Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

GALASIËRS-REEKS NO 3

Tema: Konsultasie en konfrontasie

Skrif: Galasiërs 2: 1-16


Ons lees in Galasiërs 2: 1-16 van twee historiese ontmoetings. Die eerste kan ons noem: ‘n KONSULTASIE (vv 1-10) en die tweede ‘n KONFRONTASIE (vv 11-16).

In hfst 1 het ons reeds gesien hoe die jong gemeentes in Galasië geïnfiltreer was deur vals leraars wat ‘n “Christus PLUS” boodskap verkondig het. “Dit wat Christus op die kruis gedoen het PLUS ietsie wat jý as mens moet byvoeg = volle verlossing”.

Paulus se reaksie was dat dit géén evangelieboodskap is nie, dat sulke leraars (selfs al is dit engele) uit die kerk gesit moet word (vervloek). Daar bestaan nie so iets soos twéé evangelieboodskappe wat net verskillende aksente (verskillende kante van dieselfde munt) beklemtoon nie.

Dít het die Apostel ook in hfst 1 gesê toe hy bevestig het dat hy nie die Evangelieboodskap wat hy bedien van mense gehoor het nie, maar dit direk van Christus ontvang het. En tog was die boodskap wat Paulus bedien het, presies dieselfde Evangelieboodskap wat die ander Apostels in Jerusalem bedien het. Dit was nie twee verskillende boodskappe nie. En dit gaan hy nou bewys:

Veertien jaar ná sy Damaskuspadervaring, het Paulus vir Barnabas (‘n gelowige uit Jode) en Titus (‘n gelowige uit nie-Jode) geneem en na Jerusalem gegaan om met die “pilare” van die kerk, Jakobus, Petrus en Johannes te konsulteer. Hulle het hom nie “ingeroep” soos ‘n skoolhoof met leerders maak nie. Hy het gegaan omdat hy gevoel het die Here stuur hom. En hy het gegaan om vir hulle te gaan sê wat die Evangelieboodskap is wat hy preek. Nie omdat hy onseker was of dit die waarheid is nie – daarvan was hy seker omdat hy dit van Christus ontvang het. Dit was egter nodig omdat húlle dit wat hy bedien het as die egte Evangelieboodskap moes erken, want ná 14 jaar was daar alreeds vals leraars in omloop. Die goedkeuring van die Jerusalemse apostels was noodsaaklik omdat dit die sending onder die nie-Jode sou beveilig. Dit sou skietgoed in die hand van die vals leraars wees indien die gerugte sou begin rondgaan dat Paulus ‘n ander boodskap as die ander apostels bedien!

Die vraag is hoe die Apostels vir Titus (wat saam met Paulus gereis het) sou ontvang. Hy was ‘n gelowige uit die nie-Jode en dus nie besny nie. Was Paulus reg deurdat hy nie vir Titus besny het nie? Volgens die vals leraars was Titus nie ‘n ware gelowige nie – omdat hy nie besny was .

Verrassing: Die apostels het geensins daarop aangedring dat Titus besny moes word nie! Wat nou van die vals leraars in Galasië? Hulle het daarop aanspraak gemaak dat húlle die Jerusalemse apostoliese Evangelieboodskap bedien. Nee, sê Paulus. Die Jerusalemse Evangelieboodskap het nie aangedring op besnydenis (menslike ietsie) wat bygevoeg moet word by Christus se kruisredding nie.

Wat egter wél by die Jerusalemse konsultasie gebeur het, was dat daar ‘n groepie verwarde Joodse-christene by die vergadering ingebars het – soos spioene – om te kom kyk watse kamstige vryheid Paulus-hulle van die Joodse wette het. Hulle wou druk op Paulus en die Apostels plaas om terug te keer na ‘n Christus-Plus godsdiens. Hulle wou hê die vergadering moes minstens besnydenis erken as ‘n noodsaaklikheid om wáárlik gered te wees.

En Titus se daar-wees was die toetssteen.

Maar Jakobus, Petrus en Johannes asook Paulus & Barnabas gee hierdie mense nie ‘n millimeter speelruimte nie. Niks. Christus het die mens op die kruis gered. Punt. Kant en klaar. Dis Christus en nét Christus. Hulle handhaaf die een en enigste Evangelieboodskap onvervals. Netsoos hulle dit teenoor dáárdie groepie verwarde Christene gehandhaaf het, handhaaf hulle dit dus teenoor die vals leraars in Galasië – want hulle is voëls van enerse vere.

