Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

Laai Af

 

 

 

GENESIS-REEKS NO 12: In belang van my broer
Skriflesing: Genesis 13

Hoofstuk 12 het afgesluit met ‘n teleurstelling én ‘n verrassing: Die teleurstelling: Dat Abram – toe hongersnood knel – van die Here vergeet het en self planne gemaak het om te oorleef deur na Egipte te gaan. Die verrassing: Dat die Here nie vir Abram los nie, maar hom terugbring na sy roeping en na aanbidding.

In hoofstuk 13 bou Abram weer ‘n altaar. En ‘n altaar was destyds simbolies van: 1) Versoening en vergifnis deur die bloed van ‘n plaasvervangende offer 2) Aanbidding en vriendskap/verhouding met God.

In gemeenskap met die lewende God word sonde uitgewys. En sonde-oortuiging lei tot sondeberou en vergifnis. Vernederende selfverloëning lei tot bevrydende oorwinning. En dit dra sonder twyfel blywende vrug. Dit sien ‘n mens in Genesis 13.

Dis waar dat ‘n mens by die lees van Genesis 12 voel of Abram jou só teleurstel dat jy hom nie eintlik sommer weer ernstig kan neem nie. Skielik klink sy geloofsbelydenis nie meer geloofwaardig nie. Maar hoofstuk 13 kanselleer weer ons pessimisme en laat ons sien wat ‘n diep werk God se genade in Abram se lewe doen. Sy DADE getuig van die egtheid van sy verbondenheid met die Here. Want DADE is altyd die vrug van ‘n ware ontmoeting met die Here – volgens Jakobus 2. En die apostel Johannes sê in 1 Joh 3 dat iemand wat waarlik uit God gebore is, nie kan/sal AANHOU met die praktisering van sonde nie. Ja, Abram HET gefaal, maar hy het weer opgestaan en in hoofstuk 13 word sy egtheid so duidelik bewys. Abram kon nie AANHOU om sonde te praktiseer nie! Want DADE bewys EGTHEID! Dis die rede waarom die ongeredde op grond van DADE veroordeel sal word (Rom 2:8; Openb 20:12). Wanneer die ongeredde op die Groot Dag die Here sal wil oortuig waarom hy/sy beslis wedergebore was, sal die Here (argument’s onthalwe) net ‘n paar videogrepe uit sy lewe kan vertoon. “Kom ons kyk of jou lewe getuig het van ‘n lewende verhouding met My. Kyk na hierdie en hierdie videos — Jy het baie selde tyd vir My gehad, kyk hoe TOE was jou Bybel, gebed was nie jou groot liefde. En kyk wat het jy gedoen waar niemand sien nie…”

In hoofstuk 13 beland Abram weer eens in ‘n geloofskrisis. Hierdie keer is dit nie ‘n kwessie van lewe/dood soos in hoofstuk 12 nie, maar nou word ‘n veel meer subtiele aanslag op sy geloofsvertroue gemaak. Dit gaan naamlik oor die demoniese versoeking van rykdom en materiële welvaart.

Materiële voorspoed laat ‘n mens nooit onaangeraak nie. Dis iets wat ‘n mensekind baie ongemerk in ‘n fyn web toespin en later sy gif in jou are spuit.

Ons almal reken sekerlik dat ons van hierdie gif gevrywaar is. Aan die algemene standaarde gemeet is ek en jy dalk nie juis materieel welvarend nie. Maar dit gaan nie hier oor die volume van rykdom nie, maar oor die feit dat elke mens se eiendom sy rykdom is – wat dit ookal is. Dit vorm ‘n greep op ons almal, want ons almal wil so graag BESITTERS wees. Om iets op ons naam te hê bied soveel sekuriteit – so dink ons. Dit laat ons so lekker selfstandig en onafhanklik voel. Wat is nou lekkerder as om self in beheer van sake te wees?! Wie wil tog nou in iemand anders se oë kyk?

Die ironie is dat die Christus-gelowige in beginsel nou juis ‘n mens is wat daagliks sy/haar self moet kruisig en volle afhanklikheid van die Here bely. Maar die ingebore begeerte om te wil besit en onafhanklik te wees, stry hierteen. Dis deel van elke Christen se worstelstryd – soos Romeine 7 dit uitspel. Dit wat ek en jy wil besit, besit so maklik vir ons. En dan beheers die Heilige Gees ons nie. En Sy vrugte kom nie na vore nie. Maar die mens wat waarlik uit God gebore is, WIL so graag Geesvervuld wees en bly altyd ongelukkig en leeg wanneer dit nie die geval is nie. Maar aan die ander kant wil hy besit en kleef sy hart aan die wêreld. Dis die innerlike tweestryd waarvan die Skrif praat. En Abram het dit ook geken.

