Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

Laai Af

 

 

 

GENESIS – REEKS NO 22
Tema: By die graf van ‘n geliefde
Skrif: Genesis 23

Kan jy glo! Die sterk geloofsman, die man van God: In trane! Ja, by ‘n geopende graf en in trane. Want Sara is dood. Sy prinses. Want dis wat haar naam beteken. Die vrou saam met wie hy baie sakke sout geëet het. Die vrou saam met wie Abraham dekades lank gewag het op die vervulling van God se belofte. En toe word die kind van die belofte – Isak – uit haar gebore. Die wonderkind omdat sy liggaamlik verstorwe was en nie meer kinders kon hê nie (Hebr 11:27).

En nou sterf Sara in die ouderdom van 127. Isak was toe 37.

Die dood van ‘n geliefde impakteer jou lewe geweldig. Want hoe ‘n mens ookal daaroor dink: dis ‘n oomblik van gedwonge afskeid. Daarom die bittere hartseer. Ons wil tog nie geskei wees van hulle met wie ons ‘n noue band het nie!

Die dood het egter ook ‘n positiewe uitwerking op iemand wat agterbly. Jy word weer opnuut bewus van die wonder van lewe! Dis asof die lewe weer nuwe betekenis en kwaliteit kry. Jou eie lewe word weer opnuut kosbaar. Die dood laat ‘n mens onwillekeurig dink aan die lewe en die dood: JOU lewe en JOU dood!

Wanneer ‘n mens Genesis 23 lees, bevind jy jouself onmiddelik midde-in ‘n stuk diep menslike tragedie. Hier is Abraham as ‘n hartseer mens – ‘n doodgewone mens. Want die dood en hartseer spaar geen mens nie. Ook nie vir Abraham nie. Hy het gehuil en gerou oor Sara se dood. Hy is nie – omdat hy God se man is – verhewe bo menslike smart nie. Dis nie ‘n teken en daad van ongeloof om te huil oor ‘n geliefde wat gesterf het nie – soos wat sommige godsdiensgroepe soms suggereer nie! God se mense is nie verhewe bo hierdie smarte nie.

En ons weet mos dat – ten diepste – die geweeklaag oor die dood, ‘n geweeklaag is oor die sonde. Want die dood is steeds nog die gevolg van die sondeval (Rom 5). Elke keer wanneer iemand sterf vertel dit vir ons iets van die ellende wat deur sonde in die wêreld ingekom het. Dis dalk waarom ook ons Here Jesus se trane gevloei het by sy vriend se graf (Joh 11).

Ek dink dit sou eintlik teleurstellend gewees het indien Abraham NIE gehuil het nie! Want dan sou hy in ‘n ander kategorie van menswees wees. Maar dink net daaraan: Nou kan ons almal – wanneer ons in so ‘n krisis kom – onsself met die “vader van alle gelowiges” vereenselwig.

Natuurlik is die geween van die Christus-gelowige anders as dié van die wêreld. Die gelowige huil om weer op te hou – in besonder wanneer daar van ‘n mede-Christen afskeid geneem word – soos in Abraham se geval.

Die kind vd Here is wel hartseer oor die skeiding en oor die verwoesting wat sonde aanrig, maar die kind van God weet tog ook dat die skeiding nie finaal is nie en dat die sonde deur die Here Jesus oorwin is. Daarom huil die kind van God terwyl sy/haar hart gefokus is op die dag wanneer God al die trane sal afvee (Openb 21). Die kind vd Here weet van ‘n geopende graf – Christus se leë graf. Met vreugde kan ons deur geloofsvertroue (wat gebou is op die Skrif) aanvaar en weet dat die dood sy angel van vernietiging verloor het (1 Kor 15).

Abraham se lewensirkel het erg versmal die dag toe sy vrou gesterf het. Die vol en ryk lewe van saamdoen en saamdroom, was vir eers verby. Abraham was alleen. En hy huil. Maar dan staan hy weer op, want hy het voorbereidings om te tref.

Ons moet verstaan dat Abraham in die beloofde land was, maar dat dit nie aan hom behoort het nie. Hy was ‘n vreemdeling in die land wat die Here lank te vore aan hom toegesê het. ‘n Swerwer wat niks in daardie land van Hebron besit het nie – nie eens ‘n stukkie grond om sy vrou te begrawe nie. Nou moet hy eers oor ‘n graf gaan onderhandel – te midde van sy pyn. “Ek is ‘n vreemdeling en bywoner onder julle” sê hy vir die seuns van Het.

Dis ‘n veelseggende belydenis. Want dit sê iets van ‘n gelowige se manier van mens-wees in die wêreld. Abraham se ware kwaliteite kom na vore noudat hy in beproewing is. Bykomstighede vervaag. Kern-sake kom nou na vore.

En wat is kernsaak? Hy is net ‘n vreemdeling en bywoner op aarde.

Dis ‘n geloofsperspektief – waarvan die ongeredde mens natuurlik niks wil weet nie, want die gevalle mens (buite Christus) is ‘n eersugtige selfbehepte skepsel. Hy wil veel eerder heers en besit as wat hy vreemdeling wil wees. Abraham was dus baie duidelik NIE ongered nie. Die Heilige Gees het in hom gewoon. Vandaar hierdie geloofsuitspraak. Dis woorde wat nie uit homself kom nie. Dit kom van die Gees.

