Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

Laai Af

GENESIS-REEKS NO 24
Genesis 25: Die beginsel van Goddelike uitverkiesing

Die leer van die Here God se genadige uitverkiesing van mense tot saligheid, staan omtrent die hele Bybel vol.

In kort beteken dit die volgende:

In sy ewige Raadsplan – nog voordat daar ‘n skepping was (Efes 1:4; 2 Tim 1:9) – het God die Vader – ten einde Sy liefde en barmhartigheid te bewys – besluit om uit die gevalle rebelse sondige mensdom wat die ewige dood verdien – ‘n bruid aan Sy Seun te gee – ja om sekere mense in Christus te verlos. En, om Sy heiligheid en regverdigheid te bewys, het Hy besluit om die res van die gevalle rebelse mensdom in die verderf wat hulle self verkies, te laat bly. Hy bewys dus aan hulle geen onreg nie, want hulle verdien deur en deur die ewige dood.

Die verlore sondaar is volgens die Skrif nie ‘n slagoffer (soos ‘n drenkeling) nie, maar ‘n opstandige rebel wat ‘n staatsgreep op die Groot Koning se heerskappy uitvoer. ‘n Slagoffer verdien redding, maar ‘n rebel verdien doodstraf. Daarom is God aan niemand enige begenadiging verskuldig nie. Indien Hy dit wel aan sommige wil gee, is dit bonatuurlike vrye onverdiende guns/genade alleen.

Eintlik is dit ONREGVERDIG indien God enigiemand kies en red. Soos wat dit onregverdig sou wees van ‘n Koning om mense wat die omverwerping van Sy koninkryk probeer uitvoer, te spaar. Dit REGVERDIG wees indien Hy niemand spaar nie en almal laat teregstel. Maar ONREGVERDIG om iemand te begenadig. Iemand wat regtig die Evangelie verstaan moet dus nie uitroep: “O hoe genadig was God teenoor my nie” maar “O wat ‘n ONREG het Hy teenoor my gepleeg dat Hy my gekies het tot Sy kind. Hoe KON Hy dit doen. Ek het net die ewige verderf verdien. Ek is ‘n opstandige rebel teen Sy koningskap. Dit sou Sy GENADE wees indien Hy sou besluit het om by my verby te gaan en my te los op my verlore pad.”

Min Christene sal dit ontken dat hierdie leer van die Goddelike verkiesing die Bybel vol staan, maar baie aanvaar dit nie, omdat dit dit laat klink of God teenoor sommige mense onreg pleeg. Dit werp ‘n skaduwee oor Sy karakter, dink hulle. Klink of Hy ‘n monster is. En dit wil ons nie hê nie.

Daarom redeneer hulle dat God maar net voor die skepping reeds die toekoms ingekyk het en gesien het wie later tot Christus sal bekeer en toe kies Hy hulle! OF dat God eintlik vir Christus gekies het en nou is almal wat vir Christus kies ook uitverkies. OF dat Hy eintlik alle mense gekies het en daarom sal die hele mensdom uiteindelik in die hemel wees.

Maar u kan dadelik sien hoe al hierdie sienings op ‘n subtiele manier vir Koning Mens die hef in die hand gee en God word afhanklik van wat die mens besluit. God sekondeer net wat Koning Mens kies. Dis op geen manier die boodskap van die Skrif nie!

Nee, die Bybel leer dat die mens wat tot ootmoed en sondebesef voor die Here kom en vertroue op Jesus se verlossing plaas, DOEN SO juis omdat hy/sy deur God verkies was voor die skepping. Ons geloof en bekering is die VRUG/uitvloeisel van die verkiesing, nie die GROND van die verkiesing nie. Die grond van die verkiesing is slegs God se onverklaarbare vrye genade en guns.

Dink aan Lasarus se opwekking uit die dood. Indien die Meester nie spesifiek sy naam geroep het nie, sou AL die grafte oopgegaan het. Maar Jesus roep net vir Lasarus en laat die res in die graf bly. Doen Hy hulle enige onreg aan? Absoluut geen. Almal verdien immers die dood, daarom doen Hy niemand onreg deur hulle daar te laat bly nie! Maar Hy kies dat Lásarus opstaan en daarom kan die dood hom nie vir een sekonde vashou nie! Dis ‘n prentjie van hoe dit werk by die genadige redding van ‘n sondaar.

