Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

Laai Af



GENESIS-REEKS NO 11: Wins en verlies
Skriflesing: Genesis 12
Gen 12 is sekerlik een van die belangrikste hoofstukke in die Bybel, want dit beskryf die geboorte van die volk wat uiteindelik God se OT-kerk sou wees. En uit hierdie kerk is die NT-kerk (ons) gebore!

Nou is die Here regtig op koers om die moederbelofte (Gen 3:15) te vervul! Maar kyk hoe begin alles: sonder enige drama – net met die roeping van ‘n doodgewone man: Abram.

Abram is ‘n rou heiden, maar die Here bring hom in beweging. Uit genade alleen. Want Abram het nie die Here gesoek nie. Die Here het hom gesoek. En gevind! Ja, die Here kies regtig GEWONE mense! Dit het dus eintlik alles met ONS te doen! Dis in ‘n sekere sin ook ons verhaal. Die Here roep gewone mense! Nie mense wat eers wonderlike prestasies moet lewer nie. Abram kon die Here met niks beïndruk nie. Hy het nie sy paspoort Kanaan toe met sy goeie lewe verdien nie. Sy reis Kanaan toe was in elk geval nie ‘n “Leef jou reis” met Gerrie Pretorius nie. Dit was ‘n pelgrimstog – ‘n geloofsreis. En dit is deur genade. Dat God ‘n mens se pad kom kruis, is suiwer genade. Wie jy ookal is. Hy is immers aan niemand niks verskuldig nie!

Maar een ding is baie seker: Wanneer die lewende God in ‘n genadeverhouding met ‘n mens betrokke raak, dan gebeur daar dinge! Sommer-net-‘n-mens word in die Here se geselskap MEER-as-net-‘n-mens. Jy word ‘n werktuig van God se almag en kanaal van Sy liefde en spreekbuis van Sy Woorde. ‘n Mens by uitnemendheid: NIE deur afkoms, herkoms of prestasie nie, maar slegs in verbondenheid met die lewende God! Daar is ‘n wonderkrag wat die Here in jou lewe uitoefen – volgens Efes 1:20 – dieselfde krag wat God in Christus uitgeoefen het toe Hy hom uit die dood opgewek het!

Maar dink hoe ontsettend onmoontlik moeilik moes dit vir Abram wees om net te hoor: “GAAN weg uit jou land en familie na die land wat Ek vir jou sal wys.” Wat ‘n verlies en ontnugtering! Abram kom uit ‘n welgestelde familie. Hy woon tog te lekker daar waar hy woon. Maar die Here se emigrasie-beleid dring plotseling in sy lewe in en ontwrig hom totaal. Hy hoor net hy moet trek. Maar weet nie waarheen nie. ‘n Onbekende vreemde in. En hy moet almal agterlaat. Dis net verlies op verlies. Alles wat vir hom belangrik is, moet hy agterlaat. Want die soewereine God het met hom kom gesels! Vir ‘n Oosterling van daardie tyd sou so ‘n tipe opdrag niks minder as vrywillige ballingskap beteken het nie. Dis gewoon onmenslik.

Al waarop Abram kon staatmaak, sy enigste sekuriteit, was God se stem. God wat aan hom ‘n vae toekomsbelofte bied: “die land wat ek jou sal wys”. Maar, sonder vaste geloofsvertroue beteken ‘n belofte niks meer as mooi woorde nie. Mens sou dink dat Abram een of ander vorm van sekuriteit vra. Maar dit is hom nie beskore nie. Hy kyk die toekoms in … en sien niks. Niks! Behalwe God se belofte. En God was vir hom ‘n vreemdeling. Onthou: hy was ‘n barre heiden. Die Here het sommer maar net met hom kom praat. Van nêrens af nie! En al wat Abram nou kon sien was die trekpad die vreemde in: met al sy gevare en ontberinge.

Nogtans pak Abram die reis aan. Want in sy innerlike mens het daar ‘n wonderwerk gebeur, ‘n plotselinge verandering, wat slegs deur die Here self bewerk kon word. Skielik was gehoorsaamheid aan die Here al wat vir hom belangrik is.

