Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

GELOFTEDIENS 16/12/2020
PSALM 46

Lees die Gelofte terwyl gemeente staan:

“Hier staan ons voor die heilige God van hemel en aarde om ‘n gelofte aan Hom te doen dat as Hy ons sal beskerm en ons vyand in ons hand sal gee, ons die dag en datum elke jaar as ‘n dankdag soos ‘n sabbat sal deurbring, en dat ons ‘n huis tot sy eer sal oprig waar dit Hom behaag, en dat ons ook aan ons kinders sal sê dat hulle met ons daarin moet deel tot nagedagtenis ook vir die opkomende geslagte want die eer van Sy naam sal verheerlik word deur die roem en die eer van oorwinning aan hom te gee.”

…………………………………….
Die stryd by Bloedrivier van 16/12/1838 was ten diepste nie ‘n stryd tussen wit en swart nie. Nie ‘n stryd tussen verskillende bevolkingsgroepe nie. Nie ‘n stryd tussen blanke Afrikaners en swart Zoeloes nie. Dit het nie met politieke mag te doen gehad nie. Dit was op die ou end ‘n stryd tussen geloof en ongeloof. In die sin van: Aan die een kant: vertroue op God se beloftes in Christus Jesus soos in die Skrif geopenbaar. En aan die ander kant: ‘n Gebrek aan sulke evangeliese vertroue.

Indien dit die meerderheid Zoeloes was wat die lewende Vader van ons Here Jesus Christus aangeroep het, en die Boere was die heidene, het die Here dalk aan hulle die antwoord gegee en nie aan die Afrikaners nie! Dan het die Zoeloes Geloftedag gevier – om dit so te stel.

God het nie willekeuriglik kant gekies VIR wit en TEEN swart of VIR Afrikaans TEEN Zoeloe nie. Op geen manier nie. Die Here God het maar net Sy kinders se hulpgeroep gehoor soos wat Hy in die Skrif beloof om te doen.

Dit was ook nie die Boere wat so oulik of so geestelik of so vroom was dat hulle menslik in staat was om te kon glo nie. Geloof is ‘n gawe van God se genade sê Efes 2:8 baie duidelik. Geloof is ‘n werk van die Heilige Gees in die lewens van wie Hy wil en wanneer Hy wil en waar Hy wil. En Hy is veral werksaam in die bedding van Sy verbond met gelowiges en hulle kinders.

Om hierdie redes is dit baie onbillik en ongeldig om moedswilliglik in daardie situasie van destyds allerlei politieke motiewe in te lees. Dit is eintlik feitlik onmoontlik om dit net so na vandag toe oor te vertaal.

Op Geloftedag roep ons dus met dankbaarheid in herinnering dat die lewende God, die Vader van ons Here Jesus Christus, op 16 Desember 1838 die gebed van die Voortrekkers by Bloedrivier in ’n krisis-uur gehoor en hulle op ’n wonderlike wyse – wat nie menslik verklaar kan word nie – bewaar het van gewisse uitwissing. Die geskiedenis van ons land is daardeur op ’n beslissende manier gestempel. Vir die Afrikanervolk en alle ander gelowiges is dit daarom ’n gebeurtenis wat werd is om onthou en jaarliks weer in herinnering geroep te word.

Dit lê voor die hand om op Geloftedag te vra watter boodskap dié gebeurtenis vandag vir ons het. Die antwoord daarop moet in die lig van die Bybel gesoek word en nie in die geskiedenis nie. Nie die historiese gebeurtenisse moet vandag praat nie, maar die Skrif. Dis die EVANGELIEBOODSKAP wat gehoor moet word. ‘n Geloftediens moet daarom ‘n EVANGELIEdiens wees. ‘n Woorddiens.

En dan is dit duidelik dat wat by Bloedrivier gebeur het, maar net nog ’n bevestiging is van wat die Bybel ons in elk geval – met Bloedrivier en sonder Bloedrivier – duidelik leer: naamlik dat die lewende God die hoorder van die gebed is en ’n toevlug is in nood, vir wie ook al Sy glorieryke aangesig soek. Vir Zoeloes – wat kinders van die Here in Christus is – is Hy dit ook. En ook vir Japanese en Koreane. En Afrikaners.

Omdat dit die boodskap van Geloftedag is, spreek dit ook vandag tot ons op ’n duidelike manier.

