Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

EFESIËRS – REEKS NO 7
Tema: Die eenheid van die Gees
Skrif: Efesiërs 4: 1-16

Gestel ‘n sekere welgestelde man sou besluit om ‘n sekere bedelaar – wat gedurig kom aanklop vir brood – blyplek in sy huis te gee, hom aan sy tafel te laat eet, hom ‘n eie kamer te gee – én hom later wettig aanneem as seun én hom sy erfgenaam te maak!

Sou ‘n mens kon verwag dat daardie bedelaar se totale lewenstyl & gedrag handomkeer begin verander? Beslis!

Wat nou as die lewende God ‘n totaal verlore sondaar (aan wie Hy niks verskuldig is nie!) persoonlik roep / hom oorlaai met alle geestelike seëninge / uitkies voor die skepping reeds / Jesus laat kruisig vir sy redding / genade op hom uitgiet soos reën / vaste & sekere hoop gee op ewige erfenis / Heilige Gees as lewende Persoon in sy lewe gee / kragtig in hom werk / 24-uur toegang tot Homself gee / deelmaak van een groot wêreldwye huisgesin / innerlike krag gee…

Sou die Here kon verwag dat daardie sondaarmens se lewensgedrag handomkeer sal verander? Dit spreek vanself.

Dis presies wat in Efes 4:1-3 staan – eintlik in die hele Efes 4-6.

In hfste 1-3 het Paulus uitgespel wat God aan die sondaar gedoen het en waarmee Hy die verloste sondaar oorlaai en watter posisie die gelowige nou (in Christus) beklee.

Hfste 4-6 gaan oor die lewensverandering wat dít (hfste 1-3) in die gelowiges tot gevolg het – op verskeie vlakke: in die kerk, in die wêreld, by die werk, in die huis. Spesifiek in 4: 1-16: in die kerk.

Dit is waarom hy in vers 1 sê: “Laat julle lewenswandel in ooreenstemming wees met die roeping wat julle van God ontvang het.” Julle lewenswandel moet nou verander word deur dít wat die Here met julle gedoen het én steeds doen. “Kyk bv. na mý”, sê Paulus, “ek is ‘n gevangene omdat ek die Here dien. Kyk net hoe beïnvloed Sy roeping mý lewe! Daarmee sê ek nie julle moet almal ly t.w.v. die Here nie, maar wat wél moet gebeur is dat die gesindheid vd Here Jesus self by julle moet posvat. Sý gesindheid van nederigheid, geduld en verdraagsaamheid. Dan sal julle heel maklik in eenheid met mekaar kan leef. Die Heilige Gees het reeds eenheid tussen julle gesmee. Handhaaf dan die eenheid. Wéés een.”

Ons almal weet hoe ons sondige menslike natuur is: Ons wil self eerste wees. Ons wil gedien word en nie dien nie. Ons lewe draai om onsself. Daarom hou ons nie van eenheid met mense nie – veral nie met dié van wie van ons verskil nie. Ons verdéél liewer en skei van mekaar.

Maar, wanneer ons, geestelike bedelaars, deur die Here in Sy huis ingebring word en ons sit aan Sy tafel, word ons Sy seuns & dogters en érf selfs van Hom – dan verander ons innerlike hart.

Alles word anders. Die Gees maak ons nederig sodat ons bereid is om ander se dienskneg te wees. Ons word geestelik sterk sonder om baas te speel oor ander of onsself voorop te stel. Ons verdra ander se swakhede. Selfs al word ons seergemaak, raak ons nie verbitterd nie. En dit veroorsaak dat daar eenheid tussen gelowiges is en nie klieks & partyskappe en skeuring nie. Want waar mense mekaar dien, is daar eenheid – t.s.v. verskille & andershede!

Soos die droom wat iemand eenkeer van die hemel & hel gehad het. Beide plekke is ‘n eetsaal waar almal met 2 meter lange lepels eet. In die hel probeer elkeen die lepel in sy eie mond kry en in die hemel voer die een die ander! Daarom is almal in die hel uitgeteer en gefrustreerd terwyl almal in die hemel blakend gesond en gelukkig is.

Dit is waaroor verse 1-3 gaan.

