Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

Laai Af

GENESIS-REEKS NO 16: Die Plusfaktor
Skriflesing: Genesis 17

Die manier waarop ‘n onwaardige sondaarmens op die almagtige heilige God se stem antwoord is deur Hom te glo/vertrou. Die manier waarop ‘n mens met die Here leef/wandel is deur Hom te glo. Dis die grondslag van ‘n verhouding tussen God en mens: Sy genadige belofte en ons glo/vertroue.

Voordat daar van glo sprake kan wees, moet daar ‘n God wees wat die mens se pad kruis en Homself in genade aan die mens gee. GLO is die mens se antwoord daarop. Dis soos ‘n aanbod-antwoord-ooreenkoms. En dit word ‘n verbond genoem. ‘n Genadeverbond (genade-ooreenkoms/kontrak) omdat dit 100% van God se kant kom. Die sondaar is nie ‘n gelyke party met God nie.

In die antieke wêreld waar Abram geleef het, was sulke verbonde/kontrakte tussen mense baie bekend. Twee partye kom tot ‘n ooreenkoms oor ‘n saak waarby beide partye belang het. Hulle onderneem om voorwaardes na te kom ten einde sekere voorregte te geniet en daar is ook strafmaatreëls in geval van kontrakbreuk.

God se verbond met Abram werk ook so, maar is ook baie anders. Want God en Abram is nie gelyke partye nie. Dit is tussen die Heilige en die sondaarmens – wat daagliks kontrakbreuk pleeg en dus reg van die begin af verdoem moet word.

Nou hoe sal so ‘n verbond dan ooit kan werk? Die Almagtige en Heilige sal van Sy kant af in ‘n ontmoeting met die onmagtige en onheilige moet tree en HY sal die ooreenkoms in stand moet hou. Kyk hoe kom Hy na Abram toe: “EK IS GOD, DIE ALMAGTIGE EN EK SLUIT MY VERBOND MET JOU”.

Wat ‘n vertroostende feit dat ek – wat verdien om verlore te gaan – die Groot Hand wat my opgetel het en vashou, kan vashou. Ek is ‘n begenadigde – dis al. 1 Johannes 4:10 > “werklike liefde is NIE die liefde wat ons vir die Here het nie, maar die liefde wat HY aan ons bewys het in die Seun”. Die aanbod van God in Sy verbond het absoluut niks met ons verdienstelikheid te doen nie. Dit is gebore uit Sy verrassende liefde vir mense wat Sy vyande is.

Maar, beteken dit nou dat die mens net ‘n willose marionet is met geen verantwoordelikheid en verantwoordbaarheid voor die Here nie? Was dit só in Abram se geval? O, nee, Abram was ten volle by die verbond betrokke. Hy moes God se toesegging/aanbod ontvang! Daarom sê die Here vir hom: WANDEL VOOR MY AANGESIG! Abram se antwoord moes wees: WANDEL! Nie ‘n vrome kopknik nie. Nie net JA nie. Die Here het nie veel erg aan ‘n antwoord van baie WOORDE nie. Dit gaan eerder oor ‘n LEWE met Hom. Om God te GLO/vertrou is nie ‘n ja-sê-aksie nie. Dis ‘n lewe aan Hom oorgegee om Syne te wees en met Hom te leef. Dis ‘n saak van liefde. ‘n “Fellowship”, ‘n gemeenskap. Nie die koue, kliniese sluit van ‘n saketransaksie nie. Ja, verbond is God se saak, Sy inisiatief, Sy werk en doen. Maar in gemeenskap met die Almagtige, kan die onmagtige sê: “Ek is tot alles in staat… ek kan en wil en sal myself verloën en U volg..” (Mat 16:24).

