Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

Laai Af

GENESIS-REEKS NO 20: Werp daardie slawevrou uit!
Skriflesing: Genesis 21

Wanneer die Here regtig aan die werk is, ráák dit ‘n mens in die hart. Dis onmoontlik om nie te reageer nie. Dit veroorsaak ‘n wonderlike vreugde wanneer ‘n mens besef dat dit regtig die Here is wat besig is om te werk. Veral wanneer jy ontdek dat die Here werklik Woord hou. Dit veroorsaak vreugde en vrede. Dit loop oor.

As ‘n mens jou in Abraham & Sara se situasie indink, kan jy ‘n prentjie vorm van hoeveel dankbaarheid en vreugde hulle moes gehad het toe Sara uiteindelik – ná 2 dekades sedert God die belofte gegee het – swanger word. Sy was reeds bejaard en Abraham ook. Uit biologiese oogpunt gesien kon sy nie swanger word nie. Hulle het sonder twyfel totaal moed verloor. Die Here se beloftes laat ‘n mens soms erg wonder – dit werk nogal dikwels so. Maar die Here het beloof – klaar! Baie jare tevore. Die Here het gesê…

Die eerste 8 verse van Genesis 21 praat oor die Here wat aan die werk is. Ja, die beloftekind is in Sara se liggaam in aantog! Dit sou Isak wees! God se beloftewoord gaan letterlik vlees word! En wie anders as die lewende God kon die bewerker hiervan wees? Want menslik, was dit onmoontlik! Isak sou letterlik vanuit God se belofte gebore word. Sy geboorte sou die werk van die Heilige Gees wees – nie Abraham en Sara se werksverrigting nie.

Dis groot dinge waaroor in hierdie verse berig word. Want die gedagte van ‘n NAGESLAG was fundamenteel belangrik in die hele verlossingsplan van God sedert die moederbelofte in Gen 3:15. God se groot belofte was tog dat daar ‘n Verlosser uit Eva se nageslag gebore sou word. Namate die tyd verbygegaan het, het die belofte meer en meer vleis gekry. En ons weet dat Hy beslis uit Abraham se nageslag sou voortkom, maar beslis nie deur Abraham & Hagar se Ismael-kind nie. Ismael was ‘n simbool van die MENS se werksaamheid. Die MENS se doen. Nee, die Verlosser sou gebore word uit Abraham se nageslag wat deur die werk van die HEILIGE GEES moes plaasvind. En daarom deur Sara – wat nie meer kinders kon hê nie. Haar moederskoot was verstorwe – as gevolg van ouderdom. Die Here moes dus die konsepsie bewerkstellig. Isak se geboorte was dus deur genade, deur God se werksverrigting, deur die Gees – sonder die mens se hulp en sonder die werke van die mens. SO het die Here se kerk van alle eeue sy ontstaan gehad! Want Isak se daarwees, was die hoeksteen van die ganse kerk van God tot by ons vandag in 2018 en verder tot by die wederkoms en voleinding!

Geen wonder dat daar aan Abraham en Sara se blydskap geen einde was nie. Die naam ISAK beteken dan ook “hy lag” of “hy laat lag”. Dis ‘n vreugde-lag. God het regtig woord gehou, Hy is getrou, Hy is aan die werk, Hy leef regtig, Hy is met ons, ons is werklik Syne…. Dis die rede vir die blydskap.

Jare tevore was daar ook ‘n gelag, maar dit was ‘n siniese gelag. Eers was dit Abraham wat gelag het toe hy hoor Sara sal swanger word. En toe was dit weer Sara se lag toe sy hoor hoe Abraham se besoekers vir hom meedeel dat sy sou swanger word.

Maar híérdie keer lag Sara die lag van geloof (vers 6). Sy lag oor die Here wat wonders doen. ‘n Mens lag van oor tot oor wanneer die Here jou lewe kom binnedring en in wonderkrag jou koers en bestemming verander – en ‘n nuwe doel aan jou lewe gee. Dis seker.

