Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

Tafelberg Gemeente

Galasiërs-Reeks no 7

Tema: Testament in ons guns

Skrif: Galasiërs 3: 15-20

In die antieke tyd van die Ou Testament, wanneer twee mense met mekaar ‘n kontrak/verbond gesluit het, was daar ‘n sekere welbekende ritueel wat hulle per geleentheid uitgevoer het.


Voorbeeld: Twee ouens word boesemvriende. Hulle sluit met mekaar ‘n verbond van vriendskap. Dan neem hulle ‘n dier en sny dit in die lengte middeldeur. Dan sit hulle die 2 stukke vleis op die grond langsmekaar neer sodat dit ‘n paadjie maak. Dan stap beide partye tussen die vleis deur. Daarmee sê hulle vir mekaar: “As ek my deel van ons verbond verbreek, gee ek jou die reg om met my te maak soos ons met die vleis gedoen het.” (Vergl Jer 34:18).

In Genesis 15 lees ons ‘n aangrypende ding. Die Here sluit ‘n testament/kontrak/verbond met Abraham en sy nageslag. Hy belowe aan Abraham ‘n klompie dinge. Hy sê die verlossing aan Abraham toe – sommer net so. Abraham kan natuurlik nie sy ore glo nie en daarom vra hy vir die Here hoe hy sekerheid kan kry dat dit alles regtig wáár is.

En dan beveel die Here vir Abraham om ‘n vers, ‘n bokooi, ‘n ram, ‘n tortelduif en ‘n jong duif in die lengte middeldeur te sny en op die grond te sit. ‘n Paadjie tussen die vleis deur. Iets wat Abraham goed geken het. Hy het presies geweet waaroor dit gaan. Volgende wat moet gebeur is: God én Abraham moet nou tussen die vleis deurloop.

Maar, toe gebeur daar ‘n wonder: Die Here loop alleen deur – in die gestalte van ‘n brandende oond. En Hy maak vir Abraham aan die slaap sodat hy nie kán deurgaan nie. Slegs die Here loop deur. Dis ‘n verbond tussen TWEE partye wat gesluit word, maar SLEGS EEN van die twee partye loop tussen die vleis deur! Die Here neem Abraham se kant van die verbond op Homself.

Daardeur sê Hy vir Abraham: “As ek My deel van die kontrak nie nakom nie, kan jy met My maak soos ons met hierdie vleis gedoen het EN as jy jou deel nie nakom nie, kan jy ook met maak soos met die vleis”.

Die Here neem die verbond 100% op Homself. Hy staan in ook vir Abraham se deel. Hy verklaar Homself bereid om self onder die mens se hand te sterf indien die mens misluk.

Dis presies wat uiteindelik op Golgota gebeur het. Daar sny die mens vir God middeldeur (soos die vleis) omdat die méns sy deel van die verbond verbreek het! God neem die menslike ras se kontrakbreuk (en die gevolge daarvan) op Homself – sodat die mens skotvry kan uitstap! Hoe skreiend is die Evangelieboodskap nie! Skreiende genade.

Natuurlik sny ons nie meer vandag diere middeldeur nie. Maar ons doen vandag iets anders wat presies dieselfde werk. Ons stel testamente op waarby ons erfgename – meesal sonder hulle medewete – ingesluit is.

Hoe werk ‘n testament? Die testamentmaker is bereid om self aan die kortste end te trek ter wille van die erfgenaam wat hoegenaamd nie op enigiets aanspraak kan maak nie. Wat die erfgenaam erf, is ‘n vrye onverdiende geskenk. Dis ‘n gratis gawe.

Die testamentmaker is bereid om afstand te doen van sy eie lewe sodat die erfgenaam kan erf. Die testamentmaker is bereid om alles wat Hy besit aan die erfgenaam oor te dra. Hoe? Hoe doen die testateur dit? Deur ‘n suiwere BELOFTE/toesegging wat op skrif gestel is en wat met ‘n handtekening verseël/bevestig word.

n Testament is niks anders nie as ‘n BELOFTE wat verseël is. Dit móét waargemaak word. Dit sál waargemaak word. Die handtekening bevestig sit.