Het u opgemerk dat Abram ‘n nuwe naam van die Here ontvang? Deel van God se verbondsbelofte aan Abram is sy nuwe naam. Ja, die Here onderneem om die menslik-onmoontlike te doen: Dat Abram ‘n nageslag sal hê. HY sal op ‘n Goddelike wyse voorsien. Dis ‘n aanbod. Meer nog: ‘n toesegging! God se verbond sluit altyd sake in wat die MENS nie kan bewerk nie. In ons geval maak Hy aan ons die toesegging van wat Sy almag op die kruis bewerk het: Die oorwinning en verlossing oor ons grootste vyande: onsself, ons eie harte, ons eie inherente boosheid, satan, dood en hel! Hierdie oorwinning is ONS S’N! Die Bybel noem dit LEWE!

Abram se nuwe naam ABRAHAM het groot betekenis – veral as ons in gedagte hou watter waarde die antieke midde-oosterse mense aan ‘n naam geheg het. Vir hulle was jou naam ‘n karakterbeskrywing van jou persoon. Om iemand se naam te ken en te noem het ‘n baie persoonlike verhouding veronderstel. Hulle het ook name verander indien daar iets ingrypend met iemand gebeur het. Dan is die naam verander ter herinnering aan wat gebeur het.

Geleerdes verskil van mening oor wat die verskil in betekenis tussen Abram en Abraham sou wees. Waarskynlik beteken Abraham “vader van ‘n menigte”. Maar, dit is nie belangrik nie. Belangrik is dat hier ‘n man was met wie die Here ontmoet het en wanneer dit gebeur, kan jy nie dieselfde mens bly nie. Jy word ‘n nuwe mens. ‘n Mens wat met die lewende God in ‘n ooreenkoms is en met Sy teenwoordigheid verweef is. Soos daar in Jesaja staan: “Ek het jou by jou naam geroep, jy is Myne”.

Dis darem ontsaglik om daaraan te dink dat hierdie selfde beginsels op Golgota beslag gekry het in die Nuwe Verbond. Want dit is waar ONS inpas. En dat die bloed van Jesus die ooreenkoms onderteken het. Dit is by die kruis waar ons ‘n nuwe naam kry. Want deur bekering tot Christus en geloofsvertroue op Sy kruisdood, word ons wedergeboorte bevestig. Dis waar ons ‘n nuwe naam kry! Soos 2 Kor 5:17 dit stel: “Iemand wat aan Christus behoort is ‘n nuwe skepsel. Die oue is verby. Die nuwe het gekom!” Dis die wonder van die nuwe lewe wat net God alleen kan skep. Indien ONS ‘n roosknop sou oopmaak, sou ons net met ‘n klomp gekneuse blare sit. Waarom? Omdat ons van buite af werk. Maar God werk van binne af en laat die roos oopgaan. Daarom word dit so ‘n mooi blom.

Die mense sou seker vir Abraham kon spot oor sy nuwe naam. Dit was immers aan ‘n belofte gekoppel – en dit het hoogs onwaarskynlik gelyk dat die belofte van ‘n reuse nageslag ooit vervul sou kon word. Daarom was sy nuwe naam iets wat hy in die geloof moes dra. Dit was ‘n belydenis van sy vertroue dat die Here getrou sou bly aan Sy beloftes.

Die naam “Christen” is vandag ook vir baie ‘n belaglike benaming. Want dit vertel van ‘n gekruisigde Christus, wat uit die dood opgestaan het en weer na die aarde sal terugkeer. Die woord “Christen” is ‘n geloofsbelydenis – waarvan ander mense maar min verstaan.

Maar dan kom daar ‘n interessante wending in verse 7-9! Skielik word ‘n DERDE PARTY by God se genade-ooreenkoms met Abraham ingesluit. Ons sou kon sê ‘n “plusfaktor”. En dit is Abraham se nageslag. Wie sou dit ooit kon dink. Die verbonde van daardie tyd het gewoonlik net twee partye betrokke gehad. Maar die Here maak aan Abraham die volgende toesegging: “Ek sal my verbond oprig tussen my en jou en jou nageslag ná jou in hulle geslagte..”