Wat die Apostel eintlik daar sê is dat eenheid in die gemeente nie outomaties kom nie, maar dat almal voortdurend daaraan moet werk. Die Heilige Gees het klaar die eenheid gesmee, maar ons moet hard werk om dit te handhaaf! Al ís gelowiges één geestelike gebou, gebeur dit maklik dat hulle leef asof hulle dit nie is nie. Daarom die oproep: Verban die “ek eerste”-houding vd wêreld en laat toe dat die Here Jesus se gesindheid jou verander & vervul. Dan sal daar eenheid wees.

U sien dus waaroor verse 1-3 gaan: Eenheid kom nie outomaties nie.
Nou verse 4-6: Dis eintlik logies dát daar eenheid sal wees, want daar is soveel dinge wat gelowiges in gemeen het. Nié wanneer jy so rondom jou kyk na jou mede-lidmate in die gemeente nie! Want daar is soveel verskille. Jy kan tereg wonder hoé daar enigsins eenheid kan wees as jy na die mense rondom jou kyk. Tog is daar 7 dinge wat alle Christene in gemeen het en wat maak dat dit net vanselfsprekend is dat daar eenheid sal wees.
1. Een liggaam: (Rom 12). Ons Here Jesus en alle ware gelowiges, is ‘n liggaam waarvan Hy die kop is en die mense die ledemate – elkeen met sy/haar eie funksie. ‘n Liggaam móét as eenheid hanteer word, anders sterf dit of is dit gebreklik. Dis onmoontlik om stukke af te sny. Dieselfde lewe wat in die hart vloei, vloei in die pinkie. Één liggaam.
2. Een Gees: Die Persoon van die Heilige Gees woon en werk in álle gelowiges en dit bind almal saam.
3. Een roeping: Alle gelowiges is met dieselfde roeping geroep (anders sou hulle glad nie Christene gewees het nie!). Alle gelowiges is op weg na dieselfde bestemming.
4. Een Here: Slegs een Persoon is Here & Meester oor alle ware Christene en dit is ons Here Jesus Christus. Om ‘n Christen te wees beteken in beginsel om onderworpe te wees aan Sy sê/baasskap.
5. Een geloof: Bedoelende die inhoud van dit wat geglo word, m.a.w. die basiese inhoud van die evangelieboodskap.
6. Een doop: ‘n Mens dink onmiddelik aan die waterdoop, maar die Bybel praat van iets anders wat alle ware Christene ontvang het en dit is die doop met die Heilige Gees. Nie alle Christene ontvang waterdoop nie, byvoorbeeld die misdadiger langs Jesus aan die kruis het gesterf sonder dat hy gedoop was. Deur die geskiedenis was daar altyd diegene wat nooit gedoop kon word nie as gevolg van watter omstandighede ookal. Die EEN DOOP waarna hier verwys word kan dus nie die sakrament van die doop wees nie, maar die doop wat ALLE Christene in deel het, naamlik die Geesdoop. Almal wat tot geloof in Christus kom, ontvang die Heilige Gees (Joh 7:39) soos wat Johannes die Doper beloof het in Lukas 3:16. Daarom verklaar 1 Kor 12:13 eksplisiet en sê: “Deur een Gees is ons almal gedoop in een liggaam. Ons het almal van dieselfde Gees gedrink.” En so verklaar die Skrif self wat met die “een doop” bedoel word.
7. Een God & Vader: Daar is net een ware God en Hy is alle gereddes se Vader.
Met soveel in gemeen, hoe kan daar skeuring, partyskappe, groepies & klieks in ‘n gemeente wees? Hoe kan enigiemand onbetrokke/afsydig bly? Hoe kan daar gevoelens tussen mekaar bly bestaan? Hoe kan jy mense van ander kulture & agtergronde uitsluit net omdat hulle van jou verskil? Die Gees het dan die band van eenheid gelê. Dit is eenvoudig onmoontlik om ‘n ware verloste mens in Christus te wees en buite die gemeente te leef! Dit kan nie. Jy kan nie ‘n lewende ledemaat van ‘n liggaam wees en apart vd liggaam staan nie.

Stel jouself voor jou duim/regtervoet is op hierdie oomblik by die huis, maar die res van jou liggaam sit hier! Onmoontlik. Iemand wat rustig vir tye lank buite die sigbare liggaam van Christus leef (dit is Sy gemeente), kan nie ‘n ware Christen wees nie! Want die mens in wie die Gees woon & werk kan nie anders as om deel van die liggaam te wees nie!

