Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

Laai Af

GENESIS-REEKS NO 15: Gesinsbeplanning
Skriflesing: Genesis 16

Sekerlik een van die grootste daaglikse stryde wat alle Christus-gelowiges ondervind is die innerlike konflik tussen AAN DIE EEN KANT die abstrakte, onsigbare, onvoelbare beloftes van die Here wat iewers in ‘n antieke Boek op skrif staan en AAN DIE ANDER KANT jou sigbare, voelbare, tasbare omstandighede.

Die ongeredde mens ken nie hierdie stryd nie en sy lewe is eintlik nie juis gekompliseerd nie. Die ongeredde mens – in wie die Heilige Gees nog nie kom werk en woon het nie – leef elke dag soos sy kop vir hom sê en sy hart voel en volgens hoe die invloed van die omgewing en wêreld op hom inwerk. Innerlik besit hy slegs sy gevalle menslike hart & natuur en hy volg dit sonder probleme.

Die geredde mens in Christus se lewe is baie meer gekompliseerd. Ja, hy het ook steeds sy gevalle sondige menslike hart & natuur MAAR daar het ‘n reuse verandering gekom: Die gevalle menslike natuur dikteer nie meer sy lewe nie, want die Persoon van God die Heilige Gees het besit van sy lewe geneem en die beheer oorgeneem. In sy innerlike mens is daar nou twee stemme: Die Heilige Gees van Christus en die gevalle sondige menslike natuur (“vlees” noem die NT dit). Die Gees besit die beheer, maar die vlees wil aanmekaar die kitaar slaan. Daarby dring die Gees die mens om vanuit die beloftes van God te leef en DIT die fondasie van sy lewe te maak. Dis egter beloftes wat in die Bybel neergeskryf is. Die vlees wil die mens laat leef uit die sigbare voelbare ervaarbare wêreld en omstandighede. Die vlees wil die gelowige wegtrek van die beloftes. Die Gees bring die gelowiges NA die beloftes. Wat ‘n konflik! ‘n Innerlike verskeurdheid. Die apostel Paulus beskryf dit in Romeine 7 en Galasiers 5.

Nou gebeur dit dikwels so: Die innerlike tweestryd word soms te veel en die kind van die Here wil dan SELF ‘n plan maak met die omstandighede = DIE goed wat baie meer WERKLIK voel as die vae, abstrakte, veraf Skrifwaarhede. Gewoonlik klee ons ons eie planne met ‘n bietjie vroomheid – ter wille van die gewete. “Verfynde sonde” sou ‘n mens dit kon noem.

In Genesis 16 het ons te doen met ware gelowiges wat deur woelinge en intriges probeer om God se planne oor te neem in hulle eie hande. Genesis 16 vertel vir ons van kleingeloof, maar ook van ‘n wonderbaarlike genadige God wat luister en raaksien ten spyte van Sy mense se blindheid en doofheid. En sodoende bring Genesis 16 ook vir ONS voor ‘n krisis!

Eintlik kyk Genesis 16 na die Abram-verhaal vanuit die perspektief van sy vrou, Sarai. Want onthou: Sy is die kanaal waardeur God se belofte waargemaak moet word. God het wonderlike beloftes aan Abram gemaak en Abram het God daarvoor geglo. Die belofte van ‘n reuse nageslag moes egter deur Sarai in vervulling begin gaan. Sy moes vir Abram ‘n seun baar. En dis nou net hier waar die knoop lê. Dis tog vanselfsprekend dat Abram – omdat hy vir God geglo het – vir Sarai sou begin dophou. Wanneer kom die tekens van swangerskap nou? En dit werk weer op Sarai se senuwees. Dit begin nou al 12 jaar word sedert die Here Sy belofte gegee het. Twaalf jaar!!

Sarai dink logies en glo in praktiese oplossings! En sy is baie goed bewus van haar en haar man se ouderdom. En sy weet maar alte goed dat sy glad nie meer in staat is om swanger te word nie. Dis gewoon biologiese feite. Sy sal dus nou gesinsbeplanning moet doen. Hoe anders gaan die Here se belofte vervul word? Dalk het die Here vir haar die verstand gegee om planne te maak en dalk wil Hy deur haar vernuf werk. Sy laat geensins die Here buite rekening nie. Hoor hoe sê sy vir Abram: “Jy weet, die HERE het my nie toegelaat om ‘n ma te word nie.” Sy glo dat God beskik. Dis amper ‘n geloofsbelydenis. Maar toe sy haar gesinsbeplanningsplan bedink, raadpleeg sy nie die Here nie!

