Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

Laai Af



GENESIS-REEKS NO 29
Genesis 29:31 – 30:24 > Die Bruidetwis

Die verhaal van Jakob se huweliks- en gesinslewe laat veel te wense oor. Dit klink meer soos ‘n 21ste eeuse televisie sepie met twee vroue en hulle onderskeie dienaresse en ‘n kompetisie tussen mekaar oor wie Jakob se guns sal wen en arme Jakob word letterlik van tent tot tent en van bed tot bed gejaag.

Die vraag is wat die Heilige Gees deur hierdie ongure verhaal vir ons vandag wil sê. Dis wat ons vanoggend moet ontdek.

Hou in gedagte dat Jakob op hierdie stadium buite die beloofde land gewoon het. Ja, die Here het Sy teenwoordigheid en bewaring en voorsiening aan hom toegesê, maar die Here was ook prosesmatig besig om sy lewe te stroop van sondige patrone wat uit sy vorige sondige lewe dateer. Die gevolge van vorige sondige keuses, haal hom in. Alles verloop nie so vlot nie. Sy keuse vir Ragel slegs op grond van fisiese skoonheid en die feit dat hy haar wou hê as tweede vrou naas Lea, het gelei tot ‘n chaotiese huishouding en frustrerende gesinsopset. Iets wat buite die Here se wil gedoen word, lei altyd tot trane. In Lev 18:18 word poligamie verbied.

Die gebeure word nie kronologies (tydsvolgordelik) gerangskik nie. Mens kan gou sien dat hier net té veel kinders gebore word om een na die ander gebore te moes wees. Maar dit word op hierdie manier opeengestapel om vir ons te wys hoeveel spanning en kompetisie daar tussen Lea en Ragel was. Dit lees kompleet soos iemand wat na ‘n tenniswedstryd kyk: dan kyk ons na die een deelnemer en dan weer na die ander. Heen en weer die heeltyd. En ag, beide vroue wou tog so graag verseker wees van Jakob se liefde. Dis hoe dit gaan wanneer ‘n mens nie die Here se plan en doel vir monogame huwelike nakom nie.

29: 31-35: LEA HUNKER NA LIEFDE

‘n Mens kan sien hoe Lea se geestelike lewe agteruitgegaan het sedert haar vyfde kind se geboorte. Die eerste 4 kinders se name het almal die een of ander verwysing na die Here God ingesluit. Maar daarna kwyn dit.

Lea was ‘n vrou in ‘n groot verknorsing. Reg van die begin af. Haar man wou haar nie eintlik hê nie. Toe die Here dit sien, het Hy juis háár moederskoot geopen en Ruben word gebore. Sy naam beteken “kyk! ‘n Seun!” want sy was oortuig dat die Here haar lyding gesien het en noudat Ruben daar was sou Jakob haar dalk liefhê. Nou het Jakob immers ‘n seun wat sy erfgenaam kon wees. Maar Jakob was só lief vir Ragel dat hy byna nie bewus was van Lea se bestaan nie. Maar die Here het Ragel onvrugbaar gemaak. Juis haar onvrugbaarheid het vir Jakob na Lea se tent gedryf met die hoop dat sý vir hom ‘n nageslag sou kon gee.

Maar Lea se hoop op die liefde van haar man, het beskaam. Toe Simeon gebore word sê sy: “Omdat die Here weet dat ek nie liefgehê word nie, het Hy my hierdie seun gegee”. Sy sien geen verandering by Jakob nie, maar sy is intens bewus van die HERE se liefde en dat Hy selfs die gedagtes van haar hart ken. Simeon beteken “Hy hoor” – wat ‘n getuienis was van hoe bewus Lea van God se genade was.

Lea se derde seun was Levi en met sy geboorte het Lea se hoop weer opgevlam. Sy sê: “NOU sal my man aan my geheg raak, want ek het hom nou drie seuns gegee”. Sy het gehoop dat die GETAL seuns dalk vir Jakob sou beïndruk en dat hy dalk net pligshalwe aan haar geheg sou raak. Sy het tog waarde gehad, want kyk: drie seuns.

Drie seuns het egter weinige invloed op Jakob se gevoel gehad.