Maar kyk nou na verse 7-12: Eenheid beteken nie uniformiteit nie!
Eenheid beteken nie dat almal dieselfde is of dieselfde lyk nie. By die valse godsdienste sien ‘n mens dit – almal lyk dieselfde wat kleredrag betref – selfs voorkoms.

Maar die ware Christelike kerk dra nie ‘n uniform nie. Hoewel die ware Christene absoluut één is, lyk almal verskillend, verskillende temperamente, verskillende sienswyses, verskillende rasse & kulture – maar dáárdie dinge weeg nie swaarder as die eenheid nie!

Ware Christene is één, maar het verskillende gawes. Die gawes is die vrug van Sy hemelvaart. Onthou: Die Here Jesus het eers neergedaal tot op die laagste plek moontlik: die dood vd kruis, maar toe het Hy gegaan tot die hoogste plek denkbaar: die Vader se troon. Nou vul Hy letterlik alles met Sy teenwoordigheid (deur die Persoon van die HGees) en deel Hy gawes aan Sy kinders uit.

Byna soos dit in die ou tyd was toe konings/generaals ná ‘n oorlog na hulle land/stad teruggekom het en ‘n parade gehou het waar hulle ‘n bespotting gemaak het van hulle krygsgevangenes, maar ook die buit wat hulle gemaak het as geskenke uitgedeel het aan hulle eie mense.

Noudat ons Here Jesus as die Oorwinnaar aan Gods regterhand sit en alles met Sy teenwoordigheid vul, deel Hy aan Sy kinders GAWES uit wat die eenheid vd kerk moet versterk. Hierdie gawes wat Hy aan die gemeente gee, moet die kinders vd Here opbou/onderrig/standvastigheid gee sodat húlle die dienswerk kan verrig waarvoor die Here hulle roep.

Wat is die gawes? Apostels, profete, evangeliste, herders en leraars (wat een kategorie is). Dus 4 in totaal.
APOSTELS: Jesus se 12 apostels (met Mattias in Judas se plek) asook Paulus. Ná hulle dood was daar nie weer apostels nie, want ‘n apostel moes ‘n ooggetuie wees van Jesus se aardse bediening en Sy opstanding (Hand 1:21/Mat 3:13) en hulle taak was om die fondasie van die kerk te lê met dit wat hulle geleer het asook die voorbeeld wat hulle geleef het. ‘n Fondasie word eenkeer gelê en ander bou dáárop.
PROFETE: Profete soos Agabus (Handelinge 11,21) het saam met die Apostels gewerk en onfeilbare openbarings van God ontvang, want dit was die tyd toe die Bybel nog nie voltooi was nie. Mense soos Matteus, Markus, Lukas, Jakobus en Judas was ook profete van wie ons onfeilbaar Heilige Gees-ingegewe boeke in die NT ontvang het. Saam met die Apostels het hulle die fondasie van die NT kerk gelê (Efes 2:20). Nadat die Bybelse kanon voltooi was, was hulle bediening uitgedien.
EVANGELISTE: Ons dink hier aan manne soos Filippus (Hand 21:8) en Timoteus (2 Tim 4:5) asook Titus. Hulle was die apostels se assistente. Hulle het gehelp om die Evangelie verder te verkondig en moes gemeentes aanspoor om die evangelieboodskap wyer en wyer bekend te maak búíte die grense van die gemeente. Nuwe gemeentes moes hulle help opbou soos Timoteus se taak in Efese (1 Tim 1:3) en Titus op Kreta (Tit 1:5). Hulle ampte het verdwyn te same met die ampte van apostels en profete – wie se assistente hulle was.
HERDERS & LERAARS: Ook genoem ouderlinge/pastors/biskoppe (toesighouers). Die eerste gemeentes is in hulle hande toevertrou om die OT en Apostels se leer te preek. Nadat die tyd van die eerste Apostels/profete/evangeliste verby was, het die herder-leraars verder gegaan – tot vandag. Die herder-leraars se taak en roeping is om te bou OP die fondasie wat die Apostels en profete eenmaal finaal gelê het.
Hoewel die unieke AMPTE van apostel, profeet en evangelis nie meer bestaan nie, bestaan die inhoud van hulle dienswerk nog al die pad en word deur alle gelowiges (nie net herder-leraars nie) vervul. Alle gelowiges is gestuurdes & boodskapdraers. Asook evangeliste wat die evangelie verkondig in evangelisasie en sendingkonteks. Almal is profete, wat die Skrif spreek en toepas.