Hierdie beskrywing van Abram se roeping klink baie eenvoudig en gering, maar Abram was God se stopteken in ‘n wêreld van verval en verderf. Dit sou ‘n ommekeer in die geskiedenis bring. Want hier is die grondlegging van die OT-kerk – uit wie die Christus, die Messias, uiteindelik sou voortkom. Maar dit begin by een man wat hoor: “Gaan jy uit..”

Ons sou graag vandag wou sien dat die Here op groter skaal werk en dat daar magtige herlewing kom. Maar dikwels verkies die Here om met individue te begin. En soms op klein skaal. En Hy sê: “Sonder jou af! Slaan die Here se koers in. Vergeet van die ander. Volg JY my”

En hierdie roepstem vra ‘n antwoord. Gehoorsaamheid. Wat verliese kan meebring. Maar wanneer die individu – met wie die Here kom praat – JA sê en oorgee, dan is dit geloof. Jy is verbind aan Hom. En dis nie ‘n waagstuk nie. Dis ‘n wandel met GOD self.

Eintlik het die Here Jesus self eeue later Abram se gehoorsaamheid volmaak afgerond toe Hy – in gehoorsaamheid aan Sy Vader – uitgegaan het en Homself totaal ontledig het en aan mense gelyk geword het en gehoorsaam was tot in die dood aan die kruis (Filip 2:7-8).

Ons moet egter ook raaksien dat daar ‘n spesifieke toekomsdoelwit en plan was waarom die Here vir Abram geroep het. Die Here lewer nie vir Abram aan totale onsekerheid uit nie. Hy weet geen mens kan leef sonder toekomsvooruitsig nie. Daarom verbind Hy hom daartoe om van Abram ‘n groot nasie te maak en hom te seën en hom tot seën te maak. En om selfs al die geslagte van die aarde in hom te seën.

Ons weet dat hierdie belofte nog elke dag vervul word wanneer mense van alle nasies by Christus ingelyf word. Maar Abram kon uiteraard nog niks daarvan sien nie. Dis maklik vir ons om terug te kyk. Maar hy het net God se belofte gehad om aan vas te kleef. Uiteindelik sou God se toekomsplan vir Abram veel meer seën inhou as waarvan hy ooit kon droom. Maar die seën sou uitkring – deur Christus se koms – na alle nasies tot by die voleinding van die wêreld!

Die Here rus dus vir Abram kragdadiglik met Sy seën toe en DIT stel vir Abram in staat om gehoorsaam te antwoord.

Hierdie seënbelofte was egter nog meer as dit. Dit was die skarnier waaraan die koms van die koninkryk van God (tot in ons dag) sou hang. Dis die bril waardeur ons vandag na die wêreld moet kyk. Kyk jy SONDER hierdie bril, sien jy ‘n onherstelbare warboel. Maar kyk jy MET hierdie bril, sien jy hoe God daagliks besig is om duisende mense in die koninkryk in te sluit en lewens nuut te maak. Jy sien hoe Hy Sy mense gebruik om ‘n seën vir ander te wees en van die aarde ‘n beter plek te maak. Soos by Abram, is ‘n kind van God se lewe ‘n kanaal waardeur Sy seën kan uitvloei na ander. Abram se lewe sou nie ‘n opgaardam wees van genade nie, maar ‘n KANAAL van seën vir ander.

En kyk mooi na die seënbelofte (verbondsbelofte) in verse 2-3: Die Here sê die heeltyd: “Ek sal, Ek sal, Ek sal”. Hy sê nie: “Ek verwag van jou dit en dat en DAN sal Ek” nie! God se verbond werk soos ‘n testament: Dit bevat toeseggings en klaar. Dis kristalhelder genade.

Maar juis dit skep die gehoorsaamheid by die mens. Kyk na vers 4: “En Abram het gegaan”. Omdat hy vir God glo, is daar ‘n praktiese uitwerking: HY GAAN!! Hy bely nie hy glo en doen niks. Hy doen alles! Deel van die alles, is dat hy ‘n altaar gaan bou. Nes Noag gedoen het nadat hy uit die Ark gegaan het.

