Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

Laai Af

GENESIS-REEKS NO 14: Here, hoe sal ek weet?
Skriflesing: Genesis 15

Die grondwet van God se koninkryk is: God beloof en die mens glo Hom daarvoor. By Abram word die grondwet dus neergelê. “Abram het God geglo/vertrou en God het hom dit tot geregtigheid toegereken”. Dis die hartklop van Genesis 15 en die hartklop van die hele Bybel. Alles staan of val op hierdie kardinale punt.

Geloofsvertroue is die manier waarop ‘n gelowige met God in ‘n verhouding staan. Geloofsvertroue is nie die mens se prestasie nie. Dis nie iets wat die mens uitdink of totstand bring nie. Dis iets wat by God begin. Vir my om geloofsvertroue te hê, moet daar eers ‘n God wees wat my pad kruis en met my in ontmoeting tree. Geloofsvertroue is die manier waarop ek op Sy liefde & Sy belofte reageer.

‘n Mens sien hoe hierdie dinge in Abram se ondervinding uitspeel. Kyk mooi: Dis die Here God wat inisiatief neem en met Abram in ontmoeting tree. “Vrees nie, Abram. Ek is vir jou ‘n skild en jou loon is baie groot.” Sien hoe benader God vir Abram? Met ‘n toesegging, belofte van genade. “Ek IS jou skild (ek skuif tussen jou en jou vyand in) en loon (nie prestasieloon nie maar genadeloon). Dus, los die vrees”.

Net eers tussen hakies: Ons sien sommer dadelik hoe hierdie belofte van God die taal van die NT praat. Ons weet immers dat die Here Jesus Christus op die kruis die skild en weerligafleier geword het vir almal wat ooit in Hom sou glo en tot bekering kom. Hy het die toorn en straf van Sy Vader van ons afgeweer. Nou kan ons leef sonder vrees en genadeloon ontvang in die ewige lewe.

Om terug te keer na Genesis 15:

Vrees is natuurlik die hartklop van ‘n gebrek aan geloofsvertroue. Dis die stemming van die gevalle sondige menslike natuur. Enige vorm van onsekerheid maak vrees wakker. Vrees vertolk ons menslike onvermoë en dis ‘n mosie van wantroue in God. En dit maak ons lewensmoeg.

Abram was presies SO ‘n rêrige mens van vlees en bloed! En hy was toegespin in sy eie omstandighede. Hy voel dus dat God se wonderlike belofte TEENOOR sy omstandighede staan. Hy dink eenvoudig met sy gesonde verstand en vra: “Here, hoe rym dit dan? Hoe rym hierdie beloftes met my omstandighede? Ek en my vrou se jare begin aanstap en waarvandaan sal daar vir my ‘n nageslag kom?” U sien hy is kinderlik opreg. “Tyd loop uit, Here. Waar sal ek kinders vandaan kry? Dis asof U rekenkunde nie klop nie.”

‘n Mens kan Abram se stryd goed verstaan, nie waar nie. ‘n Mens se omstandighede is altyd so voelbaar en tasbaar en bewysbaar. God se beloftes voel abstrak, vaag en ongeloofwaardig.

Abram vra dus ons almal se vraag: “Here, wat sal U vir my gee sodat ek sekerheid kan kry? Waarmee sal U vir my kan help glo asb?”

Die Here help nie onmiddelik vir Abram met ‘n sigbare vashouplek nie. Eintlik maak Hy dit vir Abram moeiliker, want Hy herbevestig Sy belofte deur vir Abram na die sterrehemel te wys. “Jy sal ‘n seun hê, Abram. En jou nageslag sal so talryk soos die sterre wees.”

Dink net: Hier staan Abram. Hy en sy vrou trek erg aan die bejaarde kant. Kans vir ‘n seun is bykans onmoontlik. In skerp kontras daarmee: ‘n nageslag soos die sterre. Dis bietjie dik vir ‘n daalder, nie waar nie?! Abram kyk na die sterre, maar hy sien nie kinders en kleinkinders nie. En hy is nie 21 nie! Hy sien net die sterre. Tussen God se belofte en die vervulling daarvan sal daar nog baie water in die see moet loop! Dis verseker! God se ontmoeting met Abram verander nie oombliklik Sy omstandighede nie.

En dan kom daardie goue woorde: “Abram het die Here geglo. En God het hom dit tot geregtigheid toegereken.”

Ten spyte van sy omstandighede, neem Abram vir God op sy Woord.

Ons moet natuurlik onthou dat hierdie ontmoeting van God met Abram ‘n geskiedenis gehad het. Dit was nie iets wat sommer net uit die lug geval het nie. Die Here verduidelik dit ook so aan hom. Hoe Hy vir Abram uitgelei het uit Ur van die Chaldeërs. Daar was ‘n geskiedenis van God se genadige teenwoordigheid in sy lewe.