In die OT was bywoners en vreemdelinge in dieselfde sosiale kategorie as weduwees en weeskinders. Hulle was uitgestoot en afhanklik van ander se gunste en gawes. Hulle was nie geanker nie. Hulle was uitgelewer aan ander. Dit was dus nie vir Abraham maklik om daardie woorde uit te spreek nie.

Ja, hy WAS inderdaad ‘n letterlike vreemdeling in die land Kanaan, maar by sy vrou se graf ontdek hy ook dat die kind vd Here hier op aarde altyd ‘n vreemdeling bly. Die kind van God het hierdie kant van die graf eintlik net ‘n oorblyplek, nie ‘n blyplek nie. Alles is tydelik en verganklik. Niks is permanent nie. En as jy dit besef dan verlang jy na die ONverganklike – die vaderland – waar die Vader is. Volgens Hebr 11:16 was dit Abraham se verlange. ‘n BETER vaderland, ‘n hemelse.

Ons leer dus by Abraham wat ‘n sinvolle lewe is. Dis om te weet dat ek nie op aarde ‘n blywende tuiste het nie. En as jy dit weet, dan LEEF jy outomaties ook so. En jy LEEF so dat jou lewe iets begin reflekteer van die ewige tuiste.

In ‘n neutedop gesê: By die graf van ‘n geliefde word ‘n kind van God se vreemdelingskap op aarde vir jou ‘n werklikheid. Dat jou burgerskap eintlik in die hemel is. Dat jy onderweg is na ‘n bestemming. Dan word jy minder aardgebonde. En nie so tuis duskant die graf nie.

Die mense van Hebron bied aan Abraham die grot van Magpelah gratis aan, maar hy weier om dit te neem en dring daarop aan om daarvoor te betaal. ‘n Gelowige moet eerbaar wees – tot op die been! Soos die Apostel Paulus eeue later vir die Thessalonisense sou skryf: “Ons het onsself ordelik tussen julle gedra. Ons het nie iemand anders se kos vir niks geëet nie, maar hard gewerk – dag en nag – om vir niemand ‘n las te wees nie.” (2 Thes 3:7-8).

En vir Timoteus sê die Apostel dat weduwees wat nog enigsins kan werk, nie op die gemeente se lys vir behoeftiges opgeneem mag word nie (1 Tim 5:9-10). Niemand mag onnodiglik van ander afhanklik wees uit luiheid of verkeerde motiewe nie.

Abraham kon die geskenk van die heidene dankbaar aanvaar, maar hy wou nie. Hy was vasbeslote om onkreukbaar eerlik te wees in alles wat hy doen en die heidene het dit raakgesien! Hy het deur sy lewenswyse respek afgedwing.

Wat baie wonderlik is, is verder die kykie op Abraham se lewe vanuit die heidene se oogpunt gesien. Watter indruk het hierdie vreemdeling en bywoner op húlle gemaak? Wel, hoor wat sê hulle vir hom: “Luister na ons, my heer! U is ‘n vors van God onder ons” (vers 6).

‘n Vors van God onder ons! ‘n Vors is tog ‘n koning! Iemand van status, wat heerskappy voer. Iemand wat respek en eerbied afdwing.

Maar vir Hebron se mense – ongelowiges – is Abraham nog MEER as ‘n vors. Hy is ‘n vors VAN GOD! God se onderkoning en verteenwoordiger! Abraham verteenwoordig die hemel op die aarde. En die heidene voel iets daarvan aan!

‘n Vors van God is nie ‘n heerser of koning in eie reg nie. Dis nie iemand wat die koninkryke van die aarde en die rykdomme van die wêreld tot sy beskikking het nie. Want hierdie vors van God is terselftertyd ‘n bywoner en vreemdeling! Sy heerskappy is juis nie van die wêreld nie – waar mot en roes verniel nie (Mat 6:33).

‘n Vors van God is iemand wat in belang van sy God optree. Iemand wat leef en werk in absolute afhanklikheid van die Here.

Sien u van watse tipe koninklikheid praat ons hier? ‘n Koninklike bywoner! ‘n Bywoner wat die KONING verteenwoordig en op pad is na ‘n ewige ryk waar jy nie meer bywoner sal wees nie.

Kyk, die wêreldse mense MOET net iets van hierdie tipe koninklikheid in die Christenmens raaksien en aanvoel. En daaroor navraag doen.

Dis natuurlik moeilike sake hierdie! Want ons menswees hou glad nie van wat ons hier by Abraham sien nie. Ons menswees wil maar alte graag ons eie kleim hier op aarde afsteek. En self baas wees. En opgaar. Ons wil sê: “Dis MYNE dié”.

Maar dis by die rand van die graf waar ons soms tot stilstand geruk word om te besef: “Ek is NIE baas nie. En ek kan nie die lewe vashou en besit nie. En as ek aan die Here behoort, is ek onderweg na ‘n ewige stad. En nou is my passie dat wêreldse mense my sal leer ken as ‘n vors van God wat die Here se belange op die hart dra. Nie omdat ek so oulik is of beter is as ander mense nie, maar omdat ek deur God se genade ingesluit is by die Here Jesus Christus wat die eintlike erfgenaam van God is. In Hom is ek net mede-erfgenaam — soos die Skrif sê.

Tafelberg Gemeente
Buitenkanstraat 39, Kaapstad
www.tafelbergkerk.co.za
Dr Chris Saayman

 

Category Genesis Reeks

© 2018 Designed with ❤ by Web Crew