Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

Laai Af

GENESIS-REEKS NO 17: Iets te wonderbaar vir Hom?
Skriflesing: Genesis 18

Ons glo dat God almagtig is. Ons bely dit elke Sondag. Maar, sal ons daarby staan en val?

In Gen 18 word berig van ‘n vrou wat die belydenis dat God enigiets kan doen só vreemd en onwerklik gevind het, dat sy daarvoor aan die lag geraak het. Haar geloofsvertroue het haar laat lag! Hoe werk dit?

Eerstens moet ons in gedagte hou dat ONS in Sara se gelag uitgebeeld word! Want dis HEILSgeskiedenis wat hier beskryf word. Dis God se handelinge met Sy uitverkore volk – waarin beginsels en voorbeelde beskryf word, wat deur die eeue waar sou bly en weer en weer herhaal word in miljoene Christene se lewens. Met ander woorde: In Sy handelinge met Abraham en Sara het die Here die koers vir Sy kerk op aarde tot by die wederkoms, aangedui. Ons kan dus onsself in Abraham en Sara spieël.

Wanneer Abraham byvoorbeeld in gehoorsaamheid die Here se beloftewoord omhels, sien ons daarin ‘n prentjie van die ganse ware kerk van alle eeue wat voor die Here buig. Maar ook wanneer Sara nie haar lag kan hou oor die onmoontlikheid van God se beloftes nie, hoor ons die vertwyfeling van die ganse kerk van alle eeue! In Sara se lag hoor ons dus die weerklank van ons eie lag!

Dit is nou ongeveer 25 jaar nadat die Here die eerste keer aan Abraham die belofte van ‘n nageslag gegee het. Sara was egter steeds kinderloos. Intussen het hulle probeer om vir God te help om Sy belofte te vervul deur middel van Hagar & Ismael. Hierdie eiesinnige eksperiment was uiteraard verkeerd in die Here se oë.

En nou, dekades later, ontvang Abraham eendag uit die bloute besoek van drie besoekers. In sy gasvryheid besef hy nie dat hy hemelse besoekers trakteer nie. Nog minder dat dit die Here God SELF is wat vir ete aansit nie!

So tussen die etery deur, maak een van die mans ‘n vreemde aankondiging. Hy sê die belofte van God wat reeds vir 25 jaar onvervuld is, sou binne 12 maande in vervulling gaan! Sara sal ‘n seun hê. En dit terwyl beide Abraham en Sara reeds hoogs bejaard was en liggaamlik verstorwe. Dis gewoon onmoontlik dat sy sou kon swanger word. Die natuur was téén hulle!

Sara het egter die gesprek afgeluister en gehoor dat sy ‘n kind in die wêreld gaan bring. Hierdie vreemde oompies – wie hulle ookal is – wat by Abraham kuier, kom maak sulke lawwe praatjies. Sy kry sommer lag.

Menslik gesproke was daar natuurlik niks met Sara se reaksie verkeerd nie. Die feite is tog net logies! Sy het eintlik goeie rede gehad om te lag. Mens moet darem vir Sara verstaan: Sy het nie geweet wie die drie besoekers was nie. Maar selfs al hét sy geweet, sou sy waarskynlik steeds gegiggel het. Want, MENSLIK GESPROKE kán dit tog nie!

Dit is hoe God se beloftes feitlik altyd is: Menslik gesproke onmoontlik. Daar is altyd ‘n onberekenbare fakor. Ja, ons MAAK meesal asof ons so sterk op die onmoontlike vertrou. Ons gee so voor. Maar bedoel dit nie altyd nie. Die “menslik gesproke” sit maar altyd weer in ons agterkop. Die mens se gevalle natuur weier om met die onberekenbare faktor te werk en laat veiligheidshalwe die ongelooflike moontlikhede van God se almag en trou buite rekening. Dis beter om net by die KENNIS-komponent van geloof te bly en die VERTROUE uit te laat.

Sara het haar blindgestaar teen die feite van haar natuurlike omstandighede. Haar vertroue was dus afhanklik van hoe geloofwaardig haar omstandighede was. Sy het nie besef dat sy eintlik vir God self grense stel nie. Maar nou ja, sy het mos nie geweet WIE die besoekers was nie.