Volgens die Skrif was Abram ‘n ryk man. En Lot ook. Rykdom is nie sonde nie. Lot was Abram se neef. ‘n Mens kan verwag dat uit hierdie twee kêrels se welvaart, daar ‘n gespanne situasie kan ontstaan. En dit was ook so. Hulle vind hulle kan nie meer langer bymekaar bly nie. Hoe nou gemaak? Sal hulle nou volgens die reëls van die lewe speel: “Elke man vir homself”? Volgens die reëls van die lewe baklei elke ou vir homself. Elkeen het mos sy regte. Want die lewe is hard!

Indien Abram en Lot hierdie koers sou inslaan, sou Abram aan die wenkant wees, want hy was die oudste en hy was mos die toerleier. Met die Egipte-episode het hy inderdaad volgens die reëls van die harde lewe probeer speel. En byna die band met sy God verloor. Maar intussen het sy God hom vasgehou en in Sy verbondsliefde teen Sy hart vasgedruk en nuut met hom ontmoet. Abram se lewe het verander onder die krag van die Here. Dis waarom hy nou ‘n ander taal praat. Want sien, die liefde van die Here het in sy hart gekom.

Hoe weet ons dat Abram se geloofsvertroue en sy kindskap van die Here EG was? Want – toe dit by besittings & welvaart kom – maak hy ‘n keuse wat op geen manier met die gevalle menslike natuur strook nie. Hy maak ‘n keuse wat eerder met die hartklop van God strook. Hy dink nie in die eerste plek aan die wins of verlies van besittings nie. Hy dink aan die moontlike verlies van ‘n broer in die Here. Want Lot was nie net sy neef nie. Lot het ook uit die Here se verlossing gelewe. In NT-taal was hy dus Abram se geestelike broer.

Abram soek dus ‘n oplossing wat tot voordeel van Lot en goeie verhoudings sal dien. Al sou dit ten koste van stoflike besittings wees. Die vrye keuse wat hy vir Lot gee kon ongetwyfeld verliese vir homself meebring. Maar al wat vir hom saakmaak is dat die spanning beëindig moet word – “ons is mos broers”. Daarom is hy bereid om terug te tree en die minste te wees.

Dis maklik om spanning uit te baklei. Dis hoe die wêreld dit doen en dit is hoe die gevalle mens se kop werk. Dis egter ‘n totaal ander saak om jou te buig en te onderwerp aan ander se keuses – ter wille van die eer van God, die wil van God en gehoorsaamheid aan God en liefde vir God. Veral wanneer jyself dalk aan die kortste end kan trek.

Dis baie duidelik dat slegs die kruis van die Here Christus ‘n diep werk in ‘n mens se hart moet doen om jou DAAR te kry waar Abram op hierdie punt was.

Dis waarom ons nie eintlik oor Abram wil praat nie. Want sy optrede werp ‘n oordeel oor onsself. Ons wil eerder oor die verwaande, selfsugtige, materialistiese, ondankbare Lot praat. Want dan kan ons HOM oordeel en onsself versteek. Abram se Christusgesindheid plaas ons in ‘n hoek. Lot se menslike optrede plaas HOM in ‘n hoek – en ons kan lekker terugstaan. Dus: Oor wie wil ons eerder praat? Oor Lot natuurlik! Maar oor wie wil die Here praat? Oor Abram natuurlik!

Maar ons loer so na Abram en ons hoor hom vir Lot sê: “Ons is mos broers in die Here. Kies jy watter grond jy wil hê en ek sal vat wat jy nie wil hê nie”. En dan dink ons van Abram: “Hoe dwaas tog. Watter waagstuk. Hoe kan die man so naïef wees soos hierdie kêrel?”

