Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

Laai Af

GENESIS-REEKS NO 25
Genesis 26: In sy pa se voetspore

Genesis 26 is nou regtig ‘n merkwaardige hoofstuk. Dit fokus voluit op Isak en som sy lewe op in ‘n neutedop, maar vertoon verstommende parallelle met sy pa Abraham. Dis asof Isak letterlik kernmomente uit sy pa se lewe presies net so herhaal – selfs sy pa se sondes doen Isak hom na! Dis juis in hierdie parallelle waarin die boodskap van die hoofstuk opgesluit lê asook die toepassing op ons lewe vandag.

Kom ons deel eers die hoofstuk op in ‘n paar hoofdele en kyk wat daar staan en dan kyk ons laastens na die boodskap vir ons.

1 VERSE 1-6 > DIE VERBOND MET ABRAHAM HERBEKRAGTIG
Vroeg in Abraham se lewe was daar ‘n hongersnood wat ‘n reeks gebeure gesneller het wat Abraham se lewe grootliks beïnvloed het. Net so was daar ‘n hongersnood vroeg in Isak se lewe. Dit was twee verskillende hongersnode. Isak is toe na Gerar en toe besluit hy om na Egipte te gaan. Nes sy pa gedoen het. Dit was egter nie volgens God se plan vir Isak nie en daarom verskyn die Here aan hom in vers 2-5 en beloof dat Gerar nie die plek vir hom is nie, maar dat die Here hom weldra sou lei na die land waar hy wel moet wees. In dieselfde asem herbekragtig die Here die Abrahamverbond met Isak, want die belofte spoel mos oor na Isak toe. Die Here beloof dus ook aan die Isak dat Sy nageslag talryk sal wees. En ons weet uit die NT dat hierdie nageslag eintlik die Here Jesus sou wees asook almal uit alle nasies wat in Christus is. Dis eintlik opwindend: die verbondsgedagte naamlik dat wat God aan Abraham geskenk het, skenk Hy nou aan Isak. Wat ons ook moet sien is dat die vervulling van verbondsbeloftes aan God se trou skarnier en nie aan die mens se voortreflikheid nie. Isak het op berg Moria met sy eie oë gesien hoe waar dit is. Maar Isak moes van sy kant ook die verbondsbeloftes glo en vir homself aanneem. Dis wat vers 5 impliseer. Dit help nie God se trou is daar en die beloftes is daar, maar die mens leef nie gehoorsaam binne die verbond nie. Isak moes dit leer.

2 VERSE 7-11 > ISAK HERHAAL SY PA SE SONDE
Mens kan dit beswaarlik glo, maar dis waar. Wat sy pa doen, doen Isak net so. Selfs Abraham se sonde. Dis iets wat sy pa twee maal gedoen het: om uit vrees vir veiligheid te lieg oor sy vrou en te maak of dit sy suster is. Beide Abraham en Isak lieg oor hulle vroue teenoor Abimeleg van die Filistyne. Hoewel dit nie dieselfde persone was nie, want Abimeleg was meer van ‘n titel as ‘n naam. En daar was ook ‘n tussenpose van baie jare tussen die verskillende episodes.

Maar steeds is die ooreenkomste opvallend: Beide pa en seun word deur die Filistynse koning bestraf. Beide het mooi vroue gehad. Beide vrees vir hulle veiligheid. Beide vrees dat hulle dalk gedood kan word en iemand met hulle vroue sou trou. Beide sê hulle vrou is hulle suster. Beide besef nie eintlik hoe ernstig hulle sonde voor God is nie.

Daar is egter ook verskille: Isak wag naamlik totdat iemand direk vir Rebekka nader voordat hy sy storie spin. Sy moed begewe hom op nommer 99 terwyl Abraham vooraf al sy plan gereed gehad het.

Verder ontdek die jonger Abimelek sommer gou die waarheid toe hy sien dat Isak nie vir Rebekka hanteer soos sy suster nie, maar sy vrou. In Abraham se geval moes die Here vir Abimeleg direk aanspreek.

Die groot rede vir die ooreenkomste tussen Isak en sy pa is omdat Isak ‘n heenwysing na die Here Jesus is – wat by geleentheid gesê het: “Die Seun vd Mens kan niks uit homself doen nie. Hy doen net wat Hy Sy Vader sien doen” (Joh 5:19).
Dit beteken natuurlik nie dat God die Vader (soos Abraham) gesondig het en Christus Hom dit gaan nadoen het nie!

Isak versinnebeeld egter die Here Jesus deur Sy eenheid met sy vader. Op hierdie manier vind ons vir Jesus in die OT en in Genesis!

3 VERSE 12-25 > ISAK KEER TERUG NA DIE PLEK VAN SEËN
God het belowe dat Hy vir Isak sou lei na die plek waar hy moes woon. Isak sou egter nie kon raai op watter manier dit sou gebeur nie, naamlik deur swaarkry en teenstand!