Vir wie is die verbond dan na regte bedoel? Wie word almal daarby betrek? Wie deel almal in die voorregte en verantwoordelikhede? Wie het God almal in gedagte gehad toe Hy die genade-toesegging aan Abraham gemaak het? Antwoord: Almal wat nog in die gelowige man se lendene is. Sy nageslag, wat nog nie bestaan het nie en wie dus nog glad nie kón antwoord nie. Daar is ‘n spesiale porsie genade vir hulle gereserveer. God GEE Homself aan mense wat nog nie bestaan nie – per bindende kontrak!

Hier het ons ongetwyfeld met die mistieke wonder van die verbond te doen. Dit strek verby menslike begripsvermoë. Ten spyte van die afwesigheid van geloof en bekering, vou God Abraham se kinders in Sy genade toe.

Dit is duidelik dat die Here nie hierdie onbegryplike daad van genade vir almal se kinders verrig nie, maar spesifiek Abraham s’n. Die Here staan in ‘n ander soort verhouding tot verbondskinders as tot enige ander kind. Hy verbind Homself aan hulle – selfs nog voordat hulle bestaan! Genade kom beslis VOOR geloof! Geloof is nie ‘n kwalifikasie vir genade nie. Geloof is ANTWOORD op genade. Dit is waarom die Here hom kan verbind aan iemand wat nog nie kan glo nie. Want geloof is nie ‘n prestasie om God se guns te wen nie. Dit is antwoord-gee op ‘n roepstem wat alreeds daar is!

Ja, die antwoord-gee is belangrik, want verbondskinders is nie outomaties op meganiese wyse gered nie. Die verbond is altyd ‘n saak met twee kante! Abraham se nageslag moes antwoord op die feit dat God hulle vir Sy rekening geneem het. Hulle moes bekeer en hulle vertroue op God se belofte oorplaas. En ons weet die meerderheid het nie!

Dis die diepe misterie van die sonde – waarop ons NOOIT ‘n antwoord sal hê nie. Hoe kan dit wees dat die Here Homself in soveel liefde aan helverdiende sondaars verbind EN hulle kinders vir Sy rekening neem, en dan gaan baie van hulle steeds verlore en bly hulle onbekeerd. Dit spel die diepte van die gevallenheid van die mensdom. Asook die ondeurgrondelike misterie van die ewige Raad van God en die verkiesing tot saligheid waaroor Romeine 9 so kragtig praat.

Dis egter kostelik om te sien hoe die Here agteroorbuig om vir Abraham in sy geestelike stompsinnigheid tegemoet te kom. Die Here weet seker dat Sy toesegging aan Abraham en sy kinders vir Abraham baie ongelooflik geklink het – moeilik om te kan glo. Te goed om waar te kan wees. Alles is so abstrak en onsigbaar. Dis net beloftewoorde in God se mond. Dis nie konkreet en tasbaar en sigbaar en reëel nie.

Daarom besluit God om vir Abraham ‘n sigbare teken te gee om die onsigbare genade vir hom tasbaar te maak. God gee letterlik Sy handtekening onder aan die kontrak (Sy beloftes). Dit is om dit vir Abraham makliker te maak om dit te glo. Dis soos wanneer iemand jou sou bel met die belofte dat hy vir jou ‘n groot bedrag wil inbetaal. Maar dis die bewys van inbetaling wat jou opgewonde maak. Dit was die bedoeling van die besnydenis.

Besnydenis was ‘n bekende gebruik in die antieke Midde-Ooste. Abraham het dit geken. Dit was veral ‘n teken van inlywing/toetrede tot ‘n bepaalde groep en het ook gesondheidsvoordele gehad.

Abraham kon dus ‘n goeie idee hê van wat die Here besig was om te doen. Hy en sy kinders sou toetrede verkry tot ‘n eksklusiewe groep: Die verbondsgemeenskap van die OT kerk van die lewende God. Hy sou – as volwasse man – die besnydenis ontvang omdat hy as volwassene die eerste was om uit die heidendom tot geloof te kom. Maar onmiddelik daarna sou sy manlike kinders op 8 dae die besnydenis ontvang. Die dogtertjies uiteraard nie, maar hulle het in dieselfde seën gedeel omdat manlikes vroulikes verteenwoordig het in die kultuur van die tyd.

