Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

TAFELBERG GEMEENTE

GALASIËRS-REEKS NO 12

Galasiërs 5: 1-12

Tema: Die kruis as skandalon


Waarom is die boodskap vd kruis altyd weer ‘n struikelblok (skandalon = Grieks = om iemand te pootjie) (vers 11)? Waarom struikel en val mense oor hierdie boodskap – die blye boodskap vd kruis? Waarom is dit altyd weer vir mense ‘n aanstoot? Waarom word predikers van die kruis deur alle eeue heen teëgestaan?

n Mens sou mos dink dat die evangelie vd kruis deur alle mense met vreugde omhels sal word en met ope arms verwelkom word. ‘n Mens sou verwag dat mense na kerke waar hierdie Boodskap verkondig word, sal stroom! Dat daar absolute eenstemmigheid en opgewondenheid sal wees.

Want, wat is die boodskap vd kruis? Ons sien dit weer so goed in Galasiërs-brief: Met die kruisdood van Sy Seun, het God die Vader nie maar net ‘n mooi en positiewe gebaar na ons kant toe gemaak nie… ’n gebaar van: “Kyk, met My Seun se kruisdood het ek dit nou moontlik gemaak dat julle gered kan word nie… mits julle julle kant bring” nie! O, nee!! Met die kruisdood van Sy Seun, hét God die Vader ons daadwerklik gered, sonder om vooraf ons toestemming te vra. Sonder ons samewerking. Sonder ons bydrae. Sonder ons geloof. Sonder lewensverandering. Sonder bekering. Sonder énige vooraf voorwaarde waaraan voldoen moet word.

Die kruis ALLEEN is ons volkome ewige redding.

Dis soos Isak uit ‘n verstorwe Sara gebore was. Dit was van A-Z slegs God se werk.

Christus is in Homself (en in Sy kruisdood) die vervulling van die “Sara-Isak-lyn” (hfst 4 – sien verlede week se studie). Sy ope graf is die baarmoeder vanwaaruit ons wedergebore is – soos Isak uit Sara se skoot gebore is sónder menslike beplanning, keuse of insette. Dit staan letterlik in 1 Petr 1:3 > wedergebore deur die opstanding van Christus uit die dood.

Dit is die mees radikale goedheid denkbaar. Want, wat verdien ons? ‘n Ronde nul. Tewens, ons verdien om verstoot te word. Maar, wat verkry ons? Ware vryheid!! Christus is sélf ons vryheid. Vryheid van sonde, vryheid van ons verlede, vryheid van straf/oordeel, vryheid van die ou lewe, vryheid van religie/godsdiens in al sy vorme.

Toe Jesus die Sondagmôre uit die dood opstaan, het die Vader ons uit ‘n lewe van slawerny uitgeruk en ons oorgebring na ‘n lewe van vryheid (sien 1 Petr 1:3). Ons ou lewe is dáár beëindig. Dit maak nie saak wátse verkeerde goed ons nog steeds in ons lewe sien nie. Dís nie die realiteit van ons lewens nie. Die realiteit is dat dit by die kruis beëindig is. Ons “sondige verlede” dui nie op die eerste tydperk van ons aardse lewens vanaf ons geboorte tot ons die groot besluit vir Jesus gemaak het nie. En ons nuwe lewe is nie die tydperk nádat ons die besluit vir Jesus geneem het nie! Ons “sondige verlede” is die tydperk voor Jesus se kruisiging en ons nuwe lewe het met Sy opstanding aangebreek. Ons “besluit” wat ons vir Jesus moet maak, is om God te begin glo dat ons vrygemaak is. Ons moet God glo – dat wat Hy sê Hy met ons gedoen het in Christus, werklik so ís. Daardie “glo” sal uitloop op lewensverandering, bekering, verhouding met Hom. Dit sal die outomatiese vrug van die “glo” wees. Maar ons moenie dit wat die Bybel VRUG noem, VOORWAARDES gaan maak waaraan ons éérs moet voldoen nie. Dan vernietig ons die boodskap van die kruis.

Óns roeping is om in híérdie vryheid waarmee die kruis ons vrygemaak het, te “staan” (v 1). Dit beteken eerstens om dit te glo. Glo God daarvoor! Tweedens moenie kop gee nie. STAAN in die vryheid! Moenie jou vir een sekonde laat ompraat of verlei om in religie terug te val nie. Moenie verlei word om vir een sekonde te glo dat jy die slegte sondaar is wat jou waarneming van jouself jou wil wysmaak nie. Glo wat GOD sê!

Nou waarom op aarde is hierdie boodskap vd kruis ‘n struikelblok? Waarom is Paulus oor hierdie briljante boodskap van vryheid vervolg en gemartel? (vers 11). Iewers is iets nie pluis nie.