En nou kom neem Abram God op Sy Woord. Dit beteken: Hy plaas sy vertroue oor op God se betroubaarheid. Klaar uit en verby! En God ag vir Abram as iemand wat REG met God is! Dis wat geregtigheid beteken. Abram is reg in God se oë. Hy probeer nie om reg te wees nie. Hy IS reg! Hy is reg VERKLAAR. Soos in ‘n hof!

Maar wat God vir Abram tot geregtigheid toereken is nie die feit dat Abram God se belofte glo nie. Dit is die inhoud van die belofte wat Abram glo wat God as Abram se geregtigheid toereken! Wat vir Abram REG STEL met God is nie Abram se geloofsvertroue nie. Dit is WAAROP Abram se geloofsvertroue rus, wat hom met God REG STEL. En waarop rus sy geloofsvertroue? Op die inhoud van God se beloftewoord! En daardie inhoud was in werklikheid Jesus Christus!

Want eeue later kom Paulus en verduidelik vir ons in Galasiërs 3 dat die nageslag wat God vir Abram belowe het eintlik net een Persoon sou wees en nie derduisende nie. En dit was Jesus. Toe Abram vir God geglo het, het Abram (sonder dat hy dit geweet het) vir God geglo vir dit wat Jesus op die kruis sou kom doen. En DIT het vir Abram REGGESTEL met God.

‘n Mens sou dus kon sê: Dit is nie DAT ‘n mens glo wat jou regstel met God nie. Dit is WAT ‘n mens glo wat jou regstel met God. Jou glo glo tog ‘n belofte van God. Jou glo glo ‘n bepaalde inhoud. En daardie inhoud is die meriete en verdienste van Jesus se kruisdood en opstanding. DIT is wat ons regstel met God. En dit is ook wat vir Abram reggestel het met God – al het Abram nie presies geweet wat die werklike inhoud van die belofte was nie. Hy het gedink dit gaan net daaroor dat hy ‘n groot fisiese nageslag sal hê. Maar God het geweet die nageslag gaan oor Jesus! En toe Abram vir God glo, reken God hom geregtigheid toe! JESUS se geregtigheid!

Maar nou is daar iets waarop ons baie noukeurig moet let:

Die feit dat Abram vir God geglo het en dat God hom reggestel het met Homself beteken nie dat Abram in homself innerlik sterk en gevestig was nie. Innerlik was hy maar nog baie onseker en swak en bewerig.

Daarom vra hy weer ‘n keer: “Here, maar hoe sal ek met sekerheid kan WEET dat ek daardie beloofde land sal beërf?”

U sien hy glo, en hy is reggestel met God, maar sy innerlike hart soek steeds ‘n teken, ‘n vashouplek, ‘n anker. Iets wat meer sigbaar en tasbaar is as God se onsigbare beloftewoord. Iets sigbaar wat God se onsigbare belofte kan onderstreep en waarborg. Hy het ondersteuning nodig. ‘n Stut.

En die Here betig hom nie. Die Here sê nie vir hom: “Haai jy moet mos met my beloftewoord tevrede wees” nie. “Abram, my belofte is mos genoegsaam. Waarom soek jy nog ‘n sigbare teken?”

Nee. Weet u wat doen God? Hy neem Abram se swakheid in ag en Hy buig letterlik agteroor om vir Abram tegemoet te kom. Hy hou in gedagte dat ons stof is, sê Psalm 103:14.

Toe besluit die Here God om vir Abram ‘n sigbare verbondsteken te gee. Die resultaat van Sy eindelose geduld.

Die seremonie wat volg mag dalk vir ons vreemd klink, maar dit was in die antieke tyd die gebruiklike prosedure wanneer ‘n wettige kontrak tussen twee partye gesluit is. Dit was ‘n seremonie wat bedoel was om die mondelinge belofte wat die partye aan mekaar gegee het, sigbaar te rugsteun. Dis soos ‘n handtekening onderaan ‘n kontrak.

Dit was dus nie die Here wat hierdie seremonie uitgedink het nie. Dit was deel van die destydse kultuur en samelewing. Die Here gebruik dit net. Hy gebruik iets wat Abram baie goed ken. Maar daar is ook ‘n groot verskil.

Die seremonie het soos volg gewerk:

Wanneer twee persone ‘n kontrak met mekaar sluit, het hulle diere of voëls doodgemaak en in twee dele gesny. Dan het hulle die helftes op die grond gepak om ‘n paadjie te vorm. Dan het beide partye hulle ondernemings teenoor mekaar hardop uitgespreek en tussen die stukke vleis deurgeloop. Daarmee sweer hulle teenoor mekaar die volgende: “Ek beloof om my deel van die kontrak na te kom. Indien nie, gee ek jou die reg om met my te maak soos wat ons met die diere gedoen het.” Beide partye lewer dus bewys dat hulle die volle verantwoordelikheid vir hulle onderskeie verpligtinge ten opsigte van die kontrak aanvaar.