Maar dis nie hoe Abram daaroor dink nie! Want die kruis van die Here Jesus Christus was besig om ‘n diep werk in sy lewe te doen. Die Here was besig om op hom te opereer. En Abram kies onwrikbaar om met sy God te wandel. En ‘n man wat met die lewende God leef, kan nie in onvrede met sy broers en susters in Christus (en eintlik met niemand) leef nie. So ‘n man kan nie homself bo ander plaas nie. Want Christus het dan self gekies om die skone hemel te verlaat en mens te word en aan ‘n vloekkruis te sterf en homself tot in die dood te verneder om hellelinge te red en te verlos.

Eiebelang en die verterende begeerte om te wil besit en meer en meer en meer te wil besit – vernietig nie net ‘n mens se geestelike lewe nie, jou gebedslewe nie, jou krag en lewe nie. Dit vernietig ook verhoudings en dit vernietig ander mense.

Dis die gesindheid van Lucifer wat by homself gedink het: “Ek is glad nie tevrede met die posisie waarin God my geskape het – as blinkende môrester – om alle engele in aanbidding te lei nie. Ek wil opklim en hoër gaan en my troon BO God stel”. En die gevolg was dat hy alles verloor het en uiteindelik vir ewig in die hel van die vuurpoel sal wees.

Uiteindelik is die keuse gedoen en Abram bly alleen agter. Lot is vort en het die beste grond vir homself in besit gaan neem. En hier is Abram.

Maar toe verskyn die lewende Here op die toneel.

En die Here sê: “Abram, kyk op”. Dalk was Abram se kop op sy bors. Die verlies van die vrugbare Jordaanstreek het waarskynlik nie net in sy klere bly sit nie.

Maar die Here het iets om vir Abram te sê.

Kyk mooi wat gebeur hier: Die Here kom verbind Homself weer opnuut aan Abram. En hy verbind vir Abram aan Homself. Abram het dalk die Jordaanstreek verloor. Maar hy het vir God self as wins verkry. Die Here se seën word in ryke mate oor hom uitgestort.

“Abram, kyk op. Jy het geen rede om neerslagtig te voel nie. Jy is ‘n mens met ‘n toekoms. Die hele land behoort aan jou. Want die aarde behoort aan MY – en die volheid daarvan. En jy, Abram, jy wat probeer om met MY te wandel en te leef, JY is ‘n kind van God omdat EK jou dit gemaak nie. Jy is erfgenaam van jou Vader. En jou Vader sal vir jou sorg. Kyk op, Abram. Kyk met die oog van geloofsvertroue en geloofsverwagting”.

Op ‘n stadium het die hewige versoeking om te wil besit en om onafhanklik te wees ook na die Seun van God gekom. Ons lees daarvan in Matteus 4. Al die koninkryke van die aarde is Hom aangebied. Al wat hy in ruil daarvoor moes doen, was om net ‘n slag aan homself ook te dink. Indien Hy net vir daardie oomblik toegegee het aan die versoeking, sou Hy nie ons Verlosser kon wees nie. Maar, Hy het – as ons plaasvervanger – vir satan NEE gesê. Toe Hy daardie dag homself verloën het en God se eer bo alles gestel het – was dit in jou en my plek. Sy oorwinning is ons oorwinning. En dis klaar behaal! Hy het homself verneder deur gehoorsaam te word tot in die dood van die kruis. Dit is hierdie hartklop wat die Heilige Gees op ‘n mens “oorplant” wanneer ‘n mens uit genade ‘n kind van die Here word! Dis ‘n goddelike hartoorplanting wat plaasvind.

Toe Abram sy broer eerste stel, was hy SELF – onwetende – ‘n profesie van wie Jesus baie eeue later op aarde sou kom wees en wat Jesus sou kom doen. Ja, Abram het self reeds die gesindheid/gees van die kruis in homself gehad. Maar, hy was ook in sy handeling ‘n profetiese vooruitwyser na die Here Jesus Christus.

Wanneer die Apostel Paulus in Filippense 2:3-5 skryf, gee hy nie vir ons ‘n onmoontlike en onmenslike wet nie. Hy maak ‘n appèl op ‘n stuk rykdom wat alreeds in elke wedergebore mens se lewe teenwoordig is (ingeplant is). Die rykdom moet net na vore kom, dis al.

Hoor wat skryf die Apostel:

“Moet niks uit selfsug or eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself. Moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie. Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus is.”

Hoofbron: Abraham Avontuur: J Smit

 

Category Genesis Reeks

© 2018 Designed with ❤ by Web Crew