Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

Laai Af

FILIPPENSE-REEKS NO 1: Ons skarnier aan Sy inisiatief!
Filippense 1: 1-6
Filippense is seker een van die NT briewe wat die meeste gelees word. Veral sekere geliefkoosde verse. Ons wil egter by die begin begin en die brief vers vir vers bestudeer, want dit is vir ons belangrik om die volle Raad van God te verkondig.

Die Apostel Paulus het hierdie brief aan die Here se gemeente in die stad Filippi teen ongeveer die jaar 63nC geskryf. Filippi was ‘n redelik prominente stad in die noord-oostelike hoek van – wat vandag bekend is as Griekeland. Paulus skryf vanuit sy aanhouding in Rome. Hy was nie in aanhouding omdat hy ‘n misdaad gepleeg het nie, maar as gevolg van die feit dat hy hom op die Romeinse Keiser beroep het in die Jode se stryd teen hom. Hulle stryd teen hom was omdat hy die kruisdood en opstanding van die Here Jesus Christus verkondig het – en verlossing uit genade op grond van wat Jesus gedoen het en dus sonder wetsonderhouding. Hy was daarom in aanhouding omdat hy ‘n onverskrokke getuie vir Christus & die suiwer Evangelieboodskap was.

Elke brief wat ‘n mens skryf het natuurlik ‘n agtergrond en ‘n motivering. Mens skryf nie briewe sommer net uit die bloute nie. Die Apostel het ook nie vir die Filippense geskryf omdat hy maar net op ‘n dag in so ‘n bui was nie. Daar was redes. En uit hierdie redes is daar alreeds vir ons ‘n boodskap.

Behalwe dat hy wou dankie sê vir finansiële bystand wat die gemeente vir hom gestuur het en dat hy hulle wou gerusstel dat sy gevangenskap nie die verkondiging van die Evangelieboodskap benadeel het nie, maar juis bevoordeel het, was hy ook bekommerd oor die invloed wat vals leraars op die gemeente gehad het. Die vals leraars was Jode wat Christene geword het, maar nie die Evangelieboodskap korrek verstaan het nie en die gelowiges steeds onder die juk van wetsonderhouding ( om in God se goeie boekies te bly) wou plaas en sodoende die boodskap van suiwer genade aangetas het.

Die tipiese boodskap van die vals leraars sou wees: “Ja, Jesus se dood en opstanding is genoeg vir jou verlossing MITS jy ook nog die besnydenis onderhou.. of by die Tempel in Jerusalem offers bring… of die Saterdag-Sabbat onderhou”. Die valse boodskap is altyd: Christus PLUS iets. Nie Christus ALLEEN en lewensoorgawe aan HOM nie!

Die apostel het gevoel dat die gemeente in Filippi hieroor gewaarsku moes word. En terselftertyd moes hulle ook gewaarsku word oor partyskappe en verdeeldheid in eie geledere. Paulus wou graag sien dat daar eenheid in die gemeente moes wees, omdat almal (wat werklik kind vd Here was) deelgehad het aan die EEN Gees. Almal wat in die Here Jesus Christus gered is, is immers van “een Gees deurdronge” (1 Kor 12:13). Dit is die basis vir eenheid!

Een ding moet ons baie goed raaksien – veral in die lig van die feit dat daar deesdae weer so baie selfaangestelde “apostels” is – veral in die sogenaamde “Third Wave” charismatiese beweging. Ons moet uit die SKRIF verstaan wat ‘n Apostel se posisie en taak was.

Om dit kort te sê: Daar is nie meer vandag apostels nie. Na die apostel Johannes se dood, was daar nie weer apostels nie. En die rede is baie eenvoudig: Die apostels het ‘n unieke (onherhaalbare) gesag gehad om die fondasie van waarheid te lê, die fondasie vir die NT kerk (Efes 2:20). ‘n Fondasie kan slegs een keer gelê word. Daarom moes die apostels ooggetuies van die Here Jesus se aardse bediening wees. Daar kon nooit weer sulke ooggetuies wees nie.

Kom ons kyk ‘n bietjie van nader na die Apostel Paulus se eie woorde wat die kenmerke van kerkleiers moet wees.