Maar, toe die 4de seun – Juda – gebore word, was sy so vol dank en lof teenoor die Here en sê: “Nou sal ek die Here prys.” Juda se naam beteken “prys die Here”. O, Lea was so oortuig dat Jakob se hart nou sou verander. Sy het so verlang na die liefde wat sy so desperaat nodig gehad het. Hoewel sy geweet het dat om deur die Here God liefgehê en gelei te word van meer waarde as die liefde van ‘n man is. Sy was tevrede met die Here se liefde. Lof het haar hart gevul. Met vier seuns aan haar sy was dit maklik om die Here te prys.

30:1-8 RAGEL IS JALOERS OP LEA SE VRUGBAARHEID

Ragel was egter nie so lofprysend nie. Sy was gevul met jaloesie by die aanskoue van Lea se kinders. Sy sê vir Jakob: “Gee jy vir my kinders of ek sterf!” Waarop Jakob woedend reageer met: “Dink jy ek is God? Dis HY wat jou moederskoot toegesluit het.”

Nie Ragel of Jakob tree eintlik baie Geesvervuld en Godvrugtig op nie. Ragel erken nie haar onvrugbaarheid as komende van die Here se hand nie. Sy glo nie eintlik aan God se soewereinteit nie. En haar jaloesie verblind haar geestelike oë. Alles is Jakob se skuld! En Jakob erken wel die Here se hand, maar sy manlike ego is gekrenk en hy verskree vir Ragel. So anders as wat sy pa, Isak, gedoen het toe sy ma, Rebekka onvrugbaar was en Isak vir haar gebid het. Die gevolg is dat Ragel insekuur voel en ‘n vreesagtige paniek haar beetpak: Sy MOET net eenvoudig kinders kry!

Dis hierdie vrees wat haar laat planne maak. Sy gee haar diensmeisie Bilhah aan Jakob met die hoop dat sý vir haar kinders sou baar. In die destydse kultuur van die Ou Nabye Ooste kon ‘n vrou ‘n kind wat deur haar diensmeisie in die wêreld gebring is, aanneem. Ons het dit ook in Genesis 16 gesien waar Sara en Abraham en Hagar dieselfde roete gevolg het. Abraham het egter net een vrou gehad en op daardie stadium geen kinders nie. Jakob en Ragel se posisie is glad nie dieselfde nie. Boonop word Ragel deur suiwere jaloesie en trots aangedryf.

Bilhah het toe aan Dan geboorte geskenk. Dan beteken “beoordeel”. Ragel reken dat die Here in hierdie saak is en dat Hy reg geoordeel het in die kompetisie tussen haar en Lea en dat die Here haar (Ragel se) kant gekies het. Ragel was boos, maar baie angstig om die Here in die prentjie te hou en aan haar kant te hê. Haar woorde by Bilhah se tweede seun se geboorte is veelseggend van wat régtig in haar hart aan die gang was: “Met groot stryd het ek met my suster Lea gestoei en ek het oorwin”. Daarom noem sy die kind “Naftali” – wat “stoei” beteken. Nie haar verhouding met die Here staan voorop nie, maar haar stoeigeveg met haar suster, wat eintlik net oor haarself gegaan het. Sy wou wen: klaar en uit en verby! Hoe sy kon dink dat twee aangenome seuns kon seëvier oor Lea se vier egte seuns, weet nugter. Maar Ragel is oortuig: Sy het oorwin! Van ‘n nederige Godvrugtige vrou wat onderworpe wil wees aan die Here se Woord, is daar geen teken nie.

30: 9-13: LEA LEER ‘N LES

Lea se lewe met die Here het ook getaan. Ná Ragel se twee aangenome seuns se geboorte, is haar dankbare lewe uit die Here se genade vergete. Skielik pak die kompetisiegees haar ook beet. Sy het reeds vier seuns gehad. Daar was absoluut geen nodigheid dat sy haar diensmeisie – Silpah – aan Jakob moes gee om vir haar ook kinders vir aanneming te verwek nie. Al rede hiervoor was: die twee susters was in ‘n kop teen kop konfrontasie. “As Rágel haar diensmeisie kan inspan, dan kan ek ook”.

Toe Lea dus agterkom dat sy nie meer swanger word nie, daar gaan Silpah na Jakob se tent toe. En Silpah bring vir Jakob ‘n seun in die wêreld. En by die geboorte sê Lea: “Wow, hoe gelukkig is dit”. Dis al wat sy sê. En sy noem hom Gad – wat beteken “gelukskoot”. En toe Silpah ‘n tweede seun baar, noem Lea die kind “Aser” wat “vrolik” beteken en sy sê: “Ek is nou so gelukkig. Die vroue sal my gelukkig noem.”