‘n Mens sou nie eintlik kon sê dat Isak teenstand ervaar het nie. In Gerar het hy wonderlike oeste gehad en hy het ryk geword (verse 12-14). Dit was seën van die Here ten spyte van Isak se leuen oor sy vrou. Maar Abimeleg sien Isak se voorspoed nie as die Here se seën nie. Hy sien vir Isak as ‘n magtige figuur en eintlik ‘n bedreiging vir die Filistyne – veral oor sy pa Abraham. Die Filistyne het naamlik die putte wat Abraham gegrawe het, gaan opvul. Want om ‘n put te grawe was in daardie tyd soos om eiendomsreg op grond te bekom. Dis waarom die Filistyne die putte gaan toegooi het. Want hulle wou verhoed dat Abraham en sy nageslag sou kon aanspraak maak op grondbesit. En dit terwyl ‘n waterput in daardie tyd so waardevol soos ‘n goudmyn was. Maar Isak het baie vee gehad en ter wille van oorlewing het hy die putte van sy pa weer gaan oopmaak en nog ekstra putte gegrawe wat baie water opgelewer het – byna soos ‘n fontein. Hy doen dit vir oorlewing, maar die Filistyne sien dit as grondbeslaglegging. Vandaar die teenstand teen Isak – wat menslik verklaarbaar is. Maar die Here gebruik die teenstand om vir Isak te lei na die land waar HY hom wou hê.

Oral waar Isak putte grawe, ontstaan daar dus dispuut van die Filistyne se kant af.

En toe Abimeleg gevolglik vir Isak vra om die land te verlaat, toe gaan hy! Hy wou glad nie wees waar daar konflik en onmin is nie. Weer eens ‘n prentebeeld van Jesus.

Maar hy grawe toe weer ‘n put – waaroor daar wonder bo wonder geen dispuut ontstaan nie. Dalk omdat hy aan die trek was en die afstand van die Filistyne reeds beduidend was.

Hierdie put noem Isak toe “Rehoboth” (“ruimte”) – ‘n aanduiding van die hoop wat Isak nou gehad het dat dit die plek was waar die Here wou hê hy moes bly.

Toe gebeur daar iets onverwags en vreemd. Verse 23-25. En in hierdie 3 verse vind ons die sleutel om die hele hoofstuk te verstaan.

Tot op hierdie punt was Isak se besluit van waar om hom te vestig gebaseer op die aanwesigheid van baie water asook die afwesigheid van vyandskap. Maar nou, noudat hy ‘n put gegrawe het wat nie aangeveg word nie en wat rus en vrede bring, nou trek hy weg na Berseba! Mens sou mos verwag dat hy nou by sy Rehoboth-put sou bly. Maar vers 23 sê net – sonder om redes te verskaf – Isak het na Berseba getrek.

Ons sien dus dat daar ‘n groot verandering gekom het in Isak se denke. Voorheen het wisselende omstandighede sy denke gevorm. Maar nou, skielik, is dit asof iets dieper en meer edel sy denke rig.

Berseba was die eerste plek waarheen Abraham gegaan het nadat hy en Isak van berg Moria teruggekeer het (Gen 22:19). Isak het geweet dat God beloof het om aan hom die land te gee wat Hy aan Abraham beloof het. Hy het dus besef dat – deur al die teenstand en probleme rondom die waterputte – die Here hom teruggelei het na die land van belofte, terug na die land waar sy pa met God gewandel het. Isak het – vir geen logiese rede nie – na Berseba gegaan omdat hy geweet het DIS waar die Here hom wil hê.

En hierdie besluit was die regte een, want onmiddelik gee die Here vir hom woorde van herversekering (v 24): “Ek is die God van jou vader Abraham. Moenie bang wees nie, want ek is met jou. Ek sal jou seën en jou nageslag vermeerder om Abraham se onthalwe.”

En vers 25 is besonder belangrik. Kyk na die volgorde waarvolgens Isak sy blyplek in Berseba georganiseer het: “Isak het in Berseba ‘n altaar gebou en die Naam van die Here aangeroep en sy tent daar opgeslaan en sy diensknegte het ‘n put gegrawe.” Nou is putgrawe skielik die laaste ding op sy lysie. En die altaar eerste.

Voorheen het Isak die wil van die Here probeer te wete kom uit sy omstandighede. Waar hy ‘n watergewende put gegrawe het en daar was nie teenstand nie, het hy gebly. Maar in vers 25 word dit omgekeer. EERS bou hy ‘n altaar, dan aanbid hy, dan slaan hy tent op en dan grawe hy ‘n put.

Daar is ‘n groot geestelike beginsel in hierdie verse opgesluit. Die plek van die Here se mense is Sy teenwoordigheid. Die plek waar ‘n Christen moet wees is die plek waar die Here se koninkryk gesoek en gedien word, waar Sy Woord omhels word en Sy teenwoordigheid en gemeenskap en aanbidding bo alles tel. Dan sal Hy ook in die aardse dinge voorsien.

4 VERSE 26-31 > ABIMELEG SE GETUIENIS
Voordat Isak se prioriteite verander het, het hy hom hoofsaaklik laat lei deur hoe die Here omstandighede beskik en voorsien. Maar, nou dat sy prioriteite verander het, is die Here se seën en Sy leiding baie meer opsigtelik in Isak se lewe.