Net soos by die gesnyde diere, waar die Here alleen deurgeloop het. Waar die Here ook namens Abraham deurgeloop het. Net so is dit slegs die testamentmaker wat die testament onderteken.

Gaan kyk ‘n bietjie op die testamentkontrak daar in u huis: Gaan kyk wie se handtekeninge verskyn daar. Gaan kyk of die erfgename se handtekeninge ook daar verskyn. Hulle is glad nie daar nie. Trouens: In die meeste gevalle was die erfgename nog te klein, hulle kon nog nie teken nie. Hulle was pas gebore toe u hulle ingesluit het. Maar, hulle mag ook glad nie teken nie, want ‘n testament werk net van een kant af. Dis ‘n belofte van genade (genade = eensydig/kom net van een kant af). By ‘n testament kom die erfenis na jou kant toe sonder dat jy (as erfgenaam) éérs ‘n inset van jou kant af hoef te lewer.

Presies so werk die lewende God met ons – vandag nog. Ons Skrifgedeelte is 1000% duidelik daaroor. Die Here het Sy genade aan Abraham toegesê deur middel van ‘n beloftewoord. En, wat het Abraham gedoen? Hy het dit geglo. Hy het sy hart daarop neergesit. Paulus noem dit: Die Here se verbond. Of: Testament. Dit werk presies soos ‘n testament. Verbond/testament is wisselterme (Hebreërs).

Die testateur is die Drie-enige God. Die mens is die erfgenaam. Erfgenaam van wat? Die lewe van God self. Hyself is die erfenis. Hoe betrek Hy die mens hierby? Hy skenk dit d.m.v. ‘n beloftewoord wat op Skrif gestel is. Hy waarborg dit met Sy handtekening – die doop en nagmaal. Hy lê Sy lewe af – want sonder die dood van die testateur bereik geen testament sy doel nie. Hy staan op uit die dood want Hy is self die erfenis. Die Heilige Gees oorrompel die erfgename met die blye boodskap van die testament. En daarom sit hulle hulle harte daarop neer en smaak hulle hulle erfporsie.

Maar, waar pas die wet dan nou in? As ‘n mens met God reggestel word slegs deur insluiting by Sy testament en nie deur die wet te onderhou nie, waarom het die Here dan enigsins die Wet gegee? Wat was die doel daarvan? 430 jaar ná God die testament met Abraham gemaak het, tóé eers is die wet op Sinaiberg – deur bemiddeling van Moses – gegee. Om watter rede?

Een groot rede: Dit was as gevolg van die sonde gegee. Dit was ‘n intermediêre reëling tot op die tyd wat beloofde Saad van Abraham (Christus) gebore sou word. Die wet moes soos ‘n spieël werk – dit moes vir die mense hul ware sondigheid laat sien sodat hulle daarmee kon vlug na die genade wat God in die Abrahambelofte (testament) aan hulle toegesê is.

Die wet werk byna soos ‘n vergrootglas: Hy wys vir jou die vuil kolle. Hy vergroot dit sodat jy wil vlug na Christus se verlossing.

Die wet het nooit die Abrahambelofte vervang nie. Die Abrahambelofte het dwarsdeur geloop totdat dit in Christus se koms vervul is. Die evangelieboodskap soos ons dit vandag verkondig en omhels ís die vervulde Abrahambelofte. Dis presies dieselfde testament.

Die doel van die Wet was om die mense na God se genade toe te dryf. Net soos dít wat jy in die spieël sien, jou dokter toe dryf. Die spieël genees nie jou aknee nie. Dit wys jou net wat jou probleem is sodat jy kan wakkerskrik. Die dokter het die genesing.

