Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

GALASIËRS-REEKS NO 4

Tema: Dood en tegelyk lewend!

Skrif: Galasiërs 2: 17-21


In hierdie paragraaf het ons in verse 17 & 21 die woord VRYGESPREEK gelees. Letterlik: regverdig verklaar. Grieks:

dikai-ô-oo”. Dis ‘n woord wat aan ‘n hof herinner. Daar is ‘n skuldige – wat meteens ónskuldig verklaar word. Vrygespreek omdat ‘n plaasvervanger ingestaan het om die skuld te dra.

Hierdie woord “onskuldig” som die hele krux van die evangelieboodskap op.

Die kern van die blye boodskap wat ons aan alle mense sonder onderskeid gaan verkondig is juis dat God hulle onskuldig/vrygespreek ag op grond van Jesus Christus se kruisdood waarby God hulle ingesluit het. En ons verkondig hierdie bloedwarm goeie nuus aan hulle om hartstogtelik gegló te word. Maar die “glo” is nie ‘n ietsie wat die mens moet doen om vrygespreek te word nie. Die “glo” aanvaar/ontvang net die vryspraak wat reeds op die kruis ‘n realiteit geword het.

Die oomblik wanneer die “glo” ‘n ietsie word wat die mens éérs moet doen – dan is ons pens en pootjies terug binne-in die onderhouding van die wet om gered te word. Want by die Wet gaan dit oor DOEN en oor VOORWAARDES.

Die manier hoe ‘n mens níé onskuldig verklaar word nie, is deur die Wet te probeer onderhou.

Die boodskap is duidelik: ‘n Sondaar word nie gered deur die wet (menslike doen) nie. Óók nie deur die doen van te “glo” nie. ‘n Sondaar ís gered deur die verlossing wat Jesus in-die-plek-van-die-sondaar op die kruis kant en klaar bewerk het. Dit is nie ‘n potensiële werklikheid nie. Dit ís ‘n werklikheid, want die kruis laat dit ‘n werklikheid wees. Hierdie realiteit word ‘n subjektiewe belewenis in die sondaar se lewe die oomblik wanneer hy/sy dit werklik hoor, ontdek & verstaan & glo. Dis die blye boodskap.

Maar die oomblik wanneer ‘n mens dít gesê het, kom die misverstande!

Jy sal byvoorbeeld hoor dat mense reageer deur te sê: “Jong dis gevaarlik om só te praat soos jy nou praat. Want jy weet, as dit so is dat God sondaars vryspreek op grond van Jesus se kruisdood terwýl hulle nog sondaars is, sonder om eers voorwaardes te stel, sonder om eers te verwag dat hulle hulle kant bring – wat is dan die punt om in oorwinning oor sonde te wil leef? Dan kan ons mos leef soos ons wil en enigiets gaan aanvang. Dan beteken dit eintlik dat die vryspraak op grond van Jesus se kruisdood daartoe lei dat mense nog méér sal sondig. Jesus kom dan in diens van die sonde – om dit so te stel!”

BESLIS IS DIT NIE SO NIE – antwoord die Apostel. As jy so graag in sonde wil leef is dit beslis nie Christus & die vrye vryspraak deur Sy kruisdood se skuld nie. Jy kan slegs jouself daarvoor blameer. Hý is nie verantwoordelik vir sonde in gelowiges se lewens nie (vers 17). Dis nie die genade wat jou laat sondig nie. Dis jyself wat dink dat genade goedkoop is. En nou misbruik jy Sy goedheid.

Maar nou moet jy ook nie weer die werke vd wet (ietsies doen as voorwaardes vir seën) terugbring in jou verhouding met die Here om die sondes daarmee te probeer oorwin nie (vers 18). Dit is weer die ander misverstand. Want so redeneer ons menslike logika, sien?

Volg u die argument? Kom ons kyk weer:

Die suiwer evangelieboodskap is dat God die mens ingesluit het by Jesus se kruisdood en die mens sodoende onskuldig verklaar het – om gegló te word.

MISVERSTAND NO 1: “O, dan kan ek mos nou maak net waartoe my sondige luste my lei – Jesus se kruisdood het my mos vrygemaak. Jippie ek kan nou vrolik sondig – en as ek so doen, is dit die genade se skuld. Hy wil my mos op die kruis sommer net so vrygemaak het!”

NEE sê die Apostel – Sy vrymaking op die kruis kan/sal jou nooit met opset laat sondig nie. Dáárvoor is jý verantwoordelik.

MISVERSTAND NO 2: “O okay, as ék dan verantwoordelik is, laat ek dan my maar weer inspan en my deel probeer doen: Ek sal vas glo dat Jesus se kruisdood my vrygemaak het, maar ek sal tog ook nog die werke vd wet byderhand hou en hard probeer om nie te sondig nie.”

NEE, sê die apostel, dit werk ook nie só nie, want dan gaan jy aanhoudend veroordeeld en skuldig voel, want die wet gaan vir jou vertel hoe sleg jy is omdat jou probeerslae altyd te kort skiet. Die wet sal jou heeltyd as oortreder aankla.

Nou hoe nou gemaak? Hoe kom ek uit hierdie dilemma?

Antwoord is: Die wet veroordeel my tot die dood omdat ek nie daarin slaag om al die ietsies reggenoeg te doen om in God se goeie boekies te kom nie. Daarom eis die Wet my dood.

Maar, ek het KLAAR aan daardie eis van die Wet voldoen, want ek HÉT gesterf. Ek is ingesluit by Jesus se dood! Ek het dus alreeds aan die eis van die Wet voldoen. Die wet eis my dood en ek het gesterf! Toe Jesus as my Plaasvervanger gesterf het, toe het God my daarby ingesluit. Ek is SAAM MET (ingesluit) Hom gekruisig.