Die ware Christelike Geloof is die enigste godsdiens op aarde wat deur vreugde gekenmerk word. ‘n Sigbare blydskap. Want dis slegs ware Christene wat die rede vir blydskap ken. Nie omdat hulle aan Isak se geboorte dink nie, maar omdat hulle die Groter Isak leer ken het. Jesus van Nasaret. Hý wie se ma ‘n maagd was. Hy wie se geboorte van A-Z deur die Heilige Gees bewerk is. Sara se moederskoot was verstorwe en Maria was ‘n maagd. Die Gees van God het letterlik ‘n mens in haar skoot geskep. Die Seun van God – wat geen deel gehad het aan die vloek van die sondeval nie. Dis waarom Hy WONDERBAAR genoem word (Jes 9:5). Isak se wondergeboorte het slegs plaasgevind sodat JESUS uiteindelik op die aarde kon kom en die koers en bestemming verander van almal wat ooit op Hom hulle vertroue sou vestig. DIS waarom Christene lag van blydskap en waarom die kerk nie vol somberheid & mismoedigheid is nie.

Maar ons weet almal dat dit nie altyd maklik is om ‘n vreugdelewe te handhaaf nie. Soms wil die Here se mense eerder huil van frustrasie. Want daar is altyd magte en kragte aan die werk wat ons blydskap wil vernietig. Ons leef immers in ‘n gevalle wêreld soos Genesis 3 vir ons verduidelik het. Die sonde laat oral sy merk.

Dit het ook in Abraham se kring gebeur. Die verhaal van Abraham en sy kinders is ‘n verhaal van vreugde EN droefheid, geloof EN ongeloof. Hoewel hy en Sara so dankbaar en bly was, het nie almal daarin gedeel nie. Want nie almal wat kinders van Abraham is, is werklik kinders van Abraham nie! Slegs hulle wat uit die geloof in God se belofte was, was werklik sy kinders en nie almal wat biologies uit hom gebore was nie! Of altans – dit is hoe die Here daarna gekyk het.

Ismael was byvoorbeeld Abraham se biologiese seun, en hy lag ook. Maar sy lag, is ‘n spot-lag – vol wrewel. En dit bring hartseer voort.

Die Abrahamverhaal wys vir ons hoe sonde en wantroue in die Here en geestelike papbroekigheid en louheid altyd hartseer tot gevolg het.

Ismael was ontevrede omdat die aankoms van die wonderkind sy kaarte kom deurmekaarkrap het. Hy was Abraham se enigste kind en erfgenaam, maar nou voel hy veronreg. Hy voel ‘n magtelose woede. Alles is Isak se skuld.

Ook Sara is ongelukkig, want sy kan Ismael se gelag nie verdra nie. Ismael was boonop maar nog altyd ‘n groot hartseer in haar lewe. Hy het haar altyd herinner aan haar eie onvermoë. Hy is vir haar ‘n vernedering, om die minste te sê. Hy is HAAR man se kind, by ‘n slavin. En SY was self verantwoordelik vir die reëlings! Skande!!

Maar nou is Isak daar en die bordjies is verhang. Nou is Ismael minderwaardig. Ja, hy is wel Abraham se kind – maar by ‘n slavin. Maar Isak nie. Maar, sê nou maar net Ismael sou sy lyf rondswaai en aanspraak maak op Isak se voorregte? Sara is groen van jaloesie. Daar is net een uitkoms: WEG met Hagar en Ismael!

Ten midde van die vreugde oor God se wonderkind, is daar onderlinge woelinge in Abraham se gesin! Vroeër het Hagar ook pad gevat, maar toe was Ismael nog nie gebore nie (hfst 16). Hierdie keer is Abraham se eie kind betrokke. En Sara eis dat HY hulle moet wegjaag! In die woestyn in! Na hulle dood toe. Wat nou gemaak? ‘n Radelose pa en jaloerse ma! En ‘n ontnugterde kind!

En toe begin die Here praat! Hy gryp in! En Hy kies skynbaar Sara se kant. Die Here se opdrag is ondubbelsinnig: Hagar en Ismael moet inderdaad weg! Wat die begin was van ‘n verhaal van trane.

