Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

GELOFTEDIENS 2021
Tema: Die aanstoot van die Evangelie
Skriflesing: Matteus 11: 2-6

Dit is Desember 1838. Die Voortrekkers, onder leiding van Andries Pretorius en Sarel Cilliers, was op die vooraand van ‘n groot botsing met die Zoeloe-krygsmagte. Hulle was 470 man sterk.

Op Sondag 9 Desember het Pretorius die wens uitgespreek dat, indien almal instem en hulle die oorwinning teen die Zoeloes sou behaal, hulle die oorwinningsdag ter ere van die Naam van die Here sou herdenk. Hy wou egter nie die gelofte op iemand afdwing nie. Cilliers het in gebed voorgegaan en Psalm 38 laat sing. In die gebed en liedere, het die diepe ootmoed en besef van onmag geblyk. Vanaf die 9de tot die 15de Desember is die gelofte elke aand herhaal.

Op 15 Desember het die kommando ‘n sytak van die Buffelsrivier oorgesteek. Teen die westelike oewer van hierdie rivier is laer getrek toe hulle hoor dat die Zoeloes naby is. Die veldslag het op 16 Desember plaasgevind.

Nie een burger het gesneuwel nie, terwyl 3000 Zoeloes gesneuwel het.

Dit was ‘n merkwaardige oorwinning, wat op geen ander manier verklaar kan word as dat dit ’n wonderwerk was nie. Dieselfde aand het hulle ‘n diens gehou om die Here te dank vir die verhoring van hulle gebede.

Sedertdien het 16 Desember ‘n gedenkdag vir die Afrikaner geword waar aan die gelofte gedink word en die Naam van die Here geprys word.

Nou is dit die 21ste eeu. Dit is 183 jaar later. Die Afrikaner bevind hom in ‘n totaal ander situasie. Hoe moet ons nou met Geloftedag maak?

Ongelukkig het Geloftedag ‘n politieke en rassistiese kleur gekry. Dit was egter beslis nie ons voorouers se ervaring nie. Vir hulle het dit gegaan oor die aanroep van die Naam van die Here in ‘n krisis oorlogsituasie. Dit het beslis nie gegaan oor blanke oorheersing oor swart mense nie. Met blanke superioriteit het dit niks te make gehad nie. Dit het gegaan oor die Here se trou aan Sy kinders se gebede.

Geloftedag het nog steeds betekenis en waarde – mits ons onsself kan losmaak van al die verkeerde idees wat met die verloop van jare posgevat het. Ons moet ons daarvan losmaak om te dink dat die Here vir die blanke kant gekies het teenoor swart mense. Dit is gewoon nie waar nie.

Ons moet ons ook losmaak van die idee dat die Afrikaner ‘n elite verbondsvolk is met wie die Here ‘n spesiale kontrak aangegaan het. Dit is ook nie waar nie. Die Here het maar net die smeekgebed van gelowiges aangehoor. So beloof Hy immers in Sy Woord om te doen.

Geloftedag het waarde en betekenis indien ons dit herdenk vir wat dit in werklikheid was. Dan mag ons ‘n gedenkdiens hou om met dankbaarheid daaraan terug te dink dat die Here uitkoms gegee het in antwoord op gebed.

Ons moet dit nie sien as ‘n wet waaraan ons voorouers ons verbind het nie. Dit was nie hulle bedoeling om ‘n swaar juk op die nageslag te lê nie. Hulle wou net hê dat die Here geloof moes word vir Sy troue sorg. Daarom mag ons dit heel vrywillig doen. Vrywilliglik kan ons bymekaarkom om die trou van die Here te besing en om te bid en ons te beywer vir versoening tussen alle rassegroepe (veral CHRISTENE uit alle rasse) in Suid-Afrika.

16 Desember 1838 was ’n Sondag. Opstandingsdag. Die dag waarop Christus se kerk Sy oorwinning oor die dood vier.

Maar, wat ’n onbeskryflike paradoks/teenstrydigheid: Op dáárdie spesifieke Sondag was dit oorlog en bloedvergieting toe Boer en Zoeloe tot die dood toe teen mekaar veg.

Terwyl Jesus se oorwinning oor die dood gevier word, maak ménse mekaar dood.

Op Sondag 16 Des 1838 was Jesus se oorwinning & versoening gevier – ja – dit was immers Sóndag – maar helaas: by Bloedrivier was daar geen sigbare versoening tussen mens en mens nie.

Dít is die skreiende ironie wat aan 16/12/1838 kleef.