Hier is die antwoord: Van nature erg die mens se natuur hom aan die boodskap vd kruis. Dit geld vir ons almal. Waarom? Want, die kruis sny alle menslike roem/trots radikaal by die wortel af. Daar is absoluut NIKS waarop jy jou meer kan beroem as die kruis met jou klaar is nie. Jy kan jou nie eens op jou geloof beroem nie, want Christus se kruis het jou vrygemaak nog voordat jy kon glo. Jy kan jou nie eens op jou sondebelydenis beroem nie, want jou sondes was op die kruis afgeskryf nog voor jy dit kon bely, toe Jesus se bloed dit 1000% betaal het. Ons bely dit mos maar eers mosterd-na-die-maal!! Ons glo mos maar eers mosterd-na-die-maal (Die ou Gesang 10: Voordat ek kon kies, kon vra, het U Seun my vloek gedra). So sny die kruis al ons vrome prestasies by die wortel af. En daarvan hou geen mens se natuur nie! Wie van ons hou daarvan?? Nooit! Trouens, jy vererg jou! Jy stamp jou teen hierdie struikelblok! Jy val oor hierdie struikelblok! Dit pootjie jou dat jy jou bloedneus val.

Daarom het die Galasiërs eerder die dwaalleraars geglo, want ai, die dwaalleraars het darem gesê die besnydenis & die onderhouding van die Joodse Saterdagsabbat en Joodse seremonies moet nog bykom. Nou is daar tog nog ‘n ou ietsie wat die mens se hoogmoedige en trotse hart kan laat warm klop. “Ek het darem ‘n bydraetjie gemaak. Ek het my tog in gehoorsaamheid laat besny. Ek het varkvleis uit my dieët gesny.”

En, natuurlik, ‘n leraar wat so ‘n boodskap verkondig, wat die mens se sondige natuur streel, sal mos nooit vervolg word nie. Paulus sê: As ek verkondig het dat die besnydenis nodig is, waarom word ek dan vervolg? Dan is die kruis as skandalon (struikelblok) mos vernietig. Maar, nou wórd ek (Paulus) vervolg, want my boodskap druis in teen die mens se natuur. Dit is ‘n struikelblok vir die mens se natuurlike hoogmoed: Om as ‘n algehele bankrot-bedelaar die verlossing slegs maar net te mag ontvang! Kyk, dit knak ‘n mens se eer tot in sy kern!

Tog is dit die enigste weg. Daar is nie ander moontlikhede nie. Hieroor is die Apostel baie duidelik. Hy praat reguit. Hy sê: “Kyk, as julle julle aanvaarbaarheid voor God wil koop met julle gehoorsaamheid, weet dan dat julle band met Jesus Christus losgeraak het. Weet dan, dat julle die genade van God verbeur het”.

Dit is geweldig hoe kragtig die Apostel hier praat. Ons moet daarop let. Hy sê: Die dwaalleraars wat vir julle vertel julle moet julle laat besny kan net sowel hulleself heeltemal gaan ontman! (vers 12). Is dit nie ‘n bietjie kras nie, Paulus? Nee, antwoord Paulus, dis hoe sterk ek oor die vrye genade van God voel. Hierdie mense gaan met die straf/tugtiging van God te make kry (vers 10). “En julle, wat nou weer die Here se guns wil koop, julle het losgeraak van Christus, julle het van die genade verval!!”

Wat op aarde bedoel die Apostel met hierdie krasse woorde? Mens sidder eintlik as jy dit lees. Bedoel hy dat iemand wat ‘n gelowige-in-Christus is, weer verlore kan gaan as hy/sy in religie (die Hagar-Ismael-lyn) terugval? Kan ‘n mens in die Sara-Isak-lyn staan en dan terugval in die Hagar-Ismael-lyn en beteken dit dat jy verlore is?

Laat ek ‘n beeld gebruik om dit te probeer verduidelik: Die lig in ‘n vertrek brand helder. Jy staan binne die vertrek in die lig. Dan stap jy uit en gaan staan in die donkerte buite die vertrek. Intussen brand die lig steeds, maar jy bevind jou in duisternis omdat jy buite die lig gaan staan het. Die oomblik wanneer jy teruggaan in die vertrek, is jy weer in die lig.

Die band met Christus is nie van Sý kant af afgesny nie – die lig brand steeds soos tevore. Dit is nie van Gód se kant af wat hierdie mense die genade verbeur het nie.