Kyk wat gebeur hier: Voorheen was die Here se seënende hand ook sigbaar op Isak se lewe, maar die Filistyne het gereageer met vyandigheid en het hom versoek om die land te verlaat.

Nou woon Isak in Berseba en die Here se seën is weer eens baie duidelik. Wat gebeur nou? Nou kom die Filistyne al die pad na hom toe om te hoor of hulle nie met hom ‘n verdrag kan sluit nie! Wat het hierdie verandering in hulle houding veroorsaak?

Toe Isak tussen die Filistyne was, was sy gedrag maar power. Hy het gelieg oor sy vrou. Hulle het gedink sy materiële voorspoed is toe te skryf slegs aan blote geluk.

Nou dat sy prioriteite verander het en hy volgens geestelike riglyne leef, was die Here se voorsiening weer eens duidelik sigbaar. En nou besef Abimeleg – wat ‘n heiden was – dat dit die Here se hand is wat op Isak rus en dat dit raadsaam is om met Isak in ‘n goeie verhouding te leef. “Ons sien duidelik dat die Here by jou is” getuig Abimeleg teenoor Isak.

5 VERSE 32-33 > DIE GETUIENIS VAN DIE PUT
Dit wat voorheen Isak se eerste besorgdheid was, is nou sy laaste besorgdheid. Maar, WATER was nog steeds belangrik vir sy oorlewing met soveel vee soos wat hy gehad het. Die Here sal nie Sy dienaar laat bly sonder dit wat hy nodig het nie. Daarom lewer die put baie water op. Let op: Die Here voorsien wat nodig is. Die plek van die Here se teenwoordigheid is dus OOK ‘n plek van voorsiening!

6 VERSE 34-35 > ISAK SE VERDRIET
Om die regte prioriteite te hê en die koninkryk eerste te soek, is geen waarborg vir ‘n sorgvrye lewe nie. Dis nie ‘n pad met rose besaai nie. Isak en Rebekka het hulle kopsere gehad. En die bron van hulle verdriet was hulle een seun, Esau. Esau het met iemand uit die Hettitiese nasie getrou. Glad nie uit die verbondsvolk van God nie. En hulle het die lewe vir Isak en Rebekka misrabel gemaak (v 34).

Ja, selfs al is ‘n mens in die regte verhouding met God, sal moeites en probleme steeds deel van jou lewe wees. Die meeste van die tyd is dit die stryde wat algemeen aan die gevalle mensdom kleef. Die toegewyde Christen bly dit nie gespaar nie.

7 WAT LEER DIE GEDEELTE VIR ONS?
Die hoofstuk wys eerstens vir ons die twee sisteme waarvolgens Christen-gelowiges die Here se leiding (guidance) kan ervaar: 1 Deur te leef volgens beginsels of 2 deur te leef volgens voorsienigheid. Wanneer ons leef volgens die beginsels van die Woord van God, leef ons die naaste aan Sy stem. Wanneer ons slegs staatmaak op Sy voorsienigheid, sal ons ook kom waar Hy ons wil hê, maar sonder die vreugde van om self deel te wees van die proses. As ‘n mens net op die Here se voorsienigheid vertrou, is jy die passiewe voorwerp wat net rondgeskuif word van punt tot punt deur omstandighede wat deur die Here beskik word.

Tweedens: Ons leer hoe ‘n verbondsverhouding met die Here werk. Isak was van die begin van sy lewe af VAN GOD SE KANT AF in die verbondslewe betrek omdat hy Abraham se seun was. As teken daarvan was hy op 8 dae ouderdom besny. Maar hy moes iewers in sy lewe op die punt kom om die Here se verbondsbeloftes persoonlik toe te eien. Hy moes leer om met God te wandel in geloof en gehoorsaamheid. En die proses van verbondslewe/heiligmaking is nie altyd ‘n eenvoudige saak nie. Dis ‘n oefenskool van dissipline. Daar is nie kortpaadjies nie. Isak het dit op die harde manier geleer. Maar al het hy dikwels gefaal, kon hy seker wees van die Here se troue liefde.

Derdens: Waarom het die Here nie vir Isak (en ook vir Abraham) harder en fermer gedissiplineer oor hulle leuens ten opsigte van hulle vroue nie? Moes Hy hulle nie sterker bygekom het nie?

Antwoord: Daardie sonde was nie die wortelprobleem nie. Die wortelprobleem was ‘n gebrek aan geloofsvertroue op wie/wat God is. Die Here wou hê hulle moes daardie wortelsonde ontdek. Die leuens was net ‘n simptoom. Dit was uit vrees gebore. Maar die vrees het uit ‘n stuk gebrekkige geloofsvisie voortgekom. ‘n Gebrekkige besef van wie/wat die Here is. Baie baie sondes sal uit ons lewens verdwyn wanneer ons ‘n genoegsame besef kry van wie die Here God regtig is.

Tafelberg Gemeente
Buitenkantstraat 39, Kaapstad
www.tafelbergkerk.co.za
Dr Chris Saayman

Category Genesis Reeks

© 2018 Designed with ❤ by Web Crew