Maar nou moet ons darem ook dadelik sê: Die Here God benader sake vanuit hemelse perspektief. Hy hou Hom in die eerste plek besig met die dinge wat betrekking het op Sy verlossingsplan vir Sy mense in die wêreld. As ons DIT nie verstaan nie, sal ons nie kan kleinkry waarom die Here beveel het dat Hagar en Ismael weggestuur moet word nie.

As die Here na Ismael en Isak kyk – wat sien Hy?

ISMAEL = die produk van ongehoorsame mense se eie beplanning – die vlees dus

ISAK = die geloofskind. Die produk van God se belofte en God se werksverrigting.

Isak en Ismael versinnebeeld dus geloofsvertroue en wantroue. Die stryd tussen lig en duisternis. Kerk en wêreld. Vlees en Gees. En die Here hou Sy kerk in stand, vergeefs die hel se woede.

Dit gaan vir die Here om veel meer as ‘n jaloerse ma en radelose pa en weerlose seun. Hy beplan groter. Baie groter. Uiteindelik het Hy wel ook vir Ismael ‘n groot nageslag gegee. Maar, wanneer die Here na Abraham se gesin kyk, kyk Hy met die oog op die langtermyn bestaan van Sy kerk op aarde. En die verlossing van die kerk – deur Jesus wat moes kom. En as dit DAAROOR gaan, kan geloof en ongeloof, vlees en gees, nie onder dieselfde dak bly nie! Ja, dit sou tot trane lei. Maar die trane is nie te wyte aan ‘n onregverdige God nie, maar aan ongehoorsame mense. Dis nie die Here wat verwyt moet word vir al die trane in die wêreld nie. Die godlose MENS maak sy eie bed op.

Die verbysterende is egter dat die Here hom gaan bemoei met die vrug van die mens se ongehoorsaamheid & onafhanklikheid van God.

Hoe kan dit wees? Moes Hy dan nie met hulle klaargespeel het nie. Volgens menslike logika, ja. Maar die lewende God is God, nie ‘n mens nie. As Genesis deur ‘n MENS uitgedink sou wees, sou God met hierdie mense klaargespeel het. Maar, Genesis is 1) 100% die waarheid en 2) deur die Heilige Gees ingegee. Daarom leer ons uit hierdie boek die Here ken soos Hy werklik is!

Wat gebeur in hoofstuk 21? Die Here handel met die mense NIE volgens wat hulle verdien nie, maar volgens Sy genadige plan met die mensdom – wat tot in die verste toekoms strek. ‘n Plan wat sal uitmond in ‘n Nuwe aarde en almal wat in Christus was uit alle nasies, aan die enigste ware God lof en eer sal toebring.

Sou ons in die NT na Galasiërs 4 gaan kyk, sien ons – deur Nuwe Testamentiese terugwaartse perspektief op Genesis 21 – hoe die Here in Genesis 21 al die tyd besig was om in Ismael en Isak geestelike beginsels te teken – beginsels wat deur alle eeue geld.

ISMAEL staan vir die gevalle menslike natuur wat deur eie werke probeer om in God se goeie boekies te bly. Dis die mens wat net tot die uiterlike godsdiens of kerk behoort, maar nie die Heilige Gees ontvang het nie.

ISAK staan vir die mens wat werklik ‘n kind van Abraham is: Wat deur geloofsvertroue op Christus alleen hoop en deur die Gees vervul is. Dis die mens wat tot die ware kerk behoort – nie net uiterlik nie, maar ook innerlik, in Gees en Waarheid.

Dus: Vlees teenoor Gees. Gevalle menslike natuur teenoor die Heilige Gees. Werke teenoor genade. Selfdoen teenoor geloofsvertroue. Eie meriete teenoor Gods belofte. Selfverlossing teenoor Kruisverlossing.