Nou kan/mag die Wet geen dood meer van my eis vir enigiets wat ek verkeerd doen nie! Ek is morsdood vir die wet se eis dat ek moet sterf. Ek is morsdood vir die Wet se voorwaardes van “ietsies doen” om in God se goeie boekies te kom.

Daarom kan ek nou net vir die Here lewe! Dis al wat vir my oorbly. Waar ek faal sal Hy dit nie teen my hou en my straf nie – want ek is klaar op die kruis gestraf. Ek lewe nie meer onder veroordeling nie. Maar ek wil ook nie meer sondig nie, want dit is Christus wat nou in my lewe. Is dit nie wonderlik nie? Ek het ‘n nuwe rekord in die hemel: ‘n Skoon rekord want alles is betaal. En dit blý skoon vir altyd. Daarby het ‘n nuwe innerlike terwyl ek op aarde is: Christus is my lewe. Elke mens vir wie Christus gesterf het, het self ook gesterf! As een vir almal gesterf het, dan het almal gesterf (2 Kor 5:14). Nou reken God CHRISTUS se lewe as jou en my lewe. Hy reken alles van Christus vir jou en my toe sodat dit só is dat óns dit werklik ís.

Hoe op aarde kan ek dít besef en dan wil voortleef in sonde? Dit is mos pure nonsens. Christus is my lewe – ek is by Hom ingesluit. Ek het nie myself by Hom ingesluit deur my keuses of geloof nie. Gód het my ingesluit. Dit is my vaste vertroue. Daarom het ek nuwe begeertes, nuwe denke, nuwe insigte, nuwe manier van doen, nuwe vriende, nuwe leesstof, nuwe internetgewoontes, ‘n nuwe hoop. Ék het absoluut niks verander nie. Ek het net tot die ontdekking gekom dat Hý dit verander het. Halleluja!

Hoeveel keer het ons nie al preke oor Gal. 2:20 gehoor nie! Dan hoor ‘n mens soms goed soos: “Jy moet jou eie-ek kruisig” OF “As Gal. 2:20 uiteindelik van jou waar geword het, kan jy ontslae raak van allerhande sondes, omdat die eie-ek dan dood is”. So asof Gal. 2:20 oor die EIE-EK handel. En so asof Gal. 2:20 net van sommige Christene waar geword het. Jy moet eers ‘n bepaalde “vordering” in jou geestelike lewe maak voordat Gal. 2:20 van jou waar sal word. So trek jou sokkies op boetie!

Maar, dit is hoegenaamd nie wat die Woord leer nie. Gal 2:20 is alreeds waar. Vanaf die kruisigingsdag is jy saam met Christus gekruisig en leef Hy in jou.

Hier staan ook glad nie dat die mens self sy eie-ek moet probeer kruisig nie! Nee. Dis iets wat God gedoen het.

Wat het Hy gedoen? Wat sê Paulus hier? Wie is dit wat saam met Christus gekruisig is? Dit is daardie ou Paulus wat homself probeer verbeter het deur dit en dat te doen! Dít is die mens wat gekruisig is. Die mens wat gekruisig is, is die mens wat homself op ‘n hoër vlak probeer kry deur sy eie geloof en bekering en beslissings vir Christus. Die mens wat altyd goedjies wil bydoen bý Christus. Die mens wat nie tevrede is nét met Christus nie. Daardie mens is nou dood. Hy’s gekruisig. Hy’s ingesluit by Jesus se dood. En, dit is van alle Christene waar.

Nou bly net een ding oor: Ek lewe deur Sý geloof (v 20). In ons vertaling staan: “Die lewe wat ek nou nog lewe, lewe ek deur die geloof IN die Seun van God wat Sy liefde aan my bewys het..” Maar in die Grieks staan: “Die lewe wat ek nou nog lewe, lewe ek deur die geloof VAN die Seun van God (ên pistei toe whee-oe toe Thêoo) wat Sy liefde aan my bewys het… ek verwerp nie die genade van God nie. As ek dít sou doen, sou dit beteken dat Sy kruisdood waardeloos was.”

Terwyl ons dikwels sweet en swoeg en maagsere kry soos wat ons ons eie-ek probeer kruisig en doodkry, praat Paulus ‘n heel ander taal. ‘n Soete, hemelse taal. Hy sê: Ek leef uit die geloof van Hom wat Hom al lankal, uit pure liefde vir my, aan my oorgegee het!! En die ou Paulus, wat deur ietsies doen probeer het om die hemele te haal, is dood. Hy ís dood. Pleks van maagsere en ‘n senuwee-ineenstorting kry, rús Paulus in Christus Jesus se geloof!

Wat beteken dit: “rus in Christus se geloof”? Letterlik in Grieks: “Christus se oortuiging”. Christus het oor ‘n oortuiging wat Hy nooit sal verander nie. Hy is aangaande jou oortuig dat jy ingesluit is by Sy kruisdood en dat jy daarom onskuldig is voor God.

Al wat jou oortuiging (geloof) doen, is om Sy oortuiging (geloof) te ontdek en daarin tot rus te kom. Paulus sê dis AL lewe wat hy op aarde lewe (v 20). Dit beheers alles wat hy praat en doen. Hy het ‘n geloofsoortuiging wat rus in Christus se geloofsoortuiging aangaande hom. En dit is dat hy saam met Hom gesterf het. Punt uit en verby.


U sien: Dit is Bybelse taal van oorwinning. Dit is die soort taal wat Paulus aan die Galasiërs probeer leer het. Want, as
hierdie soort lewe nie moontlik was nie, sou Christus tevergeefs gesterf het!

© 2020 Tafelberg Gemeente (Dolerend)