Die besoekers se antwoord moes vir Abraham en Sara tot stilstand geskok het. Sara was nie in hulle teenwoordigheid toe sy gelag het nie, maar die besoekers het dit geweet. En hulle het geweet waarom sy lag. Hulle kon haar gedagtes lees. “Sou enigiets vir die Here te wonderbaar wees?” vra die Here. WAT? Is dit God self wat daar saam met Abraham eet, of wat gaan hier aan? En waarom is dit DRIE mans?

Ja, dit was inderdaad die Here. Nie drie engele nie. Ons kan ook nie sê dat dit die Vader, Seun en Heilige Gees was in die gestalte van drie mans nie. Dalk was dit, maar ons kan dit nie uit die teks bewys nie. Dis ook nie nodig nie. Dalk was dit die Here vergesel van twee engele. Al wat belangrik is, is dat dit die Here was wat aan Abraham verskyn het. Ons noem dit ‘n “teofanie”. In vers 14 praat die een besoeker van homself as “die HERE”. Hoe ons dit ookal moet verstaan, dit was baie beslis die Here self wat in menslike gedaante aan Abraham en Sara verskyn het.

En Sy vraag brand in ons siele vas: “Sou iets vir die Here onmoontlik wees”? Indien ons dit glo, sal vrees en magteloosheid ons nie so maklik oorval nie. Ons sal nie so maklik bibber vir die magte van Satan nie.

“Sou iets vir die Here te wonderbaar wees, Sara? Sou dit vir Hom onmoontlik wees om uit jou verouderde liggaam ‘n seun voort te bring ter vulling van Sy beloftes? En as Hy uit jou verstorwe liggaam ‘n seun kan voortbring, waarom kan Hy nie ‘n maagd laat swanger word en ‘n Seun baar nie? Waarom sou dit vir Hom onmoontlik wees om op ‘n wonderbaarlike manier Sy kerk hier op aarde te bou en te onderhou? Sou dit vir Hom onmoontlik wees om selfs deur Sy eie Seun se kruisdood die onmoontlike te bewerkstellig: versoening tussen ‘n heilige God en onheilige mense. Sou die wonder van die ewige lewe vir Hom te wonderbaar wees?”

Ja, geloofsvertroue beteken om te lag. Die lag van blydskap en dankbaarheid. Abraham en Sara leer iets geweldig uit die drie besoekers se woord: Hulle leer die Here opnuut ken as die God van wonders. God gaan en wil en sal Sy Woord gestand doen. Selfs TEEN natuurlike verwagtinge in! En EEN van die beloftes wat Hy gestand sal doen, is die belofte van die OORDEEL oor die hardnekkige opstandige onbekeerde mensheid. Dit is DEEL van Sy verbondsbeloftes. Abraham gaan dit nou uitvind.

Die besoekers het lekker gekuier en staan op vertrek. Twee gaan, maar een bly agter om nog die een en ander met Abraham te bespreek. Dit is die lewende God self wat met Abraham praat.

Die Here maak dit duidelik dat Hy op pad is na Sodom. Om Sodom te oordeel. Sodom en Gomorra was twee stede teen die Jordaanrivier aan die noordekant van die Dooie See. Dis waar Lot gekies het om te gaan woon. Hy het egter nie besef hoe goddeloos hierdie mense geleef het nie. Die Here was van plan om beide stede met die grond gelyk te maak, maar Lot moes eers uit die stad gered word. Die Here se kind kan en mag en sal immers nie saam met die goddeloses geoordeel word nie.

Dit is die inligting wat die Here nou vir Abraham deurgee. Skokkende inligting. Feite wat vir Abraham tot stilstand bring.

Dit verwonder ‘n mens dat God dit enigsins nodig ag om Sy Goddelike raadsplanne aan ‘n mens bekend te maak. Watter belang het Abraham tog by Sodom gehad en watter kans was daar hy God van plan kon laat verander?

Wel, LOT was in Sodom. En Abraham is in ‘n verbondsverhouding met God. Wat Abraham sê en bid is dus nie niks nie. Die Here inkorporeer Sy kinders se gebed en voorbidding in die uitvoering van Sy Raadsplan. Dis ‘n onbegrylike misterie wat die Bybel vol staan. Dis presies wat hier gebeur. Abraham ontpop meteens as die voorbidder, die man wat in gebed in die bres tree vir ander. Ja, God WOU vir Lot uit Sodom red, maar dit behaag Hom om dit te doen DEUR MIDDEL VAN Abraham se voorbidding. Dit gaan ons verstand te bowe.