Niemand van ons sal daaraan kan twyfel dat ons vandag ook weer in vele opsigte in ’n situasie van nood en bedreiging is nie. Juis daarom is die boodskap dat God in ons eie geskiedenis Homself as die hoorder van die gebed laat ken het, vir ons tot ’n groot bemoediging en ook ‘n aansporing om die Here se aangesig te soek binne ons huidige konteks en huidige vraagstukke.

Uit die aard van die saak verskil die situasie van vandag in baie opsigte van dié by Bloedrivier. Die situasie van destyds was wel baie ernstig, maar tog ook baie eenvoudiger as dié van vandag. Dit was ook meer oorsigtelik. Dit het om ’n militêre botsing tussen twee groepe gegaan waarvan die uitslag ingrypende gevolge sou hê, maar waarby die hele toekoms van die land tog nie as sodanig in die spel was nie.

Vandag is die situasie intensief en ekstensief veel ingewikkelder en omvattender, en in dié sin ook baie ernstiger as destyds. Nee, dit gaan gelukkig tans nog nie om ’n direkte militêre botsing soos destyds nie, maar dit gaan tog oral in Suid-Afrika om situasies van konflik wat veelkantig en potensieel veel gewelddadiger is as dié van destyds.

Ons is in ‘n situasie van soveel spanning tussen mensegroepe en sinnelose geweldpleging – dink maar net aan die plaasmoorde en geweld teen vroue en kinders. Ons leef in ‘n land waar daar groot gewag gemaak word oor die getal mense wat van Covid19 sterf – en tereg ook. Maar niemand rep ‘n woord oor die miljoene ongeborenes wat jaarliks wettiglik vermoor word nie. Werklike rêrige ongebore mense, wat nie vir hulleself kan praat nie. Maar min is bereid om vir HULLE reg tot lewe op te staan. Humanisme en Koning Mens wat oënskynlik in sy opstand teen God triomfeer, is aan die orde van die dag.

Ons sidder ook om te verneem dat daar deesdae meer as een predikant is wat skaamteloos na vore kom en verklaar dat hulle nou ateïste is – dat hulle uiteindelik bevry is van God. Een van hulle is nou ‘n priester by die nuutgestigte Satanistekerk. Hulle skande is hulle roem en trots. En duisende ander word mislei met leuens en dwaling en die afgrond ingetrek. Dis wat vandag in die land en kerk aangaan.

U begryp: Die huidige toestande is veel meer omvattend as wat destyds die geval was. Baie van die konflik is geestelike oorlogvoering. Dit is onsigbaar. En dit is ook ideologies van aard. Jy kan dit nie met die hand tas nie.

Die ingewikkeldheid van ons probleme, die groot ideologiese teenstellings wat bestaan, die verskil van belange, die opgeboude wantroue, bitterheid en haat, die vrees en onsekerheid maak dit menslik byna onmoontlik om ’n uitweg te vind.

Die geestelike krisis waarin die kerk in Suid-Afrika verkeer is ook veel dieper en groter as wat ons soms besef en verstaan. Tafelberg Gemeente is nie sonder rede ‘n sogenaamde “dolerende” gemeente nie. En daarby feitlik die enigste in die groter Kaapstad. Die tempo waarteen meer en meer gemeentes doleer sê tog dat daar iewers iets groot fout is. Daar is eenvoudig ‘n enorme aanslag teen die Waarheid van die Woord vanuit die geledere van die kerk self. Dis wat dit so gevaarlik maak, want die aanslag kom met die Bybel in die hand en Jesus se Naam op die lippe.

Wie dit alles besef, sal weet dat meer as menslike wysheid en tegniek nodig sal wees as ons ’n uitweg uit hierdie kritieke situasie moet vind. Ons het die hulp van die Here God nodig.

Maar ons mag dan ook met vrymoedigheid na Hom gaan. Die Bybel betuig duisendvoudig dat God ’n toevlug in die nood is. So sê Psalm 46:2 : “God is vir ons ’n toevlug en ’n beskerming; Hy was nog altyd bereid om te help in nood.”

Psalm 46 is ‘n geweldige aktuele Woord van God vir ons vandag. Dit praat van internasionale rampspoed wat die hele planeet raak en hoe die Godstad bedreig word, maar dan kom God se stem en Sy stem alleen en dit doof die dreiging weg.