Niemand in die gemeente is egter dieselfde as iemand anders nie. Almal kan nie dieselfde gawes hê nie. Niemand hoef op niemand jaloers te wees nie. Niemand hoef soos iemand anders te probeer wees nie. Niemand mag dink hy/sy is meer spesiaal as ander nie. Die kerk lyk nie soos die Moslems nie – almal dieselfde kleredrag. Die kerk is ‘n liggaam, waar elkeen sy eie funksie het – net soos die ledemate & organe van ‘n menslike liggaam elkeen sy eie taak het en almal vul mekaar wonderlik aan.

Belangrik om raak te sien: Elke lidmaat vd gemeente het eie verantwoordelikheid en bediening (v12). Die leraars is nie veronderstel om die enigste te wees wat bedien nie (omdat hulle daarvoor betaal word nie).

Die uiteindelike werk moet deur ALMAL gedoen word, maar die leraars moet die toerustingswerk doen. Dit staan glashelder in vers 12. Die gemeente is nie ‘n passasiersboot waar die meeste mense aanboord bedien word deur ‘n klein groepie bemanning – en verder in die son lê nie! Die gemeente is ‘n oorlogskip/vissersboot waar élkeen aan boord ‘n taak het. Daar is geen passasiers op ‘n oorlogskip/vissersboot nie.

Baie van die geestelike dinamika vd NT-kerk kom na vore waar die HGees almal gebruik om almal te bedien. Belangrik is dat ons élkeen besig moet wees en nie maak asof die leraar die gróót bediening het nie.

Verse 13-16: Eenheid vat hande met geestelike volwassenheid:

Geestelike volwassenheid binne ‘n gemeente lei tot eenheid wanneer elke lidmaat – pleks daarvan om selfgesentreerd te wees – infokus op die breër liggaam van Christus en begin om regtig die inhoud van die Skrif te verstaan en daaraan vas te groei sodat niks of niemand hul kan skud nie.
Paulus begeer die dag wanneer die Efesiërs sekere dinge finaal sal agterlaat: 1. Liggelowigheid en 2. Geestelike onvolwassenheid wat veroorsaak dat elke nuwe wind van dwaalleer hulle rondskud. Paulus wil sien dat hulle by die Waarheid bly en dit in liefde met ander mense deel en geestelik groei.

Net soos in die geval van ‘n liggaam, élke lid vd liggaam ‘n funksie & bydrae het om te maak sodat die liggaam as geheel gesond kan wees en kan funksioneer. Elke lid vd liggaam dink aan die welstand van die liggaam as geheel – bv. hand/voet/oog.

Die gemeente is die liggaam van Christus. Elke gelowige is ‘n ledemaat wat ‘n funksie het. Ons kan nooit geestelik volwasse word as individu, alleen op ons eie/op eie houtjie, nie. Jy kan nie ‘n Christen wees en apart vd kerk leef nie. Jy kan ook nie groei as jy rondhop van kerk tot kerk nie. Ook nie as jy nie absoluut getrou is in jou meelewing nie. ‘n Liggaam werk net nie só nie! Wanneer ‘n orgaan/ledemaat van ‘n liggaam verkeerd funksioneer, benadeel dit die res vd liggaam. Ons besef dit nie altyd nie – dat ánder mense se welstand van óns/my doen en late afhang nie!

Laaste sinnetjie: Mag die Here ons help om te besef dat dit in ons navolging van die Here Jesus nié eerstens gaan oor ons as individue nie, maar oor die liggaam. Vir die toon/hart/niere/are/mikroskopiese selletjies, gaan dit oor die liggaam!

Ons sal verbaas wees oor wat in hierdie gemeente sal gebeur wanneer dít vir ons duidelik geword het.

Category Efesiërs

© 2020 Tafelberg Gemeente (Dolerend)