Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

This is Photoshop’s version of Lorem Ipsum. Proin gravida nibh vel velit auctor aliquet.
Aenean sollicitudin, lorem quis bibendum auctor, nisi elit consequat ipsum, nec sagittis sem nibh id elit.
Duis sed odio sit amet nibh vulputate cursus a sit amet mauris. Morbi accumsan ipsum velit. Nam nec tellus a odio tincidunt auctor a ornare odio. Sed non mauris vitae erat consequat auctor eu in elit.

Tafelberg Gemeente

Galasiërs-Reeks no 10

Tema: Herder in barensweë

Skrif: Galasiërs 4: 8-20

Galas 4: 8-20 is seker een vd mooiste gedeeltes in al die Apostel Paulus se briewe: Hieruit straal die diepe passie van ‘n herder vir sy skape.

n Mens is verkeerd as jy dink dat die Apostel die Here se skape in Galate net oor die vingers tik en vermaan.

Dit is mos hoe ons soms dink die “ware prediking” moet wees: As ons goed sleggesê is, dan sê ons: Dít was nou ‘n goeie preek!!

Paulus se prediking was nie met ‘n vertoon nie (1 Kor 2:4: nie goed met woorde, nie goeie spreker nie), maar met die passie van ‘n herdershart. Sy vermanings was toegedraai in die watte van innerlike ontferming. En daarin weerspieël hy maar net die hartklop van Sy Here en Meester – Jesus Christus.

Toe Paulus die eerste keer by die Galasiërs was, het hulle hom en sy boodskap egter met ope arms ontvang (vers 14). Alhoewel hyself nie juis fisies aantreklik was nie. Hy het die een of ander fisiese kwaal gehad, wat ‘n onaangename indruk op mense gemaak het. Dalk (ons weet nie) was dit ‘n oogkwaal, want hy sê hulle sou hulle eie oë uitgegrawe het en aan hom gegee het, indien dit moontlik was.

Dit was juis a.g.v. hierdie siekte wat hy aanvanklik by hulle beland het (vers 13). Ons weet nie hoe dit gebeur het nie. Maar, die Here het Paulus se siekte gebruik om hom in Galate te kry sodat daar ‘n gemeente totstand kon kom.

Ongelooflik hoe die Here se weë loop. Dikwels gebruik Hy goed soos siektes en raaiselagtige onverklaarbare omstandighede om Sy koninkryk te bevorder. Nie altyd nie, maar soms wél.

In ieder geval: Die Galasiërs het Paulus se evangelie van radikale genade, absoluut aanvaar. Hulle het by die prediker se swakheid verbygekyk en die vermoë ontvang om die boodskap te hoor. Paulus was fisies uitgemergel en sy prediking was nie juis dinamies nie, maar juis daardeur het die Here ‘n gemeente totstand laat kom. Nie deur Paulus nie, maar deur sy BOODSKAP. Sy boodskap van radikale genade, naamlik dat God die mense se skuld 100% afgeskryf het op die kruis van Sy Seun, sonder om vooraf hulle toestemming en keuses en oorgawes te vra óf in ag te neem óf te kry! Hulle kon net die klaargemaakte onskuld & vryspraak glo en persoonlik aanvaar. Uit hierdie boodskap het ‘n kerk in Galate ontstaan!! Dít wys vir ons watter krag hierdie boodskap inherent besit.

Genade is nié ‘n soort krag waarmee God ons help om te doen wat Hy van ons verwag nie. Genade is die klaargemaakte werk van Christus op die kruis waarby God ons ingesluit het toe ons nie ingesluit wou wees nie! Dit is baie belangrik om te verstaan wat “genade” is. Dis ‘n woordjie waaraan ons gewoond geraak het en wat ons selfs in die alledaagse spreektaal misbruik. Meesal dink mense dit is ‘n soort krag waarmee God ons help. Nee, dit is Christus se klaargemaakte kruiswerk waardeur Hy ons – agter ons rug – bevry het toe ons Sy vyande was.