Maar kyk nou hierna:

Wanneer God met Abram die sigbare verbond sluit, neem die Here Abram se verantwoordelikheid op Homself en Abram is totaal passief – hy word UITgesluit. Die Here laat ‘n slaap oor hom kom sodat hy nie in staat is om tussen die stukke vleis deur te loop nie. En God gaan alleen tussen die vleis deur. Hy gaan ook namens Abram deur! Die Here neem die volle konsekwensies van die kontrak op Homself. Ook Abram s’n.

In werklikheid sê God vir Abram: “As ek my beloftes nie gestanddoen nie, kan jy – Abram – met my maak soos ons met hierdie diere gedoen het. EN: As jy jou kant van die verbond nie nakom nie, kan jy ook met My maak soos ons met die diere gedoen het!”

Onthou die Here gaan namens Abram deur die vleis! “As JY JOU KANT nie nakom nie, kan jy met MY maak soos met die vleis”.

Dit klink byna waansinnig, maar die Here onderneem in Sy onbegryplike liefde om vir Abram se verantwoordelikheid in te staan – tot die DOOD toe in te staan. Die Here plaas Sy eie lewe op die spel – om dit menslik uit te druk.

Indien ‘n mens deur die lens van Genesis 15 na Golgota kyk, sien jy dat God hierdie seremonie/verbondsluiting/verbondsteken baie ernstig bedoel het. Want op die kruis – in Christus Jesus – sny die sondaarmens die Seun van God in stukke… vir die MENS se oortredings en sondes! Ja, ons weet dat dit GOD DIE VADER was wat Sy Seun aan die kruisdood oorgegee het, maar dit was die fisiese hande van die mens wat dit gedoen het.

God se alleen-deurloop deur die stukke vleis was dus baie eeue later in Jesus se kruisdood vervul. “Abram, doen met MY soos met die vleis indien JY JOU kant van die kontrak nie nakom nie”. En, watter mens KAN dit nakom? Niemand. Want almal het gesondig en dit ontbreek almal aan die heerlikheid van God (Rom 3:23). Die sondaar KAN NIE ‘n verbond met God hou nie. Dis gewoon onmoontlik. Daarom moes Jesus sterf. Want God het namens Abram tussen die vleis deurgeloop.

Op Golgota doen Jesus dus wat Abram nie kon nie. Hy staan in vir die sondaar. Hy dra die straf vir mense se kontrakbreuk met God. God straf die mens se totale onvermoë om aan sý deel van die kontrak getrou te bly, aan Sy eie Seun. DIT is die sterkste bewys van wat liefde regtig is. Dit is die sterkste bewys van hoe EG die evangelieboodskap regtig is.

Maar daar is iets meer in Genesis 15.

Die Here gee boonop vir Abram ‘n beknopte verrassende toekomsblik.

Die beloftes wat die Here daardie dag aan Abram verseël het, sou verreikende gevolge hê vir die verste toekoms. Dit sou VER by Abram verbystrek. Abram sukkel om te glo dat hy ‘n seun sou kon hê, maar die Here sê vir hom: “My belofte is nie net op jou klein wêreldjie van toepassing nie. Dit strek veel verder. Tot by die verlossing van my volk uit Egiptiese slawerny en die intog in die beloofde land. Dit sluit ook Betlehem en Golgota in”.

En ons – wat met die hele Bybel sit en wat terugkyk op die geskiedenis – weet dat die Here absoluut woord gehou het. En ons weet dat Sy belofte aan Abram nog verder gaan as 2018 en ons klein leefwêreldjie. Dit gaan tot by die wederkoms van Christus, die voleinding, die hel en hemel en ewigheid.

Ons weet ook dat die Here se werksmetode met Sy mense nog nooit verander het nie. Nog steeds sluit Hy ons in by Sy belofte van die ewige lewe in/deur Jesus Christus. Met die bevél om te bekeer en Hom te glo.

Nog steeds gee Hy sigbare tekens wat Sy belofte vergesel – om ons te ondersteun in ons glo.

Nes Abram vra ons ook: “Here waaraan sal ek kan weet dat U sal woord hou?”. Weliswaar laat Hy ons nie meer diere verdeel nie. Nadat Christus se bloed gevloei het, vloei daar nie weer bloed nie. Maar Hy gee die bloedlose tekens van water, brood en wyn.

Die tekens sê en verklaar net een ding: “Omdat jy jou kant van ons verbond nie kan nakom nie, het Ek met MY lewe in jou plek geboet. Nou is jy vry. Gaan leef nou soos ‘n bevryde mens”.

Category Genesis Reeks

© 2018 Designed with ❤ by Web Crew