Sarai se plan was baie prakties en wetlik in orde. Sy gee gewoon haar slavin vir Abram as vrou. In die destydse antieke nabye ooste was dit die gebruik. Indien daar uit so ‘n reëling ‘n kind gebore sou word, is dit wetlik Abram se kind en Sarai kon die moederskap later oorneem. Die slavin word letterlik net gebruik om die kind in die wêreld te bring. En so sou God se belofte mos vervul word! Sarai help eintlik maar net vir God om Sy Woord te hou – dis al. Sy kan mos nie verhelp dat sy so ‘n praktiese mens is nie!

En Abram kom eintlik soos ‘n pateet voor. Sarai se vernuftige plan beïndruk hom. Hy stem met haar saam: God se plan het ‘n bietjie hulp nodig. En dit gaan tog om ‘n goeie saak. ‘n Volk se toekoms is op die spel. Die doel heilig seker die middel… ‘n stelling waarmee satan al baie oorwinnings behaal het.

Maar hoe dit ook al sy, Abram neem die Egiptiese slavin, Hagar, as vrou en sy word swanger. En daar begin Abram se probleme. En eintlik die wêreld se probleme tot in 2018. Want die stryd tussen Jood en Arabier het hier sy oorsprong.

Mevrou Hagar begin haar lyfie rondgooi en aanstellerig raak en Mev Sarai voel verneder. Sy voel sy het misluk as vrou. Sy raak boos en gefrustreerd.

Dis opvallend dat – hoe verder hierdie spanningsverhaal verloop – hoe minder word daar van die lewende Here gepraat. Eintlik net mooi niks. Die gesinsbeplanning flop en die aanvanklike lagie vroomheid is weg en nou is dit net afguns en spanning.

Die manier hoe daar met Hagar gewerk word, is haglik. Dit hoort verseker nie tuis by mense wat die Here se Naam bely en aan Hom behoort en Hom volg nie. Eers is Hagar net ‘n handige aanteeldier en toe word sy weggejaag. Sy word absoluut misbruik. Ja, dit was volgens die kultuur van die tyd in orde, maar die kultuur was net so korrup en sondig. ‘n Kultuur kan baie goddeloos wees en mense se menswaardigheid vernietig. En dit sal sonder twyfel onder God se oordeel kom. As ‘n mens ‘n kind vd Here is, kan jy nooit die kultuur van jou tyd net maar navolg nie. Kultuur is nie sleg nie, maar waar dit afwyk van die beginsels van die Skrif, kan dit nooit nagevolg word nie. Elke kultuur moet onder die kritiek van die Skrif en die kritiek van die gelowiges deurloop.

‘n Mens kan nie help om te dink en te wonder watter indruk Hagar van Abram en Sarai se God en die ware geloof moes gekry het nie. Sy was ‘n heiden, maar sy het sonder twyfel geweet dat Abram en Sarai die Here aanbid en dien. Abram en Sarai het opgetree as God se verteenwoordigers. Soos ons ook doen. Maar hulle was nie baie wonderlike getuies van die Here teenoor Hagar wat hulle elke dag dopgehou het nie. Hagar het misbruik gevoel. Ja, sy was self ook uittartend en aanmatigend – want sy was ‘n gevalle mens net soos alle mense wat ooit lewe – maar sy was ‘n heiden en Abram en Sarai moes van beter geweet het omdat hulle die Here geken het.

Sarai het die swanger Hagar sleg behandel en Hagar het die woestyn in gevlug. En daar gebeur die wonder. Die HERE verskyn aan haar. Ongevraagd, uit die bloute. Hy praat nie met Abram en Sarai nie, maar Hy ontferm hom oor hierdie heidense, maar verontregte, hawelose en moedelose vrou.

Die Engel van die Verbond ontmoet vir Hagar.

Maar wie is hierdie Engel van die Verbond?

Waar die Engel met ‘n bepaalde lidwoord DIE in die OT aangedui word, dui dit op Christus self in Sy OT-verskyningsgestalte voordat Hy in Betlehem mens geword het. Ander plekke in die OT is Gen 21:17-18; Gen 22: 11-18; Eks 3:2; Rigt 2:1-14; Rigt 5:23; Rigt 6: 11-24; Rigt 13:3-22; 2 Sam 24:16; Sag 1:12; Sag 3:1: Sag 12:8.

In al hierdie gevalle is dit duidelik dat hierdie engel self God is en tog ook ‘n ander persoon is as God. Hy praat AS God, Hy identifiseer homself met God, hy oefen God se take uit. En tog staan hy los/apart van God! Geen engel van God besit hierdie eienskappe nie. “Die Engel van die Verbond” is dus nie ‘n gewone engel van God nie, maar die Here Jesus self (in Sy OT-gedaante) wat aan Hagar verskyn.