VERS 1 > DIENSKNEGTE van Christus. Leiers in die kerk beklee nie hoë posisies of status nie. Hulle hoogste eer is om dienskneg te wees. Wie graag hoog wil wees, moet almal se dienskneg wees (Mrk 9:35). Wie eerste wil wees, moet laaste wees en ‘n dienskneg van almal. Hierin was die Here Jesus self die voorbeeld. Dink byvoorbeeld aan die voetewas episode in Johannes 13!

Maar nog meer:

VERS 1 > Gelowiges is HEILIGES. Hulle IS dit sondermeer. Indien jy ‘n Christus-gelowige is, IS jy heilig. Dit beteken jy is deur Hom apartgesit, afgesonder, vir Homself. Heilig beteken nie sondeloos of beter as ander nie. Dit beteken om DIE HERE S’N te wees! Daarom is die woord “kerk” afgelei van die Griekse woord “kuriake” wat beteken “die Here s’n”.

Behalwe dat Christus-gelowiges heilig is, is hulle ook IN CHRISTUS, sê vers 1. Dit beteken INGESLUIT by Christus. Dit is ‘n begrip wat regdeur die NT voorkom. ‘n Uiters wonderlike begrip. Dis ‘n baie besondere kenmerk van iemand wat sy/haar geloofsvertroue daadwerklik oorgeplaas het op die 100% suksesvolle meriete en verdienste van Christus se dood en opstanding. So iemand is INGESLUIT by Christus. Dis nie ‘n insluiting wat die MENS bewerk het nie, maar wat GOD bewerk het en daarom slaag dit. Daarom werk dit en daarom is dit wonderlik. Dit beteken dat die gelowige 2000 jaar gelede reeds deur God ingereken was by Jesus se geboorte, Sy gehoorsaamheid, Sy lyding, Sy onskuldige veroordeling voor Pilatus, Sy kruisdood, Sy opstanding, Sy hemelvaart, Sy troonsposisie. ALLES wat Jesus gedoen het, TEL vir die gelowige. Die meriete daarvan is oorgeboek op die gelowige se rekening sodat die gelowige nou skoon en vrygespreek voor God staan. Dit is die rotsvaste basis vanwaar ‘n gelowige elke dag behoort te funksioneer.

VERS 2 gee vir ons ‘n DERDE kenmerk van ‘n Christus-gelowige. Genade en vrede is so ‘n persoon se deel. Altyd. 24/7. GENADE = absolute onverdiende guns = dit is die bron. VREDE is die resultaat/vrug/uitvloeisel daarvan. Innerlike vrede kom outomaties voort uit die sekerheid dat mens – deur God se genade in Christus – reggestel is met God (Hoewel dit natuurlik ‘n vrug van die Heilige Gees is). Die Vader is die fontein/bron van alle seëninge en Christus het die dure offer gebring – en op grond daarvan is ons reggestel met God namate ons dit met bekering & geloofsvertroue toeëien – en dit produseer vrede!

In VERSE 3-4 getuig die Apostel van homself dat hy gedurig vir die Filippense BID wanneer hy aan hulle dink. Met “gedurig” bedoel hy natuurlik nie elke minuut van die dag nie – dit is gewoon nie moontlik nie. Hy bedoel “volhardend”. Hou aan sonder om handdoek in te gooi. Dis wat “voortdurend” beteken.

‘n Mens dink soms talle kere per dag aan sekere mense. Bid dan vir hulle soos wat jy aan hulle dink. Dis wat hy sê.

En kyk net hoe is blydskap en danksegging deel van sy voorbidding. VREUGDE te midde van lyding en swaarkry. DANKSEGGING is altyd deel van die gebed. Ons is nie noodwendig dankbaar en bly OOR ons omstandighede nie, maar wel IN die omstandighede. Ek is doodseker dat Paulus nie dankbaar en bly was OMDAT hy soveel gely het nie, maar hy was dankbaar IN die moeites. Dit bemoedig ons en vergroot ons harte in lofprysing wanneer ons raaksien dat ELKE stukkie genade van die hand van God kom.

DANK GOD vir die “fellowship” wat gelowiges onderling in die evangelieboodskap geniet. Fellowship met mekaar IN die gemeenskaplike geloof. Dis voorwaar die beste fellowship wat daar is!

So was dit vanaf die eerste dag wat die Filippense tot geloof in die Here Jesus gekom het. Maar dit het nie opgehou nie. Dit gaan voort en voort.