Lea se woorde gee haar weg. Die Here God is totaal buite die prentjie. In die hitte van hulle stryd, maak die reg of verkeerd van hulle optrede nie vir hierdie twee susters saak nie. Die Woord van God is iets wat net so vlugtig voor slapenstyd vir 30 sekondes bekyk word. Indien enigsins. Vir Lea gaan dit net oor wen! Sy loop nou lekker 4 punte voor! Min wetende dat sy haar Godsvrug verkwansel het. Wat gaan die ander vroue van my sê? En nie: Wat sê die Here se Woord nie!

30: 14-21: DIE TOWERDRANKIE

By die lees van hierdie tragiese verhaal, wens mens dit is nou die einde. Maar ongelukkig nie.

Ruben ontdek heel onskuldiglik iewers in die veld ‘n soort bessie waarvan daar destyds geglo is dat jy daarvan ‘n drankie kan maak wat sogenaamd ‘n toweragtige liefdesdrankie is wat seksuele begeertes opwek en veral vrugbaarheid stimuleer. In die 1983 Afrikaanse vertaling word dit met “liefdesappels” vertaal.

Ruben neem toe die bessies vir sy ma, maar toe Ragel daarvan hoor is sy dadelik by om dit in die hande te kry. Steeds omdat sy so graag self swanger wil word. Skielik is daar iets wat haar dalk sal kan help om swanger te word.

Maar Lea sê: “Is jy gek? Jy het my man gevat en nou wil jy nog my liefdesappels hê?”

Maar Ragel sê: “As jy my daai liefdesappels gee, sal ek vanaand toelaat dat Jakob by jou in jou tent slaap.” En Lea val vir die aanbod, want haar eerste keuse was altyd om vir Jakob te hê. So Ragel het haar liefdesappels en Lea het haar man!

In wat ‘n treurige toestand was Jakob se huwelik(e). Hy het so erg gefaal dat sy vrou haar tot ‘n vorm van prostitusie moet wend om sy dienste gekoop te kry. En Ragel is so ver van die Here se genade af dat sy haar vertroue op die een of ander towerdrank plaas om tog net swanger te kan word. Maar die Here daarvoor soek? Nooit!

Maar die Here het in medelye aan Lea gedink en sy word swanger met nog ‘n seun – ‘n vyfde. Let op: Die HERE het aan haar gedink. Nie: die liefdesappels werk so wonderlik nie!

Dit lyk of Lea God se gawe van daardie seun verkeerd gelees het. Die Here het medelye met haar hopelose omstandighede, maar sy interpreteer dit asof God goedkeuring gee aan die feit dat sy haar diensmeisie – Silpah – aan Jakob gegee het. Soos vandag, kry die Here mos altyd die eer vir die suksesse van ons sondes. Ons wil so graag ons sondes heilig maak deur te dink dat die Here daaragter is.

Die vyfde seun se naam was Issaskar wat beteken “loon”

Daarna het Lea nog ‘n seun en ‘n dogter gehad.

Die sesde seun was Sebulon wat beteken “bly by” want Lea sê: “Nou sal my man beslis by my bly, want ek het vir hom 6 seuns gegee”. Bedoelende: Hy sal dalk nou meer in my tent bly as in Ragel s’n.

Wat ‘n tragiese lewe van hulpgeroep na liefde en erkenning.

Lea se dogter se naam was Dina. Later in Genesis meer oor haar.

30:22-24: RAGEL WORD ONTHOU
En toe breek Ragel se groot dag aan! Toe al haar eie skema’s en planne en wroeginge en probeerslae en middele uitgeput is, toe werk die Here. En Hy gee haar die groot begeerte van haar hart. Al was sy geestelik so bloedarmoedig en afvallig. Dis hoe onmeetlik en onverklaarbaar die Here se medelye is.

