Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

TAFELBERG GEMEENTE (DOLEREND)
GELOFTEDIENS: Skrifgedeelte: Rigters 6: 1-24, 7:21, Heidelbergse Kategismus Sondag 1 Vraag 2
Tema: Die Here se verlossing geopenbaar

Twee vooraf opmerkings:

1 Die stryd by Bloedrivier van 16/12/1838 was nie ‘n stryd tussen wit en swart nie. En nie ‘n stryd tussen blanke Afrikaners en swart Zoeloes nie. Dit het hoegenaamd niks met politieke mag te doen gehad nie. Dit was ‘n stryd tussen geloof en ongeloof.

Indien dit die meerderheid Zoeloes was wat die lewende Vader van ons Here Jesus Christus aangeroep het, en die Boere was die heidene, het die Here dalk aan hulle die antwoord gegee en nie aan die Afrikaners nie! Dan het die Zoeloes Geloftedag gevier.

God het nie willekeuriglik kant gekies nie. Hy het maar net gewoon Sy kinders se hulpgeroep gehoor.

Dit was ook nie die Boere wat so oulik was dat hulle kon glo nie. Gawe van God.

Daarom is dit baie onbillik en ongeldig om in daardie situasie allerlei politieke motiewe in te lees.

2 Ons Skrifgedeelte (Rigters 6) was die gedeelte wat die Voortrekkers onder leiding van Sarel Cilliers op die vooraand van Bloedrivier gelees het. Hulle het in Israel se geskiedenis iets herken van hulle eie situasie.

‘n Mens kan egter nie sonder meer die volk Israel en die destydse Boerevolk gelykstel of vergelyk nie. Die geskiedenis van Israel kan nie direk deurgetrek word na enige ander volk se geskiedenis nie.

Die rede?

Israel se geskiedenis was unieke onherhaalbare HEILSgeskiedenis. M.a.w. deur Israel se geskiedenis het God Sy eenmalige verlossingsplan uitgewerk. Israel was die skoot waaruit ons Here Jesus gebore sou word. Hulle geskiedenis was daarom geen gewone geskiedenis nie. Dit was VERLOSSINGSgeskiedenis.

Maar nou: IN die heilsgeskiedenis van Israel sien ons wel sekere geestelike beginsels waarvolgens die Here deur die eeue met Sy kinders werk. En, DIT kan wel deurgetrek word na óns vandag. Nie net na Bloedrivier nie. Ook na ONS lewens in 2019. Ook na Sy kerk VANDAG. In hierdie opsig het ons voorouers Rigters 6 op hulself toegepas.

Ek wil vanoggend vir u drie geloofsbeginsels uit Rigters 6 haal en aantoon hoedat dit van toepassing was op a) Israel, b) Bloedrivier, c) die Here se kerk vandag in Kaapstad

Tema: Die Here se verlossing geopenbaar
1.Die benarde toestand voor God
2.Die eerlike belydenis voor God
3.God se verlossende liefdesmag geopenbaar

1 Die benarde toestand voor God (verse 1-6)
Die oer-volk vd Here – Israel – was verdruk deur die Midianiete. Hulle moes die berge in vlug vir beskutting. Wat Israel gesaai het, het die Mideaniete gemaai. Hulle vee is gesteel en hulle lande is verwoes.

En hou in gedagte: Israel was die kerk/gemeente vd Here in die OT. Hierdie aanslae vd Mideaniete was dus aanslae teen die Here se kerk. Aanslae teen die Here self. Aanslae teen die geopenbaarde waarheid. Dit is nie maar net ‘n stukkie geskiedenis wat vertel van een volkie wat ‘n ander volkie gepla het nie. Dit gaan hier oor geestelike oorlogvoering. Hier gaan dit om die Here se gemeente/ Waarheid vd Evangelie wat aangeveg word. Die Koningskap vd lewende God wat getart word. Dis die onmiddelike konteks van Rigters 6.

Die destydse Voortrekkers het hulself ook in so ‘n posisie voor die Here gesien. Hulle het hulleself ook gesien as deel vd Here se kerk, wie se voortbestaan bedreig word. Dit het nie maar net gegaan oor ‘n bepaalde rasse- en kultuurgroep wat gebots het met ‘n ander rassegroep nie. Vir die Voortrekkers was die oorlog ‘n geloofsaak. ‘n Posisie van absolute benoudheid. Ook geestelike benoudheid.

Dit is vir ons moeilik om onsself in hulle situasie in te dink. Hierdie Boere wat, as kerk vd lewende Here: alles verloor het, in ‘n onbekende wêreld was, gevare moes trotseer, siektes moes bekamp, vele grafte moes agterlaat, beroof is en daarby ervaar het hoe Piet Retief koelbloedig vermoor is. Dit was donker ure.