Die Psalm begin met die stem van die MENS en dit eindig met die stem van die Here GOD. Hy is Sy mense se skuiling teen wat hulle in gevaar bedreig en Hy is hulle krag wat hulle in swakheid versterk.

Die Psalm wys vir ons hoe die onstabiliteit van sigbare omstandighede gestabiliseer word deur die onsigbare geestelike waar die Here heers en Hy aangeroep word. Die blote oog sien onrus en dreiging en storms MAAR die oog wat deur die Here geleer is en deur die Here onderrig is, sien dat alles georden is in die hand van die Here. Net die blote klank van die Here se stem besit genoeg krag en mag en gesag om die onstabiliteit en chaos in toom te kry.

Psalm 46 leer dat die Here BY Sy mense is. Immanuel. Psalms 46, 47, 48 praat eintlik agtereenvolgens van Kersfees, Hemelvaart en Wederkoms.

Psalm 46 = God is BY ons in Sy Godheid en die krag van die Here van die Leërskare wat in Homself algenoegsaam is. Maar Hy is ook BY Sy mense in tederheid en geduld en omgee. Hy is die God van Jakob – die patriarg wat die genade die minste werd was. Abraham en Isak was nog op ‘n manier oulike mense, maar ai, Jakob was die ene skete. Maar die God wat GOD MET ONS is, is juis JAKOB se God.

En Hy hoor die hulpgeroep van Sy mense.

Die res van die Skrif vertel vir ons dieselfde waarheid as wat Psalm 46 leer.

Psalm 107 is in sy geheel daaraan gewy om te vertel hoe God in telkens wisselende situasies die hulpgeroep van sy volk gehoor en hulle uitgered het. En in Jesaja 65:24 staan die wonderlike woorde: “Voor hulle nog roep, sal Ek antwoord, terwyl hulle nog praat, sal Ek hulle gebed verhoor”.

Natuurlik moet ons sulke beloftes nie in dié sin verstaan, dat God ons gebede altyd verhoor op die wyse wat ons graag sou wil hê nie. Ons moet ook nie verwag dat God op ’n wyse wat buite ons eie inspanning en gehoorsaamheid omgaan, ons situasie sal verander nie. Maar ons mag wel daarop reken dat God Hom nie tevergeefs laat aanroep deur diegene wat hulle op sy genade werp nie.

Soms mag dit lyk en voel asof God nie ons gebede hoor nie. Die Bybel ken ook die klagte van vromes wat sê dat God ver weg bly staan. Ernstige gebedsworsteling is dikwels nodig om tot helderheid oor Gods weg met ons te kom.

’n Beroemde voorbeeld hiervan is Psalm 22 waarin die digter sê dat hy bedags en snags tot God roep, maar dat God ver weg bly en hom nie help nie. Jesus het later hierdie psalm aan die kruis op sy lippe geneem, want ook Hy het ervaar dat die hemele geslote bly, asof God nie ingryp in die nood nie. En tog weet ons: Die Vader HET Hom verhoor en deur Sy kruisdood ‘n enorme verlossing bewerk.

Die Here is dus nie doof vir die gebede van sy kinders nie. Die Bybel leer ons dat ons so moet glo in die liefde, goedheid en geregtigheid van God, dat ons by voorbaat daarvan kan uitgaan dat Hy sy erenaam as helper in die nood gestand sal doen, selfs al is die weg wat Hy gaan, nie altyd vir ons maklik deursigtig nie.

Solank as wat die evangelie van die kruis en die opstanding in die Bybel staan wat vir ons leer dat die kruis van Jesus opgevolg is deur die heerlikheid van die opstanding, moet ons bly glo dat God in die geskiedenis verlossend besig is en ons gebede sal hoor, al gebeur dit op ’n wyse wat ons aanvanklik nie verstaan nie, maar later blyk die hoogste wysheid te wees.

Dit gee aan ons ’n groot innerlike rus en vrede. As ons bid om Gods hulp in hierdie kritieke uur, mag ons dit doen in die geloof dat Hy wat alles weet, ook beter as ons weet hoe die koms van sy koninkryk in hierdie land en die welsyn van alle mense die beste bevorder kan word.

Tafelberg Gemeente (Dolerend)
Buitenkantstraat 39, Kaapstad
www.tafelbergkerk.co.za
Dr Chris Saayman

Hierdie preek is ‘n verwerking van ‘n artikel deur WD Jonker

© 2020 Tafelberg Gemeente (Dolerend)