaat om te gaan – met sy uitgebreide familie en besittings en al.

Maar Laban reken die Here het hom materieël geseën deur Jakob se harde arbeid en dit sou ‘n verlies wees om hom te verloor. Jakob het vir Laban ‘n ryk man gemaak. Maar Jakob kon nie alles in sy eie familie inploeg nie. Laban moes altyd eers sy deel kry.

Laban kom dus met ‘n teenvoorstel: “Bly by my en sê hoeveel ek jou méér moet betaal. Ek sal dit doen.”

Maar Jakob sê: “Ag nee wat, ek wil niks hê nie. Laat my net toe om deur u hele kudde skape en bokke te gaan en dalk maar net die gespikkeldes en bontes uit te haal en hulle vir my te vat. Dis al. Ek sal daarmee heeltemal tevrede wees. Onthou ek het geen noemenswaardige wins uit 14 jaar se arbeid van u ontvang nie. Ek het net my vroue en kinders. Maar ek sal tevrede wees met die bont skape en bokke. Alles wat nie gespikkeld en bont is nie, is u s’n.”

So gesê, so gedoen. Dit is ‘n maklike aanbod, redeneer Laban. In daardie tyd was daar baie min skape en bokke wat gespikkeld of bont of swart was. Dit beteken hyself sou 95% van die kudde vir homself hou. Enige tyd sou hy só ‘n aanbod aanvaar! Jakob sal in elk geval basies niks uit die kontrak kry nie. Fantasties-voordelige aanbod! Puik! Amper te goed om waar te wees. Laban glimlag net van oor tot oor. Dis was nou absoluut die moeite werd om vir Jakob te bedrieg en hom soos ‘n slaaf vir 14 jaar te laat werk! Nou kan hy die ou klompie bont goedjies kry.

Intussen laat Laban gou al die bont en gestreepte en swart skape en bokke uit die kudde verwyder en neem hulle 3 dagreise ver weg. Jakob sou die res van die kudde oppas. Met die gestreeptes ver weg, is die kanse klein dat daar enige bontes verder gebore sou word.

2 JAKOB SE LIS (30:37-43)
So hier is ons nou: Die bontes is ver weg van die res van die kudde en Jakob pas hulle op.

Jakob lag egter ook van oor tot oor! Hy gaan beslis nie daar sit en vroom lyk en bid en op die Here vertrou om die skaal na sy kant toe te laat swaai nie. Nooit! Hy gaan self ‘n tegniek of twee gebruik om ‘n bietjie voordeel uit hierdie kuddetjie te trek. Gaan Laban hom weer uitoorlê? Vergeet dit!

Dus: in die een hoekie sit en lag Laban in sy mou en aan die ander kant lag Jakob in sy mou.

Wat Jakob dus doen is die volgende:

Hy span ‘n tegniek in wat gebaseer is op die belaglike onwetenskaplike voorveronderstelling dat dít wat die diere met hulle oë sien tydens paring, so sal die aankomelinge wees. Indien die skape en bokke paar en goed sien wat bont en gestreep is, sal die nuwe skapies en bokkies ook bont wees. Totaal absurd. Maar so het die mense in die Ou Nabye Ooste blykbaar geglo.

Dis waarom Jakob die takkies sny en die bas afskil sodat die takkies wit strepe maak en hy dan dit in die waterbakke sit waar die diere kom paar sodat hulle die gestreepte takkies sien.

En wonder bo wonder werk dit!! Die nuwe diertjies is ook bont.

En dan neem hy daardie nuwe bontes en maak hulle staan voor die ander tydens paring. En wanneer daar paring in die herfs geskied, sit hy die bontes voor hulle oë, maar nie wanneer daar in die Lente gepaar word nie. Daar was geglo dat diere wat voor die winter gebore word sterker is as die wat voor die somer gebore word. Die sterkeres is toe bont en die swakkes wit. En dis Laban s’n. Die bontes is op die ou end baie meer in getal en baie sterker en hulle is almal Jakob s’n. Laban kry net die klompie wittes en swakkes. Dit was mos hulle ooreenkoms.