Abram reis ‘n hele ent na Kanaan om ‘n eenvoudige erediens te gaan hou. Dis nie ‘n groot vertoning wat die nasies se aandag vasgryp nie. Hy gaan oorrompel nie die heidene met ‘n geestelike kragtoer nie. Hy doen ‘n baie nederige ding. Hy bou ‘n altaar met klippe en hy gaan op sy knieë. Want hy is nie geroep om opspraakwekkende dinge te doen of groot monumente te bou nie. Hy is geroep om getrou te wees en om te aanbid. Maar hy proklameer ook God se gesag oor die wêreld. Waar die altaar gebou word, word God se koningskap erken en verkondig. En ons weet mos by hierdie tyd dat die altaar ‘n profetiese vooruitwysing was na Jesus se kruisaltaar.

Die mens se hart is altyd ingestel op groot en skouspelagtige dinge. Op dit wat skitter en blink. Op konings en koninkryke. Op tekens en wonders. Maar die lewende God se hart klop glad nie so nie. Toe Abram se groot nasaat – Jesus Christus – op aarde verskyn, het Hy presies soos Abram gemaak. Hy het net rustig Sy Vader verheerlik en die koninkryk verkondig aan almal wat wou luister. En liefde aan ‘n liefdelose wêreld deurgegee. En sondaars tot bekering geroep. Maar eintlik was Hy besig om ‘n altaar voor te berei. En toe dit uiteindelik voltooi is, lyk dit glad nie soos ‘n altaar nie. Dit lyk soos ‘n kruis. En staan op ‘n klein heuweltjie. En Hy plaas homself daarop as offer. Dit is hoe die seënbelofte aan Abram – deur die bloed van die Seun – op die nasies uitgegiet is.

Abram het dus nie tevergeefs gehoorsaam en getrek nie. Hy het nie tevergeefs alles agtergelaat ter wille van gehoorsaamheid aan God nie. Hy het nie tevergeefs daardie altaar in die vreemde gaan oprig nie. Want die werk wat hy in naakte geloof begin het, is werklik op Golgota voltooi. Eintlik sal dit by die wederkoms ten volle voltooi wees wanneer die laaste geredde mens by die nuwe Jerusalem instap.

Maar nou is die Bybel mos ook blatant eerlik. Abraham het waaragtig sy geloofsvertroue op God se belofte oorgeplaas. Dis seker. Mens sien die egtheid van sy bekering in sy dade. Sy gehoorsaamheid. Hy TREK en begin sy reis na die beloofde land.

Maar hy is steeds iemand wat kan sondig. Dis nie ‘n verskoning nie, dis net ‘n realiteit.

Die verhaal wat in verse 7-20 opgeteken is, is eintlik ‘n baie teleurstellende verhaal. Maar dis ook ‘n bemoediging, want daarmee word ONS ingesluit by die verhaal en nie uitgesluit nie. Want ons kan ons so erg daarmee vereenselwig.

Waarom is verse 7-20 teleurstellend? Want die man by wie ons die ABC van ‘n geloofswandel met God wil leer, is blykbaar skielik van koers af. Dit lyk of hy die kluts kwyt is. Hy is bewend lafhartig. Ons vind hom hier op ‘n vreemde plek – ver van sy altaar af. Geloofsmoeg en verward.

Wat was die oorsaak van hierdie verandering in Abram se lewe?

Antwoord: Omstandighede.

In die Suidland is daar hongersnood en Abram sit skielik met ‘n honger maag en leë broodblik. En ‘n onsigbare God en geloof in Hom kan tog nie die broodblik volmaak nie. Jy kan tog nie beloftes eet nie. Dis nie nou tyd vir by ‘n altaar aanbid nie. Nou moet daar planne gemaak word!

Dis asof Abram se belydenis en belewenis nie sinkroniseer nie. Skielik voel hy ver van die altaar van lof en aanbidding. Want waar gaan hy kos kry? En so word hy weer die argitek van sy eie lewe en werk hy vir homself ‘n oorlewingsroete uit. As die nood op die hoogste is, is daar nie tyd vir rustig by die altaar aanbid nie. Hy sal Egipte toe gaan. Dis al uitweg. Daar is immers kos. Maar hy sal as ‘n vreemdeling daar bly. Hy gaan nie terug na Ur van die Chaldeërs nie – na sy vorige lewe nie. Want hy glo steeds aan God se roeping. Maar hy bly ook nie by die altaar nie. Hy kies ‘n kompromieroete: Egipte toe. Geen wonder dat die Here se stem stil raak in hierdie verse nie!