Wanneer ons by ‘n OT-gedeelte kom, wat deur die NT verklaar word, MOET ons die NT-verklaring eerste stel en ons eie idees eenkant plaas. Want die NT-verklaring is die Heilige Gees se eie verklaring.

En dis presies wat ons by Genesis 25 sien. Want weet u wat? Die NT verklaar hierdie hoofstuk. Waar? In Romeine 9. En Rom 9 is weer die kerngedeelte wat die leer van die uitverkiesing uiteensit. En in Rom 9 gebruik die apostel Paulus spesifiek Genesis 25 om die BEGINSEL van die verkiesing te illustreer! Daarom handel Genesis 25 oor die Goddelike beginsel van die uitverkiesing!

Kom ons luister eers wat in Romeine 9 staan en dan gaan ons deur Genesis 25 in die lig wat Romeine 9 daarop werp!

Romeine 9: 7-18 > “Nie almal wat nakomelinge van Abraham is, is werklik kinders van Abraham nie. Inteendeel, die belofte was: “Uit Isak sal daar vir jou ‘n nageslag kom.” Dit wil sê: Dit is nie die kinders wat in die gewone gang van die lewe gebore is, wat kinders van God is nie; dit is die kinders wat kragtens die belofte van God gebore is, wat as Abraham se nageslag gereken word. Die woorde: “Op dié tyd sal Ek weer kom, en dan sal Sara ‘n seun hê,” was immers ‘n belofte. En dis nie al nie. Rebekka was net een keer swanger, deur ons voorvader Isak.Toe haar kinders nog nie gebore was nie en ook nog niks goeds of kwaads gedoen het nie, toe is al vir haar gesê: “Die oudste sal die jongste dien.” Daar staan ook geskrywe: “Vir Jakob het Ek liefgehad, maar vir Esau het Ek gehaat.” Die besluit van God is gegrond op uitverkiesing; dit hang dus nie af van wat ‘n mens doen nie, maar van Hom wat jou roep. Wat moet ons hieruit aflei? Dat God onregverdig is? Beslis nie! Vir Moses het Hy gesê: “Ek sal barmhartig wees oor wie Ek barmhartig wil wees, en Ek sal My ontferm oor wie Ek My wil ontferm.” Dit hang dus nie af van ‘n mens se wil of strewe nie, maar van God wat barmhartig is. In die Skrif sê God immers vir die farao: “Juis hiervoor het Ek jou teen My in opstand laat kom: dat Ek in jou my krag kan toon en dat my Naam oor die hele aarde verkondig kan word.” Dit is dus inderdaad so dat God Hom ontferm oor wie Hy wil, en dat Hy verhard wie Hy wil”.

Terug na Genesis 25…

In verse 1-11 lees ons van Abraham se dood en sy afstammelinge. Dit lyk of Abraham NA Sara se dood met Ketura getrou het en daar ‘n klompie kinders gebore is toe hy omtrent 140 wees – wat hulle geboortes ‘n groter wonderwerk as Isak s’n sou maak!

Talle Skrifverklaarders reken egter dat Ketura ‘n byvrou van Abraham was – lank voor Sara se dood – veral omdat sy in 1 Kron 1:32 so genoem word.

Hoe dit ookal sy, die punt van verse 1-6 is om te bevestig dat Abraham inderdaad die vader van baie nasies was, maar dat dit – volgens God’s verkiesing – SLEGS deur ISAK is wat die Abrahamverbond voortgesit sou word. Dit is wat Abraham geglo het en daarom gee hy aan sy ander kinders geskenke en stuur hulle weg sodat hulle uit Isak se pad kon kom (vers 6). Mens wonder of Ismael ook weggestuur was, maar hy was saam met Isak betrokke by Abraham se begrafnis in die grot van Magpela.

Punt is net: God se belofte is nie deur Ismael vervul nie, maar deur Isak. Ná Abraham se afsterwe op 175, het God se bedoeling en belofte eenvoudig voortgegaan. Die fakkel was oorgegee van pa na seun. Net EEN seun: Isak. God vervul Sy belofte wat Hy in Genesis 17:4 i.v.m. Isak gemaak het.

