Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

Laai Af

GENESIS-REEKS NO 19: Sondaar maar Godsman
Skriflesing: Genesis 20

Gerar was die sentrum van die heidenwêreld. Die wortels van die latere Filistyne was hier. En ons weet hoeveel moeilikheid hulle vir God se volk besorg het. Maar Abraham vertrek nou Gerar toe. Hy verlaat as’t ware sy tuisbasis en sit af na die wêreld toe. Maar, let op: Hy was as VREEMDELING daar (vers 1). Gerar sou nooit sy tuiste word nie. Hy sou nooit deel van die massa kon word nie. Hy is steeds man van God en Gerar is terrein van die heidene.

Hier het ons dus nou ‘n man van God in ‘n heidenland. Hoe leer hulle hom ken? Hoe leef hy tussen die heidene?

Twee groot momente staan uit: 1 Abraham smaak die bitter van struikeling en teleurstelling en 2 Hy word opnuut in sy roeping as God se kind bevestig.

Ten spyte van sy mislukkings word Gerar die plek waar die Here vir Abraham weer opnuut bewus maak van sy roeping in die wêreld. Dis eintlik ‘n Godswonder wat hier plaasvind. Maar dis ‘n Godswonder wat die Here vandag nog in miljoene lewens verrig. Die wonder het nog nooit opgehou nie!

Ons moet in gedagte hou dat Abraham die vader van alle gelowiges is. Dit beteken onder andere dat almal wat in Christus gered is, na Abraham “lyk”. Daar is trekke/ooreenkomste wat gereflekteer word. Die manier waarop die Here met Abraham gewerk het, word gereflekteer in die manier waarop Hy in 2018 met Sy mense werk. Daar is dus ‘n ooreenstemming tussen Abraham se verhaal en ons s’n! Daarom is Genesis nie ‘n dooie boek vol ou geskiedenis nie. Dis deel van die Woord wat LEWE gee – waarvan Filip 2:16 praat.

Die Heilige Gees het Genesis ingegee (2 Petr 1;21; 2 Tim 3:16). En Hy was baie noukeurig in hoe Abraham se geloofsvertroue, maar ook die skadukant van sy weifeling en inkonsekwentheid uitgebeeld word. En daarby God se eindelose geduld en liefde. Abraham is tegelyk ‘n tipologies-profetiese vooruitwysing na Christus self, maar ook na die kerk. En daarin sien ons die wonder van die Skrif – wat letterlik die vingerafdrukke van die Heilige Gees is.

Al hierdie dinge sien ons in Genesis 20!

In Gerar aangekom herhaal Abraham dieselfde sonde as wat hy 30 jaar tevore in Egipte gedoen het. Die halwe waarheid dat Sara sy suster is (sy was sy halfsuster) is eintlik ‘n volle leuen omdat hy daarmee die indruk wou wek dat Sara nie sy vrou is nie. Soos met alle sonde, gaan dit oor homself, oor selfbehoud. Sonde gaan gewoonlik oor ‘n mens se eie voordeel. Hier gaan dit vir Abraham oor sy eie veiligheid – wat eintlik ‘n mosie van wantroue in God is. Hy vertrou sekerlik die Here, maar laat ‘n agterdeur oop vir noodgevalle.

‘n Mens word dus in hierdie hoofstuk voluit met Abraham se sondige aard en gevalle natuur gekonfronteer. En daarmee ook met jou eie! En die teleurstelling wat ‘n mens met Abraham het, is ook die teleurstelling wat ‘n mens dikwels met jouself het. ‘n Mens voel teleurgesteld omdat ons geneig is om vir Abraham te idealiseer as ‘n man wat darem die sonde al effens te bowe moes kom en ‘n bietjie meer immuun moes wees. En ons is ook in onsself teleurgesteld omdat ons voel dat onsself al ‘n bietjie meer volmaak moes wees. En dan val ons ons bloedneus. En dan is ons teleurgesteld. ‘n Mens onderskat gewoonlik die mag van swakheid en die absolute gevallenheid van jou menswees totaal. En dan steun jy nie op Christus se kruisverlossing en die krag van die Gees nie.

Wat ‘n mens wil laat huil in hoofstuk 20 is die feit dat Abraham uiteindelik voor die heidense wêreldse mense ontmasker word en dat hulle (die heidene) baie meer edel in hulle optrede na vore kom as Abraham, die kind van die Here! Die gelowige lyk sleg en die ongelowiges lyk goed!

Sonde betrek altyd ander. Eerstens was Sara betrek. Maar toe Abraham ontmasker word, weet almal dit. En die heidense koning se optrede is onberispelik, terwyl die man van God as ‘n bedrieër blootgelê word. God se eer kom in gedrang. Sy krag om te verlos en te heilig, word bespot.

Dis darem maar wonderlik om net te weet dat die Here nooit iemand kies om Sy kind te word omdat ons sulke voortreflike mense is nie. God het nie vir Abraham gekies omdat hy so ‘n oulike mens was nie. God kies nie oulike mense nie. Hy kies sondaars. En dan stap Hy ‘n genadepad met hulle en verander hulle. Ons word nie nuut en anders op grond van ons goeie kwaliteite nie, maar omdat die Here met ons ‘n pad stap.