Vanuit God se oogpunt gesien was hierdie kompromieroete wat Abram kies, glad nie goed nie. Selfs gevaarlik. Want Egipte was nie op God se roetekaart vir Abram nie. En bowendien: Kyk hoe sink Abram weg in sonde. Hy kies om te lieg oor Sarah, sy vrou. Ook net om veilig te speel.

In Egipte kom daar niks tereg van Abram se roeping en van hom as kanaal van God se seën nie. Die kragtoevoer is met ‘n leuen geblokkeer. Mens lees wel in hierdie verse van Abram se materiële voorspoed ja, maar niks van die Here God nie.

Almal van ons weet maar te goed hoe ons meesters is van die kompromiekuns. Hoeveel van ons voorspoed kom nie uit die graanskure van Egipte nie? Hoe maklik is dit om ons lojaliteite oor te skuif na die wêreld en wêreldsgesindheid nie? Nee, ons sal nooit weer die pad terugloop tot VOOR ons bekering nie. Ons wil graag God se verloste kind bly. Maar ons roeping en seën en wandel met God het onderweg na Egipte in die slag gebly. En God se stem het al hoe stiller geraak.

OMSTANDIGHEDE veroorsaak dikwels dat ons op ‘n kompromieroete gaan. En radeloos planne maak. Dis dan wat ons nie fokus behou op die vastheid van God se beloftes en Sy trou nie, maar binne-in onsself fokus en sien hoe ons geloofsvertroue kwyn. Juis wat ons NIE moet doen nie.

‘n Sekere predikant het by geleentheid ‘n geweldige beproewing verduur. Geestelik het hy begin verswak. Hy skryf aan ‘n vriend: “Ek is siek. My vertroue in God se beloftes neem daagliks af.”

Die vriend skryf terug: “Begaan jy nie dalk die fout om jou VERTROUE in God se beloftes te ondersoek in plaas daarvan dat jy GOD SE BELOFTES ondersoek nie?”

En dan die verrassing!

In vers 17 staan daar: “Maar die Here…”

Skielik swaai alles om. Skielik word hierdie verhaal die verhaal van die Here se MAAR in Sy kind se lewe en nie die verhaal van Sy kind se kompromieroete nie.

Die Here sal nie toelaat dat Sy plan deur Abram verongeluk word nie. Daarom gryp Hy in! Want Hy is die God wat nie tevergeefs roep nie. Hy sal nie toelaat dat Sy kind in Egipte verbaster nie.

Maar die Here straf nie vir Abram nie. Hy laat eerder die Egiptenaars sweet. Want, wat Abram nie vir hulle geleer het nie, leer die Here hulle nou self: Ons het met die lewende God te doen. Die God van Abram is die Here van hemel en aarde.

Maar, die Here….

Met hierdie Goddelike MAAR, kom daar meteens ‘n keerpunt in Abram se lewe. ‘n Koersverandering. Toe die Here vir hom vra: “My seun, wat soek jy in Egipte?” toe verander Abram se lewe opnuut. So magtig is die Here se stem!

En in Genesis 13 lees ons dat Abram onmiddelik terugkeer na die Suidland met sy hongersnood. Hy maak ‘n ommekeer. En wat doen hy toe hy in die Suidland kom? Hy bou ‘n altaar! Aanbidding en plaasvervangende offer kom weer eerste in die sy lewe – al moet sy maag honger bly!

Dit is ook die plek waar jou en my lewens telkens weer vernuwe en herstel word. Wanneer ons op ‘n misterieuse manier die Here se MAAR hoor. En ons handomkeer terugkeer na die altaar. Die plek van vergifnis deur offerbloed. Die plek van stil word by die Here. Die plek van aanbidding en luister na Sy Woord.

Ons moet die rigting vir ons lewens op die regte plek gaan soek: By die altaar waar die Lam van God vir ons geoffer is.

Hoofbron: Abraham Avontuur: J Smit



Category Genesis Reeks

© 2018 Designed with ❤ by Web Crew