En nou kom ons by daardie groot vers 6!

VERS 6 > Lees weer die vers: “omdat ek juis hierop vertrou, dat Hy wat ’n goeie werk in julle begin het, dit sal voleindig tot op die dag van Jesus Christus”.

Die apostel is van een ding 100% seker en oortuig: Alles skarnier aan die feit dat die HERE die goeie werk in hulle lewens begin het.

Nooit, nooit, nooit kan die MENS dit begin nie. Dis totaal onmoontlik. Want van nature is die mens geestelik dood (Efes 2:1). Dood in sonde en oortredings. ‘n Dooie kan tog nie homself lewendig maak nie. Dis God se werk van A-Z. Soos met LASARUS in Johannes 11. Die Here Jesus moes hom met ‘n gesagswoord lewend maak! Eers toe kon hy uit die graf kom.

Die blote feit dat ek as verlore sondaar geestelik wakkerskrik / my verlore toestand besef / my toevlug tot Jesus Christus neem / tot bekering kom en my geloofsvertroue oorplaas op Jesus se suksesvolle kruisdood en opstanding – GEBEUR OMDAT Hý my alreeds lewendgemaak het! Maar dit is nie net eenmalig nie. Dit hou aan en aan en aan. En uiteindelik is dit HY wat dit ook sal klaarmaak! By die wederkoms natuurlik!

Wat bedoel hy daarmee? ‘n Genadewerk in ons lewe wat ons nie end-uit dra tot by die wederkoms van Christus nie, sal ons niks baat nie. Nooit kan die Here ‘n werk BEGIN en dit dan op enige manier aan ONS oorlaat om dit klaar te maak nie. Hy moet dit self van A-Z doen. Selfs ná ons dood – in die tussenfase tussen ons dood en die wederkoms – moet Hy na ons omsien. Iemand soos Paulus self, is vandag reeds byna 2000 jaar in daardie tussenfase. Wie sien na hom om? Moet hy self skop en spartel? Nee, die HERE is end-uit getrou.

Kan ons enigsins ‘n idee kry hoe groot en geweldig en omvattend die genadewerk van die Here in ons lewens is?

Maar kyk nou na Jesus se eie belofte in Johannes 6:39: “Ek sal niemand wat die Vader aan my gegee het iewers langs die pad verloor nie, maar ALMAL uit die dood opwek op die laaste dag!”

Sien u hoe die Here se belofte allesomvattend is – vanaf skepping tot voleinding! Want wanneer het die Vader mense aan Christus gegee? Was dit nie voor die skepping reeds nie? En wanneer sal die opwekking van die dooies plaasvind? Is dit nie by die voleinding van alles nie? Dus: Van voor die skepping af tot by die voleinding, sal SY TROU vir die gelowiges sorg en hulle deurdra. Of in Paulus se woorde in vers 6: Die goeie werk wat Hy eenmaal begin het, sal Hy end-uit klaarmaak.

Hierdie oneindige versekering veroorsaak natuurlik nie dat die kind vd Here passief en selftevrede raak nie. Dit mobiliseer ons juis tot aksie. Kyk na die Apostel self. Persoonlik het hy die versekering gehad dat die Here self die werk in sy lewe sal klaarmaak. Met 100% sukses. En tog sê hy vir die Korintiërs: “Ek het harder gewerk as almal” (2 Kor 11:23). Met die grootste inspanning het hy die Evangelieboodskap verkondig in byna die hele destydse wêreld. Dit is grootliks aan sy arbeid te danke dat ons vandag hier is.

Ons moet dit dus soos volg verstaan: Ja, die Here wat die goeie werk in ons lewens begin het, sal dit klaarmaak. Verseker. Maar die bruisende nuwe lewe wat die inwonende Heilige Gees in ons laat ontketen, DOEN iets aan ons. Dit transformeer ons. Dit verander ons. Dit vul ons met passie en krag. Dis soos die opstanding uit die dood – en dit veroorsaak dat ons aan die praat raak, dat ons met die Boodskap uitbeweeg na buite, dat ons sonde haat en heiligmaking liefkry, dat ons passievol raak. Ons lewens is net nooit weer dieselfde nie. Aan Hom die eer en lof!

Category Filippense Reeks

© 2018 Designed with ❤ by Web Crew