Wat is dus die eerste geloofsbeginsel waarvolgens die Here met Sy kerk werk?

Ons as kerk bely dit so duidelik in die Heidelbergse Kategismus Sondag 1 vraag 2. Hy bring naamlik Sy gemeente by ‘n besef van haar diepe ellende. Jy besef hoe groot jou sonde en ellende is. Dis waar alles vir jou begin. Die Here bring jou by ‘n punt van benoudheid. Dit is waar léwe begin. Hy bring jou op ‘n plek tussen lewe en dood. Hy bring jou by ‘n plek waar net God kan red. Hy bring jou by ‘n besef van jou diepe behoefte. Dáár begin ‘n mens se ervaring van redding. Johannes 16:8 > Die Gees oortuig van sonde, geregtigheid en oordeel.

Dit is nie iets wat net eenmalig gebeur wanneer jy vir die eerste keer ‘n Christen word nie. Dit is deel van die Christelike lewe as sulks. Calvyn het gesê die hele Christelike lewe is bekering. Om gedurig weer deur die Here oortuig te word van sonde, ellende.

Ook daar waar Sy kerk – dikwels selfs vanuit die boesem van die kerk self – aangeveg word en waar daar wegbeweeg word vd Waarheid en kernaspekte van die Evangelie aangeveg word. Ook dit behoort benoudheid by lidmate, kerkraadslede, leraars te bring.

Tog lyk dit asof verreweg die meeste baie vas slaap en dink alles gaan goed.

Die driedeling van die Kategismus (sonde, verlossing en dankbaarheid) is nie drie “stappe” wat een vir een gevolg moet word om gered te word nie. Dit is geen metode nie. Dit is die manier hoe die Here met Sy kinders/kerk werk op ‘n voortgaande wyse. En Hy begin altyd weer by behoeftebesef, sondebesef, oortuiging, verootmoediging, dankbaarheid.

2 Die eerlike belydenis voor God (vers 7)
Israel erken sy nood. Isarel speel oop kaarte met die Here. En breek in 1000 stukkies.

Nog meer: Israel VLUG daadwerklik met sy nood na die Here. Daar staan: “Die kinders van Israel het die Here aangeroep..”

Die Voortrekkers het ook op hierdie plek gekom. Daarvan is juis die Gelofte ‘n getuie. Hierdie boere was maar 470 man teen letterlik 10 000e Zoeloes. Daarom het hulle net een ding geweet: Die uitkoms is NET van die Here – ook sodat Sy gemeente kan voortgaan om getrou aan die Waarheid voort te bestaan in Suid-Afrika. Daarom het hulle gebreek en vermurwe voor God. En, dit is hoe die Heilige Gees werk. Dit is ‘n tweede geloofsbeginsel.

Die Gees wys nie net op behoefte nie. Hy werk ‘n diepe erkentlikheid. ‘n Stuk ootmoed. Hy lei jou met jou nood na Jesus Christus, telkens weer. Hy lei jou na die kruis. Dit is ‘n wonderlike plek om te mag kom.

Vir Israel, die Voortrekkers, alle volke in 2019, die Afrikaner in 2019, die kerk in 2019, die NG Kerk in 2019, die kind vd Here wat sukkel, die ongelowige verlore mens in sy skuld voor die Here, die kerk van ons dag. Ootmoed en erkentlikheid. Die begin van herlewing. Die vlug na Jesus, vlug na die kruis – dit is waar die fontein van lewe oopgaan.

3 God se verlossende liefdesmag geopenbaar
Toe Israel uit hulle bankrotskap roep, toe buig die Here in genade oor hulle neer. Eintlik moet ons sê: Dit was omdat die Here in Sy genade oor hulle neergebuig het, wat hulle uit hulle bankrotskap geroep het. Toe hulle erken: “Here, NET U”, toe is die hemelse antwoord alreeds daar.

En – let nou hierop – Hy verlos op ‘n manier wat ALLE menslike prestasies totaal uitskakel. Hy kies vir Gideon. Die mees onwaarskynlikste held. Uit die swakste geslag van Manasse. En boonop stroop die Here Gideon se weermag sodat slegs 300 man oorbly. As daar enigsins oorwinning sou wees, sou dit ‘n menslik onmoontlike oorwinning wees…

En dan Rigters 7:21: “En hulle het bly staan…”

Gideon oorrompel die Mideaniete deur absoluut NIKS te doen nie. Slegs God werk. Slegs Hy mag verheerlik word. Alles is slegs uit genade.

Die Voortrekkers se God was ook hierdie genadige God! Die God van onverklaarbare vrye genade. Hulle het weggekyk van hulleself. Weggekyk van hulle omstandighede. Hulle het net na die Here Jesus gekyk. Hulle het besef dat hulle eie verdienstes, probeerslae, mooi lewens, selfs gebedskrag NIKS werd is nie. Dit is net Jesus en Sy verdienste. Dit is Sy kruisdood wat red. Alleen Sy kruisdood. ALLEEN Sy verlossende mag & krag.