Ragel bring vir Jakob ‘n seun in die wêreld (nadat sy reeds ongeveer 7 jaar met Jakob getroud was) en noem hom Josef. Sy naam beteken min of meer iets soos “nog gee”. Ragel roep uit: “Die Here het my smaad weggeneem. Mag Hy my nog ‘n seun gee”. Vandaar Josef se naam. Hierdie gebed sou veel later verhoor word met die geboorte van Benjamin – tydens wie se geboorte Ragel gesterf het.

DIE BOODSKAP
1 In hierdie droewige gedeelte word die oorsprong van die 12 stamme van Israel beskryf. ‘n Vernederende begin. Nie iets om op trots te wees nie. Dis hoe die Here se OT-kerk begin het. Sodat die MENS nooit ooit enige rede tot roem sou kon hê nie. Slegs die Here alleen. Die blote feit dat die volk Israel só begin het en dat die volk end-uit tot só ‘n mate behoue gebly het dat die Here Jesus uiteindelik uit hulle kon voortkom, was niks minder nie as ‘n Godswonder. Dis ALLES slégs aan die HERE te trou aan Sy verbondsbeloftes te danke en NIKS aan die mens nie!

2 In die ou tyd het vroue hulle eie waarde gemeet aan hoeveel kinders hulle vir hulle mans kon gee. Lea en Ragel was verkeerd deur ‘n goeie gawe van God (kinders) die absolute inhoud van geluk en lewensvervulling te maak. Maar dit het nie uitgewerk nie.

Vandag is dit nie meer soseer baie kinders nie, maar dames dink dat iets soos hulle beroepslewe of wat ookal die hoogste geluk en vervulling sal bring. Of geld of wat dit ookal mag wees.

Vroeër in haar lewe het Lea die naaste aan die waarheid gekom toe sy by Juda se geboorte na die HERE en Sy aanvaarding as haar hoogste waarde en lewensvervulling verwys het. Nie haar kind of man nie, maar die lewende God self. Geesvervulde lewe met die Here is die mens se hoogste goed. Nie kinders of geld of beroepe kan dit vervang nie. Die Skrif leer dat vroue wat kinders opvoed om toegewyde kinders vd Here te word en te wees, het hulle lewensroeping ontdek (1 Tim 2:15).

3 Liefde, verhoudings, seks, huwelik en gesin kan NOOIT lewensvervullend wees en geluk bring indien dit nie binne die omheining van die wil en Woord van God plaasvind nie.

Jakob se gesinslewe was ‘n ramp. Omdat Hy die morele wil van God verplaas het met sy eie insigte van hoe dinge moet werk. En die Here het ‘n harde pad met hom gestap om hom van hierdie dwaasheid te bevry en sy oë oop te maak vir die Goddelike waarheid.

En die wil van God is vandag nog glashelder duidelik in Sy Woord vir enigiemand wat nederig genoeg raak om die knie daarvoor te buig.

Hier is dit:
Voorhuwelikse en buitehuwelikse seksuele verkeer is totaal UIT en buite die kwessie! Oortree dit en jy sal die een of ander tyd die gevolge dra. Die Bybel plaas hierdie groot gawe van die Here binne in die kontoere van die wettige huwelik tussen een man en een vrou. Nie meer mans of vroue as slegs EEN nie. Slegs EEN. En niks wat vreemd is aan die heilige Skrif nie. Een man en een vrou. En net ‘n huwelik. Ook nie ‘n man in ‘n vroue liggaam of ‘n vrou in mansliggaam nie. Slegs ‘n man en vrou soos die Here besluit het om jou man of vrou te maak.

Daarby: Om kinders te hê, produseer nie liefde nie. Kinders is nie die skeppers van liefde nie. Hulle is die verbruikers van liefde.

Romantiese erotiese liefde is ook nie die huweliksliefde wat ‘n huwelik vir 30-40-50 jaar kan deurdra nie. Romantiese liefde en erotika kom gou en gaan weer net so gou. Jakob se gevoel vir Ragel was hoofsaaklik gebou op erotika en haar fisiese skoonheid.

Mag die Here ons help om ons hoogste liefde en geluk en lewensvervulling te vind in die Een vir wie ons glad nie kan sien nie, maar Wie ons duidelik kan hoor – in Sy Woord.

Tafelberg Gemeente
Buitenkantstraat 39, Kaapstad
www.tafelbergkerk.co.za
Dr Chris Saayman
Hoofbron: Bob Deffinbaugh



Category Genesis Reeks

© 2018 Designed with ❤ by Web Crew