Om dit nog erger te maak sien ons hoeveel politiek (waarskynlik ten onregte) gedurende latere jare van die Slag v Bloedrivier gemaak is. So asof dit oor ’n rassekonflik gegaan het en die Here die een rás (volk) bó die ander rás gaan bevoordeel het.

So asof dit nie gegaan het oor geloof in die Here Jesus Christus teenoor ongeloof nie – want dit is waaroor dit in werklikheid gegaan het.

Dit kon net sowel die Zoeloes gewees het wat in daardie tyd die Naam van die Here Jesus Christus aangeroep het. Dit het absoluut niks met rasse, volkere en nasies te make gehad nie!
En die oorwinning wat een van die twee partye oor die ander behaal het, word deur ons vandag deur die geloof in Christus Jesus gesien as ‘n uitkoms wat die Here in antwoord op gebed gegee het. Daar was nêrens ‘n stem uit die hemel wat aangekondig het: “Wat hier gebeur het, is ‘n wonderwerk van die Here” nie. Dat dit ‘n wonder was, is ‘n geloofsinhoud wat ons (met reg) daaraan heg.

Die punt is net: dit alles vind plaas op die SONDAG en vlak voor KERSFEES – wat spreek van Christus se VREDE.

Wat ‘n vreeslike skerp kontras is dit nie!

Hierdie teenstrydigheid sny soos ’n lem – sodat ’n mens byna in ‘n stuk vertwyfeling wil verval wanneer jy daaroor nadink. ’n Mens dreig om in vertwyfeling te verval en te vra: Wáár is die krag van die bevrydende evangelie – die Blye Boodskap – dan? Die Blye Boodskap wat ALLE mense wat tot bekering en geloof in Jesus gekom het, insluit!

Hoe moet ‘n mens die God wat in Sy wese agape-liefde is, in verband bring met ‘n situasie waar Hy toelaat – en in antwoord op gebed GEE – dat duisende in ‘n bloedige slag sterf en dit dan as ‘n wonderwerk sien?

Ja ons wil graag glo dat die Here God inderdaad wonderbaarlik Sy kinders se gebed verhoor het. Maar nogtans kleef die teenstrydighede so erg aan die Slag van Bloedrivier dat ’n mens maklik in vertwyfeling kan verval….

’n Twyfel wat iemand soos byvoorbeeld Johannes die Doper goed geken het toe hy vanuit die tronk – waar hy onskuldiglik gesit het a.g.v. sy ywer vir die koninkryk v God – vir Jesus ’n vraag gevra het – die gevaarlikste vraag in die hele Bybel — IS Ú DIE EEN WAT SOU KOM, OF MOET ONS DALKIES ‘N ANDER EEN VERWAG?

Byna soos ’n mens voel wanneer jy aan Bloedrivier – met sy teenstrydighede – dink: IS Jesus dan regtig die Een wat sou kom??

Dit is soos ’n mens voel wanneer dit wat jy ervaar/beleef skree teen die VREDE van Kersfees. Waar mense mekaar – ná gebed – doodmaak in die Here se Naam op die Sondag en vlak voor Kersfees. Aan die een kant is daar die Blye Evangelieboodskap. Aan die ander kant die goed wat jy voel en sien en beleef. En dit lyk of dit mekaar weerspreek. Dis hoe Johannes die Doper gevoel het. Hy sit onskuldiglik in die tronk en Jesus verroer nie ‘n vinger om hom te help nie! En toe kom loer die groot twyfel om die hoek!

Dis darem verbasend dat juis iemand soos Johannes die Doper in só ’n vertwyfeling kon val. Hý wat met sy skerp oë dwarsdeur alle skyn kon kyk. Hý wat met soveel oortuiging met die vinger vir Jesus kon aanwys as die Lam v God. Hý wat so ’n onverskrokke verkondiger van die koninkryk was! Hý wat nie gehuiwer het om koning Herodes se sondes uit te wys nie – soveel so dat dit hom sy eie lewe sou kos.

Hierdie kaliber man raak verstrengel in ’n vraag wat sy hele lewe onder ’n vraagteken plaas. Want sy ganse bestaan het om die Messias gedraai. Vergis hy hom t.o.v. Jesus, is sy hele lewe ’n vergissing!! Net soos elke gelowige se ganse lewe in ’n krisis kom met hierdie vraag. Gestel Jesus is NIE die Lewe nie, ís daar dan nog iets om voor te lewe? Gestel Jesus is NIE die weg nie, waarheen gaan ons dan? Gestel Jesus is NIE die waarheid nie, dan is die lewe ’n feeverhaaltjie wat deur ’n idioot ontwerp is – soos Shakespear vir Macbeth laat sê.

Dan stuur die Here Jesus vir Johannes die Doper ‘n antwoord.