Die probleem is die duisternis waarin hulle gaan staan het! Want as jy weer in religie (die Hagar-Ismael-lyn) terugval en weer begin om op eie meriete te vertrou, is Christus & Sy verlossingswerk irrelevant! Jy kan nie die Hagar-Ismael-lyn en die Sara-Isak-lyn vermeng en aan beide probeer vashou nie. Dan is jy soos iemand wat tegelyk in twee teenoorgestelde rigtings wil beweeg. Dis gewoon onmoontlik! As Christus vir jou irrelevant raak, beteken dit nie dat die krag en effek van Sy verlossingswerk ophou bestaan nie, maar dit is jý wat buite die sirkel van die lig gaan staan het.

Sien u: ‘n Mens leef óf uit Christus alleen óf jy leef nie uit Christus alleen nie. So eenvoudig soos dit. Daar is nie vermenging moontlik nie. Jy kan nie op twee stoele gelyk sit nie.

Dwarsdeur die afgelope 300jr akkommodeer die NG Kerk allerlei teenstrydige standpunte oor die verlossing, asof daar nie ‘n Galasiërsbrief in die Bybel is nie.

Die NG Kerk se profiel van prediking weerspieël ‘n vermenging en ‘n verwarring – reeds sedert die ontstaan van hierdie kerk meer as 300 jaar gelede! En ek is veronderstel om te weet waarvan ek praat as ek dit sê, want ek het ‘n doktorale proefskrif presies daaroor geskryf!

Party predikante preek dat God ons – sonder ons toedoen – met die kruis van Jesus bevry het – en dat ons God daarvoor mag glo. Só word die bevryding vir ons ‘n werklikheid. Dit is die boodskap wat Paulus verkondig het.

Ander predikante preek dat jy eers aan sekere voorwaardes moet voldoen voordat jy ‘n kind vd Here kan word. Jy moet eers ‘n paar stappe deurgaan voordat die Here in jou rigting sal kyk. Die gehoorsaamheid-van-die-besnydenis-is-eers-nodig – om dit in Galasiërs se taal te sê. Dit is die boodskap wat die dwaalleraars aan die Galasiërs verkondig het.

Ander predikante vermeng weer bogenoemde twee boodskappe. Hulle preek en sê: “Jy kan absoluut niks doen om jouself te bevry nie. Christus het alles gedoen. Al wat jy moet doen is om jou oor te gee.” Hoor u? “Jy kan niks doen nie – al wat jy moet doen is…” U hoor die weerspreking wat uit die vermenging voortspruit? Maar dit is juis hierdie soort vermenging wat Paulus in Galasiërs 4-5 so sterk afwys!

Paulus ken nie verskillende standpunte wanneer dit by die boodskap van die kruis kom nie.

Paulus sê: Die struikelblok vd kruis is reeds ons redding en dit neem ons gelowig aan en dit sal verseker uitloop in dankbaarheid – liefde (vers 6). Geloof in die kruisboodskap mond verseker in liefde uit. Daar is nie ‘n manier hoe jou lewe dieselfde sal bly nie. PUNT. Dis die hele storie. As jy hierby nog goedjies wil aanlas, het jy die genade van God verbeur (vers 4). Dan maak jy jou los van Christus – dan gaan staan jy in die donkerte – dan is die kruis oorbodig. Daar is net nie ‘n ander standpunt moontlik nie.

Dít is wat ware Christelike VRYHEID beteken. Vryheid beteken nie dat jy sal wil gaan maak/doen soos die sonde wil nie. Dit beteken nie jy kan nou ongebonde/losbandig wil gaan leef nie.

Wat beteken die woorde van vers 12: “Christus het ons vry gemaak om werklik vry te wees..” Dit is ‘n vryheid wat afgehandel is. Kyk na die woordjie HET.. Verlede tyd. Kyk wie doen: Christus. Hý het ons bevry. In die verlede tyd. Deur Sy kruis en opstanding.

Wat is hierdie vryheid dus? Wat is ware Christelike vryheid? Skoon gewete. Skoon van skuldgevoelens. Skoon van die vrees vir die dood en hel. Al wat oorbly: Lewe van dankbaarheid en liefde. Om uit dankbare liefde in die Here se gebooie te leef. Ómdat jy deur die kruisdood van Christus bevry ís van letterlik alles – ontstaan ‘n liefde in jou hart. En daardie liefde wil vir die Here en Sy dinge leef.

n Mens wat enigsins iets van die Evangelie snap, kan nie anders nie: ‘n Oorweldigende dankbaarheid en oopmond-verwondering pak jou beet. En dit los jou nie weer nie. Met oopmond verwondering leef jy uit dankbaarheid teenoor die Here en jou naaste. Die “WOW”-ervaring. “WOW”, wat ‘n evangelie!!!

© 2020 Tafelberg Gemeente (Dolerend)