Hoe op aarde kon Jakob se metode enigsins vrug afwerp?! Sy idee van visualiteit wanneer diere paar, het absoluut geen wetenskaplike grond nie. Dis onsin. Anders sou dit vandag nog gebruik kon word. Dit was ‘n bygeloof in die kultuur van daardie tyd.

Mens wil ook nie dink dat die Here hier wonderwerkend ingegryp het nie, want hoe sal die Here ooit sulke vleeslike metodes kan seën?

Die werklike rede waarom Jakob se vreemde metode – wat glad nie kán werk nie – gewerk het en hy geweldig welvarend geword het, kom eers later aan die lig. Maar weet dit: Dit was NIE aan sy slimheid en streke te danke nie.

3 LABAN SE WREWEL (31:1-16)
Jakob se skielike sukses, bring natuurlik sy kwota probleme mee. Laban se seuns maak beswaar en Laban is glad nie meer so vriendelik nie. Sy kontrak met Jakob boemerang op hom. Die brandarm Jakob het skielik ryk geword op Laban se onkoste!

Hierdie seuns van Laban moes gebore gewees het nadat Jakob aanvanklik daar gekom het, want nooit voorheen was daar sprake van dat Laban seuns gehad het nie. Hy het vir Jakob as sy erfgenaam beskou, want in die destydse kultuur kon dit. Maar toe daar vir hom eie seuns kom, was Jakob nie meer nodig nie. Jakob was nou in kompetisie vir die erfporsie. Geen wonder dat Laban se seuns so woedend was nie. Jakob het dus besef hy moet padgee en gou ook.

4 DIE GODDELIKE INGRYPE

Daarby kom praat die Here self met Jakob en bevestig aan hom dat hy moet trek na sy geboorteland. Met die belofte dat Hy by Jakob sal wees. Dit lyk asof dit die eerste keer in ongeveer 20 jaar was wat die Here op hierdie manier aan Jakob rigting gegee het.

Oor Laban is Jakob nie bekommerd nie, maar Ragel en Lea sal voor ‘n geweldige keuse te staan kom. Hy is bekommerd oor hulle. Want hulle sal moet kies tussen hulle pa en hulle land en huis en Jakob en die beloofde land van die Here.

Daarom laat roep hy hulle na hom toe om hulle steun te kry. Maar trek, moet hy trek. En dadelik ook. Ragel en Lea moet dus verstaan dat hulle pa se gesindheid teenoor Jakob – om watter rede ookal – negatief geswaai het. Maar, die Here was aan sý kant. Hy is eintlik onskuldig in alles. Só verduidelik hy die saak aan hulle.

Die heel belangrikste – so verduidelik Jakob dit aan Lea en Ragel – is dat die Here self ‘n Goddelike direktief aan hom gegee het. Die Here het mos met hom gepraat en Sy seën bevestig en hom beveel om terug te gaan na die land van belofte. Hoe kan daar dus enige twyfel wees oor wat om te doen? Sy skelmstreke om die bont vee in te palm was daarom sekerlik ook in God se guns? So loop sy redenasie.

Jakob se redenasie oortuig vir Lea en Ragel. Ja, hulle pa hét hulle aan Jakob verkoop en sy dienste misbruik ter wille van selfverryking. Nee wat, hulle wil hulle pa groet en gaan.

Die probleem is dat Jakob die Here se woorde net gedeeltelik reg verstaan het. Die Here het glad nie Jakob se pogings om die vee vir eie gewin te manipuleer goedgekeur nie. Die Here het hom ook nie beveel om die vee te manipuleer nie. Die voorspoed en welvaart wat hy geniet het, het niks te doen gehad met sy eie pogings en planne nie.

Dit sien ons deur noukeuriger te kyk na wát die Here vir Jakob in die droom gesê het – die droom wat die Here hom gegee het terwyl hy Laban se vee opgepas het. (verse 10-12).

Kyk nou mooi: Jakob se manipulasie van die vee was gebou op sy foutiewe idee dat visuele indrukke gedurende paring ‘n invloed het op die diere wat gebore sal word. En hy vertel vir Lea en Ragel dat hy hierdie idee van die Here ontvang het in ‘n droom waar God se engel met hom gepraat het. Let goed daarop!