Miskien sal u voel om te wil sê: Ja, maar dit alles was bedoel vir Abraham wat ‘n Jood was en vir sy nageslag wat ook Jode was. Ek is nie ‘n Jood nie. Ek het niks met Abraham te doen nie.

Maar, dit is nou juis wat Paulus nie sê nie. Die punt wat hy maak is juis dat hierdie genadige belofte (die Here se testament) bedoel is vir Abraham se geestelike nageslag. Wie is hulle? Dit is almal, Jode en nie-Jode (soos ons) wat glo in die éíntlike saad van Abraham, en dit is Jesus Christus. Dit is so duidelik soos daglig in ons Skrifgedeelte.

Paulus sê: die eintlike saad van Abraham is glad nie al die Jode wat van Abraham afstam, soos die Jode gedink het nie. Die Saad van Abraham was al die tyd net een Persoon: Christus. Daarom is álmal wat in Christus is, Abraham se nageslag. Ook nie-Jode. En daarom kom die Here se belofte nog steeds aan húlle toe en aan hulle kinders. Die Here se belofte kom nog steeds aan Abraham se geestelike nageslag toe. Dit sluit die Galasiërs in (wat nie Jode was nie). Dit sluit vir ons in.

Tot in hierdie dag, volg die Here nog presies dieselfde werksmetode: Hy skenk Sy genade deur middel van ‘n belofte. Hy sê Sy genade toe deur ‘n belofte. Aan wie?? Aan Abraham se nageslag – die nasies. Nie net Jode nie. Die nasies.

Sien u die duidelike glasheldere evangeliewoord? Die Here sê Sy genade toe voordat die mens iets kan doen. Voordat die mens kan glo. Voordat die mens sy sondes kan bely. Voordat Abraham kon glo, het die Here hom gaan verras. Voorgespring. Hy het Sy genade aan hom toegesê deur middel van ‘n belofte, sonder dat Abraham daarna gevra het. En, Hy het ‘n sigbare handtekening (sakrament) daarop gegee: Die stukke vleis waardeur Hy geloop het. Abraham kon eenvoudig nie anders nie: Hy moes oortuig word. Hy moes tot geloof kom. Hy moes die erfporsie aanneem.

So werk die Here ook met u en my : Hy sê Sy genade ongevraagd aan ons toe. Hy sê ons is sondaarwees-en-al ingesluit by Christus. Hy gee Sy handtekening in die doop en nagmaal. Hy praat ons na die hart. Hy maak ons die hof. Hy spreek mooi woorde tot ons. Sodat ons oortuig moet word. Sodat ons ons hart op Sy genade moet neersit. Hy bring ons op die punt waar ons glad nie kan omdraai nie. Waar ons só oortuig word, dat ons net nie meer iets anders kan wees as oortuigde kinders van die Here nie!!

Waar kom die Galasiërs nou in met hulle dwaalleer wat hulle van die dwaalleraars begin glo het? Die dwaalleer wat sê: “Die Here het Sy deeltjie gedoen, jy moet ook jou deeltjie doen..” Die dwaalleer wat sê: “Jy kan nie ‘n volledige Christen wees as jy slegs aan Jesus se verdienste vasklou nie, jy moet nog ….”

Watter testament werk so?

As ‘n testament so gewerk het, dan moes die erfgename se handtekeninge mos ook daar gestaan het. Dan moes Abraham saam met God tussen die vleis deurgeloop het.

As ‘n mens eers gesien het hoe die Here met Abraham gewerk het. As ‘n mens eers gesnap het hoe heerlik die Here se genadeverbond werk, dan word daardie tipe dwaalleer vir jou aaklig en vieslik. Jy werp dit met minagting weg!! En jy verlustig jou des te meer in die geweldige gawe van God se verlossing.

© 2020 Tafelberg Gemeente (Dolerend)