Abraham het weer eens misluk. Ja. Maar dit bemoedig vir ons!

En dan kom die groot verrassing – wat weer wys hoe totaal anders die Here is as wat ons as mense is.

Hoe sal die Here nou reageer en optree na aanleiding van Abraham se ineenstorting? Dis hierin wat ons die groot stuk EVANGELIE in Genesis 20 sien! Let op die woorde: MAAR GOD HET…. Dit maak al die verskil.

Eerstens moet ons sien dat dit die Here self was wat Abraham se sonde aan die lig gebring het. Uit genade! In die hele hoofstuk praat die Here glad nie met Abraham nie. Want sonde belemmer die wandel tussen God en mens. Sonde verhinder en kniehalter die verhouding tussen die Here en Sy verloste en geredde kind.

Maar, die Here praat wel met Abimeleg, die heidense koning! Natuurlik kan die Here met mense praat wat ongered is en wat Hom nie ken nie. En nadat die Here met Abimeleg gepraat het, kry Abimeleg vir Abraham voor stok. Abimeleg word dus deur die Here gebruik. Net soos die Here vandag nog ongeredde mense gebruik – tot ons beskaming – om ons wakker te skud.

Dis ook so kosbaar om te sien hoe die Here vir Sara onderneem. Want onthou: Sara is die vrou wat die moeder van die beloftekind sou word – Isak. En uit Isak sou die Here Jesus uiteindelik voortkom. Dit was dus belangrik dat Sara ongeskonde moes bly. Die Here sou nooit toelaat dat satan Sy planne in die wiele ry en Sy belofte fnuik nie.

Fantasties om te weet dat die Here self beheer neem en Sy kerk die toekoms in stuur. Ten spyte van die foute en tekortkomings van die mense van die kerk! Hy hou self Sy kerk in stand. As Hy dit nie in Abraham en Sara se lewens gedoen het nie, HOE sou die Messias uiteindelik op die aarde gebore kon word?

Die grootste verrassing van Genesis 20 is hoe die Here God self vir Abraham in ere hou. Ja, sy sonde kom op die lappe. En hy ervaar die innerlike pyn en vernedering. Maar Abraham is steeds God se man. Die Here verwerp hom nie as gevolg van sy droogmakery nie. Selfs al het hy dieselfde sonde herhaal. Hy bly steeds ‘n man met ‘n roeping. En DIT moet die wêreld weet en sien! En die wêreld moet die Here se kind hiervoor erken en eerbiedig! Kyk vers 7: “Gee dan nou die man se vrou terug, want hy is ‘n profeet. En hy sal vir jou bid dat jy kan lewe!”. Die Here is van plan om vir Abimeleg LEWE te gee, maar Hy verkies om dit deur Abraham se gebed te doen!

Wow! Wat ‘n wonder gebeur hier! IN DIESELFDE UUR van Abraham se sonde en neerlaag, word hy deur die Here aan die goddelose wêreld bekendgestel as die HERE SE profeet en priester! As God se gesalfde! Abraham het so pas die Here se eer voor die oë van die heidene deur die modder gesleep en nou keer die Here eenvoudig dit alles om en stel Hy vir Abraham voor as Sy gesalfde.

Wat die Here doen is om Abraham se roeping te bevestig: Profeet en priester. Die Here praat nie vir een oomblik Abraham se sonde goed nie, maar Hy laat ook nie toe dat sy sonde vir die wêreld ‘n handige verskoning word om nie na Abraham se boodskap te luister nie! En op hierdie manier word Abraham die voorloper van die Groot Profeet en Priester wat uit sy lendene sou voortkom: Jesus Christus!

PROFEET: Dit beteken om afgesonder te wees om God se mondstuk te wees, die verkondiger van Sy Woord.

PRIESTER: Om vir mense in te tree by God. Deur Abraham se gebede is daar vir mense redding en genesing moontlik. ‘n Priester is iets soos ‘n middelaar – iemand wat in die bres tree vir ander mense. In vers 17 lees ons dat Abraham toe inderdaad vir Abimeleg bid en die Here hom genees het!

Die groot boodskap van Genesis 20 is sekerlik dat die Here God mense kies en gebruik ten spyte van hulle mislukkings. Dit kan natuurlik so wees as gevolg van die suksesvolle plaasvervangende dood en opstanding van Christus in die plek van almal wie die Vader voor die skepping aan Sy Seun gegee het – die skape vir wie die Herder Sy lewe afgelê het!

En wanneer die Here iemand roep tot profeet en priester, is so ‘n mens God se man/vrou!

Dit plaas natuurlik ‘n groter verantwoordelikheid op ‘n geroepe mens. Groter verantwoordelikheid om verantwoordelik te leef! As ‘n mens byvoorbeeld Abraham se latere lewe bekyk, kan jy duidelik sien hoe hy met baie groter waardigheid sy hoë roeping uitgeleef het. Ons sal dit sien wanneer ons in die volgende twee weke hoofstukke 21 en 22 bestudeer.

Category Genesis Reeks

© 2018 Designed with ❤ by Web Crew