Maar in die droom was daar geen gesnyde en gekerfde takkies en houtjies in die vee se waterbakke en bont en wit diere wat van mekaar geskei moes word nie. Die Here het glad nie so iets gesê nie. Al wat in die droom te siene was, was gestreepte en gespikkelde en bont ramme wat met die ander paar. DIS AL wat die Here hom gewys het. En toe sê die Here: “Ek het gesien wat Laban jou aangedoen het. Staan op en gaan terug na jou land toe”.

Dit wat die voorkoms van die nuwe aankomelinge bepaal het, was nie Jakob se vindingrykheid met die gesnyde takkies nie. Ook nie sy idee van visuele indrukke nie. Dit was die gene van die ramme (die manlikes) wat gepaar het. Die Here wys vir Jakob dat die ramme wat paar, almal gestreep en bont sou wees. En nie die ander nie. Die Here het soewerein ingegryp en gemaak dat slegs die bont ramme paar. Want die Here wou hê dat Laban skade ly. En Hy het dit vooruit aan Jakob gesê. Maar Jakob het met ‘n halwe oor geluister.

Jakob HOOR dus nie wat die Here in werklikheid sê nie. Hy dink HY moet SELF planne maak om die diere te manipuleer en dat die Here sy (Jakob se) planne (skelmstreke) goedkeur en seën.

Met ander woorde: AL Jakob se planne en arbeid om die vee te manipuleer en vir Laban in te loop, was tevergeefs. Terwyl hy so slim was, het die Here stilletjies SELF ‘n wonderwerk verrig en slegs die bont ramme laat paar – dit is immers wat Hy in die droom gesê het. Dit was die HAND VAN GOD ten spyte van Jakob se hand wat gewoel en gewerk het. Maar Jakob is totaal onbewus hiervan. Hy dink die Here het SY planne geseën.

Nêrens lees ons dat Jakob ooit regtig tot insig en ‘n besef gekom het van die diepe sondigheid van sy motiewe en metodes nie. Sy welvaart het na hom toe gekom ten spyte van sy metodes. Hy was deur die Here geseën op grond van God se genade en nie op grond van sy geestelikheid nie. Wat hy was, was ‘n genade-geskenk van God en nie die Here se seën op sy sondebesmette werke nie. God werk met Sy mense op grond van Sy eie vrye keuse, besluit en genade in Jesus Christus en op grond van Jesus se kruisdood en opstanding en nie op grond van ENIGIETS wat in die mens kleef nie. Sukses en voorspoed het niks met vroomheid of geestelikheid te doen nie.

5 DIE BOODSKAP VIR ONS
Kyk net hoe ver was Jakob se takkies-kerf verwyderd van wat God regtig in die droom vir hom gewys het, naamlik dat GOD SELF (sonder Jakob se toedoen) sou sorg dat slegs die bont bokke paar.

As ons daardie afstand sien, sien ons hoe ver menslike godsdienstigheid/religie verwyderd is van die ware Christelike Geloof.

Menslike religie is takkies kerf sodat God dit kan seën en die resultaat positief kan wees.

Die ware Christelike Geloof is God se wonderwerkende genade in Christus SONDER enige menslike werke en bydraes.

Die enigste manier om God se hemel in te gaan is om te erken dat ons dit glad nie kan verdien nie, slegs ontvang. Niks is moeiliker vir die gevalle menslike natuur as om DIT te besef en erken nie. Jakob se natuur sit diep in ons almal vasgemessel. Om alles wat jy is en doen te WANTROU en slegs te VERTROU op dit wat ‘n sekere man 2000jr in Jerusalem op ‘n heuweltjie Golgota gedoen het. Niemand is daartoe in staat sonder ‘n wonder van die Heilige Gees nie.

Soek EERS die koninkryk van God en al die ander dinge sal vir julle toegevoeg word – Mat 6:33.

Tafelberg Gemeente
Buitenkantstraat 39, Kaapstad
www.tafelbergkerk.co.za
Dr Chris Saayman
Hoofbron: Bob Deffinbaugh

Category Genesis Reeks

© 2018 Designed with ❤ by Web Crew