In verse 12-28 gaan dit oor Ismael se dood en wie sy afstammelinge was. God vervul ook sy belofte wat Hy in Genesis 17:20 i.v.m. Ismael gemaak het! Dat Ismael geseën sou word en die vader sou wees van 12 prinse. Maar God het hom nie gekies as die een deur wie Sy beloftes in die Abrahamverbond vervul sou word nie.

Abraham het waarskynlik altyd gehoop dat die Here sy gedagte oor Ismael sou verander, maar die Here het geweier om Isak (die seun wat deur God se belofte gebore is) te verruil vir Ismael (wat deur Abraham en Sara se eie werke gebore is). Ismael is daarom ook nie in die grot van Magpela begrawe nie, want dit was ‘n monument van hoop vir die draers van die verbondsbelofte – deur Isak.

Verse 19-26 handel oor Isak se afstammelinge. Mens kon nou reeds sien hoe die lyn van Goddelike verkiesing ontplooi: God kies Sara, nie Hagar of Ketura om die moeder van die beloftekind te wees nie. God kies Isak – nog lank voor sy geboorte.

In verse 19-26 sien ons hoe hierdie proses voortgaan wanneer Jakob die voortsetting van die verbondsbelofte word en nie Esau nie. Terwyl dit eintlik Esau moes wees, want hy het die eersgeboortereg gehad.

Die Here het Isak se gebed verhoor aangaande Rebekka se geslote moederskoot en gedurende haar swangerskap was sy bewus van ‘n intense stryd binne-in haar. Vers 23 > Die Here sê: “Daar is twee nasies in jou skoot, die ouer een sal die jonger een dien. ‘n Tweeling dus, wat reeds in moederskoot in konflik was. Maar die jongste sou die een wees deur wie God Sy belofte in Christus sou vervul. Voor hulle geboorte reeds, bepaal die Here wie die eersgeboortereg sou dra.

Dis hiérna wat die apostel Paulus in Rom 9 verwys wanneer hy die beginsel van uitverkiesing verduidelik. Ja, in Sy alwetenheid het God vooraf geweet wat Esau en Jakob alles sou aanvang. En ons almal weet dat juis JAKOB ‘n groot skelm sou wees. Maar God se keuse het nie berus op hulle werke (goed of sleg) nie. God se verkiesing het nie berus op vooruitkennis nie. Dit het net berus op Sy eie goeie wil en genade.

Verse 27-34 handel oor hoe Esau sy eersgeboortereg verkwansel het en Jakob dit bekom het – sodat die Here se Raadsplan vervul kan word. Jakob het nie op die Here vertrou nie, maar sy eie slim plan gemaak. Esau was eintlik die “goeie” man en Jakob die skelm. Maar God se verkiesing gaan by Esau verby en Jakob is in die visier. Esau was die “macho man”, Jakob die een wat liewer in die huis wou bly. In die mens se oë was Esau die uitverkorene. Maar in God se oë was dit Jakob.

Toe Esau eendag doodhonger by die huis kom, bewys Jakob nie vriendelike gasvryheid nie, maar sien ‘n geleentheid om voordeel te trek. Nes hy by hulle geboorte die hakskeengryper was, gryp hy weer eens na dit wat hy kan kry. Hy wil Esau se eersgeboortereg hê – in ruil vir ‘n bordjie sop.

Esau sien net dit wat voorhande is: Die kortstondige bevrediging van tydelike behoeftes. Hy het nie veel oog gehad vir geestelike en ewige dinge nie. Hy sweer dus vir Jakob: “Ja, my eersgeboortereg is joune, gee my net daai sop.” Hy vergeet die toekoms en verkoop sy ewige bestemming vir kortstondige plesier. As dit goed voel, doen dit. As dit lekker proe, eet dit. Dis Esau!

Maar, wat eintlik hier uitgespeel het, was die Here God se ewige Raadsbesluit. Die Here was self in volle kontrole. Dit beteken nie dat Esau nie skuldig was nie. Hy kon nie die Here se Raadsbesluit blameer vir sy ongeestelikheid en ongeloof nie. Dit was sy eie skuld en klaar. Die Here het hom net in sy dwaasheid laat begaan, hom – in Sy ewige besluit – in alle regverdigheid verbygegaan, dis al. En Esau sou die Here nooit van enige onreg kon beskuldig nie.