Wanneer Hagar aan die einde van haarself is, begin die Here met haar gesels. Dis byna asof die Here dit nodig vind om die skade wat Abram en Sarai aangerig het, persoonlik te herstel. En Hy openbaar homself aan Hagar as die genadige God. In die woestyn leer Hagar hom ken as die God wat in Sy hart ook vir haar ruimte het. Tewens, Hy beloof aan haar ‘n groot nageslag.

Die seun wat Hagar vir Abram in die wêreld sou bring, was Ismael (God het geluister) – want die Here het haar in haar ellende verhoor. Ismael sou die stamvader word van wat ons vandag ken as die Arabiese nasies. Die Arabier en Jood het dus dieselfde pa, maar verskillende ma’s. Want Sarai se latere seun, Isak, sou die stamvader van die volk Israel word. Ismael en Isak = Arabier en Jood. Dit is vandag nog die stryd tussen veral die Palestyne en Jode. Maar die stryd het ontstaan by Abram en Sarai se ongehoorsaamheid.

Toe die Here daardie dag vir Hagar beloftes oor haar nageslag gee, was dit ook ‘n bietjie verontrustend, want Hy sê Ismael sal ‘n wilde-esel van ‘n mens wees. Hy sal teen almal wees. En almal sal teen hom wees. Dit voorspel niks goeds nie. Soos ons in 2018 steeds weet wanneer ons na die nimmereindigende Midde-Oosterse konflik kyk.

Ismael – die wilde kind. Ismael die verbondskind – gebore uit Abram – die vader van alle gelowiges. Dis ‘n Godswonder dat hy enigsins gebore is. Hy is gebore op grond van die feit dat die Here na gebed luister. Dis wat sy naam beteken. En tog word hy reeds voor sy geboorte as ‘n wilde kind bestempel. Want hy is en bly die vrug van Abram en Sarai se ongeduld en eiesinnige gesinsbeplanning. Later sou hy die vyand van God se volk word.

Die gevolge van sonde is altyd pyn, ontwrigting en hartseer want dit is wat sonde beteken: Om God se wil in die wind te slaan. Om SELF god te wil wees. En dit bring altyd tragedie voort. En soms spoel die gevolge nimmereindigend oor van geslag tot geslag.

Dis maklik om Genesis 16 te lees en die MENSE in die verhaal raak te sien en oor hulle te praat. Maar die verhaal gaan eintlik oor die lewende God. Ons leer Hom ken in die betekenis van Ismael se naam en die naam van die put (“die LEWENDE Een”) waar die Here vir Hagar voorsien het.

Die Here is die God wat regtig LEWE en wat mense se hulpkreet hoor en antwoord. Selfs mense wat Hom nie ken nie en wat nie verloste geredde mense is nie. Hagar was nie. Ismael was nie veronderstel om te bestaan nie, maar die Here gee hom ‘n nageslag en ‘n toekoms. Hy gee hom die geleentheid om te LEWE!

Maar die Here is ook LAGAI-ROÏ = die Here wat sien! Hy SIEN! Nee, ons weet dit nie altyd uit ons ondervinding nie! Dikwels beleef ons Hom as die SWYGENDE God. Mens sien dit in ‘n hele paar Psalms – hoe die Psalmdigters die Here as baie afwesig beleef. En dit vir Hom sê ook! ‘n Mens het soms ervarings waar dit allermins voel of die Here werklik SIEN! Soos die Psalmdigters moet ons ook maar leer dat die Here soms op Sy eie tyd en manier antwoord. Selfs Hagar het dit ervaar. Tussen haar eerste hulpgeroep en die Here se daadwerklike antwoord het daar eers ‘n hele klompie trane gevloei. Soms word daar baie onbeantwoorde vrae gevra. Soms kom die Here se antwoord so anders as wat ons verwag het. Maar in alle gevalle leer die Christus-gelowige op ‘n dag: Die Here IS die lewende God wat SIEN.

Nie Hagar of Ismael of Abram of Sarai het in daardie tyd die vaagste idee gehad van HOE die Here uiteindelik sou SIEN en antwoord nie.

Baie baie eeue later sou Ismael se nageslag die geleentheid kry om werklik geredde kinders van die Here te word toe die lewende God wat hoor en sien die diepe nood van ‘n sterwende wêreld raakgesien het en Sy enigste Seun in ‘n krip en op ‘n kruis gestuur het om voorsiening te maak vir hierdie nood! Ja, tot vandag toe kan Ismael se nageslag in Jesus Christus gered word – as hulle maar net die Evangelieboodskap kan hoor en verstaan en tot bekering kom. Ek praat natuurlik van die Arabiese nasies. ELKEEN wat die Here Jesus as Verlosser aanneem en tot bekering kom KAN saam met Hagar jubel: Lagai-Roï: Die Lewende God het ook vir MY raakgesien!

Hoofbron: Abraham Avonture: J Smit

Category Genesis Reeks

© 2018 Designed with ❤ by Web Crew