Verder was dit ook belangrik dat Abraham en sy nageslag moes leer dat die God van die verbond óók die God van oordeel is. Ja, Hy is liefde, maar Hy is ook die Regter van hemel en aarde. En almal is aan Hom verantwoordbaar. Hy eis gehoorsaamheid. Daarom moes Abraham weet van Sodom.

Verder moes Abraham van Sodom weet sodat hy kon leer dat hy nie geïsoleerd was omdat hy aan die Here behoort het nie, maar dat hy deel was van die res van die wêreld en ‘n verantwoordelikheid teenoor ander het en dit was juis sy groot toets: Het hy ‘n hart vir die (verlore) wêreld gehad?

Abraham hoor dus van die Here self dat Hy nie Sodom en Gomorra se hemeltartende sondepraktyke langer sal toelaat nie en dat die mense onder Sy toorn sou teregstaan. Hoe sou Abraham op hierdie aankondiging reageer? Dis die vraag.

Wel, Abraham kon vroom sy hande saamslaan, diep sug en na die hemel opkyk en sê: “Here dit is erg, maar ek weet darem dat ek reg is met U. Daarenteen is die Sodomiete maar ‘n wilde klomp. Soos U besluit het, is dit reg. Reg en geregtigheid moet geskied. Dis hard, maar dit kan nie anders nie.”

Abraham sou sekerlik ook vir sy broerskind, Lot, ‘n goeie woordjie wou doen. Dis verstaanbaar. Hulle was immers familie. OF hy sou kon dink: Lot kry nou sy verdiende loon. Hy wou mos so gierig en gulsig wees.

Maar nee, hier kom die wonder van God in Abraham se lewe na vore. Dit is die Heilige Gees se werk in sy innerlike mens. Toe Abraham die Here se aankondiging hoor, begin hy om by God te pleit vir Sodom en Gomorra. Hy pleit vir hulle behoud. Hy waag dit selfs om met die Here te argumenteer en te redeneer. Nie ter wille van homself nie, maar ter wille van korrupte mense wat werklik die oordeel verdien.

Dis regtig ‘n asem-ophou-storie hierdie. ‘n Sondaarmens waag dit om by die God van hemel en aarde AAN TE DRING op iets. Abraham probeer letterlik om die almagtige God van plan te laat verander. Hy pleit. Hy smeek. Hy huil. Sy pleidooi berus op die woordjie MISKIEN. Dalk. “Sal U die gereddes saam met die ongereddes ombring? Miskien is daar 50 geredde mense in Sodom… miskien 45… miskien 40…. miskien 30….miskien 20….miskien 10….?

Dit klink of Abraham eintlik begaan was net oor die geredde mense – die regverdiges. Maar nee. Hy pleit vir die hele stad. Hy bid vir die hele stad ter wille van die regverdiges. Met “regverdiges” bedoel Abraham waarskynlik diegene in wie se lewens die Here besig was, diegene wat dalk iets van God se verbond gehoor het en weet en wat daardeur aangegryp is. Hy hou HULLE voor as rede waarom die Here, na sy mening, nie die stede moes uitdelg nie. In vandag se terme: Hy smeek dat die Here die wêreld moet spaar ter wille van die kerk van Christus – sodat die kerk sy getuienis in die wêreld kan voortsit. Sodat ‘n skrale 10 ‘n hele ongelowige stad kan deursuur met die boodskap van die Verbond.

Dit kos geloofsmoed om op hierdie manier AAN TE HOU by die Here, nie waar nie?

Maar ons sien ook iets van God se eindelose geduld met ‘n mens wat werklik deur die gees van gebed en intersessie beetgepak is. Die Here laat dit toe! Maar dis nie al nie. Hy GEE selfs toe. Hy luister na die indringende smeking van Sy mense en Hy verander van plan – Hy KAN inderdaad omstandighede verander.