En dat Jakob – die bedrieër – die draer van die verbondsbelofte sou word en die Messias uit hom gebore sou word? En hy ‘n ernstige gelowige sou word? Wel, hy het dit geensins verdien nie. Hy was dit net op grond van God se vrye guns alleen.

Dit is dus onwaar dat mense wat vir ewig verlore is, dit is omdat God hulle in hulle ellende verbygegaan het. Ja, Hy HET hulle in Sy ewige besluit verbygegaan, maar hulle gaan verlore omdat hulle – met eie keuse – tot die einde van hulle lewe nooit voluit op Christus gehoop het nie. Hulle gaan verlore deur hulle eie skuld. En nie God se skuld nie. Net soos Esau sy eersgeboortereg verkoop het omdat hy gekies het om dit te verag en tydelike behoeftes van groter waarde geag het en nie omdat die Here God die skuld daarvoor moet kry nie.

As ‘n mens verlore gaan, is dit jou eie skuld. As ‘n mens gered word, is dit die Here se “skuld”.

Anders gestel: As ‘n mens verlore gaan, is dit slegs aan jouself te wyte. As ‘n mens gered word, is dit slegs aan God te danke!

Nog anders gesê: As jy verlore gaan WIL jy tot die einde van jou lewe nie daaruit gered word nie, omdat God jou in Sy ewige raad verbygegaan het en jy dus tot die einde van jou lewe heel goed voel oor die feit dat jy nie daaruit gered wil word nie. Dis waarom Jesus in Joh 10:26 sê: “Julle glo nie, want julle is nie my skape nie”.

Maar as God jou in Sy ewige raad verkies het tot saligheid, sal jy iewers langs jou lewenspad begin berou kry en die Heilige Gees sal jou lewe omkeer en jy sal met mag en mening omdraai. Daarom staan daar in Hand 13:48: “Almal wat tot die ewige lewe verordineer was, het gelowig geword”. En in Hand 16:14 staan daar dat die Here Lydia se hart geopen het om op Paulus se woorde ag te slaan.

Hoe weet ‘n mens dus met sekerheid dat God jou nie in Sy ewige raad verbygegaan het nie?

As daar by jou ‘n belangstelling en begeerte en honger en dors is om gered te wees en met die Here te lewe. En die Here se dinge is vir jou ‘n groot aantrekking. Jy smag na vergifnis van sonde en om deur die Here aanvaar te wees en om nie meer Sy Naam te onteer nie. En jy werp jouself doelbewus op Hom.

Die mens by wie die Here in Sy ewige Raad verbygegaan het, sal tot die einde van sy/haar lewe nooit by daardie punt uitkom nie en ook nie veel erg daaraan hê nie. Eintlik GEEN erg daaraan hê nie.

Die Here God gebruik egter die groot boodskap van verkiesing en verwerping om Sy uitverkorenes uit hul doodslaap wakker te skud. Want dis juis húlle wat wakker word wanneer hulle van hierdie dinge hoor. Die persoon wat vandag lyk of hy verbygegaan is, raak môre wakker en word soekende! Niemand mag ooit afgeskryf word nie!

Jesus het in Johannes 10 juis met die ongeredde Jode oor die uitverkiesing gepraat. Ja, met die ongereddes! En vir HULLE gaan sê Hy in 10:15: “Die goeie Herder lê Sy lewe vir die SKAPE af.. nie vir almal voor die voet nie!”

Vir ‘n mens wat nog in geestelike doodslaap is, is die boodskap van God se uitverkiesing ‘n angswekkende oproep tot bekering.

Maar vir mense wat Hom ken en liefhet, is hierdie boodskap van oneindige troos. Die troos van te weet dat my ewige saligheid NIE skarnier aan my vroomheid en toewyding nie, maar aan Sy keuse vir my! Dit is ‘n rotsvaste fondament!

Category Genesis Reeks

© 2018 Designed with ❤ by Web Crew