Al kon kindertjies op 8 dae ouderdom nie verstaan wat aangaan of tot bekering en geloof kom nie, moes hulle nogtans die teken ontvang omdat die waaragtigheid van die teken van God se belofte afgehang het en nie van die besnede mens se geloofstoewyding nie.

Hulle kon nie glo nie, maar hulle is van God se kant af by die saak betrek. In Rom 4:11 sê Paulus die besnydenis was (vooruit) die waarborg van die redding wat hulle later sou ontvang wanneer hulle uiteindelik tot geloof sou kom. Die Here KAN dus ‘n geloofsteken aan mense gee wat nog nie kan glo nie. Die besnydenis was daarvan ‘n klinkklare bewys. Die besnydenis was bedien aan iemand wat reeds tot geloof gekom het (Abraham) maar ook aan mense wat nog nie tot geloof kon kom nie (Abraham se kinders).

Die besnydenis kon aan volwassenes sowel babas bedien word. En in alle gevalle was dit ‘n teken van inlywing in God se verbond. In alle gevalle was dit ‘n versekering van die waaragtigheid van God se beloftes. In alle gevalle was dit ‘n versekering van die redding wat ‘n mens deur die geloof ontvang. In alle gevalle was dit ‘n teken van bloedvloeiing – dat offerbloed die versoening tussen sondaar en God moes bewerk. ‘n Vooruitwysing na Christus se offer dus.

Dit is ‘n belangrike punt: Bloedvloeiing beteken lewensverlies. Dis God se straf op sonde. Die dood. Bloedvloeiing = dood. Dis die prys wat betaal moet word vir versoening tussen ‘n sondaar en ‘n heilige God. Bloed is tegelykertyd teken van dood en lewe. Want indien ‘n plaasvervanger in die sondaar se plek gedood word, kan die sondaar lewe!

Die besnydenis was dus teken van dood en lewe. Die hart van die besnedene moes besny word! Die reiniging van die hart was die eintlike oogmerk (Deut 30:6; Jer 4:4).

Abraham het dit sekerlik nog nie in sulke volheid verstaan nie, maar die besnydenis was vir duisende jare daarna ‘n teken van Jesus se kruisoffer en die wedergeboorte – die besnydenis van die hart. Waar die besnydenis van die hart nie plaasgevind het nie, het die liggaamlike besnydenis tot die persoon se oordeel getuig (Jer 9:25-26).

U sien, dis die Here wat die geloof skep en skenk, maar waar die mens dit nie het nie, word die MENS verantwoordelik gehou vir die onbekeerdheid en nie God nie! Waar die mens bekeer, kry die Here die eer. Waar die mens nie bekeer nie, kry die mens die skuld! Dit is die twee sake in die Skrif wat ons nooit in staat sal wees om te rym nie! Ons hou aan beide vas en bely beide sonder om dit rasioneel te probeer rym.

Laastens: Hoe moet ons hierdie groot saak van verbond en besnydenis na 2018 deurtrek? Of anders gestel: Hoe moet ons dit binne die tyd van die Nuwe Verbond (waarin ons is) verstaan? Kinders van die Here in die Here Jesus uit alle nasies is tog nog steeds Abraham se nageslag. Nie fisies nie, maar geestelik. Waarom besny ons dan nie meer nie? Is die Verbondsbeloftes nog steeds op ons van toepassing? Wat het verander? Wat het dieselfde gebly?

Al manier hoe ons dit ooit kan verstaan is om deur die lens van die kruis van Christus daarna te kyk.

Dan sien ons dat daar net TWEE bedelings is.

As ons by die kruis gaan staan en terugkyk in Abraham se rigting, het ons met die tyd VOOR CHRISTUS (OT), die tyd van VERWAGTING te doen. En as ons van die kruis af vorentoe kyk – na 2018 toe – het ons met die tyd NA CHRISTUS (NT), die tyd van VERVULLING te doen.