Maar, o weë: Dit is ’n baie vreemde antwoord. Jesus laat weet vir Johannes dit wat hy alreeds weet. Hy laat weet vir Johannes dat hy moet let op al die dinge wat Hy {Jesus} doen.

Maar, volgens Mat 11:1 was dit juis die dinge wat Jesus gedoen het, wat Johannes laat twyfel het. Want Johannes het ’n meer gespierde Messias verwag – ’n forse bevryder wat die kaf kan verbrand en met die byl kan kap en die gespuis kan opruim.

Maar wat doen Jesus? Hy genees mense en Hy verkondig aan armes die blye boodskap. Dis ’n vreemde vrede wat Jesus bring. Hierdie vrede is nie maar net ’n pouse-tydjie in die oorlog nie. Dit is die radikaal teenoorgestelde van oorlog – naamlik liefde vir jou ergste, ergste vyand.

Dit was die oorsaak van Johannes se twyfel: Die oënskynlike teenstrydigheid/weerspreking wat hy by Jesus opmerk. Pleks van ’n gespierde Verlosser wees, praat Jesus van vyande liefhê! Wat ’n teenstrydigheid!!

Verstaan u waarom ’n mens so maklik aanstoot neem aan hierdie Jesus? Daarom is hierdie Vredevors nie gekroon met die Nobelprys vir vrede nie, maar met ’n doringkroon! ’n Magtelose gekruisigde verlosser! Dít is nou iets teenstrydig waaraan ’n mens sommer behoorlik aanstoot kan/sal neem.

Soveel so dat Jesus op Golgota ’n nóg baie meer vreemde en gevaarlike vraag as Johannes gevra het toe Hy uitroep: My God, My God, waarom het U my verlaat? Op daardie oomblik klink dit asof Jesus Homself nie herken as die Een wat sou kom nie. Dis asof Hy vra: “Is EK die Een wat sou kom?” Maar op die Sondagoggend by die oop graf antwoord Sy Vader: JA! U is die Een wat sou kom! JA!! JA!!

En 50 dae later – Pinkster – is die Gees van die gekruisigde Vredevors van anderkant die dood uitgegiet op hierdie wêreld. En waar die Gees beslag lê op mense, word iets van Sy vreemde vrede sigbaar MIDDE-IN hierdie vreeslike wêreld. Sy gelowige kinders – die mense wat bekeer het en glo dat Jesus se dood en opstanding hulle 2000 jr gelede gered het van die dood – húlle word die vredemakers! Hulle is die sout vir die aarde en die lig vir die wêreld. Sónder hulle, word die aardse lewe ’n stuk hel, want hulle sorg daarvoor dat iets van die hemel nou reeds op aarde sigbaar word. Hulle is die mense wat veg teen vyandskap en wat oorlog verklaar teen oorlog en wat alle haat háát.

En op hierdie manier, rig die gelowiges TEKENS op in die wêreld – in die krag van die Heilige Gees. Tekens van HOOP. TEKENS van die koninkryk van God wat NABY gekom het. TEKENS van God se vrede wat gekom het. TEKENS dat God se nuwe aarde in aantog is.

En dit is na hierdie tekens wat Jesus vir Johannes die Doper verwys in sy twyfel. Juis die tekens wat daartoe gelei het dat Johannes begin twyfel het, was die tekens wat hom hoop moes gee. Sy oë moes net daarvoor oopgaan.

Ook 16 Desember kan só ’n teken wees. 16 Desember/Bloedrivier, wat vir ons soms so teenstrydig lyk.

Pleks van ’n teenstrydigheid, pleks van iets waaroor mense politiek maak, kan 16 Desember ’n wonderlike teken van hoop wees.

16 Desember kan ’n teken van hoop wees wanneer die ware Christengelowiges vanuit die nageslagte van Afrikaner en Zoeloe (en WIE ookal) nóú – 183 jaar ná Bloedrivier – daarvan blyke kan gee dat die bloed van Bloedrivier nie meer ’n muur van skeiding tussen hulle maak nie, omdat die bloed van Golgota reeds VREDE tussen hulle gemaak het – vrede met God en met mekaar. Want die bloed van Christus het vrede gebring tussen die Christen-Afrikaner en die Christen-Zoeloe!

DAN is 16 Desember nie ’n teken van teenstrydighede nie, maar is 16 Desember soos ’n Sondag – ’n teken van die oorwinning van die opstanding uit die dood – wat Jesus behaal het en wat mense hartstogtelik GLO – Afrikaners én Zoeloes.

© 2020 Tafelberg Gemeente (Dolerend)