‘n Christus-gelowige is iemand wat geroep is om te bid. En uitverkies om ‘n middelaar te wees – om as’t ware TUSSEN die Here en ‘n mensdom wat verlore is te gaan staan. En in te tree. John Wesley het gesê: “Wanneer ‘n mens ‘n Christen word, neem die Here die wêreld UIT jou hart, maar Hy plaas ook weer die wêreld OP jou hart.” Dit is die gebedslas of gebedsbelastheid wat Abraham ervaar het. Met ‘n gesindheid van: “Ek sal U nie laat gaan alvorens U nie antwoord nie.”

Die Here Jesus is natuurlik die voorbidder en middelaar by uitnemendheid. Ons weet hoedat Hy in Johannes 17 gebid het en ons weet hoe Hy op die kruis vir Sy moordenaars gebid het. Bowe al was Sy selfprysgawe op die kruis die grootste vorm van intersessie denkbaar. En Hebreërs maak dit duidelik dat Hy – as ewige Hoëpriester – steeds besig is om vir Sy kerk in te tree. Daarin is die Here Jesus dus die Groter Abraham of die Een na wie Abraham in sy intersessiegebed profeties vooruitgewys het.

Dit is die krag van hierdie Jesus wat in ons aan die werk is en op ons dieselfde tipe belastheid plaas. Alle Christene ondervind dit. Sommige meer as ander. Sommige Christene deur die eeue het ‘n besonderse bediening/gawe van intersessie gehad. Mens dink aan Rees Howells wat die uitkoms van die Tweede Wêreldoorlog deur middel van indringende intersessie help vorm het. Dwarsdeur die oorlog het Rees Howells vir baie ure dag en nag met God geworstel teen die bose magte in die lug wat die oorlog aangedryf het. En so het hierdie man van God ook die uitkoms van die oorlog van God afgesmeek en die Here het hom verhoor. ‘n Man wie se totale lewe – elke segment daarvan – algeheel aan die Here oorgegee en uitverkoop was. Aangrypend om sy verhaal te lees. U kan dit aanlyn doen. Kyk gerus of u die boek: “Rees Howells: Intercessor” in die hande kan kry en kan lees.

En dan was daar natuurlik Daniel Nash (Father Nash) wat gesterf het terwyl hy op sy knieë was by ‘n wêreldkaart – besig om in te tree vir nasies & volke. Die wonderlikste manier om in heerlikheid opgeneem te word: in die aksie van voorbidding.

Father Nash was die man vir wie die Here gebruik het tydens die bediening van Charles Finney – die man deur wie se prediking die Here baie baie duisende mense tot redding gebring het. Maar eintlik was dit nie Finney se prediking nie, maar Father Nash se intersessie wat die sukses gebring het.

Wanneer Finney ‘n sekere dorp sou besoek vir ‘n reeks evangelisasiedienste, het Father Nash 3 weke voor die tyd na die dorp gegaan, ‘n kamer gehuur en dan begin om dag en nag intersessie te doen vir geestelike deurbrake in die area. Hy en Abel Clary was gewoonlik saam. Hulle het letterlik op die grond gelê en met trane, sugte en kreune en uitroepe tot die Here geroep totdat hulle liggaamlik totaal uitgeput en letterlik siek was. Maar, hulle sou nooit NEE van die Here as antwoord aanvaar nie.

Eenmaal het die dame by wie hulle ‘n kamer gehuur het in ‘n toestand by Finney gekom en gesê: “Iets geweldig vreemd is aan die gang. Twee mans het die kamer by my gehuur, maar ek sien hulle nooit die vertrek verlaat nie. Hulle eet niks, drink niks en mens hoor die vreemdste geluide uit die kamer kom”.

Finney kon haar met ‘n glimlag gerusstel: “Wees gerus mevrou, dit is ‘n buitengewone gebedsbelastheid wat op hulle rus.”

En dan, wanneer Finney uiteindelik begin dienste hou en preek, het die hemele oopgebreek en duisende tot redding gekom. Father Nash sou nooit die dienste bywoon nie, maar deurentyd op die grond voor die Here lê in gebed. Hy het uiteindelik – terwyl hy besig was om voor die oop wêreldkaart te kniel, is hy in heerlikheid opgeneem!

Die Here help ons om ‘n hart vir verlore mense te hê – op SO ‘n manier dat intersessie vir ons belangrik raak. Mense wat dit leer ken het en begin smaak het, kan nie weer terugkeer na hoe dinge voorheen was nie…

Category Genesis Reeks

© 2018 Designed with ❤ by Web Crew