In die tydperk VOOR Christus, was daar geleef in die verwagting van die kruis, met geloofsvertroue in ‘n belofte wat nog vervul moet word. Dit is hoe daardie mense geredde kinders vd Here was – deur te vertrou op die belofte wat nog vervul moet word. Hulle het nie presies geweet hoe die belofte vervul gaan word nie, maar geglo dat God op die een of ander manier ‘n volkome versoeningsoffer sou voorsien. God het vir hulle baie hulpmiddels gegee om vir hulle prentjies te teken van die komende Verlosser sodat hulle makliker kon glo. Die besnydenis was een so ‘n prentjie.

By die kruis van Golgota is hierdie verwagting vervul. Die belofte het werklikheid geword. Ons kyk nou terug na die perfekte offer.

Wanneer ons op Golgota staan en op hierdie manier agtertoe en vorentoe kyk, kan ons ‘n paar goed duideliker verstaan. Sekere goed het verander, ander het dieselfde gebly.

Wat in beide bedelings dieselfde bly: God self bly dieselfde en die verlossingsbehoeftige mens bly dieselfde. Redding en verlossing bly dieselfde, naamlik versoening met God deur die plaasvervangende offer van Christus. Die manier van leef uit die verlossing bly dieselfde, naamlik deur bekering en geloofsvertroue alleen. God se beloftes bly dieselfde, want Sy Woord bly dieselfde. Sy belofte is nog steeds: “Ek wil vir julle ‘n God wees en julle moet vir my ‘n volk wees” EN “Wie die Seun het, het die lewe”. God se verbondsliefde vir Sy mense en hulle kinders, het ook nie verbygegaan nie. Dit kon nie, want dit is deel van wie die Here is. Daarom word die beginsel van “jy en jou nageslag” nêrens in die NT opgehef nie.

Wat het dan verander?

Die dinge uit die voor-Christus bedeling wat in die teken van VERWAGTING gestaan het, moes uiteraard verbygaan toe die vervulling plaasvind. Daar is talle OT wette en rituele en gebruike wat net een doel gedien het naamlik om die aandag op die komende Messias te vestig. Toe daardie doel beantwoord is, is daardie goed afgeskaf. Daar was natuurlik ook goed in die ou bedeling wat NIE verbygegaan het nie, maar daaraan het die Here Jesus nuwe dieper betekenis kom gee.

Een ding wat verval het, maar ook nuwe betekenis gekry het, was die besnydenis. ‘n Teken van bloedvergieting kon nie voortgaan nie, want Christus se bloed is eens en vir altyd gestort. Die bloederige besnydenis was altyd beleef as ‘n teken van verwagting. Dit MOES net eenvoudig ‘n nuwe gedaante kry. En die nuwe gedaante is WATER. Die bloed het water geword.

Daarom kon die Apostel Paulus vir die onbesnede Kolossense sê – toe die vals leraars die mense verpes het en vir hulle vertel het dat hulle hulle nog moes laat besny om volwaardige Christene te wees – “Julle hoef julle nie te laat besny nie, want julle het alreeds die volle betekenis van die besnydenis in julle doop ontvang” (Kol 2:11-12).

Dalk kan jy ook vandag terugkyk na ‘n dag toe die Here in die openbaar by ‘n doopvont Sy genadige bemoeienis met JOU begin het. En as jy aandagtig die spoor van daardie doopvont volg tot waar jy vandag is, moet jy opnuut bely: “Werklik! Alles is genade. Dit is onverdiende guns alleen”.

Of dalk moet u die lyn trek van daardie dag af tot by vandag en besef dat u nog nooit werklik op God se genade geantwoord het nie. HY was nog al die pad getrou, maar u nie! Wel, dan is vandag die dag waarop u dit kan doen!

Category Genesis Reeks

© 2018 Designed with ❤ by Web Crew