Die uitkoms van die Jerusalemse konsultasie was dat hulle besef het dat Petrus spesifiek geroepe was om die Evangelieboodskap aan die Jode te verkondig en dat Paulus geroepe was om die Evangelieboodskap spesifiek aan die nie-Jode te bedien. Presies dieselfde genade word gepreek, maar in twee verskillende bedieningsvelde. Die vals leraars wat Galasië binnegedring het, het dus nie ‘n been gehad om op te staan nie. En só het die Jerusalemse vergadering verdaag – nadat hulle mekaar ‘n broederlike handdruk gegee het.

Verse 11-16 > KONFRONTASIE > Nou volg die onverstaanbare: Dieselfde Paulus en Petrus wat mekaar in Jerusalem die hand van broederlike vriendskap gereik het, kom nou in Antiochië (vanwaar die evangeliesasiewerk onder nie-Jode ontstaan het) in openlike konfrontasie te staan. Twee leier Apostels, wat presies dieselfde genade bedien, in kop-aan-kop konflik. Toe Paulus Jerusalem besoek het, het Petrus hom die regterhand van broederskap gereik. Toe Petrus Antiochië besoek, weerstaan Paulus hom! ‘n Openlike konflik! Wat op aarde gebeur hier? Wat sou tot so iets onverkwiklik gelei het?

Ons moet probeer om die situasie in daardie tyd te verstaan: Ná Pinkster, het die kerk uit 2 uiteenlopende groepe bestaan wat sáám in één kerk saamgeleef het: a) Jode, wat tot geloof in Jesus gekom het EN b) nie-Jode (heidene) wat tot geloof in Jesus gekom het.

Stel uself dit voor: Die Jode, met hulle ryke erfenis uit die OT en die heidene wat niks geweet het nie, sáám in één gemeente! Maar, beide het Christus se verlossing geken. En, daar was werklike eenheid in Hom.

Dit was niks anders as ‘n wonderwerk nie, want tradisioneel wou die Jode niks met nie-Jode te doen gehad het nie. Sou onrein word. Nie-jode se kosse het bv. nie aan die Jode se spyswette voldoen nie. Maar, Christus het hierdie muur van skeiding afgebreek. Onthou u hoe die Here Petrus se bittere vooroordeel teenoor nie-Jode afgebreek met die gesig wat hy gesien het van die laken met die onrein diere? Handelinge 10. Daar het Petrus besef dat Jood en heiden IN CHRISTUS vir God aanvaarbaar is en dat hy nie onrein mag noem wat God rein noem nie.

MAAR: Toe gebeur daar ‘n ontsaglike hartseer ding: Een keer in Antiochië, was Petrus besig om met ‘n klompie nie-Jode wat gelowiges was, saam te eet. Geen probleem. Hulle is een in Christus.

Skielik kom daar toe ‘n paar Jode uit Jerusalem aan – wat voorgee dat hulle van Jakobus kom. Dit was Jode wat verkondig het dat ‘n nie-Jood nie verlos kan wees sonder die besnydenis nie en dat dit verbode is vir Joodse Christengelowiges om saam met onbesnede nie-Joodse Christengelowiges saam te eet.

Toe Petrus hulle sien, gaan sit hy skielik eenkant, wég vd nie-Jode af en eet hy net saam met Joodse gelowiges. ‘n Afsydige houding. Die rede? Vrees het hom oorval vir wat die Jode gaan sê dat hy saam met nie-Jode eet. Hulle kosse is mos onrein. Hulle is nie besny nie. Skielik stem Petrus se optrede nie ooreen met wat hy in sy hart glo nie. In sy optrede aanvaar hy nie die nie-joodse gelowiges soos wat God hulle aanvaar nie. In sy optrede sê hy dus dat Christus se kruisredding nie genoeg is nie.

Paulus was egter ook daar. Toe hy sien wat gebeur, het hy vir Petrus in die openbaar weerstaan en bestraf. Want, Paulus het onmiddelik ingesien wat die gevolge van hierdie houding gaan wees.

Dit is die kern van die Evangelie wat hier op die spel is. Al lyk dit nie so nie. En, hy was 100% reg. Want, van daardie insident af, het daar ‘n epidemie ontstaan wat jare later die Galasiërs kom vergiftig het. Juis daarom skryf Paulus nou aan die Galasiërs hierdie brief wat ons tans bestudeer.