Dit was juis Paulus se hele probleem met die Galasiërs: Dat hulle by die Gees begin het maar by die vlees wil eindig. Hulle het begin deur God se belofte te glo, maar wou eindig met dit-en-dat doen om in God se goeie boekies te bly. Dis Isak teenoor Ismael! WEG met Ismael!

Hierdie twee beginsels, kan glad nie hande hou nie. Wie deur die Gees leef, moet die Ismael-beginsel vaarwel roep. Wegstuur, soos Abraham vir Hagar & Ismael moes wegstuur. Daar kan en mag geen eenheid wees tussen ware volgelinge van Christus en die gees van die gevalle mens wat TEENOOR die Waarheid staan en volgens totaal ander beginsels leef nie.

Dit is duidelik dat Abraham op hierdie manier met die Here geleef het, want nie-gelowiges kon by hom agterkom dat die Here met hom is. Dit sien ons uit die tweede helfte van Genesis 21 waar Abraham hom in ‘n landstreek bevind waar die voorlopers van die latere Filistyne gewoon het. En daar word ‘n verdrag onderteken oor die gebruik van ‘n waterput tussen Abraham en die heidense Abimeleg.

In daardie tyd en wêreld was ‘n waterput so kosbaar soos ‘n goudmyn vandag is.

Daar het ‘n tipe rusie tussen Abimeleg en Abraham se mense ontstaan oor die gebruik van die waterput. Abimeleg reik toe uit na Abraham om met hom ‘n vriendskapsverdrag te sluit. Eintlik was dit ‘n besigheidstransaksie. Daar moes verseker word dat beide partye die water korrek bestuur.

Hier sien ons dus ‘n ontmoeting tussen iemand wat nie die Here ken nie en ‘n kind van God. In ons taal: ‘n wêreldling en ‘n Christen. Dis iets oral plaasvind: Christene het kontak met ongeredde mense. Christene doen besigheid met mense wat nie die Here ken nie. Dit gebeur daagliks.

Drie dinge val my op: 1) Die nie-gelowige herken die Here se teenwoordigheid in Abraham se lewe 2) Abraham plant ‘n boom en 3) Abraham bid

1 Abimeleg herken die Here se teenwoordigheid in Abraham se lewe: Die eerste ding wat Abimeleg vir Abraham sê is: “God is met jou in alles wat jy doen”. Uiteraard het Abimeleg nie na die HERE verwys nie, maar na wat ookal sy konsep van God was. Punt is: hy kon iets by Abraham aanvoel wat anders is. Wat ‘n groot getuienis van hoe die Here ‘n verskil in ‘n mens se lewe maak indien jy daarop ingestel is om met Hom te wandel. Dis iets wat ‘n mens eintlik in die Nuwe Testament sou verwag, maar hier is dit reeds in die oer-tyd die geval.

2 Abraham plant ‘n boom: Berseba is sowat 50km suid-wes van Jerusalem geleë. Dáár wou Abraham altyd in die toekoms herinner word aan die Here sy God. Die boom moes daarvan getuig. Sy verdrag met die heidense Abimeleg was nie vir hom sommer maar net ‘n alledaagsheid nie, maar hy het dit alles in die lig van sy wandel met God gesien.

3 Ná alles, aanbid Abraham die Here: Ja, Abraham kon ‘n saketransaksie met gebed afsluit. Hy kon met ‘n rein gewete die Here se Naam aanroep omdat hy geweet het dat die verdrag wat gesluit is, tot die Here se eer plaasgevind het – al was Abimeleg nie ‘n Christen nie.

Sien u hoe speel die geestelike beginsels wat in die eerste helfte van Genesis 21 ter sprake is, in Abraham se gewone lewe van elke dag uit? Die eerste 21 verse illustreer die beginsels en verse 22-34 wys vir ons ‘n prentjie van hoe ‘n man wat met die Here leef in die praktyk met ‘n ongelowige oor watergebruik onderhandel.

En in dit alles, sien ons dat die Here werklik ‘n verskil maak in die lewe van ‘n mens wat in Christus is.

Category Genesis Reeks

© 2018 Designed with ❤ by Web Crew