Toe die Apostel weg was, het dwaalleraars egter die gemeentes van Galate gekom, wat die Galasiërs verwar het. “Paulus was te eensydig in sy prediking: God het nie op die kruis julle skuld 100% afgeskryf nie. Nee. Julle moet eers nog besny word. Dán sal julle regtig ten volle gered wees.”

En toe leen hulle hul ore aan hierdie glimmende predikers uit. En hulle begin teruggly.

Jy gly áltyd terug wanneer jy dink dat jy die EEN dingetjie wat God van jou eis, reg genoeg doen. Dan is jy onvermydelik trots op jouself. Vir hierdie mense was die één dingetjie die besnydenis. Vir ander is dit die onderhouding van die Saterdag as Sabbat. Vir ander is dit een of ander doop. Vir ander is dit gehoorsaamheid van een of ander aard. Vir sommige is dit die gee van tiendes. Vir ander is dit ‘n bekeringsbelewenis.

Ja, Jesus se kruisdood is belangrik, maar DAARBY is daar een dingetjie wat ek voel wat ek moet doen wat die Here bitter opgewonde maak.” En jy voel innerlik trots dat jy dit kan doen.

Só het die Galasiërs begin dwaal.

En juis dán sien ‘n mens hierdie ongelooflike herdershart van Paulus wanneer hy aan hulle skryf – in reaksie op hulle afdwaling.

Hy sê nie: Julle is nou op pad hel toe omdat julle die dwaalleraars glo nie. Nee, hy noem hulle “my kinders..” (vers 19). Hy sê: “Ek is werklik besorg oor julle..” (vers 20). Hy sê: “Ek voel of ek in geboortepyne verkeer oor julle… dat Christus in julle gestalte kan kry..” (vers 19). “Ek voel so intens oor julle soos ‘n vrou in kraam..” Hy sê: “Dit voel vir my asof ek julle vyand geword het omdat ek die waarheid aan julle gepreek het..” Hy sê: “Ek smeek julle: Word soos ek..” “Kyk, ek leef in die volle vryheid waarmee Jesus my vrygemaak het op die kruis” “Ek leef nie soos ‘n slaaf in angs en bang dat ek hel toe sal gaan as ek dalk allerhande reëls nie nakom nie..” “Word soos ek… ek is so tevrede net met Jesus Xp alleen…word soos ek…” “Ek is werklik besorg oor julle.”

Hoor u die hartklop vd ware herder by hierdie Apostel?

Waaroor is hierdie herder so in beroering oor die skape vd kerk in Galate?

Hy wil hê hulle moet agterkom wat die Christelike lewe regtig is. En agterkom wat dit beteken om die Christelike lewe te leef. Want, as hulle die dwaalleraars sou volg, sou hulle godsdiens weer word net soos die heidene s’n (vers 8). Die heidene se godsdienste bestaan uit wettiese uiterlike formalisme: ‘n Dooie lewelose besigheid, al ís daar uiterlik soveel aktiwiteit.

By die heidene werk dit mos so: Jy as mens moet sorg dat jy die afgod leer ken. Jý moet hom leer ken deur ietsie te doen. Hoe? Deur goedjies wat die god van jou vereis na te kom (vers 9). Gevolg? Angs, SLAWE-angs. Want, hoe weet ek óóit of ek goed genoeg gedoen het? Hoe kan ek óóit seker wees?

Weet u hoeveel ANGS sit nog só diep in soveel goeie NG lidmate se geestelike lewens? En, skynbaar hou ons daarvan.. Preke wat jou bangmaak en jou verlate laat voel en jou laat voel dat alles van jou as mens afhang, kry mense aan die praat. Dán word CD’s bestel! ‘n Soort sadistiese satisfaksie: “A! Nou voel ek weer goed onseker, nou kan ek weer meer vroomheid en geestelikheid probeer bymekaar hark om in die Here se goeie boekies te probeer kom..” Dis asof ons WIL seerkry. Asof ons WIL onseker wees….