Daarom bely ons in Sondag 1 HK dat daar vir ons slegs ‘n lewe van dankbaarheid oorbly. Selfs ons geloof en bekering is dankbaarheidsdade. Dit is nie verdienste-dade nie.

As daar ooit mense was wat DIT verstaan het, was dit die Voortrekkers by Bloedrivier. Hoe op aarde kon ‘n handjievol boere ‘n geveg wen teen 10000 teenstanders, as die Here nie self/alleen die uitkoms gee nie? Dit kon slegs ‘n uitkoms vd Here wees. Geen ander antwoord. Dit is ook die enigste manier waarop ‘n suiwer gereformeerde kerk in SA behoue sal bly. Dit sal ook slegs ‘n wonder vd Here wees.

Maar, Geloftedag spreek nog van iets meer : Luister mooi :

Verlossing is nooit ‘n doel op sigself nie. God het nie vir Israel verlos sodat hulle verlos kon wees nie. Israel is verlos met een magtige doel. Om ‘n draer van die koninkryk te kon wees. Om die Messias aan die nasies te kon gaan gee.

Ons sien dit ook by Bloedrivier.

Bloedrivier slaan eintlik die brug tussen Christen en nie-Christen in Suid-Afrika. Bloedrivier stel die uitdaging aan elke bruin gelowige, swart gelowige, Indiërgelowige, bekeerde Jode, bekeerde Moslems, Engelssprekende Christus-gelowige, Afrikanergelowige om die Evangelie uit te dra na die ongelowiges van watter nasie ookal. Dit is: Mense wat nog selde die evangelie kon hoor. Nie net die Zoeloes nie. Maar tot in die uithoeke vd aarde.

Ons kerk kan nie die evangelie van genade gesmaak het en nie besig wees met dringende evangelisasie nie. Dis ‘n weerspreking van terme. Dis ‘n kontradiksie om die verlossing in Christus te kon proe, maar nie met die Boodskap te GAAN na die ander mense nie.

Ons kan ook nie die verlossing ken en in vyandskap leef met ander volkere nie. Ons kan nie Geloftedag vier en nie omgee vir ons bruin en swart, blanke & Joodse, Moslem naaste nie. Die Gelofte van 1838 moet die brug slaan.

Want, dieselfde Here wat die gelowige Afrikaners se smeekroep gehoor het op 16 Desember 1838, hoor ook die smeekroep van gelowige Zoeloes, gelowige swart mense, bruinmense, Indiërs wat in gebed tot Hom gaan en in die Naam van ons Here Jesus Christus.

Gebed: Here, ons besef vanoggend opnuut dat daar deur die jare dikwels so verkeerd gedink is oor Geloftedag. Intussen word die wonders misgekyk wat U gedoen het. Hoe U ywer, nie vir sekere rasse of kulture nie, maar vir U ware kerk wat met U wil lewe. Here ook vandag is daar soveel ongeloof teen die kerk en selfs ook van binne die kerk gemonster. Nie teen die Afrikaner nie, maar teen die waarheid van die Woord. Ons kan amper sê dat ons ‘n nuwe Bloedrivier bereik het. U kerk, wat aan die waarheid getrou wil bly, word aangeveg deur die ongeloof, vrysinnigheid, afvallige liberalisme. Dit voel so asof so min mense dit besef. Asof ons so gerus is. Asof min nog wil stry vir die waarheid. Here wil U nie aan U kerk ‘n oorwinning gee nie. Nie ‘n oorwinning van oorlog en bloedvergieting nie. Maar ‘n oorwinning vir die kerk in SA wat waarlik troue kerk wil wees & bly. Ons bid vir die reformasie van die kerk, die NG Kerk in besonder. Die NG Kerk wat ook deurloop onder die Mideaniete. Wil U nie weer ‘n Bloedrivierwonder kom doen en ‘n getroue oorblyfsel gee wat wil getrou leef aan U geopenbaarde waarheid nie. Wil U nie gee dat ons ons sendingwerk en evangelisasie ernstiger sal opneem nie. Pleks van om in vyandskap te leef, om eerder die gelofte as ‘n brug te sien. ‘n Brug waaroor heen ons die Evangelie aan alle nasies kan gaan vertel. Wil U genadiglik gee dat vanjaar se Gelofteviering hiertoe mag bydra, ook hier in ons eie plaaslike gemeente en stad. Tot die eer en roem van U eie Naam. Amen.

Tafelberg Gemeente (Dolerend)
Buitenkantstraat 39, Kaapstad
www.tafelbergkerk.co.za
Dr Chris Saayman

© 2018 Designed with ❤ by Web Crew