Natuurlik wou Petrus nie dwaal nie. Natuurlik wou hy nie ‘n PLUS by Christus voeg nie. Hy was geen dwaalleraar nie. Hy het waarlik die ware genade van God gepreek. Waarom was Paulus dan so kwaai met hom? Is dit nie ‘n onnodige konflik nie? Nee.

Hierdie vrees van Petrus vir die Jode, het ‘n boodskap oorgedra. HOOR MOOI: Niemand het ‘n ánder Evangelie gepreek nie. Niemand het gepreek dat Christus-alleen onvoldoende is nie! Die Jode uit Jerusalem het nie daar ingestorm en gesê: “Besny julle of julle gaan hel toe” nie! NEE! Die indruk is net gewek dat, om regtig salig te wees, ‘n menslike ietsie bygevoeg moet word.

n Mens moet dit mooi verstaan: Paulus vat nie vir Petrus aan om hom op sy plek te sit nie. Dit is nie ‘n persoonlike vete nie. Paulus verdedig die voortgang vd ware Evangelieboodskap! Hy wou hê die ganse kerk moes vir eens en altyd (tot in 2013) weet: Jesus Christus het die sondaarmens vrygespreek en blaamloos, skuldloos gemaak deur die mens in te sluit by Sy dood & opstanding. Dit is ‘n asemrowende realiteit – en dit is Gód se oortuiging aangaande die mens – of die mens dit glo of nie. Maar die enigste manier hoe die mens dit persoonlik kan beleef, is deur dit te glo!

Letterlik sê die Grieks in vers 16: “Ons weet dat ‘n mens van sonde vrygespreek word alleen deur geloof van Jesus Christus. (Grieks: dia pistêoos Jêsou Christou = subjektiewe genitief). Ons het in Jesus Christus geglo sodat ons deur geloof van Christus (Grieks: ek pisteos Christou) geregverdig kon word en nie deur werke van die wet nie.”

Griekse woord PISTIS (geloof) beteken letterlik “oortuiging”.

Christus het ‘n oortuiging aangaande die mens (geloof van Christus) en die mens ontdek daardie oortuiging en dan word dit ook sy/haar oortuiging! Wat is Christus se oortuiging? Dat die mens ingesluit is by Sy dood & opstanding en dat die mens sodoende sonder enige skuld of blaam is – vrygespreek en gered is. Dat dit ‘n realiteit is (nie net ‘n moontlikheid nie). Dit is Christus se geloof, Sy oortuiging aangaande die mens.

Al wat die mens se geloof doen is om Christus se oortuiging te ontdek en dit te begin glo! Dit wat nog al die tyd Christus se oortuiging aangaande my was, naamlik dat ek vrygespreek is omdat Hý my ingesluit het by Sy kruisdood, word nou ook mý oortuiging. Sý geloof aangaande my word nou mý geloof.

Romeine 1:17 (in Grieks): “Die manier hoe God ons vrygespreek het word aan ons bekendgemaak (omdat ons dit nie geweet het nie) uit geloof tot geloof (Grieks: ek pistêoos eis pistin).” Bedoelende vanuit Gód se geloof (oortuiging) tot in óns geloof (oortuiging). Ons oortuiging tap uit Syne! Ons word oortuig van dit waarvan God oor ons oortuig is. Maar Sy oortuiging is altyd eerste. Voordat ons van enigiets oortuig is, is Hy alreeds aangaande ons oortuig dat ons ingesluit is in Christus en dat ons sodoende verlos is. God is só volslae oortuig van die feit dat Jesus Christus genoeg gedoen het en dat ons daarby ingesluit is! Daardie oortuiging van God skep in ons die geloof om Hom te glo! Sý rotsvaste oortuiging is ons sekerheid dat ons onskuldig & vrygespreek voor Hom staan. Is dit nie goeie nuus nie?

In Galasiërs-brief sien ons hoe die apostel Paulus hand en tand geveg het om híérdie goeie nuus ongeskonde vir ons te bewaar sodat ons vandag daardeur getroos mag word.

Prys die Here vir Sy genade! Prys die Here dat Hy iemand soos ‘n Paulus opgewek en toegerus het om met skerp insig tussen waarheid en leuen te onderskei. Nou het óns sekerheid!

© 2020 Tafelberg Gemeente (Dolerend)