Ek lees van ‘n bejaarde NG Kerk dame wat in angs na haar leraar gaan. Sy het ‘n boekie gelees waar RA Torrey skryf: As ‘n mens nie die woorde vd Bybel ken en presies daarvolgens bid nie, kan jy nie regtig met die Here praat nie.

Nou kan u dink wat haar angs was : Sy is oud en haar gedagtes raak kort, sy kan nie meer alles onthou nie. Nou leef sy met die vrees: Sal ek nie die Here geleidelik verloor nie, want ek kan mos -vlgs Torrey – nie regtig bid nie. Ek kan dan nie meer al die Bybelwoorde onthou nie.

Toe die predikant uit Rom 8:26 vir haar wys dat die Heilige Gees vir ons bid as ons nie weet wat om te bid nie, val die skille van haar oë af.

Maar, dan vra hy hierdie indringende vraag (wat my getref het) in sy artikel: “Hoe sal ons ooit die angs uit ons godsdiens kry? Kan selfs die angste vd hel wat Jesus in ons plek gedra het ons dan nie daarvan verlos nie??”

Wettiese godsdiens bring altyd onsekerheid en verwarring. En angs.

Hoeveel angs sit nog in ú geestelike lewe? “Sê nou net ek maak dit nie….. want sê nou net ek het nie al die reëls goed genoeg nagekom nie..??” “Het ek ooit genoeg erns en genoeg vroomheid bymekaargehark gekry?”

Wat help dit ‘n mens is godsdienstig, maar jou godsdiens ketting jou vas soos ‘n gevangene? Jy is bang en jy is onseker… Wat help dit?

Wat is die Christelike geloof? Vers 9: Nie eerstens dat ék die Hére leer ken het nie, maar die groot rus dat Hy my ken. Dit beteken baie meer as net: dat Hy van my weet. Dit beteken dat Hy Hom genadiglik aan my kom verbind het, toe ek nog ‘n sondaar was. Dat Hy my uitverkiesend kom opsoek het.

Wat is die Christelike lewe? Lewe van: tot rus kom. Lewe van KINDwees in die Vaderhuis, nie ‘n slaaf wat hom afsloof vir ‘n loon nie!!

Wat is die Christelike geloof? Vryheid, nie gebondenheid aan angs en onsekerheid nie.

Hoe leef ‘n mens nou prakties die Christelike lewe? Net een manier. Om altyd te onthou WIE en WAT jy alreeds IS. Wat die Vader van jou 100% gemaak het in Sy Seun, sonder dat Hy eers jou toestemming gevra het.

Die essensie van Paulus se woorde is:

a) Julle is deur Hom geken,

b) Julle was eers slawe, nou is julle seuns en dogters.

Hoe kan julle dan terugval na geestelike slawerny?

Daar is net een manier om dit te verhoed: Laat toe dat die Here se Woord AANHOUDEND in jou ore met jou praat en jou verseker WAT en WIE jy in Christus is. Dan moet jy lewe volgens wat Hy van jou gemaak het. Hoe meer ons verstaan wat die Vader met ons in Jesus AFGEHANDEL gedoen het, hoe meer sal ons begeer om daarvolgens/daaruit te LEWE. Daar sal ‘n groot begeerte begin brand..

n Mens leef die Christelike lewe deur vir jouself (uit die Woord) te sê: “Eens was ek ‘n slaaf, maar God het my Sy kind gemaak en Sy Gees in my hart gegee. Hoe kan ek dan teruggaan na die ou slawelewe?” > “Ek het Hom nie geken nie, maar Hy het my geken: Hoe kan ek weer terugkeer na die ou onkunde?”

Gemeente, gaan u weer môre en oormôre voort soos gister en eergister, of gaan die sagtheid van hierdie Evangelie (soos die Bybel dit vir ons oopgemaak het) meer in u hart begin regeer? Gaan dit deurgroei tot in u vingerpunte en u hele lewe deursuur?

© 2020 Tafelberg Gemeente (Dolerend)